Hannie Spies vra -“My frikadelle is altyd droog…”
My kosvriend en mentor, Peter Veldsman, wat vir jare ‘n kantoor en toetskombuis langs my gehad het op die 22e vloer van die Media24-gebou in Kaapstad, het altyd gepraat van doodgooi frikadelle wanneer die frikadelle so droog en “hard” uitgekom het.
Die beste manier om dit te verhoed is om eerstens die frikadelle met goeie kwaliteit maalvleis te maak wat ook ‘n klein bietjie vet in het – dus nie ekstramaer maalvleis nie, maar ook nou nie vleis wat wemel van die vetterigheid nie. Ek verkies beesvleis, maar wanneer ek afkom op bietjie volstruisvleis of selfs gewone wildsvleis, hou ek daarvan om ook ‘n bietjie daarvan by te meng. Mens kan selfs vark of lam bymeng. En as jy die maalvleis meng, werk liggies en liefs met ‘n vurk, nie te lank nie, want dit maa kook die frikadelle “taai” , wurgdroog en hard.
Ek hou van ‘n lekker los frikkadel met gekapte ui en knoffel (jy kan dit vooraf eers bietjie braai) by die vleis ingemeng, partykeer ‘n bietjie pietersielie en dan natuurlik ‘n eier om die frikkadel te bind. (My ma het altyd ook ‘n snytjie brood wat in melk geweek was ingesit, maar ek doen dit nie eers nie – brood is ook geneig om die vleis dig te maak). Die gerasperde skil van ‘n suurlemoen verrig ook wondere om die frikadelle ‘n lekker ligte vars smaak te gee. My wonderlike vriendin, Isabella Niehaus, sit brandrissie, komyn en ‘n goeie handvol gekapte koljanderblare ook by. Jy kan ook ‘n wortel en ‘n aartappel byrasper, vertel sy.
Soos ek gesê het, moet nou nie te veel karring aan die vleis nie, meng net liggies deur. Vorm lossies in frikadelle en pak dit op ‘n bakplaat. (ek smeer my hande met olie as ek die frikadelle rol).
Sit dit nou in die yskas vir so ‘n uur of wat sodat die frikadelle lekker stewig kan word en bak dit dan by 190°C, nie vir te lank nie, so 15–20 minute tot dit net gaar is (afhangende van die grootte van die frikadelle). Ek verkies om dit in die oond te doen, want dan hoef jy nie te kommer dat die frikadelle gaan breek nie. Nou kan jy ‘n lekker tamatiesous daarby maak en dit voorsit op pasta of polenta.
My mond water sommer!
Julle gesels so lekker oor al jul kosgeheime. Stuur gerus vir my nog vrae met waaarmee julle sukkel in die kombuis en ek kyk hoe ek julle kan help. En as julle en of ander wenk het wat wonderlik werk, deel dit gerus ook met ons. Ek leer nog elke dag en dis alles deel van die pret van kook. Saam kook ons ‘n storm los.
Lekker kook! Volgende week praat ons oor koeksisters.