Proe die nostalgie

In my nuwe boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, het ek my in ‘n groot mate oorgegee aan die nostalgie, maar allerlei slim kinkels bedink om hierdie destydse lekkertes op te kikker deur dit meer heilsaam te maak. In die boek is daar minstens 30 koesterresepte wat ek menigmaal in my grootwordhuis geniet het, maar wat ek nou net afgestof en gesonder gemaak het deur veral die suiker- en vetinhoud te verminder – daar’s my ma se immergewilde tuisgemaakte roomys en malvapoeding, die bekende ongelooflike muffins, poetoepap en sheba, bobotiebrood, tamatiekos, aartappelslaai, viskoekies en eierslaai met suursous tot melktert en ryspoeding, piesang- en gemmerbrood, hawermoutstafies en sjokoladeclusters om maar ‘n paar te noem. Hierdie ou kosse verskyn deesdae weer gereeld op my tafel en ek geniet dit sonder enige skuildgevoel.

Ek is veral gek na oudag se dadelballetjies en onthou nog so goed hoe ons die ryk suikerbottersous stadig gesmelt het voor ons die dadels en Mariebeskuitjies of selfs Rice Krispies daarby ingemeng het. Deesdae sien ek dit ook nogal baie keer weer op veral padstalle se rakke en die versoeking is meestal groot om ’n pakkie te koop. Maar telkens as ek aan al die baie vet en suiker dink wat daarin kom, skrik ek my gelukkig gou weer tot ander insigte en het ek aan die werk gespring in my kombuis om aanpassings te maak, te toets en weer te toets, nie een keer nie maar verskeie kere tot ek gevoel het die lekkerte is steeds daar maar nou is dit heilsamer en gesonder. Net soos dit die geval was met baie van ons heerlike onthoukosse wat ek in my boek ingesluit het. Ek onthou ondermeer my immergewilde sjokoladekoek wat ek 2 uur in die oggend uiteindelik die Jackpot geslaan het met die byvoeging van patat wat daartoe gelei het dat ek die suiker dramaties kon verminder en so kan ek aangaan.

Lekker & Goed, heilsame kos propvol heilsaamheid is die ideale Kersgeskenk. Gaan loer veral op Carmién se webtuiste waar jy ‘n lekker pakkie kan opmaak met die boek en allerlei ander spesiale produkte soos die Carmen Niehaus-slaaisouse en -soute as ook van die Carmen Niehaus Haus Collection teedoeke en voorskote. Die boek is ook te kry in alle vooraanstaande boekwinkels, Loot, Takealot en in Checkers.

Dadelballetjies

Dadelballetjies kan soveel variasies aanneem – voeg ’n bietjie grondboonbotter en droëvrugte soos Turkse appelkose en bosbessies by en jy het heerlike energiepeuselkos waaraan jy kan weglê tydens of ná ’n oefensessie. Net so, met ’n goeie skoot gemmer in, is dit ’n lekker soetdingetjie wat ek deesdae graag saam met tee of koffie voorsit. Bowendien maak dit ’n pragtige geskenk in ’n mooi boksie.

Maak 50 balletjies | Bereiding: 20 min

500 g ontpitte dadels
1,25 ml (¼ t) koeksoda
125 ml (½ k) kookwater of rooibostee met gemmer en brandrissie (Carmién se Revive)
1 pakkie (200 g) suikervrye semelkoekies of 375 ml (1½ k) hawermout, gerooster
160 ml (⅔ k) kakao
250 ml (1 k) klapper
80 ml (⅓ k) klapperolie, gesmelt
30–35 ml (6–7 t) fyn gemmer
10 ml (2 t) vanieljegeursel
60–80 ml (¼– 1/3 k) bruinsuiker, as jy hawermout gebruik (opsioneel)

1 BALLETJIES Plaas die dadels in ’n glasbak en sprinkel die koeksoda oor. Giet die kookwater oor en verhit 1 minuut in die mikrogolfoond.
Laat afkoel.
2 Plaas die dadels saam met res van die bestanddele (buiten die klapper om in te rol) in die voedselverwerker en maak goed fyn.
3 Skep 12,5 ml (1 dessertlepel) van die mengsel op ’n keer uit en rol in balletjies.
4 AFRONDING Rol die balletjies in klapper. Verpak in ’n geskikte houer.

Wenk: Jy kan ook ’n bietjie fyngekapte Turkse appelkose en bosbessies, selfs ’n bietjie grondboontjiebotter of neute en sade by die mengsel inmeng vir ’n heerlike energieballetjie – maak die klapper dan net minder.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: