Desembermaand is net die regte tyd om jou vis- en seekosinname ‘n hupstoot te gee. Ons weet dat vis en seekos ‘n uitstekende bron van proteien is. 90 g gekookte vis bevat 21 g – dieselfde as rooivleis. Maar anders as rooivleis wat baie versadigde vette bevat, bevat vis en seekos min versadigde vette en is goeie bronne van die goeie langketting omega-3-vetsure asook verskeie vitamiene en minerale. Seekos word egter meestal in diepvetolie gaargemaak – en dadelik word iets wat gesond was, ongesonder gemaak.
In my nuutste boek, Lekker & Goed, lekker kos propvol heilsaamheid, het ek verskeie vis- en seekosresepte wat nie een gediepvetbraai word nie. Van viskoekies wat jy in die airfryer kan gaarmaak tot mossels en inkvistentakels wat jy gaarstoom! En steeds is dit heerlik en lekker vars.
OOSTERSE BABA-INKVISTENTAKELSLAAI
Die tentakels word gaargestoom en is letterlik binne minute gaar. Dit bevat ook ‘n verskeidenheid vars groentes. Die Oosterse slaaisous saam met die piekelgemmer is smullekker hierby. Heerlik vir ’n voorafhappie of as deel van ‘n uitpaktafel.
Maak sowat 10 happies slaai | Bereiding: 20 min | Gaarmaak: 5 min
SLAAI
15 ml (2 e) hoisinsous
500 g bevrore baba-inkvistentakels
1 x Oosterse slaaisous (sien onder)
½ komkommer, in lang, dun repe gesny
1 wortel, skoongeskraap en in julienne-repies gesny
2–3 stingeluie, in dun repies gesny
¼ kopkool, in papierdun skyfies gesny
1 avokado, in dun skyfies gesny
Groot hand vol gekapte koljanderblare (opsioneel)
VOORSIT
Piekelgemmer
Sesamsaad
1 SLAAI Giet die hoisinsous oor die inkvistentakels en stoom tot dit net gaar is, sowat 5 minute.
2 Berei die slaaisous en giet die helfte van die slaaisous oor terwyl dit nog warm is.
3 Meng die res van die slaaibestanddele, voeg die tentakels by en meng liggies deur. Voeg nog sous by soos nodig.
3 VOORSIT Skep die slaai in ’n groot opdienbord of as jy enkelporsies wil voorsit in klein Chinese lepeltjies en sprinkel die piekelgemmer en sesamsaad oor.
OOSTERSE SLAAISOUS
Maak sowat 250 ml (1 k) slaaisous | Bereiding: 10 min
80 ml (⅓ k) kanola-olie
45–60 ml (3–4 e) rysasyn
Sap en gerasperde skil van 2 suurlemoene
15 ml (1 e) heuning of bruinsuiker
80 ml (⅓ k) sojasous
5 ml (1 t) vissous
1 knoffelhuisie, geskil en in blokkies gesny
30 ml (2 e) sesamsaad
3 cm gemmerwortel, geskil en in dun repies gesny
1 heel brandrissie
1 Meng al die bestanddele saam buiten die brandrissie. Giet in ’n glasfles.
2 Plaas die heel brandrissie in die bottel. Maak toe. Gebruik die sous soos benodig.