In my grootwordhuis was daar elke Sondag braaiboud op tafel. Heerlik sag potgebraai. Die skenkelvleisies was my gunsteling. Daarby altyd gebraaide aartappels, vars uit die grond. Mettertyd het Sondagetes egter ‘n kuier om die braaivleisvuur geword. Nou die dag ontdek ek weer ‘n boudjie onder in die vrieskas en besluit dis weer tyd vir ‘n ordentlike Sondagete met lamsboud roast. My Smeg-oond is lekker groot so daar is ook plek vir braai-aartappels en ‘n bak met oondgroente. Ek kook ook weer rys, heerlike basmati, en maak ‘n lekker vars tamatieslaai met die oes uit die tuin. Toe kon ons aansit vir ‘n ware Sondag-feesmaal soos van ouds, tog met ‘n paar kinkels by.
Die boud stop ek met ‘n paar repies knoffel, maar dan gee ek hom goed geur met my Fynbos-sout, gemaak met Weskussout waarby groen rooibos en bietjie boegoe gevoeg is. ‘n Paar uie kom onder in die roaster en bo-op lê ek die boud neer. Toe maak ek groenrooibostee waarby bietjie mint (Carmién se Creamy Mint) gevoeg is aan en die sorg nie net vir klammigheid in die pot nie maar ook ‘n heerlike subtiele kruie en mentsmakie. Deksel op en so laat ek toe die boud stadig gaarword in die oond – die beste deel van 3—4 ure lank tot murgsag en die vleis van die bene afval. Later van tyd pak ek die jong aartappeltjies in ‘n ander emajebak, maal ruimskoots van my braaisout oor en beprinkel met olyfolie. In die groentebak kom daar skywe botterskorsie, sommer net so met skil en al, patat, wat ook net goed geskrop is en rooi uie. Nou is dit die kruiepesto se beurt om die nodige wondere te verrig en en meng ‘n goeie paar skeppe deur. So ‘n uur of wat voor die boud uit die oond moet kom, sit ek die lotjie ook by en daar bak hulle saam tot ‘n heerlike feesmaal. Hierby saam geniet ek graag ‘n glasie wyn uit die Piekenierskloof-familiekelder. Hul grenache-wyne is veral gesog. Gaan kyk op hul webtuiste om jou te vergewis van hul wye reeks pryswennerswyne.
Ek dek tafel en maak vir elkeen ‘n servet uit my Carmen Niehaus Hausware reeks staan op sy bord. My man kry vir Erfgoed, die een met sy ma se stel messegoed op; my dogter Ouma Susie, met die helder geel almanaklappie uit haar huis en aliminiumpot waaruit die brooddeeg so oordadig peul terwyl Rooi Turksvy met die vurige sterk rooi en purperkleure my keuse vir my seun se eetplek is. Ek sit tussen drie vure oor waarmee ek my eetplek mooi gaan maak – daar is Nostalgie met die kleinood ou resepteboeke en ou silwer; of moet dit eerder Nagmaal met die koperbak en ou silwer nagmaalbeker wees. Uiteindelik val my keuse op Koester, in eenvoud met sy brood en koringare. En ek dink terug aan Santie se preek van die oggend waar saameet, hoe eenvoudig dit ook mag wees, gaan oor samesyn met God, jou geliefdes en jy ook ander innooi om saam brood te breek, om te gee en mekaar te koester. Die lappe asook tafeldoeke en -lopers, voorskote, glaskapplanke en kussings is beskikbaar op die Swier-webtuiste.
Sondag-braaiboud
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 3—4 ure
1 lamsboud, steeds op die been
Sowat 8 knoffelhuisies, in dun repies gesny
Carmen Niehaus Fynbossout
swartpeper
3—4 uie, in stukke gesny
375 ml (11/2 k) kookwater
4 sakkies Carmién Creamy Mint
Voorverhit die oond tot 160°C.
1 Vee die boud af met ‘n klam lappie en maak gaatjies oraloor in die boud met ‘n skerp messie. Steek knoffel in die gaatjies. Gee mildadig geur met die fynbossout en swartpeper.
2 Pak die ui in die roasterbak en plaas die boud bo-op.
3 Giet die kookwater oor die tee en laat trek so 3 minute. Giet die tee dan al om die boud in die bak en sit die deksel op.
4 Plaas in die oond en bak 3—4 ure of tot die vleis lekker sag en van die bene afval. (Sit die aartappels en groente sowat ‘n uur voor die boud gaar is in die oond) Maak die bak oop en oondbraai tot die vetkant mooi bruin is.
5 Plaas die boud in ‘n dienbord (Mervyn Gers se handgemaakte keramiekbak is vir my wondermooi om te gebruik) en pak die groente rondom. Sit voor saam met ‘n var tamatieslaai en rys.