Aardse kleure en eiervrugbrood

Nou die dag sit ek by die haarkapper en blaai ‘n slaggie weer ‘n paar tydskrifte deur. En hoe lekker ontspanne is dit nie, die gevoel van die blaai en omblaai en terugblaai van ‘n tydskrif nie. Nee kyk, ek sal altyd ‘n “papier”-tydskrifmens bly, dit bied my net veel meer genot as om dit aanlyn te bestudeer, want dan voel dit altevol mos na werk. So, tydskrif in die een hand, koppie tee in die ander, is dit al wanneer ek werklik lekker kan ontspan.

So tussen al die mooi en brokkies lees ek weer ‘n paar goed raak, wat ek lankal eintlik weet, maar net lekker is om opnuut weer van kennis te neem. Soos dat terracotta, die kleur van klei en grond, ‘n warm kleur is wat jou geanker en na aan die aarde laat voel. Hulle praat my taal, want hoe nader aan die aarde, hoe meer gemaklik voel ek. Terug by die huis besluit ek om al daardie hordes kleipotte wat ek oor jare van oral versamel het, opnuut met nuwe respek te hanteer. Op die voorstoep staan die tafeltjie wat my man eens op ‘n tyd uit ‘n stoorkamer of iets gered het, vol boormerke en krapmerke… en hy word terstond die uitstalkas vir ‘n paar – die wonki-rondes wat ek naas die pad in Namibië aangeskaf het en die grondpadrit deur die woestyn deurstaan het; die gegrafeerde kruik, ‘n aangee-stuk van my skoonpa saam met ‘n klip en verweerde stok of twee wat ek maar so oral optel; daarby die dankbare spekboom, wat help asem gee en lugskoonmaak en my aan die Oos-Kaap, my ma se grootwordplek herinner.

As dit dan by eetgenot kom, is daar niks beter om dit mee te vier as een of ander groentegereg, reg uit die aarde nie. Ek kies ‘n eiervrugbrood, die resep wat ek aangepas het van die Franse aartappelgebak, Tartiflette, maar net die aartappel hier vervang met eiervrug. Die resep kry spek en gelatien in, maar as jy in styl wil wees om die onlangse wêreldwye vegetariese dag te vier, kan jy dit gewoon net weglaat of andersins vervang met ‘n sprinkel neute of sade.

EIERVRUGBROOD

Jy kan hierdie in ‘n broodpan of andersins ‘n koekpan bak. Heerlike bykos of as vegetariese opsie.

Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 30 min
Gaarmaak: 45 min

125 ml (½ k) sagte broodkrummels
60 ml (¼ k) fyngerasperde pecorino-kaas
Sowat 3 medium eiervrugte, in die lengte in skywe gesny, skil en al
Sout
olyfolie
2 rooi soetrissies, gehalveer
125 g spekvleis (opsioneel)
1 ui, in ringe gesny
4 knoffelhuisies, fyngedruk
4-6 murgpampoentjies, in lang dun repe gesny of 300 g baba-spinasie
Sowat 300 g mozzarella-kaas, in skywe gesny
Paar takkies tiemie
80 ml (⅓ k) witwyn
Gelatien (opsioneel)
SOUS
250 g baba-tamaties
25 ml (5 t) tamatie-pesto

Voorverhit die oond tot 190°C. Voer ‘n klein broodpannetjie uit met tinfoelie en spuit goed (andersins gebruik ‘n losboom-koekpan).
1 Meng broodkrummels en parmesaankaas en sprinkel helfte daarvan op die boom en teen die kante van die pannetjie.
2 Sprinkel sout oor eiervrugskywe, laat staan 10 minute in ‘n vergiettes, druk droog en pak op ‘n bakplaat. Sprinkel bietjie olie oor. Oondbraai sowat 15 minute tot net gaar maar nie droog nie.
3 Pak soetrissies met velkant na bo op ‘n ander bakplaat, plaas ook die repe spekvleis daarby. Oondbraai tegelykertyd met die eiervrug tot die soetrissies swart blasies bo-op vorm en die spekvleis gaar maar nie bros is nie.
4 Verwyder uit die oond, plaas die soetrissies in ‘n plastieksak om af te koel en trek die velletjies af en verwyder die pitte. Sny in groot stukke.
5 Verhit bietjie olie in ‘n pan en roerbraai die ui en knoffel daarin tot sag.
6 Pak lae as volg in die broodpannetjie: pak ‘n enkel laag eiervrug onderin die pan, smeer bietjie van die uiemengsel oor en pak ‘n laag kaas bo-op. Pak dan ‘n laag soetrissie en murgpampoentjies of spinasie, gevolg met die spekvleis bo-op. Herhaal die lae. Sprinkel ‘n klein bietjie gelatien oor elke groentelaag. Dit help om dat hulle beter bymekaarhou, maar is heeltemal opsioneel, laat uit as jy ‘n vegetarier is. Pak tiemietakkies op, giet wyn oor en sprinkel die orige broodkrummelmengsel bo-op.
7 Maak liggies toe met tinfoelie en bak sowat 25—30 minute of tot die kaas goed gesmelt is. Rooster vinnig tot effe bruin bo-op.
8 SOUS Roerbraai die baba-tamaties tot hulle net begin oopbars. Roer pesto deur en geur met sout en peper.
8 Laat bietjie afkoel sodat die kaas net effe kan stol en keer dan versigtig op ‘n dienbord uit. Skep die tamatiesous bo-oor en rond af met basilieblare.

Wenk – Jy kan ook eiervrugskywe vir ‘n paar minute net so in die mikrogolf verhit tot dit goed sag is. Druk fyn en werk by ‘n tamatiesmoor in om ‘n lekker dik smoor te verkry. Nou kan jy enige ander groente soos murgpampoentjies, baba-mielies of selfs olywe daarby voeg.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: