Ek lees in die nuus dat 28 lande se leiers hul mense gaan maan om minder diereprodukte te eet. Die rede: veeproduksie het ‘n groot impak op klimaatverandering, in ag genome dat 33 persent van alle kweekhuisgasse wat in die atmosfeer gepomp word, van veeboerdery afkomstig is. Daarom word mense aangemoedig om meer plantgebaseerde kosse te eet en hul inname van vleis in te kort tot sowat 300g per week – dis selfs minder as wat die Wêreldkanker navorsingsfonds se aanbeveling van 500g rooivleis is om beter gesondheid te bevorder.
In November kry ons ook nie net Black Friday nie, maar dis ook veganisme-maand – ‘n eetpatroon wat besig is om wêreldwyd al hoe meer aftrek te kry, selfs hier in Suid-Afrika. Met Meatless Mondays wat al ‘n geruime tyd op ons eetkalender aanbeveel word, voel al hoe meer mense gemaklik daarmee om van tyd tot tyd hul vleistande te trek en plantkosse nader te hark. En ewe skielik voel 500g of selfs 300g rooivleis nie meer so vergesog nie. Maar as mens dit werklik volhoubaar wil doen, moet mens ‘n arsenaal resepte hê wat geur en kleur aan hierdie meerendeels geurlose produkte kan verskaf.
So waar bring dit my? Ekself beskou myself as ‘n flexitariër wat vir lank sal smul aan heerlike plantkosse, maar ook van tyd tot tyd ‘n vleisie sal geniet soos die geleentheid hom voordoen. Daarom het dit ook een van my missies geword om plantkosse so geurig as moontlik voor te sit. En dis nou net hier waar my nuutste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, inkom. Daarin vind jy nie net ‘n hele afdeling vir superplantkosse met sowat 10 resepte in wat wissel van lensiebobotie en dahl tot falafelbakkies en bone-groentekerrie met roti’s nie, maar daar is ook velerlei ander plekke in die boek waar mens vegetariese resepte (wat ook geskik vir vegans sal wees of wat net ‘n klein tweak verg) kan vind, ‘n hele 25-tal bymekaar, van brode en slaaie tot koeke en ontbytkosse. En ek het doodseker gemaak dat elkeen van hul drup van geur en lekkerte. Soos byvoorbeeld die lensie-bobotiebrood – my man wat ‘n vurige vleiseter is, het tydens die fotosessie bykans die hele brood verorber so lekker was dit vir hom. Ekself sal my telkens ooreet aan die dahl om nie te praat van die velerlei lekker slaaie of groentegeregte nie.
Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid is beskikbaar by meeste vooraanstaande boekwinkels, Checkers en ook aanlyn op die Carmién-webtuiste (‘n groot bonus hier is dat dit kosteloos versend word).
SORGHUM-EN- SAADPLATBRODE MET GROENTESALSA
Platbrode saam met ‘n groentesalsa is heerlik as ‘n peuselhappie of as ligte maaltyd. Sorghum is ’n antieke graan wat glutenvry is en baie vesel bevat. Dit het heelwat gesondheidsvoordele soos dat dit ’n goeie antioksidant is, stadig opgeneem word in die spysverteringstelsel en help om bloedglukosevlakke stabiel te hou. Dit help ook teen infeksies en verminder selfs jou risiko om kanker en hartsiektes te kry. Die groentesalsa is heerlik hierby.
LEWER SOWAT 6 PLATBRODE
Bereiding: 15 min.
Rus: 15 min.
Bak: 5-8 min.
160 ml (2⁄₃ k) yswater
60 ml (4 e) olyfolie
250 ml (1 k) klipgemaalde witbroodmeel
250 ml (1 k) growwe sorghummeel (of maltabella-pap)
5 ml (1 t) phylliumvesel
sout
ekstra olyfolie
hand vol elk chia-, sesam- en vlassade
VOORSIT
Gemarineerde sampioene (sien resep)
Voorverhit die oond tot 230 °C. Smeer ’n groot bakplaat en bestuif met meel.
1 Meng die water en olyfolie.
2 Plaas die mele, phylliumvesel en sout in die bak van ’n voedselverwerker of elektriese menger met die plastiek- of deeglem. Voeg die
water stadig deur die tuit by terwyl die masjien loop en meng goed tot ’n stywe deeg wat in ’n bol vorm in die bak – meng minstens 5 min. – dan hoef ’n mens dit nie te knie nie. Laat rus 15 min. Deel in 6 bolletjies.
3 Rol elke bolletjie so dun as wat jy kan op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Strooi sade oor. Verf met die ekstra olyfolie en bak 5-8 min. tot gaar met ’n paar bruin vlekke en blase. Smeer weer met die olyfolie en sit voor saam met die gemarineerde groente.
GEMARINEERDE GROENTESALSA
Die sampioene in die salsa word “gaar” in die sitrussap waarby ook allerhande ander lekkertes soos tamatie, avokado en mieliepitte ingemeng word.
GENOEG VIR 4 MENSE
Bereiding: 15 min.
Marineer: 30 min.
MARINADE
sap van 5-6 lemmetjies
fyngerasperde skil van 1-2 lemmetjies
sout en peper
2,5 ml (½ t) komyn
2,5 ml (½ t) paprika
5 ml (1 t) fyngekapte vars knoffelhuisies
GROENTE
625 ml (2½. k) bruin-en-knopiesampioene, in dun skyfies gesny
8-10 baba-Romatamaties, gehalveer
1 groen soetrissie, ontpit en gekap
1 brandrissie, gekap
1 avokado, ontpit en in skyfies of blokkies gesny
1 middelslag-rooi-ui, geskil en gekap
125 ml (½ k) vars mieliepitte
125 ml (½ k) koljanderblare, gekap
1 MARINADE Meng al die bestanddele.
2 GROENTE Plaas al die groentebestanddele in ’n groot mengbak, giet die sous oor en meng goed.
3 Maak toe en verkoel sowat 30 min. in die yskas sodat die geure kan ontwikkel. Sit voor saam met die platbrode.