Span jou airfryer in

In my huis werk my airfryer deesdae oortyd. Darem net te lekker en maklik om te gebruik as jy vinnig iets te ete aanmekaar moet slaan. Niemand hoef hom eintlik ook meer deesdae op kitskos te verlaat nie. Veral dít kan jy baie maklik en vinnig teen ‘n fraksie van die koste en beslis heelwat heilsamer in die airfryer doen. Vat nou maar hierdie hoenderschnitzel – binne 10 minute is dit gereed, lekker bros buiteom en heerlik sappig van binne.

In my boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, gee ek veral aandag daaraan hoe om kitskos gesonder te maak. Ek het verskeie resepte, soos onder andere viskoekies, gebakte patats, patattjips of gebraaide kekerertjies, wat as vulsel vir ‘n schwarama dien, in die airfryer gaargemaak. En ons het heerlik gesmul!

Hoenderschnitzels

Hoenderschnitzels uit die boonste rakke – heerlik bros buite-om en sappig van binne. Ek was nooit een vir enige diepvetgebraaide kosse nie. Maar met dié dat jy dit nou in die airfryer kan doen, gebruik jy bitter min olie. Wat meer is, dis binne ’n ommesientjie gaar; die kans vir droogbak is dus min.

Genoeg vir 4 | Bereiding: 10 min | Verkoeling: 30 min | Gaarmaak: 10 min

HOENDER
4 hoenderborsfilette
Sout en peper
mengsel van bruismeel en mielieblom (jy kan ook glutenvrye bruismeel gebruik)
1 eier, geklits
broodkrummel-en sesamsaadmengsel (of slegs sesamsade)
ligte olyfolie
BYKOS
Groente-salsa

1 HOENDER Sny ’n paar kepe in die hoenderfilette en kap platter met die kant van jou handpalm. Geur met sout en peper.
Rol in die meelmengsel, doop in eiergeel en rol dan in die krummelmengsel. Plaas die hoender vir minstens ’n halfuur in die yskas dat die krummelmengsel goed aan die hoender kan kleef.
2 Besprinkel die hoenderschnitzels alkant liggies met olie en plaas hulle langs mekaar in die laaitjie van die airfryer. Lugbraai vir 10 minute of tot die hoender net gaar en brosbruin buite-om is (draai halfpad om).
3 BYKOS Sit die hoenderschnitzels voor met ‘n groente-salsa gemaak met pitmielies, baba-tamaties, avokadostukkies, gekapte rooi ui en groen soetrissie en ‘n goeie handvol gekapte koljanderblare.

Wenk: Die geheim om te keer dat die krummels loskom, is om die filette eers goed te verkoel voordat jy dit gaarmaak sodat die krummels behoorlik kan vaskleef.
Besprinkel dit baie liggies oral oor met ’n bietjie olie. Belangrik ook is dat die filette in ’n enkellaag in die laaitjie moet lê sodat dit eweredig goudbruin kan braai.

VIR ‘N LAE KOOLHIDRAATVARIASIE: kap geroosterde sonneblomsade fyn tot ‘n meel en doop die filette daarin pleks van in die bruismeel, of jy kan die bruismeelstap heeltemal uitlaat en die hoenderfilette slegs in eier doop en dan in sesamsade rol . Die kan jy dan twee maal doen om ‘n lekker lagie buite-om te verkry. Verkoel baie goed voordat jy dit gaarmaak.

Lekker en Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid is by vooraanstaande boekwinkels te koop asook by Checkers. Kyk ook op die Carmién-webtuiste vir hierdie boek wat jy tesame met teedoeke uit die Carmen Niehaus Hausware-reeks asook die Carmen Niehaus-soute en -slaaisouse kan aanskaf.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: