Staatmaker kerrie

In my huis gaan dinge maar meestal op ‘n gelop en is daar altyd ‘n klomp goed wat tegelykertyd moet klaar. So tyd vir lang ure in die kombuis spandeer is daar bloot net nie. Daarom het resepte wat jy binne ‘n ommesientjie en sonder te veel moeite aanmekaar kan slaan, my nog altyd geval, die enigste voorwaarde dat dit steeds gesond en voedsaam moet wees.

Hierdie Thaise kerrie is een van my groot staatmakers as dinge nou rerig bietjie dol begin gaan. Die resep is lekker veelsydig – soms gebruik ek varkfiletrepies pleks van hoender en as jy die dis vegetaries wil maak, kan jy patat-en botterskorsie pleks van die vleis gebruik. Verder kan jy enige jong groente onder die son insit, ek is veral lief om Chinese blaarkool of selfs baba-spinasie te gebruik. Ek gooi partykeer ook net ‘n klein blikkie klappermelk in en vul die sous dan verder aan met natuurlike jogurt. Die klein tamatietjies wat teen die einde bykom, verleen ‘n heerlike vars smaak.

Soms het dit ook al gebeur dat my Thaise groenkerrie gedaan was – dan maak ek sommer net ‘n sterk aftreksel met ‘n kombinasie van Carmién se rooibostees (2 sakkies Focus met masala chai speserye, 2 sakkies Nursing met fenugriek en vinkel en soms ook 2 sakkies Cookies & Cream met klapper in en trek dit in 500 ml kookwater, nie te lank, want dan word die mengsel bitter) en gebruik dit saam met ‘n lepeltjie of wat geroosterde masala.

As bonus gee ek julle ook ‘n vinnige resep vir ‘n roerbraai.

Thaise Kerrie

Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 10 min
Gaarmaak: 10-12 min

30 ml (2 e) olie
15 ml (1 e) gerasperde vars gemmerwortel
3-4 knoffelhuisies, fyngedruk
2 stingeluie of klein ui, gekap
30-45 ml (2—3 e) Thaise groen-, rooi of geel kerriepasta
1 blik (400 g) klappermelk of vervang helfte daarvan met natuurlike jogurt
4 hoenderborsfilette of ontbeende, ontvelde dye, in stukke gesny
125 g Chinese blaarkool, in dun repies gesny of jong groenbone, in stukke gesny
Handvol gekapte koljanderblare
30 ml (2 e) sojasous
Paar druppels vissous
Sowat 30 ml (2 e) lemmetjie- of suurlemoensap
5 ml (1 t) bruinsuiker
Koljanderblare en sessamsade vir oorsprinkel
Jasmynrys vir voorsit

1 Verhit die olie in ‘n pan en roerbraai die gemmerwortel, knoffel en ui tot sag en geurig.
2 Voeg die kerriepasta en sesamolie by en roer deur.
3 Voeg die klappermelk (en jogurt indien gebruik) by en bring tot kookpunt. Laat goed kook.
4 Voeg die hoenderstukkies by en prut sowat 5 minute tot bykans gaar.
5 Voeg die groente en gekapte koljanderblare by en prut tot die groente net-net gaar, maar nog baie bros is, 3—5 minute.
6 Roer die soja- en vissous saam met die lemmetjiesap en bruinsuiker by. Meng deur.
7 Voeg die tamaties by, moenie verder verhit nie en strooi die koljanderblare en sesamsade oor.
8 Sit voor met jasmynrys.

VIR ROERBRAAI: Sny die hoenderborsfilette in repies, geur met sout en peper, doop in geklitste eierwit, dan in mielieblom of mieliemeel en braai in bietjie olie tot bros. Bedek en stoombraai, nie te lank, tot gaar. Skep uit. (ek doen die sommer deesdae ook in die Airfryer).

Roerbraai dan groentes soos soetrissierepies en broccoli of blomkool saam met 2 gekapte knoffelhuisies en 5 ml (1 t) gerasperde gemmerwortel tot net sag, maar nog baie bros. Geur met 30 ml (2 e) elk sojasous, teriyaki-sous en ‘n paar druppels vissous. Skep die hoenderstukkies terug in die pan en meng deur. Sit voor met basmati-rys en sprinkel gekapte kasjoeneute en gekapte koljanderblare oor.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: