Vis uit ‘n blik

Ek sorg deesdae dat daar altyd ‘n blikkie of meer vis in een of ander aard in my koskas is. Dis dan alte gemaklik as jy vinnig iets te ete aanmekaar moet slaan en boonop bevat veral sardyne en sardientjies hope omega 3 vetsure wat goed is vir jou. Met tuna maak ek graag ‘n korlose tunatertjie wat heerlik is vir ‘n ligte middagete en is ook ideale inpakkos. As ek nie nog wil wag vir die bakkery nie, maak ek sommer ‘n tipe frittata wat jy in ‘n groot pan op die stoof gaarmaak of ek skep die tertjies in ramekinbakkies wat ek dan in die Airfryer gaarmaak.

Ek het grootgeword met viskoekies wat met ‘n blik vis gemaak word. In die plaaswinkel was daar altyd blikke “vaalvis”, soos my broers dit genoem het, op die winkelrak. Baie aande as my ma hande in die hare was oor wat om voor te sit vir aandete, het sy ‘n blikkie vis gaan haal uit die winkel. Ma het sommer die mengsel net so in die pan geskep met ‘n lepel, nie eers gebodder met bolletjies rol nie. Ons het dit meestal net so geniet met ‘n skyfie suurlemoen en varsgebakte brood, maar ‘n gebakte patat, sommer in die Airfryer gemaak, is absoluut heerlik hierby. My viskoekies is deesdae heerlik gespesery met komyn, paprika en garam masala en kry ook ‘n lekker handvol gekapte koljanderblare in. Hierdie resep asook vele gesonder resepte vir heerlike huiskos is almal te kry in my boek, Lekker&Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid. Kyk by bekende boekwinkels om jou kopie aan te skaf.

MALEISE VISKOEKIES
Lewer sowat 6 – 8 viskoekies
BEREIDING: 15 MIN
GAARMAAK: 20 MIN

2 blikke (400 g elk) sardyne in tamatie- of brandrissiesous of andersins middel-snit makriel
2 snye bruinbrood, korsies verwyder, of sowat 125 ml (½k) hawermout of gaar fyn patat
1 middelslag-ui, fyngekap
’n klein bietjie olie
2–3 knoffelhuisies, fyngedruk
5 ml (1 t) gerasperde gemmerwortel
’n groot hand vol gekapte pietersielie
’n groot hand vol gekapte koljanderblare
Gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
5 ml elk (1 t) fyn komyn, paprika en garam masala
sout en peper na smaak
1 eier, geklits
Broodkrummels, sesamsaad of witbroodmeel om in te rol

SALSA (OPSIONEEL)
2 wortels, geskil en in klein blokkies gesny
1 klein komkommer, in klein blokkies gesny
1 tamatie, in blokkies gesny
1 peer, in klein blokkies gesny
balsemieke asyn na smaak
koljanderblare vir oorsprinkel

VOORSIT
Suurlemoenskyfies
500 g gaar oranje patats, fyngemaak met bietjie suurlemoenskil

1 VISKOEKIES Dreineer die vis en maak fyn. Behou die sous en giet net genoeg oor die brood of hawemout om dit aan te klam. Laat staan tot sag en maak fyn. Voeg by die vis.
2 Braai die helfte van die ui en knoffel in ’n klein bietjie olie in ’n pan.
3 Vou die gebraaide sowel as die rou ui in die vis.
4 Voeg die kruie asook die suurlemoenskil en sap by en meng. Geur met speserye en sout en peper na smaak. Voeg die eier by en meng deur.
5 Vorm die mengsel in bolletjies en doop in broodkrummels, sesamsaad of meel tot oraloor bedek. Verkoel 30 minute.
5 Verhit ‘n klein bietjie olie in ‘n pan en braai tot alkant bruin. (die kan jy nou ook in die Airfryer doen – plaas die viskoekies in ‘n enkellaag daarin, sprinkel bietjie olie oor en lugbraai tot bruin, sowat 10 minute, draai halfpad om.
6 SALSA Meng al die bestanddele vir die salsa.
7 Voorsit Sit die viskoekies voor op die fyngemaakte patat en skep die salsa oor.

KORSLOSE TUNATERTJIES
Maak sowat 24 tertjies
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: sowat 30–40 min

1 ui, gekap
Olie vir braai
4 x 185 g-blikke tuna in pekel, gedreineer
6 eiers
250 ml (1 k) volroommelk
Sout en peper na smaak
45 ml (3 e) meel
250 ml (1 k) gerasperde Cheddarkaas
375 ml (½k) ertjies
Strooisel fyngerasperde pecorino-kaas vir bo-oor

VOORSIT
Paar kersie-tamaties, in die oond gerooster

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit die holtes van 2 muffinpanne (24 holtes) met kossproei.
1 Braai die ui in bietjie verhitte olie tot sag. Koel af.
2 Meng die tuna en ui.
3 Klits die eiers en melk saam, geur goed met sout en peper. Roer die meel in.
4 Voeg die tunamengsel asook die kaas en ertjies by en meng goed.
5 Skep in die voorbereide holtes en sprinkel bietjie pecorino-kaas oor elk
6 Bak 30—40 minute tot gestol, skep uit en sit voor saam met die tamaties.

Padkos

In my huis heers groot opgewondenheid, want dis byna tyd om te verkas op ‘n lang verdiende vakansie, al die pad Kalahari toe om daar ‘n bietjie te gaan ontspan en die natuur te geniet. Maar soos altyd die geval, is die reistyd vir ons net so lekker en spesiaal en geniet ons die ryery. Dis defnitief nie net ‘n gejaag om tot by ons bestemming te kom nie. Vir my is die mooiste om te sien hoe die natuur verander, die laaste van die Weskus blommeprag (alhoewel baie keer pak ons dié entjie pad in pikdonkerte aan), dan die groen bergagtigheid tot kort voor Vanrhynsdorp waar ons dan die Knersvlakte oor en op met VanRhynspas. Gewoonlik is ons eerste koffiebreek by die uitkykpunt bo-op die pas waar jy so mooi oor die vlakte uitkyk. En dis dan wanneer die padkossak te voorskyn gehaal word (een van my mooi koelsakke is ideaal om hiervoor te gebruik, nie net pragtig nie, maar hou koue en warm geregte ewe goed by die regte temperatuur. En hulle is lekker stewig – kyk op Carmién-webtuiste – hulle is nou beskikbaar teen ‘n spesiale prys).

Padkos is ‘n móét as ons op ‘n lang trippie gaan – buiten vir smaaklike toebroodjies (ek gebruik deesdae graag daardie vierkantige saadbroodjies hiervoor), is ons nogals lief vir ‘n hardgekookte eiertjie (glo dit as jy wil) wat ek saam met ‘n paar slaaigoed wat goed kan hou, inpak en maak ook ‘n suursousie daarby; andersins vorm dit bloot deel van die toebroodjievulsels. Daarby frikkadelle (wat lekker lossies gaargemaak is) – die suursousie is ook heerlik hierby. En dan die gewoontelike biltong en droëwors wat in porsiegrootte sakkies verpak is. Soetigheid bly ook nie agter nie: sjokolade-clusters en hawermoutcrunchies (wat ek intussen ook gesonder gemaak het – sien meer hieroor in volgende post). Ek hou ook daarvan om ‘n sakkie of wat neute-en-sademengsels in te pak, waaraan mens heerlik tussendeur kan peusel – as die tyd my nie inhaal nie verwerk ek dit soms ook in ‘n vinnige cluster deur donker sjokolade te smelt en die neutemengsel daardeur te roer en dit dan weer in hopies te laat hard word. Gewapen met al hierdie heerlike kossies in ons padkossak word die langpad een groot avontuur.

HARDGEKOOKTE EIERSLAAI MET SUURSOUS

Hierdie eenvoudige slaai is onbeskryflik lekker. Vir padkos pak ek die bestanddele apart in meng dit dan wanneer dit by ete kom. Andersins kan jy dit in lagies pak. Die sous, wat ons sommer bloot suursous genoem het, is ‘n ou-ou resep gemaak met eiers, asyn en suiker. Teen die Weskus kry jy dit saam met gebraaide lewertjies vir ontbyt. Ek het die suiker van die oorspronklike resep heelwat verminder en hou daarvan om bietjie jogurt by die sous te voeg om dit lekker romerig te kry, dan is selfs net blaarslaai genoeg daarby.

MOSTERDSLAAISOUS
3 eiers, geklits
60 ml (¼ k) water
60 ml ( ¼ k) appelasyn
60 ml ( ¼ k) suiker
20 ml (4 e) matige mosterdpoeier of 30 ml (2 e) klaarbereide mosterd
2 ml (½ t) sout
Sowat 80 ml (⅓ k) natuurlike jogurt
SLAAI
4 eiers, hardgekook
1 Iceberg (of Cos) blaarslaai, in wiggies gesny
2—3 wortels, in repe geskil met ‘n aartappelskiller
1 avokado, in repies gesny (opsioneel)
Bondel grasuie, gekap of andersins 1 klein rooi ui, in klein blokkies gesny

1 SOUS Plaas al die bestanddele in ’n swaarboomkastrol en klits goed met ‘n draadklitser. Roer aanhoudend oor lae hitte tot die sous glad en dik is. (pas op vir skif).
Laat afkoel en meng die jogurt in.
2 SLAAI Sny 3 van die hardgekookte eiers in skyfies. Skei die ander een se wit en geel en rasper dit apart. Hou eenkant.
3 Pak die blaarslaaiwiggies op ‘n groot slaaibord en skep bietjie van die slaaisous oor.
4 Rangskik die eierskyfies, wortel en avokado bo-op, druppel res van die sous oor en sprinkel die gerasperde eier en grasuie bo-oor.

Lekker los frikkadelle

Vir padkos of handkos kan jy die frikkadelle saam met blaarslaai en miskien ‘n skyfie tamatie en ui in ‘n pita sit en van die suursous oorskep (of andersins skep die jogurtpesto oor.)

Lewer sowat 18 middelslag frikadelle
Bereiding: 20 min
Rustyd: 20 min
Gaarmaak 20 min

FRIKKADELLE
1 kleinerige ui, gekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
olie
400 g elk gewone beesmaalvleis en ekstra-maer maalvleis
1—2 wortels, geskraap en gerasper
20 g pietersielie, gekap
1 eier
2,5 ml elk (½ t) komyn, paprika
5 ml (1 t) fyn koljander
15 ml (1 e) Worcestersous
60 ml (¼ k) hawermout
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
Sout en peper na smaak
SOUS (opsioneel)
375 ml (11/2 k) natuurlike jogurt
30 ml (2 e) koljanderpesto

Voorverhit die oond tot 190°C.
1 Braai die ui en knoffel in klein bietjie olie tot sag. Voeg die kruie by. Koel af
2 Meng die maalvleis liggies maar goed – werk met ‘n vurk.
3 Voeg die uiemengsel asook res van frikkadelmengsel by.
4 Vorm middelslag frikkadelletjies. Plaas in ‘n oondbak, giet bietjie water in die bak en verf elkeen liggies met olie.
5 Oondbraai sowat 20 minute of tot net gaar maar nie droog nie.
6 SOUS Meng die jogurt en koljanderpesto en sit voor saam met die frikkadelle indien verkies.

Wenk: Dis belangrik om die vleismengsel bietjie te laat rus sodat die hawermout kan versag.
Wenk: Jy kan die frikkadelle ook in die Airfryer gaarmaak.

Soetigheid vir die pad

Deel van die lekkerte om na jou vakansie-bestemming te reis is mos maar die eetgoed wat saam ingepak word en waaraan almal deurentyd kan peusel. Buiten vir padkos wat moet instaan vir ‘n ete (en waarvoor ons graag stop langs die pad), is dit altyd die houer met soetigheid wat goed aftrek kry. As dit by koekies kom, verkies ek om my eie te bak. Ek neig mos maar altyd na die gesonde kant, so ek bak veral graag koekies met hawermout in. Destyds se crunchies was nog altyd ‘n groot gunsteling, maar oeg, net die blote gedagte aan die baie botter en suiker, het klaar my maag op ‘n knop laat trek. Deesdae meng ek ‘n bietjie gekapte dadels by om soetigheid te gee en gebruik klapperolie vir die bros lekkerte. Vir die kinders is enige iets met bietjie sjokolade in altyd spesiaal en saam met hawermout is dit tog te lekker. Kleintyd het ons altyd self vir ons chocolate clusters gemaak en dis net sulke lekker inpak-soetigheid. Ek sien in een van my vroeëre Wenresepteboeke het ek dit die gepaste Afrikaanse naam van sjokolade-bondeltjies genoem. Die suikerinhoud daarvan was ook maar goed hoog – 2 koppies op 3 koppies hawermout!

Nou het ek dit reggekry om die suikerinhoud daarvan goed af te bring tot net sowat 300 ml en jy kan selfs ‘n suikerplaasvervanger soos eritritol gebruik wat ‘n heerlike brosheid aan die koekie verskaf en heel bekostigbaar is.

Vir drinkgoed is die koffiefles altyd byderhand, maar deesdae is ek net so lief om ‘n sakkie of wat van Carmién se Cold Brews in ‘n waterbottel te gooi en deurentyd daaraan te teug – niks meer is daarby nodig nie, want dis alreeds effe versoet met stevia-blaartjies (nie die poeier wat ‘n bitter nasmaak het nie). Sodoende bly jy lekker gehidreer gedurende die rit. As daar kinders by is, kies ek uit die Kiddies-reeks, want dis ewe lekker vir die kleingoed en grootmense!

DADEL-EN-SAADHAWERMOUTSTAFIES

Ek het ‘n verknogtheid aan oudag se ‘oats crunchies’, maar sjoe, dit wemel van suiker en vet. Hier verleen dadels die meeste soetigheid met net 3 eetlepels suiker en ‘n derde koppie olie wat bykom. Die sade verleen daardie nodige “crunch” aan die stafies. Hierdie en nog vele heerlike gesonder resepte is beskikbaar in my nuutste resepteboek: Lekker&Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid. Kyk uit daarvoor in boekwinkels asook op die Carmién-webtuiste.

Maak 18 stafies
Voorbereiding: 15 min
Baktyd: 30—45 min

250 g dadels, gekap
125 ml (½ k) warm lemoen-chai-rooibostee (3 sakkies)
1 eier, geklits
250 ml (1 k) hawermout
250 ml (1 k) klapper (helfte hiervan kan met nog hawermout vervang word)
60 ml elk (1/4 k) geroosterde sonneblomsaad, en pampoensaad
125 ml (1/2 k) koekmeel of glutenvrye meelmengsel
5 ml (1 t) koeksoda
5 ml (1 t) kaneel of gemengde speserye
Knippie sout
80 ml (1/3 k) klapperolie of botter
45 ml (3 e) bruinsuiker of heuning

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n 20 cm-vierkantige koekpan goed.
1 Plaas die dadels in ‘n bak, giet die warm tee oor. Laat staan minstens 5 minute, voeg die eier by.
2 Meng die droë bestanddele saam.
3 Smelt die klapperolie of botter en bruinsuiker of heuning saam. Meng met die dadels.
4 Voeg die droë bestanddele by die dadelmengsel en meng goed.
2 Druk vas in die voorbereide pan en bak 30–45 min tot goudbruin bo-op en stewig.
3 Koel heeltemal af en sny in stafies.
4 Verpak in ‘n lugdigte houer.

Geniet dit

Die rugby-wêreldbeker bou nou lekker momentum op met die laaste wedstryde wat in die onderskeie groepe gespeel word. Wees deel van die pret, pak ‘n uitpakbord met ‘n verskeidenheid happies of bak sommer ‘n heerlike brood en geniet dit saam met ‘n wyntjie of ‘n paar lekker drankies. Maak seker dat jy ‘n paar Piekenierskloof-wyne het wat jy kan oopmaak en wees kreatief met Carmién se heerlike sprankel-ystees, jenewers en hul Cold Brews om smullekker drankies te brou.
 
SMULLEKKER BROOD MET PIEKELTAMATIES
 
Hierdie heerlike tuisgebakte brood is net die ding vir ‘n uitpakbord om saam met ‘n drankie te geniet terwyl julle die rugby geniet.
 
LEWER 2 BRODE
TAMATIES
Bereiding: 5 min.
Bak: sowat 30 min.
BROOD
Bereiding: 20 min.
Rys: 30-45 min. + 20 min.
Bak: 30-35 min.
 
OONDGEDROOGDE TAMATIES
200-250 g vars kersietamaties, gehalveer
15 ml (1 e) seesout
2,5 ml (½ t) vars gemaalde swartpeper
5 ml (1 t) gemengde droë kruie
30 ml (2 e) witasyn
60 ml (¼ k) olyfolie
VIR BÊRE
125 ml (½ k) olyfolie
vars kruie, soos roosmaryn, tiemie, origanum of ’n paar basilieblare
BROOD
750 g witbroodmeel
’n knippie elk sout en suiker
30 ml (2 e) vars roosmaryn, grofgekap
6 knoffelhuisies, fyngedruk
10 g kitsgis
15 ml (1 e) olyfolie
sowat 450 ml warm water
125 ml (½ k) van die gebakte tamaties, gedreineer en grofgekap
ekstra roosmaryn
VIR VOORSIT
ekstra olyfolie en die orige gebakte tamaties
 
Voorverhit die oond tot 120 °C.
1 OONDGEDROOGDE TAMATIES Plaas die gehalveerde tamaties met die oop kant na bo op die bakplaat. Geur met die sout, peper en gemengde kruie.
2 Drup die asyn en olyfolie oor die tamaties. Oondbraai sowat 30 min. tot die tamaties effens ingekrimp en die rande effens verbruin het. Laat dit afkoel.
3 VIR BÊRE Pak in ’n skoon fles, giet die olyfolie oor en voeg die vars kruie by. Maak toe en bêre in die yskas. (Die tamaties sal tot ses maande hou.)
4 BROOD Sif die meel, sout en suiker saam. Roer die roosmaryn, knoffel en gis by en maak ’n holte in die middel van die mengsel.
5 Meng die olie met die warm water en giet dit in die holte. Meng vinnig om ’n sagte deeg te vorm; voeg nog water by, indien nodig.
6 Knie die deeg sowat 7 min. op ’n meelbestrooide oppervlak tot glad en elasties.
7 Plaas die deeg in ’n liggies gesmeerde bak en bedek met ’n skoon, klam lap. Laat staan 30-45 min. of tot die deeg verdubbel het.
8 Voorverhit die oond tot 200 °C.
9 Knie die deeg weer 3 min., knie die tamaties in en verdeel die deeg. Vorm elke stuk in ’n groot, oval vorm en plaas dit op ’n meelbestrooide bakplaat.
Sny kruisies op elke brood indien verkies en sprinkel die ekstra roosmaryn bo-op. Laat rys sowat 20 min. tot die brode verdubbel het. Bak 30-35 min. of tot die brood hol klink wanneer daarop geklop word.
10 VIR VOORSIT Sit voor saam met die ekstra olyfolie en gebakte tamaties.

FOR THE PLATTER
 
2—3 Cheeses: soft: e.g., cream cheese or Chevin goats’ cheese; camembert or brie; semi-hard: e.g., Gouda or matured Cheddar; hard: e.g., Parmesan or pecorino 
Chutney or spreads or pâté
Toasted chunks of French baguette and/or seed crackers
Olive oil and seed confetti (or dukkha)
Biltong and droëwors or a variety of charcuterie
Variety of fruit e.g., strawberries, grapes, and other fruit in season
 
Arrange all the above-mentioned products on a large wooden or glass platter (or bake your own bread – see recipe) and serve with a variety of drinks.
 
FOR THE DRINKS
 
Make sure to stock up on Carmién’s range of sparkling rooibos ice teas and cold brews and you are sorted to impress with a variety of refreshing drinks.
 
For me, the big bonus of Carmién’s sparkling ice teas is that they are low in kilojoules (surprisingly iced teas normally have plenty of sugar). They are also packed with all the added benefits of rooibos and are naturally caffeine-free.  Enjoy as is, serve on ice or mix with your favourite spirit for a refreshing alcoholic option. There are 3 delicious flavours: Geranium Mint, Tangerine Grapefruit and Berry Hibiscus.
 
Carmién’s Cold Brew rooibos teas are specially developed to be used in COLD WATER. Using cold water instead of hot water slowly extracts more flavour, giving you a smooth, sweet, and cleaner-tasting tea – ideal to add (only one bag is needed) to your favourite drink for a touch of extra flavour. Another plus is that no sugar is added to the cold brew tea bags, only natural stevia leaf is used to add a bit of sweetness, making it a much healthier option. Available in 4 delicious flavours: Cranberry HibiscusApple Mint, Coco Pine and Apricot Blossom.
 
CRANBERRY AND BERRY HIBISCUS DRINK WITH BERRY LOLLIES
 
The Cranberry Hibiscus Cold Brew brings a touch of tartness to this delicious drink loaded with berries. The berry lollie adds a nice surprise.
 
FOR THE LOLLIES

125 ml (½c) full-cream yoghurt
250 g frozen strawberries
80 ml (⅓c) raw honey
 
Place all the ingredients in a blender and blend until smooth. Spoon into 5—6 lollie holders and freeze.
 
FOR THE DRINK

Place a bag of Carmién’s Cranberry Hibiscus Cold Brew in a glass and fill it halfway with ice-cold water and ice. Top with Carmién’s Berry Hibiscus Sparkling Rooibos Iced Tea and add a few blueberries and strawberry slices if preferred. Serve with a lollie dunked into the drink.
 
For an alcoholic version: add a tot of Carmién Floral Berry Gin or vodka.
 
APPLE MINT AND GERANIUM DRINK
 
The crispy apple taste and notes of perfumed geranium are a good match.
 
Place a bag of Carmién’s Apple Mint Cold Brew in a glass and fill halfway with ice-cold water and ice. Top with Carmién’s Geranium Mint Sparkling Rooibos Iced Tea. Add a few slices of strawberries and cucumber plus mint and/or basil leaves. Decorate with geranium flowers and leaves. 
 
For an alcoholic option add a tot of Carmién’s Floral Berry Gin or vodka.
 
COCO PINE AND TANGERINE GRAPEFRUIT DRINK
 
Hints of coconut and pineapple and notes of citrus pair beautifully in this drink.
 
Place a bag of Carmién’s Coco Pine Cold Brew in a glass and fill it halfway with ice-cold water and ice. Top with Carmién’s Tangerine Grapefruit Sparkling Rooibos Iced Tea. Add a few lime or lemon slices and decorate with a stalk of lemon grass or sprigs of mint or thyme.
 
For an alcoholic option add a tot of Carmién’s Citrus Chai Gin or vodka.

Kaap van Storms

Nes ek dog die warmer weer is uiteindelik hier, tref die ergste storms denkbaar groot dele van die land. Langebaan het die omgekrapte weer grotendeels vrygespring met slegs ‘n stewige wind en ‘n sagte reëntjie wat vir ‘n tydjie neergesif het. Wel lekker koud en dit gaan nog vir ‘n wyle so wees. Dis toe dat ek besluit daar’s steeds tyd vir sop kook, weliswaar sekerlik nou nie meer dik bonkige bone- of ertjiesop nie, maar ‘n geurige tamatievissop is net wat mens nodig het terwyl die koue vir oulaas sy kloue inslaan.  
 
TAMATIE-SOP
 
Dié geurige vissop is binne ‘n ommesientjie klaar.
 
GENOEG VIR 4 MENSE
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 15-20 min.
 
SOP
60 ml (¼ k) suurlemoensap
500 g stewige wit vis soos geelstert, grate verwyder en in stukkies gesny
3 knoffelhuisies, fyngekap
sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
’n bietjie olyfolie
250 ml (1 k) ui, gekap
1 rooi soetrissie, gekap
1 klein brandrissie, pitte verwyder en gekap
5 ml (1 t) paprika
500 ml (2 k) gekerfde vars tamaties
30 g koljanderblare, gekap (hou ’n bietjie vir garnering)
1 blik (400 g) ligte klappermelk
KAMMANAAN
1 kg winkelbrooddeeg
knoffelbotter
 
1 SOP Sprinkel die suurlemoensap oor die vis tot dit bedek is, en sprinkel die knoffel oor. Geur na smaak met sout en swartpeper. Verkoel.
2 Giet ’n bietjie olyfolie in ’n groot kastrol; verhit oor lae hitte tot warm.
3 Voeg die ui by; roerbraai tot sag. Voeg die soet- en brandrissie by en geur met die paprika. Roerbraai tot sag.
4 Voeg die tamaties by, kook 5 min. en voeg die koljanderblare by.
5 Skep die helfte van die groente uit, rangskik die vis in die kastrol op die oorblywende groente en geur met nog sout en swartpeper indien nodig.
6 Voeg die klappermelk by en laat prut 5 min. Voeg die orige groente weer by en laat prut tot warm.
7 Giet in ’n opdienbak en garneer met die orige koljanderblare.
8 KAMMANAAN Verdeel die deeg in 8 bolletjies en rol sowat 2 mm dik in ’n traanvorm uit.
9 Bespuit ’n gietysterpan met kossproei, verhit en braai 1-2 min. per kant tot bruin kolle verskyn.
10 Smeer die knoffelbotter oor en sit voor saam met die sop.

Varknek-vleisstukke & Slaai

Steeds in die gees van Braaidag, is dit seker net gepas dat ons ook ‘n tjoppie of wat op die vuur gooi. Iemand vra my juis nou die dag of ons dan nooit braai by die huis nie. Sjoe, dit het my nogals laat wonder of dit lyk of ons nie juis ‘n vuurtjie pak nie, want eintlik is die teendeel so waar. Ons hou daarvan om kos oor die kole gaar te maak en kuier dat tog te gesellig op die agterste stoep terwyl ons wag dat die stompies kole maak. Dan dek ek ook sommer net daar op die ou houttafel neffens die vuur en geniet ons spyse saam met ‘n Piekenierskloofwyntjie. (Spesiaal vir daardie buitetafel se dek het ek nou juis ook ‘n paar tafeldoeke, met passende servette gemaak wat ideaal werk vir buitedek – die materiaal is van so ‘n aard dat dit nie net maklik afvee nie maar ook die buite-elemente kan weerstaan). Vir meer detail gaan besoek Swier se webblad.

VARKNEK-VLEISSTUKKE MET BLOUKKAASSOUS

Wanneer ons braai, geniet ek veral ‘n varktjoppie – veral ‘n varknetktjoppie geval my nogals want agv. die lekker marmering is dit altyd sappig. Maak dit spoggerig met ‘n heerlike bloukaassous daarby, want bloukaas en vark is lekker maats.

GENOEG VIR 4 MENSE

Bereiding: 10 min.

Gaarmaak: 5-8 min.

(Sous)

Braai: 10 min. (vleisstukke)

BLOUKAASSOUS

250 ml (1 k) vars room

70 g bloukaas, gekrummel

2 knoffelhuisies, fyngerasper

15 g groen swartpeperkorrels

Swartpeper na smaak

VLEISSTUKKE

4-6 varknek-vleisstukke, lekker dik gesny

Olyfolie

Vars gemaalde pienksout en swartpeper na smaak

SLAAI

’n Paar roketblare

50 g bosbessies

100 g feta

’n Paar babatamaties

1 avokado, met ’n lepel in bolle geskep

olyfolie

Balmasieke asyn

15 ml Dijon-mostert

15 ml (1 e) heuning

Sout en peper

50 g geroosterde sade

1 SOUS Verhit die room in ’n klein kastrol oor lae hitte. Voeg die bloukaas, knoffel en peper by.

2 Laat prut sowat 5-8 min tot geurig en lekker dik. Hou eenkant.

3 VLEIS Sorg dat die kole lekker warm is (Andersins verhit ’n riffelpan oor hoë hitte tot rookwarm.)

4 Vryf die steaks alkant in met olyfolie, besprinkel met sout en peper.

5 Braai eers op die vetkant tot bruin en braai dan alkant tot mooi bruin en net-net gaar (nuwerwetse vark kan nou ook effe aan die pienk kan binne bedien word).

In die riffelpan braai aan een kant tot die steaks loskom van die pan; draai om en braai weer tot dit loskom.

6 Laat rus sowat 3 min. en sit voor saam met die sous.

7 SLAAI Rangskik al die slaaibestanddele op ’n bord.

8 Maak ‘n vinnige slaaisous deur helfte-helfte olyfolie en balsamieke asyn te meng met die mosterd en heuning. Geur goed met sout en peper en meng goed saam. Giet oor die slaai en sprinkel die saadmengsel oor. Sit voor saam met die vleissukke.

Trots Suid-Afrikaans (en ons cheer vir die Bokke)

In ons jonger dae het ons luidkeels saamgesing as die gewilde kar-advertensie op TV of oor die radio gespeel is: Braaivleis, rugby, sonneskyn en Rover Defender was toe baie gepas en is eintlik meer so vandag, veral nou wanneer ons een en almal bankvas agter die Bokke staan tydens die Wêreld-rugbybeker. September is ook Erfenismaand waartydens ons met trots oor alle groepe heen ons afkoms gedenk. Die maklikste manier sekerlik is om dit met kos te vier. Aangesien dit terselfdertyd ook Braaidag is, steek ek graag ‘n vuurtjie aan en braai ‘n worsie – die Championship Boerewors van Checkers, want waarlik vanjaar se wors is werklik tops.

Pleks van paptert maak ek klein mini-happies met die tert, smeer ‘n tuisgekookte blatjang oor met bo-op die worsie – Hemels en net reg om aan te peusel terwyl mens die rugby geniet, want ja, weet nie of dit by julle ook die geval is nie – daar moet nie te veel steurnisse wees tydens die game nie.

Terug na die blatjang – ek het die laaste tyd nogals weggeskram van blatjang aangesien dit so baie suiker in kry, maar by die een gee dadels meeste van die soetheid en voeg jy verhoudelik bitter min suiker by, veral as jy dit begin vergelyk met oorspronklike blatjangresepte. Om die dadels in sag te kook gebruik ek die Revive van Carmien wat ook brandrissie en gemmer inkry – dan hoef jy glad nie nog daarmee ook te staan en sukkel nie. Dit vra dan net alles bymekaargooi en meng om te verhoed dat dit aanbrand. So op die ingewing van die oomblik het ek teen die einde bietjie gekapte koljanderblare bygeroer wat vir my die kersie op die koek was.

Heerlik saam met pap en wors of op ‘n braaibroodjie of selfs ‘n toebroodjie saam met kaas of ham.

TOMATO CHUTNEY

Dates are the main sweetener in this chutney, meaning that you can cut back hugely on added sugar. Boil the dates in Carmién’s Revive rooibos tea to soften them before adding the rest of the ingredients. The ginger and chilli in the tea adds more than enough flavour, all it still needs is some mustard seeds, salt and pepper and yes, I love to add a good handful of chopped coriander at the end. Ideal to serve on mealie pap bites, a braaibroodjie or on a sandwich with a piece of ham.

Makes about 1 litre of chutney

Preparation time: 15 min

Cooking time: about 11/2 hours

500 ml (2 c) chopped dates

Pinch of bicarbonate of soda

500 ml (2 c) strong Revive rooibos tea from Carmién with ginger & chilli, made with 12 tea bags

1 kg ripe tomatoes, chopped

4 onions, finely chopped

15 ml (1 T) grated garlic

10 ml (2 t) salt

5 ml (12 t) black pepper

15 ml (1 T) yellow mustard seeds or mustard powder

160 ml (⅔c) brown sugar

375 ml (1½ c) apple vinegar

5—10 ml (1—2 t) soy sauce

20 g chopped coriander leaves

1 Place the dates in a large saucepan, sprinkle with bicarbonate of soda and add the warm rooibos tea. Bring to the boil and cook until the dates is almost cooked in a puree.

Then add the rest of the ingredients except the coriander leaves and bring to the boil while continuously stirring making sure all the sugar is dissolved before the mixture starts to boil.

2 Lower the heat and cook for about 60-90 minutes until the mixture thickens and is no longer watery or runny when dripped from a spoon. Stir every now and then to prevent the mixture from burning and catching on the bottom of the pot. Stir in the coriander leaves about 10 minutes before the end of the cooking time.

3 Spoon into sterilized jars and seal.

4 Serve with mealie pap and boerewors bites or use as a braai sauce for chicken wings.

MEALIE PAP BITES WITH TOMATO CHUTNEY AND BOEREWORS

Cooking mealie meal in green rooibos tea (available at Carmién) adds a nice herbal taste to the pap. Spoon the ‘stywe pap’ in small muffin tins to make small bites. Top it with chutney and serve with a bite of boerewors – I just love the 2023 Championship Boerewors of Checkers/Shoprite.

Makes about 32 bites

Preparation time: 30 min

Cooking time: 20—30 min

MEALIE PAP BITES

1 litre water

6 bags Carmién green rooibos tea

375 ml (1½c coarse mealie pap or braaipap)

Salt to taste

30 ml (2 T) butter

100 g medium hard cheese eg pecorino, grated

1 tin (400 g) whole kernel corn, drained

TO SERVE 500 g Championship Boerewors

Basil leaves or Italian parsley

PAP

1 Bring the water to the boil in a large pot, add the green rooibos tea bags and let steep for 3 minutes. Remove the bags.

2 Add the mealie pap in a thin stream while whisking with a wire whisk. Cook slowly over medium heat with the lid half on for about 15 minutes, stir occasionally.

3 Stir in the butter, grated cheese and whole kernel corn.

4 Oil the hollows of about 2 mini- muffin pans and fill the hollows generously with the pap mixture. Leave to stand overnight or for a couple of hours until firm.

5 TO SERVE Braai the boerewors over medium hot coals till just done and still juicy. Allow to cool, then slice in bite-size pieces.

6 Remove the tartlets from the pan and turn them upside down.

7 Spread with a layer of tomato chutney, top with a basil or parsley leaf and finish with a piece of boerewors.

8 Arrange the bites on a large serving platter and enjoy with drinks. Serve at room temperature.

CHICKEN WINGS ON STICKS

Makes 8—12 bites

Preparation time: 10 min

Cooking time: 15—20 min

8—12 chicken wings

salt

Tomato chutney

1 “Thread” a chicken wing on a sosatie stick and season with salt.

2 Mix the chutney with a little bit of water and brush over the wings.

3 Braai over medium coals till cooked and brown. Repeat with the chutney from time to time and turn frequently.

4 Serve with extra chutney.

Dis rugby-wêreldbekertyd

In my huis heers daar ‘n groot opgewondenheid, uiteindelik is die wag verby en het die groot oomblik aangebreek – die langverwagte rugby-wêreldbeker! Ons almal is vurige rugby- en veral Springbok-ondersteuners en veral nadat ons die All Blacks onlangs so ‘n goeie drag slae gegee het, is ons vol hoop dat die wêreldbeker weer vanjaar sy staan in Suid-Afrika mag kry. Maar ja, baie kan gebeur, al wat ek nou weet is sedert die afskop laas Vrydagaand word alle aktiwiteite in ons huis rondom die wedstrydskedules geskeduleer. Want ja, daar word nie net hard en luid vir die Springbokke geskree nie, ALLE wedstryde word bekyk om jou in detail te vergewis van alle teenstand. Hier in die middel van die stryd, is ons nou vir ‘n wyle weg Botswana toe, maar ek hoor alreeds hoe word daar plan gemaak om êrens ‘n plek te kry om te minste die Springbokke in aksie te sien. Ons is darem betyds weer terug wanneer die aksie nou rerig begin.

Om almal in die gees te kry, maak ek graag ietsie om tydens rustyd te geniet of sommer ook vir wanneer die senuwees bietjie erg te begin knaag tydens die wedstryd.

KOFTAS MET UIE-HUMMUS EN PLATBRODE

Hierdie langwerpige frikadelle kan jy ook op ‘n stokkie ryg en selfs oor die kole te rooster. As jy so wil maak, sal ek voorstel dat jy die frikkadelmengsel aanmaak, aan die stokkies ryg en dan in die yskas sit vir ‘n wyle. Sodoende kan jy verhoed dat hulle nie onnodig breek tydens die omdraaiery op die rooster nie. Maar jy kan die stokkies ook in ‘n toeklaprooster pak. Dis heerlik geurig en die ideale peuselkos saam met hummus en ‘n tuisgemaakte platbrood wat jy sommer in ‘n riffelpan op die stoof gaarmaak.

Genoeg vir 4—6 mense

Bereiding: 30 min

Gaarmaak: 30 min

PLATBRODE

150 g bruismeel

150 g volgraanmeel

5 ml (1 t) bakpoeier

2 ml (½ t) sout

Sowat 350 ml natuurlike jogurt

Pietersielieknoffelbotter vir oorverf

FRIKKADELLE/KOFTAS

500 g beesmaalvleis

1 ui, gekap

2 knoffelhuisies, fyngedruk

1 eier

5 ml (1 t) elk fyn kaneel, koemyn en paprika

Sout en peper na smaak

20 ml (4 t) worcestersous

60 ml (4 e) vars broodkrummels, geweek in 60 ml (4 e) water

30 ml (2 e) gekapte platblaarpietersielie

60 ml (¼ k) gekapte koljanderblare

olie om in te braai

HUMMUS

1 ui, gekap

olie

1 blik (400 g) kekerertjies, gedreineer

2 knoffelhuisies, fyngedruk

50 ml olyfolie

25 ml (5 t) suurlemoensap

60 ml (¼ k) tahini (sesamsaadpasta)

5 ml (1 t) fyn komyn

sout en peper

60 ml (¼ k) kookwater

VIR VOORSIT

roket

olywe en lemmetjies

1 Platbrode Meng die droë bestanddele; roer net genoeg jogurt by om ’n stywe deeg te vorm. Knie liggies en laat dit 10 min. rus.

2 Verdeel in 10 bolletjies en rol elkeen in ’n dun sirkel uit. Braai in ’n verhitte gietyster-riffelpan, sowat 2 min. per kant. Verf alkant met gesmelte botter.

3 Frikkadelle Meng al die bestanddele en vorm langwerpige frikkadelle. Braai in ’n bietjie verhitte olie tot bruin, plaas die deksel op en verhit tot gaar. Ryg elkeen aan ’n stokkie.

4 Hummus Braai die ui stadig in ’n bietjie verhitte olie tot goed gekaramelliseer. Laat effens afkoel en verwerk in ’n voedselverwerker saam met die res van die bestanddele tot ’n gladde, romerige pasta.

5 Vir voorsit Pak die frikkadelle saam met die platbrode op ‘n groot bord of houtplank uit en sit voor saam met hummus, roket, olywe en skyfies lemmetjies om bo-oor te drupel.

MAAK SPORE KERAMIEK

Dierespore is uniek van die Napierse beeldhouer, Nelis Singels, se reeks handgemaakte keramiekware wat hy heel gepas “Maak spore” gedoop het. Dié ekoloog gebruik sy ruim kennis van die natuur- en dierelewe om sy stempel op sy eiesoortige kunswerke af te druk. Diere soos ystervark, skilpaaie, groot grys muishond en duiker pronk statig op die borde saam met inheemse plante, baie keer dit wat die spesifieke dier eet. Maar die uniekheid van hierdie borde lê veral in die voetspore wat saam met die lynsketse van die diere op die borde pryk. Nelis is veral lief vir spoorsny (waarvan mens veral ook afleidings kan maak wat help om diere se gedrag te bepaal). Vir sy kunswerke maak hy gipsafdrukke van die spore wat hy in die veld rondom Napier vind. Dit dra hy dan op die “regte manier” (bv van hoe die dier sal loop) op keramiek oor – nogals ‘n ingewikkelde proses wat baie presiesheid en kundigheid verg as ek hom reg beluister.

Dié borde is almal uitstalmooi, maar net so ideaal om jou geregte pragtig in voor te sit en sal beslis ‘n tafelgesprek of twee ontlok. Ekself gebruik graag die borde om veral groentegeregte in voor te sit, want dit voel vir my gepas saam met die natuurlike elemente. Buiten vir die resep vir die filogroentetert wat ek hier verskaf, is die ander heerlike groenteresepte almal te kry in die uitgawe van 31 Augustus 2023 van Huisgenoot en YOU.

Ook in die reeks is koffie- en espressobekers asook melkbekers en vase, veral die renosterveld-reeks is baie indrukwekkend met plantegroei en lyntekeninge van tipiese voëls en diere wat jy in die Napier-omgewing sal vind. Op die nuutste borde is daar ook plantegroei-afdrukke saam met die spore.

Nelis het ‘n boetiekstudio in Sarel Cilliersstraat in Napier waar mens sy werke (ook unieke beeldhouwerke) kan besigtig of gaan loer op sy webblad: ReWildArt. Hy hou ook verskeie uitstallings elders soos by Imoff-plaas in Kommetjie asook in Rondebosch, Greyton Art Walk en Creative Napier Pop-up Art en is veral opgewonde oor die uitstalling by die bekende Glen Carlou-wynplaas buitekant Klapmuts teen die einde van die jaar waar hy van sy keramiekborde sowel as beeldhouwerke gaan uitstal.  

‘n Heerlike nuutjie is ‘n unieke geleentheid om op Saterdag 16 September saam met Nelis die natuur in te vaar en eiehands te ervaar hoe hy afdrukke van die voetspore vir sy keramiekware maak en dit dan omskep in kuns. Vir meer inligting skakel Nelis by +27 79065 8664 of besoek sy webblad ReWildArt.

FILOGROENTETERT

Slegs die kors, waarvoor ek sommer filodeeg gebruik, word gebak. Vinnig en maklik om te maak vir wanneer gaste onverwags opdaag en ideaal saam met ‘n skemeraand wyntjie of by ‘n vinnige koffie.

Genoeg vir 4—6 mense

Bereiding: 15 min

Gaarmaak: 20—30 min

FILOGROENTETERT

4 velle filodeeg

Gesmelte botter of kossproei

VULSEL

Sowat 100 g sterk Cheddarkaas, gerasper

Olie

1 rooi ui, gekap

125 g spekvleis, in stukkies gekap

250 g sampioene, kleiner gesny

1 eiervrug, in klein stukkies gesny

4 gepiekelde songedroogde tamaties, opgekap

Handvol vars kruie soos basilie en platblaar-pietersielie

Spatsel balsamieke asyn en sojasous

Groot handvol swart en groen olywe

Paar langsteel kappertjiesade

Vars basilieblare vir afronding

Voorverhit die oond tot 180°C. Suit ‘n langwerpige losboom-tertpan met kossproei.

1 Smeer elke vel filodeeg met botter of spuit met kossproei en plaas binne-in die voorbereide tertpan. Bak sowat 15—20 minute lank of tot gaar en goudbruin. Sprinkel die kaas oor die kors.

2 Verhit bietjie olie in ‘n pan ben braai die spekvleis, sampioene  en eiervrug tot gaar en bruin.

3 Voeg die tamaties en kruie by en meng deur, geur met ‘n spatsel asyn en sojasous.

4 Meng die olywe by en verhit tot warm.

5 Skep die groentemengsel op die kaas in die filotertkors en plaas net weer vinnig in die oond tot die kaas gesmelt is, sowat 10 minute lank.

6 Rond af met kappertjiesade en basiliekruidblare.

Kook met kruie

Dit bly steeds vir my ‘n wonderwerk hoe alles in die planteryk baldadig aan die groei gaan sodra die lente aanbreek. Deur die winter moes ek my maar grotendeels verlaat op sakkies winkelkruie, maar nou het ek opnuut weer vir my ‘n lekker lot basiese kruieplantjies aangeskaf waarmee ek tog alte lekker in die kombuis woeker. Deesdae hou ek hulle sommer in potte wat ek op die kombuisvenster staanmaak, lekker naby vir wanneer ek kook. En soos ek alreeds voorheen genoem het, hou ek veral daarvan om verskillende soorte pesto’s daarmee te maak, want ja, die moontlikhede raak net nie op van hoe jy dit kan afwissel na gelang van watter soort kruie jy gebruik nie.

So kry ek ook mos gereeld sulke bevliegings waar ek my vir lang tye omtrent sal vergryp aan een tipe kos – my nuuste gier is ‘n tipe Caprese saad-volkoringbroodjie — dikgesmeer met basiliepesto en gelaai met skyfies tamatie, miskien ‘n slaaiblaar of roket met skyfies kaas en afgerond met ‘n basilieblaartjie of twee. My mond water sommer al weer soos ek hier skryf.

Die pesto’s kan egter met groot sukses ingespan word om vinnig geur te gee as jy kook. Ek is juis nou besig om ‘n paar resepte uit te toets vir wat ons wil maak tydens ons Botswana-trip einde van die maand waar alles of gebraai, of in ‘n pot gaargemaak moet word. My uiters gewilde oondgebakte Franse hoender het ek juis toe verwerk dat hy net so goed in ‘n pot werk deur pesto saam met die wyn te meng waarin die hoender dan moet marineer. Toe ek egter die pesto wil maak, kon ek nêrens koljander op kort kennisgewing opspoor nie (dit is nou een ding wat ek nie tuis gekweek kan kry nie, al het Cass Abrahams altyd gesê dit groei soos hare op ‘n hond se rug). Gekoopte koljanderpesto is toe maar al uitweg.

Maar pesto wil ek maak – my NutriBullet staan nie verniet permanent op die kombuistafel slaggereed vir gebruik nie. Ek werk vinnig deur my lot kruie en besluit om ‘n tipe Thaise pesto te maak met ment en pietersielie – en hoe lekker is dit toe nie – net reg om hoenderfilette mee geur te gee, maar van lamstjoppies of vark tot verskeie groentes soos groot bruinsampioene sal net so goed daarmee werk.

THAISE PESTO

3 knoffelhuisies, geskil

3 cm stuk gemmerwortel, fyngerasper

1 suurlemoen se gerasperde skil en sap

Sowat 20 g pietersielie (hoef nie Italiaanse platblaar te wees nie)

10 g mentblaartjies

Goeie skoot soesjie-asyn (rys-asyn)

Sowat 30—45 ml (2—3 e) sojasous

100 g sonneblomsade

Sowat 100 ml (of meer) olyfolie

1 Plaas al die bestanddele buiten die sonneblomsade en olyfolie in die NutriBullet en verwerk tot goed fyn.

2 Voeg die sonneblomsade en olie by en verwerk tot die sade bykans fyngekap is maar steeds effe grof.

3 Geur met sout indien nodig en skep in ‘n skoon botteltjie. Hou verkoel.

EENSKOTTEL-PESTOHOENDER

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 20 min

Gaarmaak: 20 min

4 hoenderborsies, ontbeen en velletjies verwyder

Sowat 250 ml (1 k) Thaise pesto

sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

olie

450 g vars jong groenbone of 200 g baba-spinasieblare

250 g kersietamaties, gehalveer indien verkies

parmesaankaas vir bo-oor sprinkel (opsioneel)

1 Sny die hoenderborsies in repies en plaas in ‘n mengbak. Voeg die pesto by en meng deur. Laat staan te minste ‘n halfuur lank.

2 Geur met sout en peper.

3 Verhit bietjie olie in ‘n groot pan en braai die hoenderrepies vinnig daarin tot net gaar.

4 Voeg die groenbone of spinasie saam met die tamaties by en roerbraai tot goed warm en die tamaties effe oopgebars het. Geur met nog sout en peper soos nodig.

5 Skep op in ‘n bak en rond af met skaafsels parmesaan indien verkies. Sit voor met stywe mieliepap of polenta of selfs pasta.

Dis lente

Uiteindelik is dit September en amptelik lente! Hier teen die Weskus is die weer nog maar deurmekaar, en ons het alreeds ‘n paar hittige dae beleef net om dan weer opgevolg te word met yskoue reëndae of ‘n vinnige buitjie teen so laataand se kant. Rondom my, in die oop veldjie oorkant die huis en teen die koppie op, is die veld oortrek met ‘n blommekleed. Oranje, goudgeel; met spatsels pers en blou tussen-in. Jy kan nie ophou kyk na die mooi nie (ons het nie eens nodig om ‘n tree te ry om die blommeskouspel te beleef nie). Selfs my vetplant-tuintjie voor die huis is uitspattig getooi in veral bondels pers met die olyfbome en lourierboom wat baldadig hul nuwe groei wys. Vroegoggend kuier die voëls reeds in die tuin en as ek die agterdeur oopskuif, begroet ‘n pienk-oranje ligskynsel vanuit die ooste my. Dan weet ek, nou kan ek maar weer begin slaai maak – van altyd af mos nog een van my gunsteling kosse en tog so maklik om aanmekaar te timmer.

Lenteslaai

Hierdie eenvoudige slaai met lekker baie groenigheid smaak heerlik met ‘n sitrusslaaisous (ek het juis oor die naweek nog die lekkerste lemoene en sagtesitrus van die plaas af gekry). As jy wil, kan jy ‘n paar skyfies lemoen ook by die slaai inmeng.

Dis tog alte maklik om krakelinge te maak met sade en neute in – saam met ‘n kasie rond dit die slaai perfek af en is net reg vir ‘n ligte middagete.

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 20 min

Gaarmaak: 10 min

LEMOENMOSTERD-SLAAISOUS

125 ml (1/2 k) lemoensap

Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen

30 ml (2 e) soesji-asyn

30 ml (2 e) olyfolie

2 knoffelhuisies, fyngedruk

15 ml (1 e) korrelmosterd

5 ml (1 t) Dijonmosterd

15 ml (1 e) heuning

45 ml (3 e) vars gekapte pietersielie, koljanderblare en ment (opsioneel)

Sout & varsgeknakte peper na smaak

KRAKELING

125 ml (½ k) sonneblomsade

125 ml (½ k) pampoensade of amandelvlokkies

Groot handvol bruinsuiker

Spatsel balsamieke asyn

SLAAI

250 g vars jong groenbone, gehalveer indien nodig

1 pak (250 g) baba-spinasie en/of roketblare

Paar gekleurde jong bete en/of radyse, in dun skyfies gesny of andersins ‘n paar lemoensegmente

Halwe wiel camembertkaas of ‘n rol roomkaas, in wiggies of skyfies gesny

1 SLAAISOUS Plaas al die bestanddele in ’n beker en meng goed met ‘n staafmenger.

2 KRAKELINGE Plaas die sonneblom- en pampoensade saam met amandelvlokkies in ‘n droë pan en braai tot dit net-net ‘n ligte goudbruin kleur het – skud die pan gereeld en pasop vir aanbrand.

3 Sprinkel die suiker en asyn oor en verhit tot die suiker net-net gesmelt het.

4 Giet die mengsel op ’n silikoonmat of met oliegesmeerde pannetjie uit en laat afkoel tot hard.

5 Giet kookwater oor die bone en verhit tot effens versag maar nog baie bros. Verfris onder koue water. Giet bietjie van die slaaisous oor.

6 Rangskik die blare en groenbone op ’n opdienbord.

7 Sprinkel van die beet- en/of radysskyfies oor.

8 Plaas die camembert of roomkaas bo-op.

9 Kraak die krakeling in stukke en sprinkel oor die slaai.

11 Sprinkel van die slaaisous oor en sit voor met res van die slaaisous.

Kampioen van kampioene

Vir ‘n volle 31 jaar is ek nou al bevoorreg om deel te wees van die paneel beoordelaars wat jaarliks die nuwe Championship Boerewors van Checkers en Shoprite moet aanwys. Toe ek vir die soveelste keer die nou al bekende beoordelingsleêr vashou met kriteria wat ek nog help opstel het, het ek net weereens besef hoe wonderlik dit is dat ons as Suid-Afrikaners weet die oomblik as ons ‘n Boerewors braai, dit nie enige snaaksighede gaan bevat nie, maar pure vleis is, want daar is wetgewing wat bepaal wat alles in ‘n Boerewors mag wees – 90 persent vleis waarvan nie meer as 30 persent vet mag wees nie. Jy kan bees, vark of lamsvleis gebruik of ‘n kombinasie daarvan. Vir my moet ‘n Boerewors lekker sappig wees en nie te vetterig nie; maar dis veral die kombinasie van ‘n noukeurige mengsel speserye wat vir my die knoop deurhaak. Mens kan nie dink dat ‘n basiese mengsel speserye soos koljander, sout, peper en bietjie naeltjies met miskien ‘n titsel tiemie by, soveel gedaantes kan aanneem en die keurige verhouding daarvan ‘n groot rol speel in die wenwors aldan nie.

Vir ons beoordelaars, Zanele van Zyl, Martin Cobald, Zola Nene, Jeff Schueremans en James Koza, president van die chefs assosiasie, en myself is die beoordelingsproses ‘n ernstige storie en daar is ‘n lang stel kriteria waaraan die rou sowel as gaar wors moet voldoen en die hele proses word noukeurig geoudit. Elke wors het ‘n nommer, en dit is wat ons beoordeel, nie die deelnemer nie. Vir ons as beoordelaars is dit net so ‘n verrassing wie die wenner is.

Oor die jare het ek ook nou al geleer om so langs die kant aantekeninge te maak oor watter wors my smaakkliere prikkel en dan is dit baie interressant om te kyk of die rou wors wat jou oog gevang het, wel tot die reg gekom het nadat dit gebraai is en inderdaad toe die paal gehaal het.

Vanjaar se wennerswors het in alle opsigte weer alle boksies getiek. Die wenner, die 31-jarige Tyron Adams, ‘n boorling van Wellington, is immers ook ‘n sjef wat sy sjefskunsies en geurprofiele ken. Tweede was Eddie Hawkes van Brackenfell en in die derde plek Gustav Piek van Wellington. Die bemarkingsbestuurder, Ilze Bylos, het hul pryse oorhandig.

Nog ‘n verrassing by vanjaar se kompetisie was dat die Suid-Afrikaanse sjefs-assosiasie wat die beoordelingsproses en braaiery koordineer, Pieter Engelbrecht, Shoprite Checkers se uitvoerende hoof, as erelid ingelyf het van die assosiasie.

