Ek het nog nooit veel soetgoed in my huis gehad nie, want dit lei almal net onnodig in die versoeking. Dis juis oor die bygevoegde suiker in kos waaroor die groot suikerbohaai deesdae mos gaan aangesien dit so verslawend en tot vele leefstylsiektes kan lei. Maar by tye hou mens tog van ‘n lekker bederf. Dis toe dat ek dit my missie begin maak het om soetgoed gesonder te maak sodat mens darem so dan en wan ‘n klein happie of twee kan geniet sonder om te veel skuldig te voel. Ek het werklik wyd en baie geeksperimenteer – baie pogings is direk drom toe, maar net so baie het die toets deurstaan. Dink aan gesonder weergawes vir sjokoladekoek en melktert of suurlemoenmeringue en ook aan “growwer” groentekoeke soos wortelkoek en pampoenkoek. Groente soos patat en vrugte soos appel en dadels span ek veral in om soetigheid te verleen, maar jy word ook geseën met ekstra vesel. Dit verskaf ook ‘n lekker sagte krummel aan die gebak, so mens kan terselfdertyd ook aan die vetinhoud sny.
Ek was nog nooit een wat graag met room gekook of gebak het nie, daarom vervang ek room graag met natuurlike jogurt en gebruik baie maaskaas vir versiering, wat dit nie net gesonder as gewone versiersels maak nie, maar terselfdertyd “tone” dit die soetigheid ook bietjie af en maak ek selfs ganache met jogurt wat ek oor sjokoladekoek smeer. Vir vet gebruik ek meestal olie, of andersins klapperolie en partykeer botter, maar nooit meer margarien nie! Omdat ek deesdae meestal “bymekaargooi” koeke bak en nooit meer begin met so iets soos “room die botter en suiker” nie, gebruik ek ook eerder witbroodmeel as koekmeel – net daardie bietjie minder geprosesseer.
Ek sny nooit die suiker heeltemal uit nie, maar maak dit genoegsaam minder sonder om smaak in te boet. So byvoorbeeld kon ek die sjokoladekoek se suikerinhoud van 3 koppies tot 1 koppie verminder kry deur patat by te voeg. Hierdie blink plan het ek een nag in die middernagtelike ure bedink toe ek so aan my nuwe boek, Lekker & Goed geskawe het.
Versoeters soos erythritol werk net so goed in gebak en is heelwat meer bekostigbaar as xylitol, so mens kan dit enige tyd inspan pleks van die suiker. Vir porsiebeheer bak ek koek baie keer in klein klein patty panpannetjies – so ‘n klein happie is net genoeg om daardie soettand te bevredig, want mettertyd, dit kan ek jou belowe, soos wat mens leer om minder soet te eet, raak die lus daarna ook minder.
KLAM ROOIBOS SJOKOLADEKOEK
Die oorspronklike resep van hierdie koek, wat letterlik binne minute aanmekaar geslaan kan word en nie enige eiers inkry nie, was die koek wat ek altyd vir my kinders se verjaarsdae gebak en saamgestuur het skool toe. Dan het ek dit sommer in ‘n oondpan gebak en in blokkies gesny of soms klein mini-koekies daarvan gemaak. Karamelkondensmelk, met klompe natuurlike jogurt deurgemeng was al versiersel. Hulle het gesmul. Maar sjoe, daar het baie suiker ingekom – ‘n volle 3 koppies. Om die suiker te verminder, sonder om smaak in te boet het ek op die ou einde gaar patat met 1 koppie suiker gaargemaak en dit deurgemeng en pleks van die water in die oorspronklike resep gebruik ek rooibostee wat nie net ‘n heerlike smaak verleen nie maar ook ekstra goedheid verleen. As versiersel kan jy ‘n ganache maak met jogurt of meng sommer kakao en versiersuiker met bietjie rooibostee en drup oor die koek. Al wat dan nog nodig is, is blommetjies uit die tuin en ‘n lekker koppie tee om daarby te geniet.
Maak 1 laagkoek
Bereiding 20 min
Baktyd: sowat 30 min
500 ml (2 k) koekmeel
250 ml (1 k) kakao
10 ml (2 t) koeksoda
2,5 ml (1/2 t) sout
500 ml (2 k) warm rooibostee met sjokolade en koffiebone in (gemaak met 6 Carmién Red Mocha-sakkies)
100 ml canola-olie (nie olyfolie)
30 ml (2 T) appelasyn
500 g (2 groot) oranje patats, geskil
250–325 ml (1—1⅓k) bruinsuiker
JOGURT-GANACHE
200 g donker sjokolade, suikervry indien verkies, in blokkies gebreek
Sowat 60—80 ml (¼-⅓k) natuurlike jogurt
JOGURT-GANACHE
200 g donker sjokolade, suikervry indien verkies, in blokkies gebreek
Sowat 60—80 ml (1/4—1/3 k) ongegeurde jogurt
VERSIERSEL
250 ml (1 k) versiersuiker
125 ml (1/2 k) kakao
Rooibostee soos nodig
Blommetjies uit die tuin vir bo-op
Voorverhit oond tot 180°C. Spuit ‘n silicon-Bundtpan of andersins 2 koekpanne, 20 cm in deursnee met kossproei.
Kry twee mengbakke gereed.
1 KOEKBESLAG Sif die koekmeel, kakao, koeksoda en sout saam in ‘n groot mengbak.
2 Druk die teesakkies goed uit, maak seker dat daar 500 ml (2 k) tee is. Meng die tee, olie en asyn, in ‘n groot bak en roer goed tot alles goed gemeng is.
3 Kook die patats in bietjie water tot sag, voeg die suiker by net wanneer die patats begin gaar word. Roer goed tot ‘n gladde puree wanneer sag.
4 Roer by die vloeistofmengsel in. Voeg die vloeistofmengsel by die meelmengsel en meng goed deur.
5 Skep in die Bundtpan of twee koekpanne en bak sowat 22—30 minute of of tot net gaar maar nog baie effens klam in die middel as jy ‘n toetspen indruk.
6 Keer uit en laat heeltemal afkoel
6 GANACHE Smelt die sjokolade in die mikrogolfoond, roer gereeld en roer die jogurt vinnig by om ‘n smeerbare mengsel te maak.
7 Drup oor die koek of smeer oor die een koeklaag en plaas die ander een bo-op. Skep res van ganache oor en viersier met blommetjies of stapel vars bessies en vye bo-op.
8 Maak andersins die volgende VERSIERSEL Meng die versiersuiker en kakao met ‘n bietjie tee tot stywe pasta (pasop vir te veel tee, dit raak gou loperig) en drup oor die Bundtkoek of smeer oor die koeklae. Plaas opmekaar en versier met blommetjies of vrugte.
Wenk: met hierdie mengsel gaan jy sowat 54 mini-kolwyntjies gebak kry – bak dit dan vir sowat 18—20 minute. Hierdie resep is te kry in my nuwe boek, Lekker & Goed wat by meeste boekwinkels asook Checkers en binnekort ook op die Carmién-webtuiste beskikbaar sal wees. Die boek word uitgegee deur Lapa Uitgewers.