Ek kan nie eintlik my vinger daarop lê nie, maar die afgelope tyd oorval ‘n lus vir ietsie soets my nogals van tyd tot tyd. Eintlik het ek besluit dis die naderende lente wat seker die oorsaak is. Want soos ek die Weskus se blommeprag aanskou wat oral te bespeur is, is dit ook asof daar ‘n soet bloeiselgeur in die lug hang. Dis toe wat ek ‘n vorige boek van my nader trek en die koekhoofstuk van naderby beskou. Die maklike sjokoladekoek het ek anderdag gebak, so ook die rooi fluweel een en ook die kaaskoek. Net voor ek die boek wil toeslaan, val my oog op ‘n klapperkoek wat toentertyd baie gewild was in die toetskombuis. Buiten vir klapper in die koek, kry dit ook so ‘n tipe klapperstrooisel oor wat jy dan rooster onder die roosterelement van die oond. Soet, maar tog word dit in bedwang gehou deur die klappersmakie en jogurt wat dit inkry. ‘n Maklike koek om te maak en ek bak dit sommer in ‘n vierkantige pannetjie. Daar is wel heelwat suiker in, maar jy kan versoeter gebruik. Die koek is egter ook op my lysie om te kyk of mens hom dalk met klappermeel kan bak, maar ek weet dit gaan ‘n paar probeerslae verg, want klappermeel is moeilik om mee te werk. Sodra ek dit egter onder die knie het, deel ek die resep met julle. Maar vir nou kan ons maar klein blokkies sny en heerlik smul om die koms van die lente te gedenk.
PAPAWERSAAD-KLAPPERKOEK
Die klapperstrooisel wat na die tyd oorgesprinkel en geskroei word smaak hemels op hierdie klapperkoek wat met jogurt gemaak word.
Maak 1 groot vierkantige koek
Voorbereiding 20 min
Baktyd: 50 min
KOEK
3 ekstragroot eiers
375 ml (1 1/2 k) suiker
125 ml (1/2 k) olie
40 g papawersaad
100 g klapper
250 ml (1 k) bruismeel
Knippie sout
250 ml (1 k) natuurlike jogurt
Gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
STROOISEL
60 ml (1/4 k) room
80 ml (1/3 k) botter
125 ml (1/2 k) sagte bruinsuiker
160 ml (2/3 k) klapper
80 ml (1/3 k) pekanneute, gekap
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n 20 cm vierkantige koekpan goed met botter of spuit met kossproei. Stuif met meel.
1 KOEK Klits die eiers en suiker goed saam.
2 Voeg die res van die bestanddele by en klits goed.
3 Giet in die voorbereide pan. Bak 40—45 minute lank of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.
4 STROOISEL Verhit al die bestanddele vir die strooisel in ‘n kastrolletjie. Kook 1 minuut lank.
5 Keer die koek op ‘n bakplaat uit en skep die strooisel oor. Rooster onder die roosterelement van die oond tot die stooisel net effe verbruin.