Ek hou van ‘n geurige kerrie soos die Maleiers dit maak eerder as die woeste brandkerries uit Natal. Cass Abrahams was dan ook die een wat my leer kerriemaak het. Cass het my ook geleer – gebruik kerriemengsels wat reeds klaar gerooster is soos geroosterde masala. En ook, jy roerbraai slegs die heel speserye om die geur uit te bring, nie fyn mengsels nie – dit brand gou aan en laat die kerrie bitter smaak, daarom sprinkel jy dit saam met die nat bestanddele oor. Wat Cass nie weet nie, is dat ek selfs ook haar resep gebruik wanneer ek ‘n kerriepot met varkskenkels maak. Jy kan ook hoenderstukke gebruik. Sien ook die variasie vir kerrie-maalvleis.
BESTANDDELE
2 uie, in ringe gesny
4 knoffelhuisies, fyngedruk
15 ml (1 e) gemmerwortel, gerasper
1 kaneelstokkie
1 lourierblaar
Olie
1 kg stoweskaapvleis of varkskenkels, in blokkies gesny
Sout en swartpeper
15—20 ml (3—4 e) matige geroosterde kerriepoeier
5—10 ml (1—2 t) fyn komyn (jeera)
15 ml (1 e) borrie
5 ml (1 t) fyn koljander
1 blik (400 g) geskilde tamaties of 1 blikkie (65 g) tamatiepasta
Groot handvol gekapte koljanderblare
Bruinsuiker na smaak
GROENTE
2 elk aartappels en wortels, geskil en in stukke gesny
1 klein botterskorsie, in stukke gesny OF 1 kg bevrore groentemengsel met mieliepitte, wortel en ertjies (liefs vir kerrie-maalvleis)
VIR AFRONDING
1 suurlemoen se skil
Groot handvol koljanderblare
VIR VOORSIT
Basmatirys
Sambals (sien onder)
1 Roerbraai die uie, knoffel en gemmerwortel saam met die heel speserye in bietjie olie tot sag in ‘n groot swaarboomkastrol.
2 Geur die vleisblokkies met sout en peper, voeg bietjie vir bietjie by en braai bruin.
3 Voeg die res van die speserye, tamaties, gekapte koljanderblare en brunsuiker by, geur met sout en peper en roer 1 minuut.
4 Verlaag die hitte, bedek en laat prut tot die vleis sag is.
5 GROENTE Voeg die groente bys en verhit verder tot die groente sag en gaar en die sous lekker dik is (voeg warm water by as die kerrie droog kook).
5 VOORSIT Rasper suurlemoenskil oor, sprinkel koljanderblare oor en sit voor met basmati-rys en sambals.
VARIASIE: KERRIE EN RYS MET MAALVLEIS: Berei net soos beskryf, vervang die stukke vleis met 1 kg maalvleis en roerbraai tot net gaar. Gebruik die gemengde bevrore groente en voeg ook 2 pakkies (50g elk) tamatiepasta, 60 ml (1/4 k) blatjang en 30 ml (1 e) worsestersous by die mengsel. Kook goed tot geurig. Sit voor op rys. Dis ook heerlik in vetkoek of toegedraai in ‘n roti, los dan net die groente uit.
SAMBALS:
Tamatiesambal: Sny ‘n paar kersie-tamaties kleiner op. Voeg gekapte rooi ui by. Meng bietjie bruinasyn, strooisel suiker en 2 gekapte groen brandrissies by. Sprinkel handvol gekapte koljanderblare oor.
Piesangsambal: Sny 5 piesangs in skyfies en meng 30 ml suurlemoensap en 60 ml geroosterde klapper by.
Komkommersambal: Sny halwe komkommer in klein blokkies, voeg ‘n handvol gekapte kruisement en gekapte rooi brandrissie by en vou volroom-jogurt daarby in. (die een moet jy maaknet voordat jy dit voorsit, want die komkommer trek water).
Pynappelsambal: sny ‘n pynappel in stukke, voeg ‘n handvol gekapte koljanderblare en 1 gekapte brandrissie by.
Appelraita: Kap 2 Granny Smith-appels op, voeg 250 ml (1 k) gekapte mentblare, 1 gekapte knoffelhuisie, knippie masala, 30 ml (2 e) suurlemoensap en 60 ml natuurlike jogurt by en meng.