Episode 9 – Janine Jantjies

Terug op die plaas

Saldanha-martini

Genoeg vir 2

100 ml water

4  sakkies Carmien Creamy Vanilla Rooibostee of Pure rooibostee

115 g grenadillapulp

60 ml (¼ k) vodka

20-25 ml grenadella-likeur (Passoã is standaard)

10-15 ml (2—3 t) lemmetjiesap

15–30 ml (1 –2 e) Piekenierskloof Straw Wine

Piekenierskloof Wilhelmina MCC vir afronding

1 Bring water tot kookpunt, voeg teesakkies by en laat kook nog 1 minuut. Haal van hitte af en laat afkoel. Verwyder die teesakkies en roer die grenadillapulp by.

2 Verkoel ‘n martini- of coupe-glas vooraf in die vrieskas.

3 Giet die vodka, grenadilla-likeur, lemmetjiesap en grenadilla-teestroop in ‘n cocktail shaker.

4 Vul die “shaker” met ys en skud kragtig vir 15-20 sekondes totdat dit goed verkoel is.

5 Gooi mengsel in die verkoelde glase en voeg die Straw Wine by.

6 Giet ‘n goeie skooot verkoelde vonkelwyn by elke glas en sit dadelik voor.

SUURDEEGBROOD

Maak 1 brood

Bereiding: sowat 8 ure

Baktyd: 30—40 min

60—125 ml (¼–½ k) aktiewe suurdeegplantjie

Sowat 375 ml (1½ k) warm water of meer

 500 g verkieslik steengemaalde broodmeel

7,5 ml (1½ t) sout

1 aartappel

1 Meng die plantjie en die water in ‘n bak of in die bak van die menger.

2 Voeg die meel en sout by en rasper die aartappel skil en al by. Meng en knie tot ‘n sagte elastiese deeg. Bedek die bak met ‘n doek en laat 30 min rus.

3 Verwyder die deeg uit die bak en strek en vou 4—5 keer. Herhaal 4 keer. (Laat rus sowat 30 minute tussen-in)

4 Vorm in ‘n ovaal en plaas in ‘n meelbestuifde broodmandjie. Bedek en laat rys op ‘n warm plek tot dubbel die volume (dit kan tot 6 ure neem).

Voorverhit die oond tot 230°C.

5 Maak intussen ‘n swartpot goed warm op die stoof of in die oond by hoogte temperatuur.

6 Plaas ‘n vel bakpapier bo-oor die gerysde brood en keer om. Plaas in die pot met die papier onder. Maak dadelik toe met die deksel en plaas in die oond.

7 Bak 30 minute, verwyder die deksel, verlaag die temperatuur na  200°C en bak ‘n verdere 10—15 minute of tot die brood gaar en die bokors mooi bruin is.

Jy kan selfs die brood uit die pot lig en direk op die oondrak bak vir die laaste 5—10 min.

8 Laat afkoel en sny in snye.

Sal sowat 3 dae vars bly as lugdig verpak.

 MA SE VISKOEKIES

LEWER SOWAT 6-8 VISKOEKIES

Bereiding: 15 min.

Gaarmaak: 20 min.

2 blikke (400 g elk) Lucky Star sardyne in tamatiesous

2 snye bruinbrood, korsies verwyder

1 Wildeklawer-ui, fyngekap

2 Wildeklawer-wortels, gerasper

’n klein bietjie olie

2–3 knoffelhuisies, fyngedruk

5 ml (1 t) gerasperde gemmerwortel

’n groot hand vol gekapte pietersielie

’n groot hand vol gekapte koljanderblare

Gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen

5 ml elk (1 t) fyn komyn, paprika en garam masala

sout en peper na smaak

1 eier, geklits

broodkrummels en sesamsaad om in te rol

SALSA

1 klein komkommer, in klein blokkies gesny

1 tamatie, in blokkies gesny

1 appel of peer, in klein blokkies gesny

balsemieke asyn na smaak

koljanderblare vir oorsprinkel

VOORSIT

fynaartappel en ertjies

1 Viskoekies Dreineer die vis en maak fyn. Behou die sous en giet net genoeg oor die brood om dit aan te klam. Laat staan tot sag en maak fyn. Voeg by die vis.

2 Braai die helfte van die ui en knoffel in ’n klein bietjie olie in ’n pan.

3 Vou die gebraaide sowel as die rou ui in die vis.

4 Voeg die kruie asook die suurlemoenskil en -sap by en meng. Geur met speserye en sout en peper na smaak. Voeg die eier by en meng deur.

5 Skep lepels van die mengsel uit en doop in broodkrummelmengsel. Pak op ‘n gesmeerde bakplaas. Verkoel 30 minute.

6 Bak in die oond by 180°C tot stewig. (jy kan dit ook in die Airfryer doen – plaas die viskoekies in ‘n enkellaag daarin, sprinkel bietjie olie oor en lugbraai tot bruin, sowat 10 minute, draai halfpad om.

6 Salsa Meng al die bestanddele vir die salsa.

7 Voorsit Sit die viskoekies voor saam met fynaartappel, ertjies en die salsa.

SOUSKLUITJIES

GENOEG VIR 4 MENSE

BEREIDING: 15 MINUTE

GAARMAAK: 20 MINUTE

SOUS

500 ml (2 k) rooibostee, sterk getrek met 3 Carmien Creamy Vanilla of Pure rooibosteesakkies

80 ml (⅓ k) suiker

5 ml (1 t) fyn kaneel

5 ml (1 t) botter

KLUITJIES

45 ml (3 e) koekmeel

30 ml (2 e) mielieblom

15 ml (1 e) vlapoeier

1,25 ml (¼ t) sout

500 ml (2 k) melk

2 eiers, by kamertemperatuur, geskei

5 ml (1 t) vanieljegeursel

1 SOUS Plaas al die bestanddele in ‘n kastrol en laat goed kook. Giet daarna in ‘n opdienskottel.

2 KLUITJIES Meng die koekmeel, mielieblom, vlapoeier en sout met ’n bietjie van die melk om ’n slap pasta te vorm.

3 Kook die res van die melk en roer die pasta stadig daarby in. (begin deur eers bietjie van die warm melk met die pasta te meng voordat jy die hele lotjie dan met die melk meng)

4 Kook die mengsel 2 minute en roer aanhoudend tot dit verdik het. Pas op dat dit nie aanbrand nie.

5 Klits die eiergele en roer dit geleidelik by die kokende mengsel in. Voeg die vanieljegeursel by.

6 Haal van die stoof af. Klits die eierwitte styf en vou in.

7 Skep lepels vol van die mengsel in die sous in die opdienskottel. Sit die sponskluitjies warm voor.

Leave a comment