Elke jaar as ons terugkom van ‘n bossafari hetsy in Namibië of een of ander wildreservaat, word ons telkens begroet met ‘n kleurespel van die eerste lenteblomme sodra die N7 Bitterfontein nader – en hoe wonderskoonmooi is dit nie, veral as die stof en sand en kaal vlaktes wat vir ‘n wyle ons blyplek was, nog vars in ons geheue ingeprent is. Mens kan nie vra vir ‘n beter tuiskoms-verwelkoming nie. Ek weet dan by die huis wag ons Weskustuin in volle blom met voëltjies wat baldadig tussen die blomme fladder, teugend aan nektar. Mens kan nie anders as om in hul vreugde te deel nie, dan bak ek koek om die koms van die lente te vier, ‘n mooi rooifluweel ene, baldadig bestrooi met blomme uit my tuin. Die blomtema eindig nie net daar nie, dit vra ook vir blomtees, in die koek sowel om daarmee saam voor te sit – dan kies ek die Floral Berry-tee uit Carmién Tea se uiters gewilde blomteereeks met die teemengsels wat in spesiale piramied-teesakkies verpak is. (Nou die dag het ek ‘n slaggie deur die fabriek op die plaas geloop en verstom gestaan by die spesiale masjien wat die tee so netjies verpak) Ek koop sommer die pakkies partykeer ook net vir die mooi – julle weet, elkeen van daai blommetjies is oorspronklik met die hand geverf – hoe spesiaal is dit nie!
ROOI FLUWEEL-BESSIETEEKOEK
Die koek met sy mooi bessiekleure en geure word binne ‘n japtrap aanmekaar geslaan en jy maak net twee bakke vuil. Ek bak dit graag in ‘n Bundt-pan om dit meer spesiaal te maak. Die silikoon-Bundtpan verseker dat jy dit gemaklik kan uitkeer sonder dat dit wil vassit of breek. Versier die koek met wat jy tot jou beskikking het, maar vir lente moet dit blomme en mooigoed uit die veld wees.
Maak 1 groot koek
Bereiding: 20 min
Baktyd: 25 min
KOEK
625 ml (2½k) koekmeel
250 ml (1k) suiker
30 ml (2 e) kakao
10 ml (2 t) bakpoeier
2,5 ml (¼ t) sout
2 eiers
115 ml olie
250 ml (1 k) Carmién Tea Floral Berry rooisbostee (4 sakkies) en 1 bottetjie (40 ml) rooi voedselkleursel, gemeng
5 ml (1 t) vanieljegeursel
VERSIERSEL
230 g geroomde maaskaas
Sowat 30 ml (2 e) versiersuiker
Veldblomme vir versiering
Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit 1 silikon-bundtpan met kossproei.
1 Meng die droë bestanddele saam.
2 Klits die eiers en voeg die res van die nat bestanddele by. Klits goed.
3 Giet by die droë bestanddele en roer goed tot ‘n gladde beslag.
3 Giet in die voorbereide pan en bak sowat 40 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die koek kom. Laat effens afkoel in die pan en keer dan uit op ‘n koekstaander.
4 VERSIERSEL Meng die maaskaas met versiersuiker tot soet genoeg na jou smaak.
5 Skep oor die koek en laat teen die kante afloop. Versier met blommetjies. Sit voor met Floral Berry-rooibostee uit die Carmién Tea-reeks.