Op Langebaan kan mens begin voel die jaar het gedraai. Nie net wys die son heelwat later soggens sy gesig nie, maar die luggie is skielik sommer heelwat koeler. Vir my is hierdie herfsweer sinoniem met appeltert – ietwat swaarder van lyf en vol van geur.
Pleks van oudag se soet appeltert meng ek graag deesdae ‘n verskeidenheid vars vrugte by die tertappels in. As tyd ‘n faktor is of vir ‘n gesonder weergawe vervang ek die brosdeeg baie keer ook met ‘n vinnige hawermoutkrummel. Dan is dit ook nie nodig om die bak uit te voer met deeg nie. Ek is gek na gemmer, so daarom voeg ek ook graag bietjie ingemaakte gemmer by. En moenie dink die vars kruie is uit pas by hierdie tert nie, dit verleen ‘n heerlike andersheid aan die tert, maar daarsonder is dit net so lekker.
Maak 1 groot tert
Voorbereiding: 30 min
Baktyd: 50 min
KORS
375 g koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
250 g suiker
375 g koue botter
30-45 ml (2—3 e) yswater
VULSEL
1 blik (400 g) tertappels of 2 appels, in skyfies of blokkies gesny
30 g appelliefies en/of halwe pynappel, in bokkies gesny
4 pruime, ontpit en in wiggies gesny
4 nektariens, in skywe van die pit gesny (opsioneel)
2-3 perskes, geskil, ontpit en gehalveer (jy kan ‘n blik ingemaakte perskes ook gebruik)
45 ml (3 e) gekapte ingemaakte gemmerstukke
125 ml (½ k) gekapte pekanneute
10 ml (2 t) roosmaryntakkies of selfs tiemie, fyner gekap (opsioneel)
Fyn kaneel en suiker na smaak
Geklopte room of dik volroomjogurt vir voorsit
Voorverhit die oond tot 200°C. Smeer ‘n groot tertbord of –pan.
1 KORS Plaas die koekmeel en bakpoeier in die bak van ‘n voedselverwerker en voeg die suiker by. Meng. Voeg die botter by en verwerk tot ‘n sagte deeg. Voeg bietjie yswater deur die tuit by indien nodig. Druk in ‘n bol. Verkoel 15 min.
2 Sny twee derdes af, rol in ‘n rolletjie en sny die rolletjie in skyfies. Druk die skyfies vas op die bodem en teen die kante van die tertbord of pan. Prik die kors. Verkoel die res van die deeg.
3 VULSEL Pak die vrugte in die tertkors. Sprinkel die gemmerstukkies oor, giet ook van die gemmerstroop oor en sprinkel die neute en roosmaryn oor. Stuif kaneel en ekstra suiker oor.
4 Rol die orige deeg uit, druk vormpies uit met ‘n koekiedrukker en rangskik op die vrugte. Sprinkel bietjie ekstra suiker oor en bak sowat 55 minute of tot die kors goudbruin en gaar is. Sit voor met room.
Wenk: Pleks van vormpies uitdruk, sny die deeg in repe en pak kruis en dwars oor die vulsel. Druk die kante in en bak soos beskryf.
Wenk: Andersins kan jy sommer ‘n hawermoutkrummel oor die vulsel sprinkel: Meng 60 ml (¼k) bruinsuiker, 2 ml (½ t) bakpoeier, 60 ml (¼ k) hawermout, 125 ml (½ k) koekmeel saam en vryf 50 g botter hierby in met jou vingers. Voeg 50 g gekapte gemengde neute by. Sprinkel oor die vrugte en bak tot goudbruin.