Smullekker en suikervry

Soos meeste van julle bederf ek graag my mense met ‘n soetdingetjie of twee, maar telkens as ek resepte vir soetigheid bekyk het en die groot hoeveelhede suiker en vet en verfynde produkte daarin raakgelees het, het ek dit eerder maar gelos, want so kon ‘n mens darem nie jou geliefdes van die wal in die sloot help nie. Daarom het ek dit veral my missie gemaak om soetigheid gesonder te maak deur minder suiker by te voeg of dit deels met versoeter of vrugte te vervang. In my nuuste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid is daar verskeie resepte vir soetigheid wat nou gesonder gemaak is. Daar’s sjokoladekoek, melktert, roomys, malvapoeding, ryspoeding en sponskluitjies, beskuit, pampoentert, kaaskoek, piesangbrood en gemmerbrood en dan ook hierdie suurlemoenmeringuetert wat ek met ‘n versoeter gemaak het, maar jy kan ook helfte daarvan met gewone suiker vervang.

Wanneer dit by kook en bak kom verkies ek om suikeralkohole soos eritritol as alternatiewe versoeter te gebruik, mens kan selfs meringue daarmee klits. Vir hierdie immergewilde tert het ek ‘n kors met hawermout en klapper bedink en die vulsel met vars uitgedrukte suurlemoen en jogurt gemaak en eritritol wat terloops ook heelwat goedkoper is as xylitol, ingespan om die nodige soet te verskaf. Vir die meringue kan jy egter nie net bloot die suiker vervang met ‘n versoeter nie. Jy moet ‘n tipe malvalekker-meringue maak waar jy die versoeter in die eierwit oplos oor kookwater voor jy dit klits.

SUURLEMOEN-MERINGUETERT

Ek het nog nie iemand teëgekom wat nie gek is na suurlemoenmeringuetert nie. Ook ’n staatmaker op al wat ’n koffiewinkel is se spyskaart. Vir hierdie lekker gesonder weergawe maak ek ’n hawermoutkors met klapper, die vulsel met egte suurlemoensap en jogurt, en die meringue, wat met versoeter gemaak word, word oor kookwater geklits om ’n heerlike malvalekkertekstuur daaraan te verleen. Ek hou van die surigheid van hierdie tert, maar as jy dit soeter verkies, gebruik 180 ml (¾k) suurlemoensap pleks van die volle 250 ml (1 k).

Maak 1 groot tert of 2—3 kleineres| Bereiding: 30 min | Baktyd: 40 min

KORS
60 ml (¼ k) bruinsuiker of versoeter soos eritritol
250 ml (1 k) hawermout, liggies gerooster indien verkies
80 ml (⅓ k) fyn klapper
60 ml (¼ k) klappermeel
Knippie bakpoeier
Knippie sout
1 eier
80–115 g klapperolie of botter, gesmelt
VULSEL
250 ml (1 k) versoeter soos eritritol
4 ekstra groot eiers
250 ml (1 k) ongegeurde volroomjogurt
180-250 ml (¾-1 k) vars uitgedrukte suurlemoensap
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
MERINGUE
3 eierwitte, by kamertemperatuur
180 ml (¾ k) versoeter soos eritritol
Knippie kremetart
15 ml (2 e) mielieblom
5 ml (1 t) vanieljegeursel

1 Voorverhit die oond tot 180 °C. Spuit ’n 23 cm-losboompan met kossproei of andersins 2—3 kleiner pannetjies of selfs ramekins.
2 KORS Plaas die bruinsuiker, hawermout, klapper en klappermeel saam met die bakpoeier en sout in die bak van ’n voedselverwerker. Pols tot fyn.
Voeg die eier by en pols tot deurgemeng. Voeg net genoeg gesmelte klapperolie of botter by om ’n saamdrukbare deeg te vorm. Druk die deeg vas op die bodem en teen die kante van die pan. Verkoel sowat ’n halfuur in die yskas, prik die bodem liggies en bak dan 10 minute.
3 Verlaag die temperatuur na 140 °C.
4 VULSEL Klits die versoeter, eiers, jogurt, suurlemoensap en -skil goed saam.
Giet in die voorbereide kors en bak 10 minute. Verlaag die hitte na 90 °C en bak verder tot die vulsel net gestol, maar steeds binne nog effe sag is,
sowat 20–30 minute. Verwyder uit die oond en laat afkoel.
5 MERINGUE Plaas die eierwitte, versoeter en kremetart in ’n glasbak oor ’n kastrolletjie met kookwater. Laat dit 3 minute prut terwyl gedurig geroer word en tot die versoeter opgelos is.
6 Verwyder van die hitte en klits sowat 10 minute met ’n elektriese klitser tot lig en blink. Vou die mielieblom en vanieljegeursel in. Skep bolle meringue bo-op die suurlemoenvulsel en skroei effe met ’n blaasvlam.

Wenk: as jy kleiner tertjies maak, sal ek voortel jy verdubbel die kors se hoeveelhede.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: