Dadels, heuning, vye en geurige speserye soos kaneel en gemmer is vir my tekenend van die kosse van die Bybelse lande om die Middelandse see. Daarom is hierdie dadelteebrood, waarin al daardie malse geure en bestanddele vervat is, vir my so gepas om die naderende Paasfees van Jesus se dood en opstanding te gedenk.
So ‘n tuisgemaakte teebrood is baie meer spesiaal as wat enige winkel-Paasbolletjie ooit kan wees. Bederf dus jou geliefdes en vier ‘n besonderse tyd van samesyn en omgee.
Die dadels en rooibostee maak hierdie teebrood lekker swaar en klam, nes ek van ‘n koekbrood hou. Carmién Tea se Citrus Chai-rooibostee verleen ‘n ekstra speserygeur met ‘n tikkie sitrus, maar ek gebruik ook net so graag die Carmién Natural rooibos om hierdie teebrood mee te maak. Die maaskaasversiersel is heerlik hierby en ek was ook gelukkig om koekheuning in die hande te kry om daarby voor te sit.
Natuurlik, sal dit tops wees as jy nog ‘n paar vars vye (en blare) kan bekom om die Paasfeesprentjie mooi af te rond. Heerlik vir die teetafel of selfs vir ietsie soets by ‘n laatontbyt.
Maak 1 teebrood
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 50 min
KOEKBROOD
250 g dadels, gekap
50 g botter
160 ml (⅔ k) heuning of suiker
250 ml (1 k) Carmién Citrus Chai of Natural rooibostee (gemaak van 4 sakkies)
5 ml (1 t) koeksoda
2 eiers, geklits
500 ml (2 k) koekmeel
10 ml (2 t) bakpoeier
5 ml (1 t) fyn gemmer
5 ml (1 t) fyn kaneel
Knippie sout
100 g okkerneute, gekap
VERSIERSEL
230 g geroomde maaskaas
30 ml (2 e) heuning
Koekheuning en vrugte (bv. heel vye ) of gedroogde appelskyfies of roosmaryntakkies vir bo-op
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n 20 cm vierkantige of ronde koekpan of medium broodpannetjie.
1 KOEKBROOD Plaas die dadels, botter, heuning, tee en koeksoda in ‘n kastrol en kook 5 minute saam. Koel af.
2 Voeg die eiers by en sif die droë bestanddele oor. Voeg die neute by en meng liggies.
3 Skep in die voorbereide pan, maak gelyk en bak 50 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die brood kom.
4 Laat effe afkoel in die pan, keer uit en laat heeltemal afkoel.
5 VERSIERSEL Meng die maaskaas en heuning en skep oor die koekbrood. Versier met koekheuning en vars vye of selfs gedroogde appelskyfies.