Die somer is in volle swang en dis hittig daarbuite; daarom is dit so belangrik dat mens ten alle tye gehidreer bly. Beste bly maar water, maar so op sy eie kan dit maar ‘n eentonige storie raak en koeldrank gaan nie eintlik die ding doen nie.
Rooibosystee is dan die oplossing, want nie net is dit ‘n goeie hidreerder nie, dit het ook ‘n wye verskeidenheid gesondheidsvoordele (sien inligting hieromtrent onder aan die stuk).
Somertye het ek dus altyd gesorg dat my yskas tot boordens toe vol ystee was. Dit was egter ‘n hele gedoente: eers om die tee in die kookwater getrek te kry en dan om dit weer af te koel. Deesdae is dit egter glad nie meer nodig nie. Met die Cold Brew-rooibosteesakkies van Carmién, maak mens ystee in ‘n ommesientjie en ook net soveel soos wat jy op ‘n slag sou drink of voorsit. Jy gooi slegs ‘n sakkie of twee (afhangend van hoe groot jou houer is) in jou waterbottel of beker, laat dit ‘n bietjie trek… en daar het jy jou ystee! (geen kookwater is nodig nie).
Dis in die lekkerste geure denkbaar beskikbaar: Cranberry Hibiscus, Apricot Blossom en my gunstelinge: Coco Pine en Apple Mint. Beste is, dis reeds effe versoet, nie met suiker nie, maar met ‘n natuurlike versoeter – stevia-blare (wat nie die bittersmaak van die poeier het nie).
Ek gebruik dit selfs as ek gaan oefen: gooi net ‘n sakkie in die bottel en daar gaat ek. (Ek is ook altyd gewapen met ‘n ekstra verpakte sakkie of twee in my handsak, vir wanneer my waterbottel te gou leegraak). Carmién verkoop ook pakkies Cold Brew met die verskillende geure elk in ‘n afsonderlike sakkie verpak.
Carmién het onlangs nog ‘n treffer bekend gestel: hul sprankel-ysteesblikkies! (en die vlieg behoorlik van die rakke). Daar’s 3 heerlike geure: Tangerine Grapefruit, Geranium Mint en Berry Hibiscus (al drie is vir my so lekker, ek kon nog nie ‘n gunsteling vaspen nie). Die sprankel-ystees is nie net propvol geur nie, maar ook vol goedheid en antioksidante uniek aan rooibostee, daarby bevat dit min kilojoules.
Gaan bestel joune op die Carmién-webtuiste.
DIE GOEDHEID VAN ROOIBOS
Die bewese gesondheidsvoordele van Suid-Afrika se unieke kruietee, rooibos, word net by die dag meer en meer. Rooibos is deesdae as gefermenteer (rooitee) en ongefermenteer (groentee) beskikbaar. Rooibos is kafeïenvry en bevat min tannien, iets wat ysterabsorbsie kan beïnvloed. Dit bevat ook omtrent geen kilojoules nie. Dit bevat egter baie antioksidante, waarvan aspalatien die belangrikste is. Die nuutste navorsing dui daarop dat hierdie natuurlike antioksidant bloedglukosevlakke kan help beheer en sodoende help om die risiko van tipe 2-diabetes te voorkom. ‘n Studie onder mense het ook bewys dat gefermenteerde rooibos bloedcholesterolvlakke verlaag, asook die mens se eie antioksidantsisteem ondersteun (lg. neem af soos ’n mens ouer word). Dus bied rooibos goeie ondersteuning daarvoor. Aspalatien beskerm ook die hart deur vaskulêre inflammasie en die opbou van plaak binne die are te help verminder wat gebeur a.g.v. onder meer te hoë bloedsuikervlakke.
Ander studies het bevind dat rooibos kan help met gewigbeheer deurdat dit help om die leptienvlakke te verhoog. Die hormoon stuur seine na die brein wat hongerpyne onderdruk. Rooibos kan ook help om die metabolisme te verhoog en help om die vorming van nuwe vetselle te beperk.