Noudat die kouer weer begin toeslaan, skuif mens outomaties oor na groter bakke kos wat beide lekker warmmaakkos en vullend is. Brejani is vir my so ‘n gereg en ek val gereeld daarop terug veral as ek heelwat mense moet kosgee. Soos met meeste gespeseryde kosse is dit ook geuriger op dag twee. Ek het al heelwat brejani-resepte uitprobeer, maar hierdie een wat Pricilla Petersen, ‘n voormalige kombuis-assistent in Huisgenoot se toetskombuis vir ons gemaak het, bly net vir my die maklikste en eenvoudigste om te maak. Die klaargemengde brijani-mengsels (ek gebruik Spice Mecca) wat jy in die supermark koop, is vir my lekker geurig en maak mens se werk heelwat minder.
Genoeg vir 6—8 mense
Voorbereidingstyd: 15 minte
Marineertyd: 20—30 minute
Gaarmaaktyd: 45 minute
MARINADE
5 ml (1 t) birjani-heelspeserymengsel
15 ml (1 e) birjani-masala
10 ml (2 t) garam masala
5 ml (1 t) droë brandrissievlokkies
1 stuk pypkaneel
2 lourierblare
125 ml (½ k) natuurlike jogurt
HOENDER
8 hoenderporsies, kleiner gesny indien verkies
Sout na smaak
UIEMENGSEL
30 ml (2 e) olie
1 ui, fyn gekap
4 knoffelhuisies, fyngedruk
15 ml (1 e) gerasperde gemmerwortel
1 groen soetrissie, fyn gekap
60 ml (¼ k) gekapte koljanderblare
RYS EN LENSIES
500 ml (2 k) gaar basmati-rys
250 ml (1 k) gaar lensies
AFRONDING
30 ml (2 e) botter
Groot handvol koljanderblare
3 hardgekookte eiers, afgedop en in kwarte gesny
1 MARINADE Meng al die bestanddele vir die marinade saam. Geur die hoender met sout en giet die marinade oor. Maak seker die hoenderporsies is goed bedek. Marineer 20—30 minute.
2 UIEMENGSEL Verhit die olie in ‘n groot diep kastrol en braai die ui, knoffel, gemmerwortel en soetrissie daarin tot sag. Voeg die koljanderblare by.
3 Giet 160 ml (⅔ k) kookwater in die kastrol en voeg die hoender met die marinade by. Verlaag die hitte, bedek en prut sowat 30 minute lank of tot die hoender gaar is.
4 AFRONDING Skep twee derdes van die hoender uit. Skep nou ‘n laag rys en dan ‘n laag lensies bo-op die hoender in die kastrol. Herhaal lae en stip met botter. Bedek en laat 10 minute stoom oor lae hitte sodat die geure lekker kan deurtrek.
5 Strooi die koljanderblare oor en sit voor met die eierkwarte.