Opslag tamaties

Vir ‘n wyle hou ek nou al die plantjie wat neffens die agterdeur opgeslaan het, dop. ‘n Tamatieplant, ontdek ek by nadere ondersoek. En hy gedy by die dag al hoe meer. Ons tuinier het sy moontlikhede raakgesien en vir die plantjie ‘n oprankstokkie ingeplant. En die plantjie het nie teleurgestel nie. Toe ek besig was met foto’s vir my nuutste resepteboek, kon ek ruimskoots lote van die mooiste klein groen tamatietjies afpluk wat op vele plekke in die boek pryk. Ons is weg vir ons wildtuinkuier en by ons terugkoms het die plantjie omtrent ontpop in ‘n hele bos, oorlaai met tamatietjies, bloed-bloedrooi en heerlik geurig. Ek loop en peusel heeldag lank daaraan. Maar julle is ook na al goed bekend met my liefde vir slaai en met die oordaad tamaties wat so in my skoot geval het, is dit tog te lekker om ‘n paar maklike slaaie te bedink. Maar soos ek ook al vele kere vantevore genoem het, is dit die slaaisous wat die maak of breek van ‘n slaai is. Hierdie keer wend ek my dan tot die ruim oes van tamaties en maak ‘n slaaisous met songedroogde tamaties.

Rooi tamatie-vinaigrette

Die vinaigrette is ideaal om oor ‘n tipe Caprese of Panzanella-slaai te sprinkel. Sorg dat jy goeie kwaliteit olyfolie gebruik.

Maak 125 ml (1/2 k)

  • 2 knoffelhuisies, gekneus
  • 45-60 ml (3-4 e) songedroogde tamaties in vinaigrette, gekap
  • 30 ml (2 e) pesto van songedroogde tamaties (opsioneel, maar sien resep onder – dis heerlik)
  • 30 ml (2 e) vars pietersielie, gekap
  • 15 ml (1 e) vars origanum, gekap (opsioneel)
  • 60 ml (¼ k) olyfolie
  • 15 ml (1 e) balsemieke of sauvignon-asyn
  • 5 ml (1 t) suurlemoenskil, gerasper
  • vars gemaalde swartpeper
  • water of van die songedroogde tamatie-vinaigrette (sien onder) om die sous loperig te maak

Verwerk al die bestanddele in ’n voedselverwerker tot glad. Voeg water by om ’n loperige sous te kry.

Caprese-slaai

Die is ‘n heerlike vars slaai. As jy nie eiervrug kan kry nie, rooster sommer skywe murgpampoentjies of laat dit bloot weg. Ek geniet ook veral die variasie van die roomkaasbolletjies.

Genoeg vir 4 mense

  • Verskeidenheid groot rooi tamaties, in skywe gesny
  • Groot handvol baba-Roma-tamaties
  • 1 medium eiervrug, in skywe gesny en in ’n riffelpan of oond gebraai tot gaar, maar steeds lekker sappig en sag
  • sowat 8 swart olywe
  • 4 bolle bocconcinikaas, in stukke geskeur (sien ook wenk)
  • Basilieblare vir afronding
  • Tamatie-vinaigrette om mee voor te sit

1 Rangskik al die bestanddele op ’n bord en sit voor saam met die vinaigrette.

Wenk: skep roomkaas in bolletjies met ‘n teelepel en rol in broodkrummels. Braai in diepolie tot bruin en gebruik pleks van die bocconcini-kaas. As jy nie wil braai nie, rol die bolletjies roomkaas in gekapte pietersielie of selfs neute.

Panzanella-slaai

Brood in bonkige stukke gebreek is heerlik in hierdie slaai, gemaak met vars en oondgebakte tamatie.

Genoeg vir 4 mense

  • ½ ciabatta of rogbrood, in stukke gebreek
  • olyfolie
  • groot handvol baba-tamaties
  • 6—8 verskeidenheid groot tamaties, in stukke gesny
  • seesoutvlokkies en peper
  • 1 rooi ui, in skyfies gesny
  • Paar kappertjiesade
  • Tamatie-vinaigrette
  • Basilieblare vir afronding

Voorverhit die roosterelement van die oond
1 Pak die broodstukke op ‘n bakplaat, besprinkel met olyfolie en rooster tot bros, maar steeds effe sag van binne.
2 Pak die baba-tamaties ook in ‘n bakplaat, geur met sout en peper, sprinkel bietjie olyfolie oor en oondbraai terselfdertyd tot dit net effe oopbars.
3 Meng die baba- sowel as groot tamaties in ‘n mengbak saam met die ui en kappertjiesade. Giet bietjie slaaisous oor en laat staan so 10 minute.
4 Pak in ‘n slaaibord, stapel brood bo-op en sprinkel basilieblare oor.

Sondroë-tamatiepesto

Maak 375 ml (11/2 k)

  • 150 g sondroë tamaties
  • Kookwater
  • 8 knoffelhuisies, geskil
  • 100 g gepelde amandels of enige ander neuter
  • 45 ml (3 e) suurlemoensap
  • 60 ml (1/4 k) pecorino-kaas, gerasper
  • 80 ml (1/3 k) feta-kaas, in stukkies gebreek
  • 125—160 ml (1/2—2/3 k) olyfolie

1 Bedek die tamaties met kookwater en laat staan oornag om te versag. Dreineer, behou water, en knip die tamaties fyner.
2 Vul water aan tot 100 ml met kookwater.
3 Plaas die tamaties en water saam met knoffel, amandels en kase in die voedselverwerker.
4 Verwerk tot goed gemeng, maar steeds growwerig.
5 Voeg net genoeg olie deur die tuit by om ‘n loperige pasta te maak.
6 Skep in flessies en verkoel.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: