Woensdag Wenke : Koeksisters Bak

Hannie Grobler vra – Ek wil leer koeksisters bak

Ons Suid-Afrikaners hou mos van soet en wie is nou nie gek na ‘n lekker stroperige koeksister met ‘n bros buiterandjie nie!

Die woord koeksister (of sy Maleise eweknie, koe’sister) is afgelei van die Hollandse woord koekje, wat koekie beteken. Dis nie veel anders as ’n oliebol nie. Die Afrikaanse weergawe word gevleg, terwyl die Maleise speseryweergawe ’n langwerpige bolletjie is wat in klapper gerol word. Hierdie is my “go to” resep wat ek altyd gebruik. Dit het ‘n koue stroop wat ook suurlemoen inkry, net reg om die vreeslike soet effe te breek. Ek hou ook daarvan om die koeksisters in ‘n tipe strikdassie te vorm pleks van dit te vleg. Lekker iets anders en ook baie makliker om te doen.

Die goue reël vir koeksisters bak is dat die olie goed warm en die stroop yskoud moet wees. Sorg ook dat die gevoude koeksisters onder ‘n klam doek lê terwyl hulle wag om gebak te word. Dit verhoed dat die deeg uitdroog.

Hier’s nog lekker wenke wat vir jou die slaggate sal uitwys en wat die oorsaak was.

KOEKSISTERS

LEWER SOWAT 120 KOEKSISTERS
Bereiding: 1 uur
Verkoel: 30 min.
Baktyd: 1 uur

STROOP
6 x 250 ml (6 k) suiker
625 ml (2½ k) water
30 ml (2 e) gouestroop
1 ml (¼ t) kremetart
1 ml (¼ t) wynsteensuur
repe skil van 3 suurlemoene
300 ml suurlemoensap

DEEG
5 x 250 ml (5 k) koekmeel
50 ml (10 t) bakpoeier
2 ml (½ t) sout
60 ml (¼ k) botter
2 ekstragroot eiers
375 ml (1½ k) karringmelk
olie vir diepvetbraai

  1. Stroop Verhit al die bestanddele buiten die skil en sap, roer tot die suiker opgelos is, bring tot kookpunt en laat 10 min. liggies prut. Voeg die suurlemoenskil en -sap by; verkoel tot yskoud.
  2. Deeg Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam. Vryf die botter met jou vingerpunte in.
  3. Klits die eiers en karringmelk saam.
    Sny met ’n mes by die meelmengsel in. Meng tot ’n sagte deeg. Knie 3-5 min. goed tot glad en elasties.
    Draai in kleefplastiek toe en verkoel 30 min.
  4. Rol uit tot 4 mm dik. Sny in lang repe van sowat 3 cm dik. Sny elke reep in stukke van sowat 6 cm lank.
  5. Maak ’n snit in die middel van elke reep; moenie by die bo- en onderkant deursny
    nie. Druk een end deur die snit. Herhaal met die ander repe. Plaas ’n klam vadoek oor die koeksisters.
  6. Hou twee bakke met stroop gereed: een vir gebruik; die ander in die yskas.
  7. Verhit die olie en braai so 5 koeksisters per keer tot deurgaar en goudbruin. Dreineer op kombuispapier en dompel
    dadelik in die yskoue stroop. Onderdompel met ’n lepel sodat dit die stroop kan opsuig. Herhaal met die res van die koeksisters en stroop. Ruil die stroop met die koue stroop om sodra dit effens lou begin word.
  8. Dreineer op ’n afkoelrak en bêre oop in die yskas.

Wenk: Enige oorskiet stroop kan lank in die yskas gebêre word.

Probleem: die korsie is dof met kristalle op. Oorsaak: Die stroop is nie suur genoeg nie.

Probleem: Die tekstuur is dig. Oorsaak: Die deeg was te styf, dit het nie genoegsaam uitgerys voor dit gebak is nie of te min rysmiddel is in die deeg gebruik.

Probleem: nie ordentlik deurgebak met ‘n degerige binneste. Oorsaak: die olie was te warm en het bruin buite-om gebak voordat dit van binne heel gaar is – is maw te vinnig uit die olie verwyder.

Probleem: Die koeksister is sag en het nie ‘n lekker bros buitekant nie. Oorsaak: Die stroop was nie yskoud waarin dit gedompel is nie.

Probleem: Die koeksister is olierig. Oorsaak: Die olie was te koud toe die koeksisters daarin gesit is, of daar is te veel koeksisters op een slag in die olie gesit wat veroorsaak dat die olie te vinnig afgekoel het om dit ordentlik te braai.

Probleem: Die koeksister smaak te soet. Oorsaak: die stroop het nie genoeg suur in nie.

Lekker bak aan hierdie ikoniese Suid-Afrikaanse lekkerny. (En onthou ‘n koeksister vries goed, so jy kan ‘n hele klomp op een slag bak en die lekkerte vir lank nog geniet).

%d bloggers like this: