Mooie Prins Albert

Ons besluit om ons Suid-Kaap besoek af te sluit met ‘n oornagslaap op die mooie Prins Albert was uit en uit die moeite werd. ‘n Paar jaar gelede het ek as Kokkedoor-beoordelaar by die mooie Dennehof Karoo Gastehuis net buite die dorp oorgebly en toe reeds het die sjarme van die eeuoue dame, wat uit 1835 dateer, my bekoor. Toe die geleentheid hom dis voordoen om weer daar deur te ry, het ek net geweet ek wil weer graag die elegante en ongekunstelde luuksheid van Dennehof gaan ervaar. Die gastehuis, die eerste een wat ‘n toerisme-akkreditasie op Prins Albert verkry het, het intussen van eienaar verwissel en spog met 4 sterre. Die nuwe eienaars, Inga en Albert, se fyn oog en aandag aan detail is oral te sien, van die stylvolle kamers, waar ouwêreldse sjarme en luukse moderne geriewe soomloos trou tot die pragtige versorgde tuine vol verrassings in die ommuurde beddings en waterelemente.

Met ons vorige besoek het ons ontbyt op die dek wat oor die leiwatervoor gebou is, maar nou is daar ‘n pragtige konservatorium opgerig wat uitkyk oor die nabye vleiland met die voëls wat letterlik in die riete baljaar. En wat ‘n besonderse eetervaring wag nie hier op ons nie. Inga staan self agter die kospotte en haar passie spoel oor in die keurige ontbyt waar alles vars vanuit die tuin en met plaaslike bestanddele soos die suiwel van die naburige melkery, Gay’s Guernsey Dairy, gemaak word – alles prentjiemooi voorgesit. Ons geniet tuisgemaakte granola met die romerigste plaasvars Guernsey-jogurt en vars vrugte. Daarna kies Lodewyk ‘n omelet en ek bestel Turkse eiers met dubbelroomjogurt, gebraaide tamaties en avokado met die heerlikste brandrissieolie wat Inga self maak. Ek is so geïnspireer dat ek die resep as inspirasie gebruik vir een van my volgende Huisgenoot-artikels. (So hou Huisgenoot dop om die resep vir Turkse eiers op labneh te sien). Na ontbyt gaan koop ons dadelik vir ons kaas by Gay’s Guernsey Dairy (hul kase het al oorsese pryse gewen) en  vertoef ook nog ‘n wyle in die pragtige dorpie waar mens teruggevoer word na stadiger en met bewustheid lewe, waar ouwêrelds stylvol opgedis word en netjies ingehaak is by hedendaagse tendense en moderne tegnologie.

Gaan loer gerus op Dennehof.co.za as jy meer wil lees oor die besonderse  verblyfplek.

Hier volg my resep vir tuisgemaakte granola wat jy dan saam met jogurt en vrugte kan voorsit.

Granola

Die granola is heerlik bros en geurig met net genoeg soetigheid.

Maak 2 liter

Bereiding: 15 min

Baktyd: 30 min

750 ml (3 k) hawermout

500 ml (2 k) klapper

500 ml (2 k) sonneblomsade

125 ml (1/2 k) pampoensade

250 ml (1 k) elk heel amandels en pekanneute

20 ml (4 t) fyn kaneel

Knippie sout

80—100 ml suiker

160 ml (⅔ k) klapperolie, gesmelt

BYVOEGINGS

50 g elk bosbessies of veelkleur- sultanas en gekapte Turkse appelkose

Voorverhit die oond tot 160º C. Voer ‘n groot bakplaat met tinfoelie of bakpapier uit.

1 Meng die hawermout, klapper, sonneblomsade, pampoensade, amandels en pekanneute in ‘n groot bak. Voeg die kaneel en sout by en meng goed deur.

2 Meng die suiker en klapperolie in ‘n glasbeker, giet oor die hawermoutmengsel en meng baie goed deur met jou hande.

3 Skep op die bereide bakplaat, versprei egalig oor die plaat en bak sowat 30 minute of tot goudkleurig. Roer gereeld met ‘n houtlepel om te verhoed dat dit aanbrand.

4 Verwyder uit die oond en koel af. Meng die vrugte by en skep in lugdigte houers.

5 Sit voor saam met jogurt en vars vrugte.

Leave a comment