Ek is lief vir Popeye se sterkmaakkos en probeer spinasie op alle denkbare maniere inwerk wanneer ek kook. Ek is nou net terug van ‘n heerlike wildtuin-vakansie in die Krugerpark en het ook digby Phalaborwa verby gery. Dis toe wat ek weer aan hierdie besonderse spinasie-kaaskoek dink wat ek jare terug op Phalaborwa by die Masorini Lodge buitekant die dorp geproe het. Omdat mens daar in die bos maar moet maak doen met dit tot jou beskikking, word hierdie spinasie-kaaskoek sommer met blaarspinasie en nie baba-spinasie nie, gemaak. (Meeste lodges het ook nou hul eie groentetuine waar veral spinasie gedy – grootste uitdaging egter is om die wild uit die groentetuin te hou). Ek sukkel nie eers meer deesdae om van die stingels ontslae te raak nie, maar kap dit net lekker fyn op. Die oorspronklike koek het ‘n Bacon Kip-kors gehad, maar ek gebruik nou my gunsteling voedseverwerkerdegie wat ek tot inspan vir pizzakorse en bodder nie eers om die koek in ‘n koekpan te bak nie, maar vorm dit sommer so rowwerig op ‘n bakplaat. Ek maak selfs klein tertjies wat ek sommer net so sonder kors in muffinpanne bak.
Maak sowat 12 stukke
Bereidingstyd: 20 min
Baktyd: 35 min
KORS
1 x voedselverwerkerdeeg (sien resep onder)
VULSEL
45 ml (3 e) olyfolie
1 ui, gekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
3 repies rugspekvleis
230 g knopiesampioene (opsioneel)
600 g spinasie, goed afgespoel
200 g peperfetakaas
230 g geroomde maaskaas
10 songedroogde tamaties in vinaigrette
Sout en peper na smaak
2 ekstra-groot eiers
1 eiergeel gemeng met bietjie melk vir smeer oor kors
Voorverhit die oond tot 200°C. Smeer ‘n groot bakplaat en stuif met meel.
1 KORS Berei die deeg soos beskryf. Rol die deeg sowat 3 mm dik uit en plaas op die bakplaat, dit kan maar oor die kante hang. Prik die deeg. Verkoel.
2 VULSEL Verhit die olie en braai die ui, knoffel en spekvleis tot gaar. Laat effe afkoel
3 Plaas saam met die res van die bestanddele, buiten die eiergeel en melk, in die bak van ‘n voedselverwerker en verwerk tot goed gemeng.
4 Skep die deeg in die middel van die kors en vou die kante van die deeg oor die vulsel toe. Vou die kante effe terug sodat mens nog bietjie van die vulsel kan sien.
5 Verf die deeg met eiergeelmengsel en bak sowat 35 minute tot die deeg goudbruin en die vulsel gaar is. Sit louwarm voor in skywe gesny saam met ‘n tamatieslaai.
Variasie vir KORSLOSE TERTJIES: Skep die vulsel in gesmeerde diep muffinpanne en bak sowat 20—30 minute of tot gestol.
Voedselverwerker-deeg
160 ml (⅔ k) yswater
60 ml (4 e) olyfolie
500 ml (2 k) witbroodmeel
Sout
1 Meng die water en olyfolie.
2 Plaas die koekmeel en sout in die bak van die voedselverwerker of ‘n elektriese menger met die plastiek- of deeglem. Voeg die water stadig deur die tuit by terwyl die masjien loop en meng goed tot ‘n stywe deeg wat in ‘n bol vorm in die bak – meng te minste vir 5 minute, dan het mens nie nodig vir knie nie. Laat rus 15 minute. Gebruik soos beskryf.