Episode 3 Evan Strydom

Gesond op die langpad

YSTEE VIR DIE LANGPAD

Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 10 min

Kooktyd: 5 min

1 liter (4 k) water

Groot stuk heel vars gemmer, in skywe gesny

2 heel steranys-peule

2 suurlemoene se sap en skil

45 ml (3 e) heuning

5 Carmien Pure rooibosteesakkies of 3 Carmien/Lekker&Goed Cooking teabags

ysblokkies

hand vol bessies van jou keuse

1 Plaas al die bestanddele, behalwe die teesakkies, ys en bessies, in ‘n groot kastrol en bring tot kookpunt. Verlaag hitte en laat kook vir sowat 5 minute tot geurig.

2 Verwyder van hitte en voeg teesakkies by. Laat staan om te trek totdat die vloeistof afgekoel is.

3 Gooi deur ‘n sif en plaas in yskas tot yskoud.

4 Giet in flesse saam met ys en bessies.

JOGURTSAADBLIKBROODJIES MET TUNASMEER EN GUTZY UIEPIEKEL 

JOGURTSAADBLIKBROODJIES

Maak 1 broodjie

Bereiding: 10 min

Baktyd: sowat 35 minute

500 ml (2 k) hawermout 

15 ml (1 e) bakpoeier

5 ml (1 t) sout

180 ml (¾k) gemengde sade (vlassaad, lynsaad, sesamsaad, pampoensaad en sonneblomsaad)

30 ml (2 e) chia-saad

50 g heel amandels

3 eiers

250 ml (1 k) natuurlike jogurt (Lancewood, lactolite) of amasi

Sowat 125 ml (½ k) Carmien groen rooibostee, berei met 1 teesakkie

Sade en hawermout vir oorsprinkel

Voorverhit die oond tot 190°C. Spuit ‘n skoon blik goed met kossproei.

1 Meng die hawermout, bakpoeier en sout in ‘n groot mengbak. Voeg die sade en neute by en meng weer goed

2 Klits die eiers in ‘n ander bak, voeg die jogurt en ‘n bietjie tee by en klits tot goed gemeng.

3 Voeg die nat bestanddele by die droë bestanddele en meng liggies tot deeglik gemeng en ‘n sagte deeg gevorm is, voeg meer tee by soos nodig. Moenie oormeng nie.

4 Skep in die blik.

5 Sprinkel hawermout en sade bo-oor.

6 Bak 30 minute lank tot gaar en ‘n toetspen skoon uit die broodjie kom, keer uit en bak nog sowat 5—10 minute of totdat die kante en onderkant ook drooggebak is.

TUNASMEER

Maak sowat 500 ml (2 k)

Bereiding: 10 min

125 ml (½ k) mayonnaise (light)

30 ml (2 e) tahini (opsioneel)

45 ml (3 e) kappertjiesaad

1 suurlemoen se sap en gerasperde skil

1 brandrissie, gekap (saadjies verwyder indien verkies)

Goeie skoot olyfolie

2—3 blikkies (170 g elk) Lucky Star-tuna, in soutwater verpak, gedreineer, maar behou die vloeistof

1 soet ui van WIldeklawer, fyn gekap

Gesmelte botter

Paar takkies vars tiemie

1 Plaas die mayonnaise, tahini, kappertjiesaad, suurlemoen se sap en skil en gekapte brandrissie in die voedselverwerker en kap fyn. Voeg die olie asook die tuna by. Verwerk tot glad, voeg van die vloeistof by indien die mengsel te droog is.

2 Voeg ook die uit by en kap fyn.

3 Skep in ‘n bakkie met ‘n deksel en giet die gesmelte botter bo-oor.

4 Plaas ‘n paar takkies tiemie bo-op en laat die botter stol.

5 Sit voor saam met die hawermoutbroodjie.

GUTZY UIEPIEKELS

Maak 1 bottel (750 ml) piekel

Bereiding: 20 min

Gaarmaak: 6 min

BASIESE PIEKELSOUS

500 ml (2 k) rou appelasyn

500 ml (2 k) water

15 ml (1 e) sout

125 ml (1/2 k) suiker

7,5 ml (11/2 t) heel koljandersaad

5 ml (1 t) heel vinkelsaad

5 ml (1 t) mosterdsaad

1 sakkie elk Carmien GUT en Carmien groen rooibostee

GROENTE

6 rooi uie, in ringe gesny saam met 5 knoffelhuisies, geskil

1 Was en steriliseer glasflesse en deksels.

2 Giet die bestanddele vir die basiese piekelsous, buiten die teesakkies, in ‘n kastrol en bring tot kookpunt en kook 5 minute. Voeg die teesakkies by, laat trek so 2 minute en verwyder die teesakkies.

4 Pak intussen die uie en knoffel in die voorbereide flesse en giet die piekelmengel oor die groente, maak seker dat die groente heeltemal bedek is. Maak flesse toe en seël. Keer onderstebo en laat afkoel.

HOENDER “SOSATIES” MET KOLJANDERPESTO

Maak 26 sosaties

Bereiding: 40 min

Gaarmaak: sowat 15—20 min

6 hoenderborsfilette, in klein blokkies gesny

sout

SOUS

1 ui, gerasper

2 knoffelhuisies, gerasper

5 cm gemmer, gerasper

30 ml (2 e) olie

30 ml (2 e) brejani-masala

7,5 ml (1½ t) komyn

7,5 ml (1½ t) paprika

15 ml (1 e) borrie

45 ml (3 e) appelkooskonfyt

30 ml (2 e) soesji-asyn

15 ml (1 e) sojasous

Sout en peper na smaak

80 ml (⅓ k) koljanderblare, fyn gekap

160 ml (⅔ k) Carmien Spicy Rooibos Masala Chai Cooking teabags, gemaak met 1 sakkie

60 ml (¼ k) natuurlike jogurt

1 Geur vleis liggies met sout. Ryg 4 blokkies hoender op klein sosatiestokkies. Plaas in ‘n bak.

2 SOUS Plaas al die bestanddele vir die sous in ‘n kastrol en bring tot kookpunt. Koel af en roer die jogurt by. Giet oor die hoendersosaties. Marineer vir sowat 2—3 ure (nie te lank).

3 Braai oor matige kole of in ‘n riffelpan tot gaar en sappig. Sit voor met koljanderpesto.

KOLJANDERPESTO

Maak 375 ml

Bereiding: 10 min

Sout

250 ml (1 k) pampoenpitte

120 g vars koljanderblare

2 groot knoffelhuisies, geskil

125 ml pecorinokaas, gerasper

Sowat 250 ml (1 k) olyfolie

5 ml (1 t) suurlemoensap

1,25 ml (¼ t) fyngerasperde suurlemoenskil

1 Sprinkel sout oor pampoenpitte en rooster in ’n droë pan.

2 Plaas pampoenpitte, koljanderlare, knoffel en kaas in die NutriBullet en verwerk tot fyn, voeg die olyfolie stadig by saam met suurlemoensap en skil.

3 Verwerk tot ‘n growwerige pasta.

PROTEINBROWNIE

Maak ‘n medium koek

Bereiding: 10 min

Baktyd: 25 min

125 ml (½ k) warm Carmien Ashwagandha-rooibostee (2 sakkies)

80 ml (⅓ k) kakao

60 ml (¼ k) olie

1 blik (400 g) tertappels, verpulp

125 ml (½ k) bruinsuiker

250 ml (1 k) witbroodmeel

125 ml (½ k) soja-proteien

2,5 ml (¼ t) sout

20 ml (4 t) bakpoeier

125 ml (½ k) hawermout

3 eiers

1 plak (80 g) donker sjokolade, gesmelt

5 ml (1 t) vanieljegeursel

Handvol frambose

Kakao vir bo-oor stuif

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n losboom-koekpan met kossproei en voer die bodem uit met bakpapier.

1 Meng die rooibostee, olie en kakao saam en roer die appelpuree en suiker by.

2 Sif die meel, proteienpoeier, sout en bakpoeier saam en voeg die hawermout by.

3 Klits die eiers, sjokolade en vanieljegeursel saam en klits die rooibosmengsel by.

4 Vou die droë bestanddele in.

5 Skep in die voorbereide koekpan, sprinkel die frambose oor en bak sowat 25 minute of tot die brownie net-net gaar maar nog effe “gooey” is. Koel af en stuif met kakao indien verkies.

Leave a comment