Hierdie is een van my absolute staatmakerresepte. My maklike weergawe van flamkuchen met die mees basiese bestanddele denkbaar: meel, olyfolie en yswater! En jy maak dit sommer in die voedselverwerker aan. Tjop-tjop en dis klaar. Dis ideaal om vir ‘n peuselbord voor te sit. Bak platbrode en pak uit saam met rotisserie-hoender, blaarslaai, rou groentes, kase, piekels en smere. Ook lekker om te gebruik as ‘n vinnige basis vir pizza.
Einde verlede jaar koop my familie ‘n stukkie grond langs die N7 en daar’s ‘n padstal op in ‘n pragtige ou-ou huisie, wat voorheen die tolhuis was waar reisigers wat die tog oor die Piekenierskloofpas aangepak het, mos tolgeld betaal. In my grootwordjare het my ma kanne room altyd daar gaan aflaai onder die groot bloekomboom waar die bus dit Eendekuil toe moes vat na die kaasfabriek toe. En dis ook waar ons as kinders altyd moes wag vir die skoolbus om ons Saterdagoggende op te laai vir rugby en netbal… en ook weer afgelaai het Saterdagmiddae.
Oom Edie het dan my ma gebel, drie langes vir 1103, sodat sy ons moet kom haal. Nodeloos om te sê, partykeer moes ons lank wag, maar ons het ure se pret gehad daar onder die ou bloekomboom langs die grootpad.
En nou, nou is dit my familie se proelokaal vir hul Piekenierskloof Wines en Carmien Tea en in die plaasdeli De Tol Farm Deli is daar’s plaasbrood, olywe en olyfolie, rou heuning, en die soetste perskes (gedroog ook) en allerhande ander lekkertes, meestal direk van die plaas.
Op die wegneem-spyskaart is daar roosterkoek en hierdie flammkuchen, pragtig voorgesit met blommetjies en kruie uit die tuin, ‘n treffer om aan te peusel terwyl jy teug aan ‘n Piekenierskloof-wyntjie.
VEELSYDIGE VOEDSELVERWERKERDEEG
160 ml (2/3 k) yswater
60 ml (4 e) olyfolie
500 ml (2 k) koekmeel
Sout
Voorverhit die oond tot 230°C. Smeer ‘n groot bakplaat en bestuif met koekmeel (jy kan selfs die agterkant gebruik).
1 Meng die water en olyfolie.
2 Plaas die koekmeel en sout in die bak van die voedselverwerker of ‘n elektriese menger met die plastiek- of deeglem. Voeg die water stadig deur die tuit by terwyl die masjien loop en meng goed tot ‘n stywe deeg wat in ‘n bol vorm in die bak – meng te minste vir 5 minute, dan het mens nie nodig vir knie nie. Laat rus 15 minute en deel die deeg in twee dele.
3 Rol die deeg so dun as kan op ‘n meelbestrooide oppervlak uit. Verf met olyfolie en bak 5—8 minute tot gaar met ‘n paar bruin vlekke en blase. Gebruik soos nodig.
BOLAAG IDEES
• Sprinkel bloukaas, geroosterde botterskorsie en uiemarmelade. Bak tot kaas gesmelt is en sprinkel roketblare op.
• Smeer geroomde maaskaas oor platbrode, skep uiemarmelade oor, plaas paar spekrepies en skywe mozzarella-kaas op en bak tot gesmelt. Rond af met roketblare.
• Smeer avokado rofweg oor die kors en pak salami en roket op.
• Pak ham, briekaas en gekarameliseerde uie op.
• Sprinkel Cheddarkaas oor kors, bak tot gesmelt en stapel tamatieskywe, olywe en komkommerlinte bo-op