Regte Egte Suurlemoenlekkerte

My kombuis is nooit sonder vars suurlemoene nie. Ek kan bloot nie daarsonder kook nie – ‘n skeutjie sap saam met varsgerasperde skil rond van ‘n bredie tot groente of slaaisous net te lekker af. Ja, as ek vasdraai met geur, sit ek suurlemoen by.

En dan is daar natuurlik suurlemoentert. Vir die bekende suurlemoenmeringuetert sal niemand ooit nee dankie sê nie – die soetsuur geure saam met die pofferige meringue is maar net te lekker.

Hierdie suurlemoentert is egter ‘n smaaksensasie van ietwat ‘n ander gedaante – eg en vars met dubbeldoor suurlemoenlekkerte: die romerige vulsel gemaak met vars uitgedrukte suurlemoensap en vars room word afgerond met ‘n sagte suurlemoenmousse. Iets waaraan jy langsamerhand in klein happies smul.

Maak 1 groot tert of 4—6 keintjies
Voorbereiding: 30 min
Baktyd: 30 min

KORS
250 g yskoue botter, in stukke gesny
250 ml (1 k) versiersuiker, gesif
500 ml (2 k) koekmeel
80 ml (⅓ k) mielieblom
VULSEL
250 ml (1 k) strooisuiker
4 ekstragroot eiers
250 ml (1 k) room
250 ml (1 k) vars uitgedrukte suurlemoensap
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
MOUSSE
10 ml (2 t) gelatien
45 ml (3 e) water
3 ekstra-groot eiers, geskei
150 g strooisuiker
2 suurlemoene se sap en skil
250 ml (1 k) room, liggies geklits
AFRONDING
Bessies en diepgebraaide suurlemoenskilrepies (sien wenk)

Voorverhit die oond tot 200°C.
1 KORS Plaas al die bestanddele in die voedselverwerker. Verwerk tot die botter goed in die meel ingemeng is en ‘n bol om die lem vorm.
2 Skep uit die voedselverwerker. Vorm in ‘n lang rol, draai toe in kleefplastiek en verkoel ‘n halfuur lank. Sny in skyfies en voer ‘n middelslag-tertpan of 5—6 klein tertpannetjies (sowat 10 cm in deursnee) daarmee uit – pak die skyfies teenmekaar in die panne en druk vas met jou vingers (glad nie nodig vir uitrol nie). Voer die panne uit met bakpapier, vul met bone en bak sowat 10 minute of tot gaar maar nie bruin nie. Verwyder die papier en die bone.
2 Verlaag die temperatuur na 140°C.
3 VULSEL Klits die strooisuiker, eiers, room, suurlemoensap en –skil goed saam. Giet in die voorbereide korse(e) en bak 10 minute. Verlaag die hitte tot 90°C en bak verder tot die vulsel net gestol, maar steeds binne nog effe sag is, sowat 20—30 minute. Verwyder uit die oond en laat afkoel.
4 MOUSSE Spons die gelatien in die water. Klits die eiergele en strooisuiker saam tot lig en dik. Voeg die suurlemoensap by en hou aan met klits.
5 Verhit die gelatien tot net gesmelt in die mikrogolfoond, moenie dit laat kook nie. Meng bietjie van die eiergeelmengsel met die gelatienmengsel en voeg dit dan alles by die orige eiergeelmengsel. Meng goed.
6 Kllits die eierwitte styf en vou by die mengsel in. Laat staan tot dit net wil begin stol. Skep in ‘n spuitsak met ‘n ronde spuitpunt en spuit op die tertjies. Verkoel tot gestol.
7 Versier met bessies en suurlemoenskilrepies.

Hoe om diepgebraaide suurlemoenskil te maak: trek die suurlemoenskil met ‘n sitrusskiller af. Sprinkel strooisuiker oor en laat ‘n halfuur staan. Verwyder die skil uit die stropie en dievetbraai in warm olie tot krakerig.

Wenk: Indien die dubbeldoor lekkerte vir jou altevol na ‘n gedoente klink, kan jy die twee ook afsonderlik berei. Gaan dan so te werk: Maak die tertjies en sprinkel strooisuiker oor die afgekoede tertjies pleks van die mousse. Skroei met ‘n blaasvlam. Skep die suurlemoenmousse in klein koppetjies, verkoel tot gestol en rond af met die diepgebraaide skil.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: