Pure Weskus

Ek het mos op die rand van die Weskus grootgeword – bo-op die Olifantsrivierberge waarvandaan jy op ‘n mooi dag die son oor die see by Elandsbaai kan sien blink. Maar nou bly ek midde-in die Weskus hier op Langebaan en die ontdekking van Weskusjuwele hou net nie op nie. Daarom toe ek die nuutste uitgawe van Country Cooking op die rak sien opgedra aan die Weskus moes ek dit net dadelik aanskaf. En die deurblaai het nie teleurgestel nie. So baie bekende mense en plekke wat nou al ons gereelde aandoenplekke hier teen die Weskus geword het.

Die mooie Kraaibaai, waarheen ons menige dag verkas as die wind jou uit Langebaan waai waar Esther Malan, my voormalige kollega in Huisgenoot se toetskombuis, se familie nou knus teen die koraalblou waters woon – die heerlike spread wat hulle opdis, pure Weskus met van harders tot varknek met patats en mosterdsous en ‘n aarbei-trifle, elkeen met daai lekker kinkel wat net Esther daaraan kan gee. Vensterklip net buitekant Elandsbaai met sy eeuoue geboue wat Jane Louw so mooi bewaar en deesdae Weskuskos met ‘n lekker Mexikaanse kinkel voorsit, Langebaan se Langtafel op die duin met Isabella Niehaus aan die stuur, Weskusspens Padstal waar tannie Annemarie Thom die lekkerste brode bak en waar ek my kooksel heerbone en plaasbotter kry, dan het ons nog nie eers by die mossels, harders en snoek uitgekom nie. Ek begin ook al hoe meer leer oor die Weskus se veldkosse. By vriende, Abraham en Elsa Singels het ek nou die dag die heerlikste slaai met veldkool in geniet en spekboom groei soos bossies in my Weskustuin. En dan is daar natuurlik die Weskus se eie Khoisan-sout wat digby Dwarskersbors geoes word en wat ook die basis vorm van my eie Carmen Niehaus-rooibossoute.

Sommer so op die ingewing van die oomblik bedink ek toe hierdie bymekaargooi slaai wat ek dan voorsit met my eie Carmen Niehaus-fynbos-slaaisous, gemaak met rooibostee en titsel boegoe by.

Die slaaisouse en soute is te kry by die De Tol-deli buitekant Citrusdal of andersins ook op die Carmién-webtuiste.

BYMEKAARGOOI SLAAI

Die vorige aand se oorskiet oondgebraaide groente, goed geurgegee met Carmen Niehaus-fynbossout vorm die basis van die slaai Die spekboomblaartjies is tog te lekker hierin. Ongelukkig het ek nie ‘n kooksel heerboontjies byderhand gehad om by te voeg nie. so ‘n blik kekerertjies moes maar die ding doen. As ek die heerboontjies kook om in slaai te gebruik, giet ek graag een van my slaaisouse oor terwyl dit nog warm is, dan trek dit so lekker in die heerboontjies in. Mens het nie veel meer as ‘n paar tjoppies (of daardie lekker gemarineerde hoender van verlede week) en braaibroodjies hierby nodig nie. Vir poeding, vars aarbeie met jogurt – eenvoudig, maar hemels.

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 min

Verskeidenheid slaaiblare
250 g oondgebraaide groente (patat, botterskorsie, broccoli en sampioene)
1 rooi ui, fyn opgesny
Halwe komkommer, in klein blokkies gesny
1 blik (400 g) kekerertjies, gedreineer of andersins 250 ml gaar heerboontjies
2—3 piesangs, in skyfies gesny
Groot handvol bosbessies
Groot handvol pampoensade
1 wiel feta-kaas, in stukke gebreek (opsioneel)
Paar takkies spekboom se blaartjies wat afgebreek is
Gekarameliseerde sonneblomsade vir bo-oor sprinkel
Carmen Niehaus-fynbosslaaisous

1 Plaas die slaaiblare in ‘n bak en voeg die groente by.
2 Sprinkel die ui, komkommer, kekeretjies of heerboontjies en piesangs by en meng liggies.
3 Sprinkel dan die bosbessies, pampoensade, fetakaas en spekboomblaartjies oor.
4 Rond af met gekarameliseerde sonneblomsade.
5 Giet ‘n goeie skoot van die slaaisous oor net voor opdiening.

Hoe om sonneblomsade te karameliseer: Plaas groot handvol sonneblomsade in ‘n droë, verhitte pan en braai tot dit net begin verbruin. Sprinkel bietjie bruinsuiker oor en skudbraai tot die suiker gesmelt is. Giet dadelik uit op ‘n gesmeerde oppervlak om af te koel. Breek in stukkies.

Aarbeie met volroomjogurt

Vir nagereg het ek hierdie eenvoudige dog lekker vars aarbeie gemaak. Peter Veldsman het my die triek geleer om swartpeper oor aarbeie te maal om die geur uit te bring. Strooi die suiker oor en laat staan so lank as kan sodat so ‘n lekker stropie vorm. Ek sit graag volroomjogurt pleks van room hierby voor.

750 g aarbeie, gehalveer
Suiker vir bo-oor sprinkel
Swartpeper
Volroomjogurt gemeng met bietjie versiersuiker om mee voor te sit

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: