Aanvanklik het ek nie gedink die kombinasie van pruimedante en olywe gaan werk nie. Maar toe ek dit eers proe, kon ek nie ophou eet nie. Nou is dit een van my groot staatmakers in my huis. Veral lekker om aan gaste voor te sit en ideaal vri feesdae pleks van die hoenderpastei, want jy kan dit in die oond druk en absoluut daarvan vergeet!
Ek het hierdie gereg een maal vir ‘n Carmien Tea -personeelfunksie wat ek by my huis aangebied het, voorgesit. Toe het ek die helfte van die witwyn met Carmien se groen rooibostee te vervang om daardie lekker kruiegeur deur te bring. Dit was ‘n treffer! Geniet saam met koeskoes en ‘n vars slaai.
MARINADE
2 heel knoffelbolle
125 ml (1/2 k) olyfolie
60 ml (1/4 k) balsamieke asyn
60 ml (1/4 k) droë oreganum
HOENDER
12 hoenderporsies (dytjies en boudjies maar nie borsies)
Sout en peper
250 ml (1 k) wit wyn
125 ml (1/2 k) kappertjiesaad (verkieslik met lang stele)
30 groen olywe
30 pruimedante
1 bossie vars koljander, goed afgespoel
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n oondbak.
MARINADE
Mikrogolf die knoffelbolle, skil en al, vir 3–5 minute of tot hulle sag is, druk die puree uit en meng met res van die bestanddele vir die marinade.
HOENDER
Pak die hoender in die oondbak, geur met sout en peper, giet marinade en wit wyn oor en voeg die kappertjiesaad, olywe en pruimedante by asook helfte van die koljanderblare.
Bedek en bak 75 minute tot die hoender sag en gaar en en goudbruin. Sprinkel die orige koljanderblare oor.
Wenk: Plaas heel knoffelbolle mikrogolf dit vir ‘n minuut op ‘n slag tot sag. Dit neem nie baie lank nie.