Smul aan varkvleis

Vark as my voorkeurvleis is alombekend. Verlede week het ek tog te lekker geëksperimenteer met varkvleis daar in Herman Lensing se studio en verskeie videos vir Media24 geskiet. Die crew het heerlik gesmul aan van rafelvleispakkies tot roerbraai-soetsuurvark en varksteaks, selfs hamburgers en spaghetti bolognaise, om maar ‘n paar te noem. Dit het net weereens bewys hoe lekker en veelsydig varkvleis kan wees. Hier is ‘n lusmakertjie vir ‘n heerlike resep met soetsuursmake wat jy kan inspan vir van varkribbetjie tot tjoppies, steaks en heel varkfilet, selfs heel varklende. As ek haastig is, kook ek die ribbetjie vooraf eers in ‘n aftreksel gemaak van so 4 sakkies van Carmién se groen rooibostee met gemmer en brandrissie (Revive) op 750 ml (3 k) water. Die aftreksel kan jy ook in die pan giet as jy ‘n heel lende gaarmaak. Die rooibostee help om die vleis heerlik sag te kook, maar die gemmer en bietjie brandrissie verleen ‘n heerlike smaak wat lekker pas by varkvleis.

SOETSUUR VARKRIBBETJIES OF -TJOPS

Nes soet en suur werk Oosterse smake baie goed saam met vark. Die doodmaklike smeerselresep van gelyke hoeveelhede heuning en suurlemoensap met helfte sojasus is geskik vir van ribbetjies tot varktjops en heel snitte soos lende.

Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 15 min
Gaarmaak: 30—40 min

SMEERSEL
90 ml (6 e) suurlemoensap en skil van 1 suuremoen
90 ml (6 e) heuning
45 ml (3 e) sojasous
6—8 knoffelhuisies, gekneus
2 brandrissies, ontpit en gekap
3—5 ml (ruim ½-1 t) 5/7-spesery Chinese poeier
VARK
1 varkribbetjie van sowat 1,5 kg of 6 varkneksteaks
Sout en peper
VIR VOORSIT
4 Granny Smith appels, gekap
45 ml (3 e) suiker
125 ml (½ k) water
60 ml (¼ k) botter
3 suurlemoene of lemmetjies vir voorsit
15 ml (2 e) Szechaun- of swartpeperkorrels

Voorverhit die oond tot 180°C.
1 SMEERSEL Meng al die bestanddele saam.
2 VARK Geur die ribbetjie met sout en peper en smeer die smeersel oor. Marineer 3—4 uur. Oondbraai 30—40 minute tot sag en gaar. (braai 45—60 minute oor matige kole). Smeer gereeld met die smeersel. Sny in ribbetjies, smeer die vleiskante ook met die smeersel en oondbraai vinnig tot bros.
3 VOORSIT Kook die appels, suiker en water saam tot sag. Plaas saam met botter en peper in ‘n voedselverwerker en maak fyn.
4 Sit appelmoes en lemmetjies voor saam met ribbetjies.

VIR HEEL VARKFILET Verf die smeersel oor die varkfilet en braai vinnig in ‘n verhitte riffelpan tot geseël buite-om. Plaas dan op ‘n bakplaat en sit vir 10 minute in ‘n 200°C oond en oondbraai tot die vleis bleek van binne, maar nie droog is nie, meestal duur dit so 10 minute afhangende van die grootte van die vleis. Sny in stukke en sit voor met ‘n patatpuree, roerbraaigroente indien verkies en ‘n vars vrugtesalsa soos appelliefies, gekapte perskes of mango, 1 klein gekapte rooi ui, gekapte koljanderblare en spatsel balsamieke asyn.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: