Mango’s vir oulaas

Jare terug kuier ek in die Magoebaskloof-omgewing en by die hotel waar ons tuisgaan word ons elke oggend bederf met die ‘n mango’s in allerlei vorms op die ontbytspyskaart. Toe ons onlangs weer die mooi van die Drakensberge kon aanskou, was daar ook hope mango’s om aan te peusel en wat ons selfs kon saamneem terug huis toe. Ons het omtrent gesmul aan hierdie sappige stroopsoet vrugte. Jy hoef egter nie te wag tot mango’s volryp is voordat jy daaraan weglê nie. Groen mangos kan net so lekker werk in geregte, veral in kerrie. Ek het hierdie geurige kerrie vinnig bedink vir aandete nadat ‘n verrassingsboks met mangos en bestannddele om eintlik ‘n tipe kroningshoenderslaai te maak by my huis afgelewer is deur die mango-kwekersvereniging. Ek kon my lus nie beteuel nie en wou nie wag tot die mangos volryp genoeg was om die slaai te maak nie. Hierdie kerrie, gemaak met die groen mango, was my uitkoms en ons het almal heerlik gesmul.

Groen mango-kerrie

Genoeg vir 4—6 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 20 min

Olie
2 uie, gekap
5 cm vars gemmer, gerasper
6 hoenderfilette, in blokkies gesny
Sout
20 ml (4 t) tandoori-masala of andersins geroosterde masala
1 blik (400 g) klappermelk
2 groen mango’s geskil en grof gerasper
15—20 ml (3—4 e) vrugtige blatjang
Kwart kop kool in dun repies gesny
2 lemmetjies se sap en gerasperde skil
Sojasous na smaak
Groot handvol koljanderblare, gekap
Amandelvlokkies vir bo-oor sprinkel
Basmatirys vir voorsit

1 Verhit bietjie olie in ‘n groot pan en braai die uie saam met die gemmer tot sag.
2 Geur die hoenderbrosfilette met sout, voeg by die uiemengsel en braai tot net effe geseël buite-om.
3 Voeg die tandoori of geroosterde masala en klappermelk by en meng deur.
4 Voeg die gerasperde mango by en verhit tot die mango bykans weggekook het. Roer die blatjang deur.
5 Voeg die kool by en geur met lemmetjiesap en -skil asook sojasous. Verhit tot net warm, maar die kool moet nog lekker bros wees.
6 Sprinkel die koljanderblare en amandelvlokkies oor en sit voor met basmati-rys.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: