SKEI DIE KAF VAN DIE KORING
Verlede week het Rykie van der Merwe gevra of koring goed of sleg is.
Liezel Engelbrecht van Liezel the Dietitian antwoord:
Eerstens, dit is jammer dat ons dikwels kos in “goeie” en “slegte” boksies wil sit (en dis nie die leser se skuld nie – dis maar waarmee ons baie gebombardeer word!).
Nee, koring is beslis nie sleg vir jou nie. Dit is waar dat koring wel dikwels hoogs verwerk word en dan ongelukkig baie van sy vesel en voedingswaarde verloor. Produkte wat verfynde koringmeel bevat en hoogs vewerk is (soos koekies, koeksisters, pizza-deeg ens) bevat dikwels ook meer suiker, sout, energie (kilojoules) en vet, wat natuurlik in groot hoeveelhede nie gesond is nie.
TIPES KORING
Koring is die mees verboude graangewas in die wêreld, en daar bestaan baie verskillende tipes koringkorrels. Die twee tipes koring wat ons meestal eet is broodkoring en durumkoring, ‘n baie harde tipe koring, wat veral gebruik word om pasta mee te maak. Daar is ook ander tipes koring (dikwels genoem “ancient grains”), soos byvoorbeeld spelt en farro.
Stampkoring (pearled whole wheat), is ‘n tipies Suid-Afrikaanse produk en is heel (brood)koringkorrels waarvan die dop verwyder is en dis effe fyner gestamp. Dit neem ‘n tydjie om gaar te kook.
Gekraakte koring (cracked wheat) is ook gestampte koringkorrels (dikwels durum) en word meer in Midde-Oosterse kookkuns gebruik, maar behoort binne ‘n kwartier gaar te wees.
Bulgur is ‘n meer geprosesseerde gekraakte koring deurdat dit ook vooraf effe gekook (preboil) word en daarom slegs ‘n baie kort gaarmaaktyd benodig.
Koeskoes is ‘n pasta (paste) van water en semolina (oftewel durumkoringmeel) en is dus nog meer verfyn as bulgur. Dit benodig nie gaarmaak nie, net week.
Pofkoring is ook ‘n gewilde koringproduk wat as pap geniet word saam met melk.
HOEKOM IS KORING GESOND VIR JOU?
Koring is van nature laag in vet en natrium, en hoog in kalium. Dit bevat ook ander voedingstowwe ondermeer yster, sink, magnesium, vitamien E en B-vitamiene. Onverwerk, bevat dit baie ook vesel,’n belangrike komponent in enige dieet.
Vesel het verskeie gesondheidsvoordele: dit kan help om bloedsuikervlakke te beheer omdat kostipes met vesel stadiger in suikers afbreek wat in die bloedstroom vrygestel word tydens die verteringsproses; dit kan help om cholesterolvlakke te verlaag; en dit help ook vir goeie spysvertering en stoelang.
Vesel is ook ‘n prebiotika, wat beteken dit verskaf kos aan die “goeie bakterieë” in jou spysverterinskanaal, en kan dus help om ‘n gesonde spysverteringskanaal te handhaaf, wat baie belangrik is vir immuunregulering en om inflammasie te help beperk. Genoegsame inname van vesel word geassosieer met ‘n verlaagde risiko vir hartsiektes, diabetes en sekere kankers. Boonop help dit ook om jou vir langer voller te laat voel!
As jy geen gediagnoseerde mediese redes het om koring te vermy nie, kan dit dus beslis ‘n gesonde deel uitmaak van jou dieet.
HOE OM DIE BESTE GESONDHEIDSVOORDELE UIT KORING TE KRY
Vir die meeste gesondheidsvoordele, onthou om meestal volkoringprodukte te kies wat die minste verwerk is, bv. stampkoring, gekraakte koring, bulgurkoring en volkoringmeelprodukte, en probeer om meer verfynde koringprodukte slegs per geleentheid te geniet.
WAAROOR GAAN DIE BOHAAI OOR KORING?
Koring bevat gluten (‘n proteien) en sommige mense verdra nie gluten nie, bv. as jy Celiac-siekte, wat ‘n outo-immuun siekte is, het. Moet egter nie self-diagnoseer nie. Dikwels dink mense hulle is gluten-onverdraagsaam, en sluit dan sommer alle gluten-bevattende produkte uit, terwyl dit dalk glad nie nodig is nie.
Gaan sien eerder ‘n dieetkundige of dokter om jou te help om ‘n diagnose te maak. ‘n Glutenvrye dieet is beslis nie altyd die gesonder opsie nie (maar dit is ‘n gesprek vir ‘n ander keer).