Low Carb Lasagne

My ma se lasagne was fenominaal – die vleissous met lekker baie rooiwyn in, is lank en stadig geprut tot sielsalige lekkerte. Bo-oor ‘n heerlike ryk kaassous. Die resep wat sy gebruik het, het altyd gevra vir groen pastalinte, nie lasagnevelle nie (of miskien was dit net dat daar destyds bloot net nie lasagnevelle op die platteland beskikbaar was nie). Soos ek al meermale genoem het, is ek nie ‘n aanhanger van enige spesifieke eetplan nie, maar stel ek gesond eet voorop. Maar net soos wat ek van tyd tot tyd poog om my vleisporsies te verminder en meerendeels groente en peulgroente te geniet, is dit ook vir my goed om te kyk hoe ek koolhidrate in geregte kan verminder – en die maklikste plek om dit te doen, is met vleiskosse. Die legendariese lasagne-resep van my ma het ek dus aangepas en die groen pastalinte met eiervrug vervang en die kaassous met ‘n maaskaassous waarby heelwat spinasie ingewerk word, een van my gunsteling groentes. Heerlik en ideaal om sommer in groot maat te maak en te vries. My kleinsus, Aletta Groenewald, is ‘n meester as dit kom by vooraf kosmaak (pre-prep) en dit dan in eenman-porsies vries. Ideaal veral as jy, soos sy, vir ‘n handvol honger seuns moet kosgee. Sy het sulke nuttige porseleinbakkies, net genoeg vir een, aangeskaf wat sy hiervoor gebruik. Ekself span sommer klein broodpannetjies in. Net so handig om saam te stuur as die kinders hul eie woonplekke kry terwyl hul studeer of begin werk en mens so verhoed hulle leef nie net op takeaways nie en hoop hulle kry so iets voedsaams in hul lywe.

Genoeg vir 6 mense
Voorbereiding: 30 min
Gaarmaak: 60 min

VLEISSOUS
olie
1 ui, gekap
4 knoffelhuisies, fyngedruk
250 g spekvleis, in stukkies gesny
750 g ekstra-maer beesmaalvleis of selfs ‘n kombinasie van bees- en wildsvleis
65 g tamatiepasta
1 blik (410 g) gekapte tamaties
1 blik (410 g) tamatiepuree
15 ml (1 e) gekapte roosmaryn
Sout en peper na smaak
45 ml (3 e) suiker
2 ml (½ t) paprika
180 ml (¾ k) rooiwyn
SPINASIE-KAASSOUS
1 pak (300 g) spinasie, gekap en verhit tot verwelk en fyn gekap
2 bakkies (230 g elk) geroomde maaskaas
AFRONDING
3—4 eiervrugte, in lengte in dun skywe gesny
375 ml (1½ k) Mozzarella-kaas vir bo-oor sprinkel

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n oondbak of ‘n paar kleiner panne of oondvaste bakkies wat genoegsaam is vir ‘n porsie.
1 VLEIS Verhit die olie, braai die ui en knoffel tot sag. Voeg die spekvleis by en braai tot geurig. Voeg die maalvleis by en roer tot gaar (my ma het gehou daarvan om dit bietjie bruin te braai).
2 Voeg res van bestanddele by en prut tot geurig, sowat 30 minute.
3 KAASSOUS Meng al die bestanddele saam tot goed gemeng.
4 AFRONDING Pak die eiervrugskywe in enkellae in ‘n oondpan, geur met sout en peper en sprinkel bietjie olie oor. Oondbraai tot gaar en effe bruin, maar nie hard gebak nie (mens kan dit ook in die Airfryer doen).
5 Skep ‘n lagie vleissous in die oondpan(ne) of bakke, vervolg met ‘n laag eiervrug. Herhaal die lae tot alles opgebruik is en eindig met ‘n dik laag kaassous. Sprinkel die Mozzarella-kaas bo-oor. (indien jy dit maak vir vries, vries die porsies voor jy dit bak) Bak sowat 20—30 minute of tot die kaas gesmelt is.

Wenk: Om ‘n gewone lasagne te maak: Maak ‘n dik witsous met 60 ml elk meel en botter en 375 ml melk, waarby ‘n lourierblaar of twee gevoeg is. Roer ‘n goeie handvol Cheddarkaas by. Gebruik in plaas van die kaassous in die resep. Dompel lasangevelle in kookwater en gebruik in plaas van die eiervrugskywe. Berei verder soos beskryf.

One thought on “Low Carb Lasagne

  1. Hallo Carmen
    Ek het so ‘n behoefte aan om te weet watter resepte kan met gemak gevries word. Bv. Kan ek die snoekpastei vries. Wens so jy kan vir ons n resepteboek maak vir geregte wat gevries kan word….
    Groete
    Elieda Matthee

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: