Tinfoil, Tupperware en Tee
WESKUS-WOLKELOPER PINA COLADA
Genoeg vir 2
Bereiding: 10 min
8 sakkies Carmien Cold Brew Coco Pine
100 ml yswater
50 ml Malibu-rum
50 ml pynappelsap
50 ml klapperroom
25 ml lemmetjiesap
1 Plaas tee in yswater en laat trek vir 10 minute. Giet die tee saam met res van die bestanddele in die coctail shaker en skud goed saam.
2 Giet in mooi glase.
PAMPOENSOP
Maak sowat 3 liter sop
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 30 min
1 Wildeklawer-ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyngerasper
Olie
15 ml (1 e) geroosterde masala of brejani-masala
1 kg botterskorsieblokkies
500 g patatblokkies
1 appel, gerasper
5 sakkies Carmien Orange camomile-tee
5 sakkies Carmien Citrus Chai-tee
2,5 liter (10 k) kookwater
1 sakkie (50 g) tamatiepasta
Groot handvol gekapte koljanderblare
45—60 ml (3—4 e) romerige natuurlike jogurt
1 Braai die ui en knoffel in ‘n bietjie olie tot sag. Roer die masala by.
2 Voeg die botterskorsie, patat en appel by en meng.
3 Knoop al die teesakkies aanmekaar, verwyder die plakker en voeg by.
4 Giet die kookwater, tamatiepasta en koljanderblare by, geur met sout en bring tot kookpunt.
5 Verlaag die hitte en laat kook tot die groente sag is, sowat 30 minute lank. Verwyder die teesakkies.
6 Maak die groente goed fyn met ‘n staafmenger.
GEMMERHAM MET MOSTERDSOUS
Die mosterdsous is heerlik saam met die boud en die eenvoudige blaarslaai
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 20 min
Kooktyd: sowat 3 uur
3—5 kg gerookte, gepekelde ham (jambon)
2 uie, in growwe stukke gesny
6 heel kruienaeltjies
10 heel swartpeperkorrels
2 liter (8 k) Carmien Revive, gemaak met 8 teesakkies
SMEERSEL
180 ml (¾ k) appelkooskonfyt
15 ml (1 e) Dijonmosterd
80 ml (⅓ k) bruinsuiker
1 Plaas die ham saam met die uie, speserye en rooibostee in ‘n groot kastrol en bring tot kookpunt. Bedek en laat stadig prut tot sag en gaar – bereken 30 min per 500 g vleis. Laat die ham in die vloeistof afkoel.
2 Verwyder die swoerd en keep die vet in ‘n diamantpatroon in.
3 Voorverhit die oond tot 190°C. Plaas die vleis in ‘n groot oondpan.
4 SMEERSEL Meng al die bestanddele saam.
5 Smeer die smeersel oor die vetkant van die ham en oondbraai sowat 20—30 min of tot goudbruin.
6 Sny in skywe en sit voor met mosterdsous en groenslaai.
GROENSLAAI MET MOSTERDSLAAISOUS
Genoeg vir 4—6 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 15 min
SLAAISOUS
3 eiers, geklits
60 ml (¼ k) water
60 ml ( ¼ k) appelasyn
60 ml ( ¼ k) suiker
20 ml (4 e) matige mosterdpoeier of 30 ml (2 e) klaarbereide mosterd
2 ml (½ t) sout
Sowat 80 ml (⅓ k) natuurlike jogurt
SLAAI
3 klein Cos-slaaikoppe of ‘n Icebergslaaikop, in wiggies gesny
Broodcroutons, gemaak met suurdeegbrood
parmesaankaasskaafsels
1 SOUS Plaas al die bestanddele in ’n swaarboomkastrol en klits goed met ‘n draadklitser. Roer aanhoudend oor lae hitte tot die sous glad en dik is. (pas op vir skif).
Laat afkoel en meng die jogurt in.
2 SLAAI Pak die slaaiblaarwiggies op ‘n slaaibord.
3 Streep die mosterdsous oor en rond af met broodcroutons en parmesaanskaafsels.
TURSE GENOT ROOIBOSJELLIE MET LEMOEN-KAMILLE-ROOIBOSVLA
ROOIBOSJELLIE
750 ml (3 k) kookwater
8 sakkies Carmien Turkish Delight rooibos
125 ml (½ k) suiker
Knippie sout
37,5 ml gelatien, geweek in 50 ml koue water
1 Giet die kookwater oor die rooibosteesakkies en laat trek (nie te lank). Verwyder die sakkies.
2 Voeg die suiker en sout by en roer tot die suiker opgelos is.
3 Voeg bietjie van die warm mengsel by die gelatien en roer tot die gelatien gesmelt het.
4 Voeg die gesmelte gelatien by die rooibosmengsel en roer goed.
5 Spoel ‘n vorm uit met koue water of smeer met olie.
6 Giet die teemengsel in die vorm en laat stol
7 Ontvorm in bakkies en sit voor met vla.
VLA
500 ml (2 k) volroommelk
3—4 sakkies Carmien Orange Camomile rooibos
2 eiers en 2 eiergele
30 ml (2 e) suiker
Knippie sout
1 Verhit die melk saam met die rooibosteesakkies tot net onder kookpunt. Verwyder die teesakkies.
2 Klits die eiers en eiergele, suiker en sout saam en roer die melk stadig by.
3 Verhit die mengsel in ‘n kastrol oor stadige hitte terwyl aanhoudend geroer word. (die vla is gaar sodra dit so dik is dat dit ‘n lagie oor die agterkant van ‘n metaallepel vorm.
4 Koel af in ‘n skottel koue water, plaas ‘n vel bakpapier bo-oor.
5 Sit voor met jellie.
