Vanjaar was ek weereens bevoorreg om deel te wees van die paneel beoordelaars wat jaarliks die nuwe Championship Boerewors van Checkers en Shoprite moet aanwys. Die dertigte jaar van die kompetisie en ek kan met trots sê dat ek van heel van die begin af deel was daarvan. Toe ek vir die soveelste keer die beoordelingsleêr vashou met kriteria wat ek nog help opstel het, het ek net weereens besef hoe wonderlik dit is dat ons as Suid-Afrikaners weet die oomblik as ons ‘n Boerewors braai, dit nie enige snaaksighede gaan bevat nie, maar pure vleis is, want daar is wetgewing wat bepaal wat alles in ‘n Boerewors mag wees – 90 persent vleis waarvan nie meer as 30 persent vet mag wees nie. Jy kan bees, vark of lamsvleis gebruik of ‘n kombinasie daarvan. Vir my moet ‘n Boerewors lekker sappig wees en nie te vetterig nie; maar dis veral die kombinasie van ‘n noukeurige mengsel speserye wat vir my die knoop deurhaak. Mens kan nie dink dat ‘n basiese mengsel speserye soos koljander, sout, peper en bietjie naeltjies met miskien ‘n titsel tiemie by, soveel gedaantes kan aanneem nie.
Die beoordelingsproses van Checkers se Championship Boerewors is ‘n ernstige storie en daar is ‘n lang stel kriteria waaraan die rou sowel as gaar wors moet voldoen en die hele proses word noukeurig geoudit. Elke wors het ‘n nommer, en dit is wat ons beoordeel, nie die deelnemer nie. Vir ons as beoordelaars is dit net so ‘n verrassing wie die wenner is.
Oor die jare het ek ook nou al geleer om so langs die kant aantekeninge te maak oor watter wors my smaakkliere prikkel en dan is dit baie interressant om te kyk of die rou wors wat jou oog gevang het, wel tot die reg gekom het nadat dit gebraai is en inderdaad toe die paal gehaal het.
Vanjaar was dit die perfek gebalanseerde kombinasie van speserye asook net die regte verhouding vet tot vleis, wat gesorg het dat die 23 jarige Welcome Magoso van Umlazi in KwaZulu-Natal as Championship Boereworswenner aangewys is.
Die Checkers-span laat ook nie op hul wag nie en die 2022 Championship Boerewors is reeds in die winkels beskikbaar en gereed om op Braaidag saam met jou vleisie oor die kole te gooi.
Hoe hou ek van my boerewors?
Net-net gaar gebraai, met ‘n lekker bros buitekant, maar sappig binne en daarmee saam ‘n geurige tuisgemaakte tamatiesous, oftewel sheba. Hier is my weergawe van sheba wat ek graag ook saam met phutu-pap voorsit. Dit gaan julle in my nuwe boek wat binnekort op die rakke gaan wees kry.
SHEBA
1 groot ui, gekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
60 ml (¼ k) olie
250 ml (1 k) kombinasie van 1 eiervrug, 1 soetrissie en 2 klein wortels, in klein blokkies gesny
750 g ryp rooi tamaties, grof gekap
Paprika en rooipeper
50 ml appelkooskonfyt of suiker na smaak
Sout en skootjie rooiwyn en asyn na smaak
SOUS Braai die ui en knoffel in bietjie olie tot sag, voeg die groente by en braai tot sag. Voeg die tamaties by, geur met sout, bietjie paprika en rooipeper, verlaag die hitte en prut tot ‘n geurige sous. Roer die appelkooskonfyt of suiker by en geur na smaak met sout, rooiwyn en asyn en prut tot geurig.