Jou kopseer oor wat om voor te sit vir Kersfees is grootliks opgelos as jy jou hand kol lê op my boek Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid. Daarin is die allerlekkerste disse wat ideaal vir jou feestafel gaan wees. Met my onlangse boekbekendstelling by Hemelhuijs (wat onlangs met ’n ster by die Eat Out-toekennings vereer is) in die Kaapse middestad, het befaamde sjef Jacques Erasmus, ’n verruklike feesmaal met disse uit die boek vir ons bymekaargesit wat almal laat swymel het. So ja, al let jy op wat jy eet, is die kos steeds feestelik en smullekker. Grootste bonus vir my is al het ek soos ’n koning gesmul, voel ek nie nie na omval-ooreet en ongemaklik nie.
Piekenierskloof se pryswennerswyne saam met verskeie Carmién tees om die palet skoon te maak, het bygedra tot verdere smaakgenot. Hier is die spyskaart.
SPYSKAART
By aankoms
In jou glas
Piekenierskloof Wilhelmina MCC
Carmién Coco Pine Cold Brew-ystee
Vooraf
Vietnamese pannekoekies met Vietnamese slaaislous en grondboontjiedoopsous
Koue Persiese jogurtsop
Mini frittata-tertjies met parmaham en songedroogte tamaties
Wyn: Piekenierskloof Heirloom White
Op die Tafel
Rooibos-masala couscous
Griekse bulgurslaai met tuna
Mengelslaai met piekelgemmer en lemoenmosterd-slaaisous
Aartappelslaai met bros kappertjiesade
Franse oondhoender
Oosterse baba-inkvistentakelslaai
Vark-oondbraad met vinkel en vrugtesalsa
Gebakte blomkool met blomkoolpuree en kruie-vinaigrette
Brosbrood met hangkaas en tuinpiekels
Groente-saadbrood
Soet
Suurlemoen-meringuetert
Patatbrownies met gepreserveerde gemmer-jogurt
Dadelballetjies
Wyne
Piekenierskloof Grenache Blanc
Piekenierskloof Grenache Noir
Piekenierskloof Cinsault
Piekenierskloof Heirloom Red
Tee
Carmién Citrus Chai
Carmién Creamy Mint
Carmién Turkish Delight
Carmién Floral Berry
Verskeie van die resepte wat op die spyskaart genoem word, het ek ook op my blog geplaas, so jy kan daar gaan loer. Vir die res sal jy die Lekker & Goed-boek moet koop. Die boek is beskikbaar by uitgesoekte boekwinkels, Checkers en op Carmién se webtuiste.
VARK-OONDBRAAD MET VINKEL EN VRUGTESALSA
VARK
2 kg ontbeende varknek of -skouer
of -boud, swoerd klaar ingekeep
Sout
60–80 ml (¼–1/3 k) soet sojasous of andersins heuning gemeng met ’n bietjie sojasous
Paar repe gemmerwortel en suurlemoenskil
1–2 uie en appels, in skywe gesny
1 liter (4 k) rooibostee met vinkel-en-fenegriek (8 sakkies Nursing-tee van Carmién – helfte hiervan kan lemoensap ook wees)
10 ml (2 t) vinkelsaad om bo-oor te sprinkel
Ongegeurde jogurt
SALSA
10 ml (2 t) ment- of koljanderblare, gekap
10 ml (2 t) gekapte piekelgemmer
3 nektariens of pruime of ’n pynappel, in blokkies en skyfies gesny
Skeut balsemieke asyn
Sprinkel suiker (opsioneel)
1 Plaas die vark op ’n draadrakkie oor ’n oondpan. Giet kookwater oor die swoerd en druk droog met handdoekpapier. Vryf die swoerd goed met sout
in en laat staan oop oornag in die yskas.
2 Voorverhit die oond tot 230 °C.
3 Vryf die vleiskant van die oondbraaistuk in met die soet sojasous of andersins heuning-en-sojasousmengsel.
4 Pak die gemmerwortel, suurlemoenskil, uie en appels in ’n oondbak en plaas die oondbraaistuk met die velkant na bo in die bak. Oondbraai by 230 °C of
tot die swoerd mooi bruin is, sowat 20 minute.
5 Verlaag die temperatuur na 160 °C.
6 Giet die rooibostee en lemoensap indien gebruik, in die bak, maar moenie dat dit die vetlaag en vel bedek nie en sprinkel die vinkelsaad bo-oor. Bedek
liggies met tinfoelie of bakpapier en oondbak by 160 °C vir sowat 2½ uur of tot die vleis heerlik sag is – verwyder laaste halfuur die tinfoelie sodat die
vel weer lekker bros kan word.
7 Kook die sous af tot lekker geurig en meng ’n bietjie jogurt by.
8 SALSA Meng al die bestanddele saam en sit voor saam met die oondbraaistuk.
Variasie: rafelvleis Bak die vleis tot baie sag, verwyder die swoerd en vet en trek in rafels. Dreineer en maak ’n sousie van die pansappe: Voeg nog sowat 80 ml (⅓ k) soet sojasous, ’n teelepel of wat tamatiepasta, 5 ml (1 t) elk mosterdpoeier, paprika en Chinese vyfspeserypoeier by, asook 60 ml (¼ k) appelasyn by. Meng deur en giet terug by die vleis. Sprinkel sowat 45–60 ml (3–4 e) bruinsuiker oor die vleis en oondrooster vinnig onder die
roosterelement tot effe gekaramelliseer. Sit voor op platbrode.