Snoekpastei

Op die plaas wat bo-op die Olifantsrivierberge naby Citrusdal geleë is, het jy na die een kant ‘n pragtige uitsig op die Cedarbere en na die ander kant kyk jy uit oor die koringvlaktes van Eendekuil. In die verte kan jy op ‘n mooi dag die Weskussee van Elandsbaai sien blink. So ja, ons het so op die rand van die Weskus grootgeword en vis, veral snoek, was gereeld op tafel.

En nou, nou dat ek al byna ‘n jaar permanent op die pragtige Weskusdorpie op Langebaan bly, is dit ‘n móét dat jy ‘n lekker vistert in een of ander vorm in jou resep-repertoire moet hê. Buiten vir viskoekies is dit ‘n lekker manier om enige oorskiet gebraaide vis te verwerk.

Toe Hanna Spies vra vir ‘n snoekpastei het ek dadelik hierdie voorslag vistert onthou wat al so baie maal moes diens doen op my tuistafel. Jy kan die tert met snoek, engelvis of skelvis maak. Wat dit lekker anders maak is dat ek ‘n paar swart olywe by die vulsel inwerk as ek met snoek of engelvis werk. Skelvis kry die meer tradisionele gekookte eiers in. Die broskorsdeeg vir hierdie tert maak ek sommer in die voedselverwerker aan.

Maar as jy regtig haastig is, gebruik sommer velle filodeeg. In plaas van room gebruik ek eerder deesdae geroomde maaskaas om by die melk-en-eiermengsel in te meng, wat ‘n lekker dik eiervla verseker. Jy kan ook ‘n soutkaaskoek maak, sien wenk.

Genoeg vir 8 mense
Voorbereiding: 20-25 min
Verkoeltyd: minstens 1 uur
Baktyd: 30-40 min

KORS
375 ml (1 ½ k) koekmeel
1 ml (¼ t) sout
125 g yskoue botter, in blokkies gesny
125 ml (½ k) gerasperde sterk cheddarkaas
Knippie rooipeper
1 eiergeel, liggies geklits
5 ml (1 t) suurlemoensap
20 ml (4 t) yswater

VULSEL
15 ml (1 e) olie
2 uie, gekap
1 kg gerookte snoek of skelvis, gaar en gevlok
Knippie peri-peri- of visspeserye
Paar swart olywe, ontpit (snoek) of 2 hardgekookte eiers (skelvis), grof gekap
180 ml (3/4 k) gerasperde verouderde cheddarkaas

BASIESE EIERVLA
230 g geroomde maaskaas
125 ml (1/2 k) melk
4 eiers
Sout en peper

Voorverhit die oond tot 200°C. Gebruik ‘n groot losboomtertpan of andersins 8 klein tertpannetjies.

  1. KORS Plaas die koekmeel en sout in ‘n voedselverwerker en voeg die botterblokkies, kaas en rooipeper by. Gebruik die polsaksie en verwerk net lank genoeg totdat die mengsel soos fyn broodkrummels lyk.
  2. Meng die eiergeel, suurlemoensap en yswater, voeg deur die tuit
    by die meelmengsel en verwerk totdat die deeg net begin bind.
  3. Keer uit op ‘n meelbestrooide werksoppervlak en druk liggies in ‘n lang rol.. Bedek met kleefplastiek en verkoel vir ten minste 1 uur. Haal uit die yskas en laat staan ‘n rukkie teen kamertemperatuur.
  4. Sny die deegrol in skyfies en pak in die tertpan(nnetjies) sodat hulle effe oorvleuel. Druk vas met jou vingers. Verkoel weer 10 minute.
  5. Prik die kors, voer uit met bakpapier, vul met bone en bak blind vir 10-15 min of tot amper gaar.
  6. VULSEL Braai die uie in verhitte olie tot gaar. Voeg die vis by. Geur liggies met peri-peri. Skep in die tertkors(e) en pak die olywe of eierstukkies bo-op. Sprinkel die kaas oor.
  7. EIERVLA Klits alles bymekaar en giet oor die tertjies. Bak 40 min vir groot tert of 20 minute vir kleineres tot gestol.

WENK: VIR SOUTIGE KAASKOEK –Gebruik ‘n losboom-koekpan en druk die kors op die boom vas, vul met die vulselbestanddele en maak ‘n vla met eiers en 2 houers roomkaas. Bak tot gaar. (Jy kan selfs fyngemaakte hoender pleks van die vis gebruik.) Laat afkoel en ontvorm versigtig deur die koekpan op ‘n blik te plaas en dan die rand af te druk na onder.

%d bloggers like this: