Tuisgemaakte Teebrood

Die dadels en rooibostee maak hierdie teebrood lekker swaar en klam, nes ek van ‘n koekbrood hou. Carmien Tea se Citrus Chai-rooibostee verleen ‘n ekstra speserygeur met ‘n tikkie sitrus, maar ek gebruik ook net so graag die Carmien Natural rooibos om hierdie teebrood mee te maak. Die maaskaasversiersel is heerlik hierby en ek was ook gelukkig om koekheuning in die hande te kry om daarby voor te sit.

Aarbei-Vinaigrette

Almal wat my ken, weet dat ek ‘n slaailiefhebber van uiterste proporsies is, soveel so dat my assistente in die toetskombuis altyd gespot het dat my kookboeke maklik meer slaairesepte as vleisresepte kon bevat. Hulle was nie ver van die waarheid nie, want ek is permanent op die uitkyk oor hoe ek ‘n slaai kan opkikker sodat dit nie na afskeepkos lyk nie, maar een van daardie geregte is waarvan mense graag ‘n tweede skeppie sal vra. En ja, die slaaibak op my tuistafel is altyd dolleeg, al was dit partykeer net ‘n paar slaaiblare en komkommer. (Buiten my pa, hy kon ek nie eintlik oorreed kry om te veel slaaigoed te eet nie, en tamatie het hy verpes om die minste daarvan te sê).

Oesbrood

In die Mediterreense lande word hierdie brood met oestyd gebak. Die vars druiwekorrels bo-op, vertel die storie van die nuwe druiweoes wat ingesamel moet word.
Rosyntjies in rooiwyn gekook saam met bietjie suiker, kan ook in die middel van die brood gepak word voor dit gebak word. Dan verteenwoordig die rosyntjies die vorige jaar se oes.
Die speserygeure van die Six Hats Shiraz werk goed saam met die soetigheid wat die druiwe verleen aan die brood. Smullekker by die rib, maar net so lekker saam met vis of op sy eie saam met die olyf-maaskaassmeer.

Sjokolade Terrien

Sjokolade bly ‘n treffer as jy jou geliefde wil bederf en hierdie een gaan beslis al die boksies tiek as jy wil indruk maak. Veral as jy tot die laaste nippertjie uitgestel het, want die terrien is verspot maklik om te maak en binne minute klaar. Daarby kan dit op vererlei maniere voorgesit word: saam met die bessie-roomys (daarvoor sal jy bietjie vooraf moet beplan) of klein koppietjies koffie om ‘n spesiale ete mee af te sluit of my gunsteling manier van doen — geniet dit saam met tee vir ‘n eenvoudige dog indrukwekkende intieme samesyn.

Spog Pavlova

Ek’t nog nooit geskrik vir meringue klits of pavlova maak nie. Ek’t dit darem net te veel moes maak onder die wakende oog van my ma. Die grootste geheim is om die suiker net bietjie-bietjie by te voeg sodat dit fluweelglad in die meringue ingeklits is, anders gaan die meringue nat trek en trane huil soos my ma altyd gesê het.

Flamkuchen

Hierdie is een van my absolute staatmakerresepte. My maklike weergawe van flamkuchen met die mees basiese bestanddele denkbaar: meel, olyfolie en yswater! En jy maak dit sommer in die voedselverwerker aan. Tjop-tjop en dis klaar. Dis ideaal om vir ‘n peuselbord voor te sit. Bak platbrode en pak uit saam met rotisserie-hoender, blaarslaai, rou groentes, kase, piekels en smere. Ook lekker om te gebruik as ‘n vinnige basis vir pizza.