Die min koolidraat-eetplan het groot aanhang onder Suid-Afrikaners en destyds moes ek my deeglik vergewis van hoe dit werk. En glad nie te moeilik om toe te pas nie, dis net as mens begin hunker na ‘n lekker broodjie of soetdingetjie wat jy alternatiewe moes bedink. Omdat ek hou van my broodjie op sy tyd het ek my veral toegespits om te kyk watse lekker brode en soetigheid mens kan bak sonder dat jy peperduur amandelmeel hoef te gebruik.
In my nuutste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, het ek dan ook meer dan 35 resepte wat almal minder koolhidrate bevat, ingesluit. Dit wissel vanaf smoothies en sjaksjoeka, frittata-tertjies, vleis- en groentegeregte, soppe, viskoekies, klappermeel-roti’s en ‘n klappermeelkors vir pizza tot verskeie brode en beskuit wat baie sade asook klappermeel inkry. Daar is ook ‘n groot aantal soetigheid soos ‘n sjokoladekoek gemaak met klappermeel, patatabrownies, piesang-hawermoutbrood en suurlemoen–meringuetert. Die groente-saadbrood, gemaak met murgpampoentjies, sade en mozzarella-kaas, is veral ‘n treffer.
GROENTE-SAADBROOD
Toe ek die eerste keer hierdie brood probeer, was ek bra skepties. Ek het nie gedink ’n klomp gerasperde murgpampoentjies sou ooit as ’n brood kon uitdraai nie. Groot was my verbasing – dis heerlik klam en bevat min koolhidrate, want daar is nie enige koring in nie, maar tog lekker baie sade. Die eier en kaas help om die mengsel te bind.
Maak 1 brood | Bereiding: 15 min | Gaarmaak: 30–40 min
4 eiers
60 ml (¼ k) olie
625 ml (2½ k) gerasperde murgpampoentjies
180 ml (¾ k) gerasperde mozzarella-kaas
125 ml (½ k) elk pampoenpitte en geroosterde sonneblomsaad
45 ml (3 t) vlassaad
7 ml (1½ t) bakpoeier
Knippie sout
AFRONDING
Pampoenpitte vir bo-oor sprinkel
1 Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n broodpannetjie goed, voer die bodem uit met bakpapier en spuit weer.
2 Klits die eiers en voeg die olie, murgpampoentjies, mozzarella-kaas, pitte, sade, bakpoeier en sout by.
3 Skep in die voorbereide pan en sprinkel pampoenpitte oor. Bak sowat 30 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Koel effe af in die pan tot
stewig genoeg om uit te keer.
4 Sit voor met botter of avokado of roomkaas
AVOKADO-SMEER: Meng 1 houer (230 g) geroomde maaskaas, grasuiegeur, met 1 ryp avokado wat fyngedruk is en geur goed met sout en peper.
Baie dankie. Hierdie is beslis iets wat ek gaan probeer.
LikeLike