Alhoewel ek nie veel van ‘n soettand het nie en jy my nie sommer gaan verlei met sjokolade of enige koekerasies nie, het ek ‘n swak of twee – karamelkondensmelk en Smarties. Ek kan my lus nog bedwang as die blik karamelkondensmelk nog toe is, maar as hy eers oopgesny is, is dit verby. Daar’s niks lekkerder om so ‘n lepeltjie uit te skep en jou daarin te verlustig. Kleintyd het my Ma altyd self die kondensmelk gekook. Dit was dan ons bederf op ons jaarlikse Aprilmaand-seevakansie op Hartenbos. In hierdie ongebakte tert word die soet van die kondensmelk bietjie afgewerk deur die maaskaas en die piesangs is hemels daarby. Net reg vir die vakansiedae wat voorlê.
BANOFFEE-KOEK
Ek’t die heerlike variasie op banoffee-tert in die Oos-Kaap geniet.
Maak 1 groot koek
Voorbereiding: 20 min
Verkoeltyd: oornag
KORS
11/2 pak (300 g) Tennisbeskuitjies, fyngedruk
150 g botter, gesmelt
VULSEL
250 ml (1 k) room, verkoel
60 ml (1/4 k) strooisuiker
460 g (2 bakkies van 230 g elk) geroomde maaskaas
1 blik (375 g) karamelkondensmelk
3—4 ryp piesangs, in skyfies gesny
Kakao vir bo-oor stuif
Spuit ‘n 25 cm-losboompan met kossproei. Voer uit met tinfoelie en spuit weer.
1 Meng die krummels en botter en druk vas op die boom en teen die kante van die pan. Verkoel.
2 Klits die room en strooisuiker tot styf en vou die maaskaas hierby in. Plaas in die yskas om te verkoel tot stewig.
3 Smeer die karamel-kondensmelk oor die boom van die beskuitjiekors.
4 Rangskik die piesangs bo-op en skep die roommengsel oor.
5 Maak gelyk bo-op en stuif met kakao
6 Plaas oornag in die yskas om te verstewig.
7 Ontvorm deur die ring versigtig los te maak.
VARIASIE: BANOFFEE-MERINGUE-LAAGKOEK Gebruik ‘n basiese meringuemengsel en vorm 3—4 sirkels, sowat 20 cm, rofweg op 2 uitgevoerde bakplate en bak 1½ uur tot bros by 120°C. SAMESTELLING Plaas ‘n pavlova-kors op ‘n dienbord, smeer elke pavlovalaag met karamelkondensmelk en styfgeklopte room; pak skyfies piesangs bo- op. Stapel die lae opmekaar en rond af met praliensplinters indien verkies.
Wenk: Doen die samestelling net voor opdiening, anders word die meringue pap.
Dankie vir die heerlikste resepte Carmen Niehaus
LikeLike