Ek sit gereeld met ‘n goeie klompie kruie in my yskas, veral na ‘n fotosessie of wanneer die kruieplantjies in die tuin so dankbaar begin dra aan hul nuwe vrag. Dis dan wanneer ek wat ook al ek beskikbaar het, omskep in ‘n heerlike pesto. Ek probeer so min of meer by ‘n basiese resep hou, maar laat my maar lei na wat tot my beskikking is. So bv sal ek soms ‘n bietjie gemmer en ‘n brandrissie bysit as ek met heelwat koljander in die pesto sit en ‘n Thaise geurtjie daaraan wil verleen. Saam met basiliekruid hou ek van ‘n skoner palet van net die knoffel en suurlemoen. Pietersielie is neutraal en verskaf lekker lyf wat werk van saam met basilie, roket of koljander. Ek het ook al lankal weggedoen met dennepitte in die pesto – heelwat goedkoper sonneblomsade of pampoenpitte verskaf net so ‘n lekker brosserigheid aan die pesto. Ek bodder ook nie sommer aldag eers met kaas nie en dan sal ek ook rondspeel daarmee. ‘n Goed verouderde Cheddar gaan vir my goed saam met die pietersielie-basis terwyl pecorino weer goed sal werk saam met die basiliekruid.
Die veelsydigheid van hierdie pesto ken nie perke nie – roer dit by pasta in en rasper pecorino-kaas oor of skep dit oor geroosterde groente voor dit oond toe gaan; smeer dit oor vis of vleis voor jy dit braai. Saam met gebraaide eiervrug is dit heerlik. Die tamatieplant neffens my agterdeur se oes hou net nie op nie en net skrikgemaak in bietjie olyfolie is dis heerlik saam met die eiervrug.

Kruiepesto
Maak sowat 750 ml pesto
Bereiding: 10 min
3 pakke (20 g elk) Italiaanse pietersielie en of roket
Groot handvol elk basiel, ment en koljanderblare
3—4 knoffelhuisies, fyngedruk
Sap en gerasperde skil van 3 suurlemoene
Sowat 125 ml (1/2 k) olyfolie
180 ml (3/4 k) geroosterde sonneblomsaad of pampoenpitte
50 g verouderde Cheddarkaas of pecorino-kaas (opsioneel)
5 ml (1 t) Dijonmosterd (opsioneel)
1 Plaas die kruie en knoffel in die bak van ‘n voedselverwerker en kap goed fyn.
2 Voeg die suurlemoensap en -skil asook die olyfolie stadig deur die tuit by en verwerk tot ‘n loperige pasta.
3 Voeg die sade, kaas en mosterd (indien gebruik) by en verwerk tot nog effens grof.
4 Skep in ‘n skoon houer en hou in die yskas.

Eiervrug-en-tamatie met kruiepesto
Ek is gek na eiervrug veral omdat jy dit so lekker geur kan gee met wat jy bysit. Pesto is ideaal om daardie geure te verskaf.
4—5 eiervrugte, in skywe gesny
Sout
Olyfolie
Kruiepesto na smaak
150 g baba-tamaties
Olyfolie
Spatsel balsamieke asyn
Sprinkel suiker
Feta-kaas vir oorsprinkel
Voorverhit die oond tot 190 °C.
1 Sout die eiervrug en laat staan so 10 minute. Spoel af en druk droog.
2 Pak in ‘n oondbak en druppel olyfolie oor. Bak sowat 20 minute of tot net gaar, maar nie droog nie.
3 Roerbraai intussen die tamaties in ‘n bietjie verhitte olyfolie in ‘n pan tot die tamatietjies net begin oopbars, drup bietjie balsamieke asyn oor en sprinkel suiker oor. Braai sowat 1 minuut lank.
4 Rangskik die eiervrugskywe op ‘n dienbord en skep ruimskoots van die pesto oor terwyl nog warm. Skep die tamaties bo-op en sprinkel feta-kaas oor. Sit warm of koud voor.