Met meeste van my boeke was dit nog altyd die geval – net nadat ons besluit het wat die titel, oftewel in daardie stadium die werkstitel, van die boek gaan wees, dink ek eerstens volgende daaraan van hoe die boek moet lyk. Veral die foto’s – waar en hoe hulle geplaas moet wees, is dit volblad of kom die teks op die foto asook wat die look & feel daarvan moet wees. Want dis nie net lekker resepte in ‘n resepteboek wat mense se oog vang nie, die foto’s moet ook met die leser praat.
Oral in my huis sal jy jou teen ‘n stapeltjie kookboeke vasloop – ‘n stapeltjie voor my bed saam met die nuutste kostydskrifte, ‘n paar in ‘n mandjie gepak op die stoep sommer vir lekker deurblaai as ons kuier om die braai. Andersins mooi uitgepak in perfekte hopies op die bankie voor die rusbank of netjies staangemaak in die rakke van die ou koskas of houtwerkbank wat noodgedwonge as boekrakke moet dien. Baie van my kosboeke skaf ek aan om as inspirasie te dien wanneer ek resepontwikkeling doen. Dié word mooitjies gemerk met geel plakkertjies wat oral uithang by die kante van die boeke – tot groot frustrasie van my man wat dit eintlik ietwat onnet vind, maar vir my baie doenbaar en prakties as ek begin soek na ‘n resep, want ja, ek onthou nogals in watter boek ek watter resep gevind het, maar om die bladsy ook te onthou is darem net ietwat te veel gevra.
Maar dan het ek ook boeke wat ek meerendeels koop omdat hulle vir my so mooi is. Ek kan my verkyk aan die fotografie en props (rekwisiete) en het net die grootste waardering daarvoor, want ek weet presies hoeveel werk en tyd daarin gaan, nie net om ‘n gereg mooi gestileer te kry nie, maar ook met die beplanning van die foto en om die regte props vir die regte dis te vind wat sal meehelp om die storie te vertel. En dis deur hulle wat ek begin blaai en pienk plakkertjies plak as ek op soek is na insprasie van hoe ek graag wil hê my nuwe boek moet lyk.
Gedagtig hieraan begin grawe ek in my laaie en kaste en haal so stelselmatig bakke, borde en lappe uit. Meestal is daar net een of twee van elk, want jy het nie veel meer nodig vir fotografie nie – jy kan jou egter net indink watter nagmerrie dit is om ‘n kas netjies te hou met so ‘n konglomerasie van vet en rond, slank en lank, vierkantig of reghoekig wat nie een inmekaar pas of bo-op mekaar gestapel kan word nie. Baie keer moet ek wanhopig keer as ek ‘n kasdeur oopmaak om te voorkom dat die lotjie nie op my sal omtuimel nie.
So met die uitpakslag kom ek af op heelwat pragtige borde wat ek eens op ‘n tyd by die befaamde pottebakker, Mervyn Gers, gekry het. En net daar besluit ek dis nou weer tyd om vir Mervyn te kontak. So maklik het dit nog nooit gegaan om props te vind nie. Elke Mervyn Gers-stuk ‘n meesterstuk en meer uniek as die ander, maar tog maak hulle saam ‘n mooi prentjie en praat met mekaar. Net daar word dit die ruggraat waarvandaan ek my foto’s begin beplan.


In die studio word nog ‘n tafel staangemaak en al die props daarop uitgepak. Vir eers probeer ek hou by ‘n basiese kleurskema, maar toe die grafiese kunstenaar, Helen Henn, vir my die boekuitleg stuur, begin ek prentjies in my kop vorm en elkeen se props kom sorgvuldig bymekaar – die Mervyn Gers-keramiekware vorm meestal die basis, daarby ‘n geroeste plaatjie wat ek in die middel van die Namib-woestyn opgetel het, die Xhosa-mandjie wat ek gekoop het by ‘n vrou langs die pad wat my vertel die mandjie het haar ma nog spesiaal vir haar geweef, ‘n eierkelkie uit Praag of die messegoed wat my skoonma se trougeskenk was. En natuurlik die lappe en glaskapplanke wat deel vorm van my Carmen Niehaus-reeks, help ook mooimaak en pas mooi in by die Mervyn Gers-ware.
En nou ‘n grootste verrassing: terwyl ek hier skryf, kry ek ‘n epos – dis Mervyn Gers wat my uitnooi om by hom my EIE unieke reeks keramiekware te kom maak. Iets wat ek soooo lank al droom oor. My beker loop oor! Hopelik kan ek julle binnekort wys wat ons geskep het.
Lekker & Goed is beskikbaar by alle goeie boekwinkels, Takealot en Loot asook direk op LAPA se webtuiste en ook Checkers. Hou ook die Carmién-webtuiste dop vir dié boek saam met ander verrassings wat jy kan aankoop.