Vanaf Aprilmaand begin die snoek loop aan die Kaapse Weskus en snoekbakkies kry hul staning langs die pad waar jy altyd ‘n mooi snoek of wat kan kry. Soms loop jy ‘n gelukkie raak deur ‘n vars snoek by die hawe sommer direk van ‘n boot af te kan koop. Ek het grootgeword met snoek oor die kole, trouens dit was al vis wat ons ooit gebraai het, en my pa was ‘n meester daarvan. As die snoeksmous omgekom het op die plaas met ingesoute snoek, het hy altyd ‘n paar mooies eenkant gehou vir braai en niemand moes peuter as hy doenig was voor die vuur nie. Ek gee ook die tradisionele resep vir die sous wat my pa altyd gebruik het om oor sy snoek te smeer terwyl hy braai. Snoek wat liggies gerook is, is vir my wonderkos, net so is ek ook gek na neute. Kombineer die twee en jy het kos vir ‘n koningstafel.
Snoek met pekanneutkors
Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 10 min
Gaarmaak: 20 min
- 1 medium snoek, gevlek (kan effe gerook wees indien verkies)
- Sout en peper
- 5 ml (1 t) mosterdpoeier of Chinese 5-speserypoeier of visspeserye
- 80-125 ml (80-1/2 k) botter, gesmelt
- 4 knoffelhuisies, gekneus
- Sap en skil van 2 suurlemoene
- 160 ml (2/3 k) gekapte pekanneute
- 125 ml (1/2 k) gekapte koljander of pietersielie
- VOORSIT: vinnige perske-blatjang (sien resep hieronder)
1 Geur die snoek aan die vleiskant met sout en peper en speserye (As die snoek ingesout is, spoel af onder lopende water, druk droog en moet vir eers nie sout nie).
2 Meng die botter, knoffel en suurlemoensap en –skil.
3 Plaas die vis met die velkant na onder op die gesmeerde bakplaat.
4 Smeer die vis goed met van die bottermengsel en oondbraai 10 minute.
5 Smeer die res van die bottermengsel oor, sprinkel helfte van die neute en kruie oor en bak ‘n verdere 10 minute of tot die vis net gaar is en maklik vlok met ‘n vurk.
6 Sprinkel die res van die kruie en neute oor en sit voor met die perske-blatjang.
VINNIGE VRUGTE-BLATJANG
Soteer 1 gekapte ui en 2 gekapte knoffelhuisies in olie tot sag, sprinkel 10—15 ml (2—3 t) suiker oor en braai tot gekarameliseer. Roer 15 ml (1 e) druiwe-asyn en 4 gesnyde pruime of nektariens by en verhit tot die vrugte effe sag, maar nie stukkend gekook is nie.
SOUS VIR WESKUSSNOEK: Meng 100 ml olie of gesmelte botter, 60 ml (1/4 k) suurlemoensap, 10 ml (2 t) visspeserye (opsioneel), 30 ml (2 t) gekapte vars knoffel, 60 ml (1/4 k) appelkooskonfyt en 60 ml (1/4 k) mayonnaise saam en smeer gereeld oor die snoek terwyl dit oor die kole braai. (Ek sit soms bietjie gerasperde gemmer by).