Shoprite Checkers laat ook nie op hul wag nie – teen so vroeg as 8 September kan julle al die nuwe wenwors op die winkelrakke verwag, net betyds om ‘n worsie op die kole te gooi as die Springbokke in die Wêreldbeker speel.

Hoe hou ek van my boerewors?

Net-net gaar gebraai, met ‘n lekker bros buitekant, maar sappig binne en daarmee saam ‘n geurige tuisgemaakte tamatiesous, oftewel sheba. Hier is my weergawe van sheba wat ek graag ook saam met phutu-pap voorsit.

SHEBA

1 groot ui, gekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
60 ml (¼ k) olie
250 ml (1 k) kombinasie van 1 eiervrug, 1 soetrissie en 2 klein wortels, in klein blokkies gesny
750 g ryp rooi tamaties, grof gekap
Paprika en rooipeper
50 ml appelkooskonfyt of suiker na smaak
Sout en skootjie rooiwyn en asyn na smaak

SOUS Braai die ui en knoffel in bietjie olie tot sag, voeg die groente by en braai tot sag. Voeg die tamaties by, geur met sout, bietjie paprika en rooipeper, verlaag die hitte en prut tot ‘n geurige sous. Roer die appelkooskonfyt of suiker by en geur na smaak met sout, rooiwyn en asyn en prut tot geurig.

Super Smoothies

My liefde vir ‘n lekker smoothie is nou reeds alombekend, veral as die weer eers gedraai het. Met my eerste kuiertjie by Andriette Norman waar ons meer gesels het oor gutgesondheid, het sy ons bederf met ‘n groen sappie – so verfrissend en lekker en dis toe dat ek opnuut weer my groen smoothie gaan afstof het en het dit toe sommer tydens my gutgesondheid-demonstrasie by die Evolve20-studion vinnig gedemonstreer het. Veral vandat uiteindelik vir my ‘n NutriBullet aangeskaf het, is dit eintlik supermaklik en vinnig om te maak. ‘n Lepel of wat groen rooibos en kollageen daarby ingemeng, sorg vir nog ekstra goedheid, Carmién Tea se smoothie blend het dit sommer alles-in-een.

Ek en Andriette beoog nog verskeie praatjies en demonstrasies oor gutgesondheid. So hou ons sosiale media-platforms dop waar julle meer inligting kan kry.

Sien ook sommer die hele verskeidenheid smoothies wat ek gereeld maak en wat ook te siene is in my Lekker & Goed-boek, heerlike kos propvol heilsaamheid. Mens kan die smoothies in ‘n glas voorsit, lekker romerig om te drink of in bakkies saam met nog bietjie vars vrugte of selfs granola of ‘n saadmengsel oorgesprinkel. Ek voeg soms ‘n lepel of 3 Glutamine by die smoothie as ek nogals intens oefen, want dit help met weefselherstel.

Die boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, is te kry by boekwinkels asook aanlyn by Lapa en Carmién Tea.

ALLES-IN-EEN-GROEN SMOOTHIE

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 19 min

Halwe pynappel, in stukke gesny (en bevries indien daar tyd was)
1 piesang, in skyfies gesny (en bevries indien daar tyd is)
Halwe groen appel, in stukkies gesny
Handvol gekleurde jong spinasieblare of baba-spinasieblare
Paar stukkies komkommer
1 cm stuk gemmer, fyngerasper (opsioneel)
125 ml (½ k) boegoe-en-rooibostee (Carmién Rescue)
5—10 ml (1—2 t) Carmién green rooibos smoothie blend with Enchinacea & Baobab
Sowat 125 ml (1/2 k) natuurlike volroom-jogurt of amandelmelk
5—15 ml (1—3 t) heuning
Knippie seesout

1 Plaas die vrugte, groente en gemmer in die beker van die NutriBullet, voeg ‘n goeie skoot van die tee by en kap goed fyn (die tee help dat die groente beter fynkap).
2 Voeg die res van die bestanddele by en verwerk tot goed gemeng.
3 Giet in glasies en geniet.

SMOOTHIE VERSKEIDENHEID

Genoeg vir 2 mense
Bereiding: 10 min

4 rooibosteesakkies
250 ml (1 k) kookwater
250 ml bevrore vrugte (sien variasies)
80 ml (1/3 k) natuurlike volroom jogurt of andersins lactolite laevet jogurt
5 ml (1 t) heuning of versoeter

1 Trek die rooibostee in die kookwater tot lekker sterk, druk die vloeistof uit die sakkies en verwyder die sakkies.
2 Plaas die bevrore vrugte in ‘n voedselverwerker, giet die tee oor en verwerk tot opgekap.
3 Voeg die jogurt en versoeter by en verwerk tot glad. Giet in ‘n glas of bakkie en geniet dadelik.

Voorgestelde kombinasies:
(1) vir bessie-smoothie gebruik ‘n bessiemengsel of bevrore aarbeie of bloubessies saam met ‘n bessie-rooibostee of andersins ‘n Carmién Energise-rooibostee wat guarana, hoodia en boegoe bevat
(2) vir ‘n tropiese smoothie gebruik pynappel, papaja en/of mangoblokkies asook piesang. Gebruik ‘n rooibos met tropiese geure. Saam met ‘n rooibos wat vlassaad en vinkel in het, kan dit help om hardlywigheid te verlig.
(3) vir ‘n groen detox-smoothie voeg sowat 180 ml (2/3 k) baba-spinasieblare saam met bietjie ment en suurlemoensap by bevrore pynappel en piesang. Gebruik ‘n groen rooibosteemengsel met groen heuningbos, suurlemoengras, gemmer, spearment en Senna (Carmién Cleanse) of andersins ‘n groen rooibos met bietjie ment in.
(4) vir ‘n espresso-sjokolade-smoothie: gebruik rooibostee met kakao en koffiebone in (Carmién Red Mocha) en maak yskoud. Gebruik saam met sowat 30-45 ml (2-3 e) kakao. 5 gekapte dadels, 1 bevrore piesang en vermeerder die jogurt na 250 ml (1 k).

Kortpad in die kombuis

Ek het laas naweek tog te lekker gekuier saam met die vroue uit die wynlande by Beyerskloof buitekant Stellenbosch tydens ‘n geldinsameling vir die Faith Fund van Beyers Truter wat fetale alkohol-sindroom onder plaaswerkers aanspreek.

Weer het ek ‘n gaar hoender ingepak om vir die vroue te wys hoe moeiteloos mens dit kan inspan om ‘n verskeidenheid heerlike geregte wat ook voedsaam is, binne ‘n ommesientjie te maak. Gekoopte gaar hoenders is nie net hier by ons gewild nie, maar ek het onlangs ook ‘n video gesien van ‘n Costco-werknemer wat binne minute die heel gaar hoender ontvel en ontbeen het. (ek demonstreer dit toe ook sommer vinnig by die vroueoggend) Ons het nou al geroerbraai, ‘n heerlike kerriehoenderslaai/waldorfslaai gemaak, thaise kerrie met ‘n klappermelksous, gebakte koljanderpesto-hoender en so kan die lysie aangaan en aangaan. Ek het toe ook sommer die geleentheid gebruik om hulle te wys hoe maklik ‘n mens jou eie pesto aanmekaar kan slaan.

Tuis by die huis bak ek weer die hoenderpastei waarvan ek die resep met julle vroeg Mei-maand gedeel het – die een wat jy sommer in die Airfryer maak (kry die resep hier). Maar omdat ek nooit ‘n resep mos twee maal dieselfde maak nie, braai ek eiervrug saam met die sampioene, meng ook ‘n handvol spinasie by en bak dit dan in ‘n filodeegkors. Binne ‘n ommesientjie is die ete klaar.

Ek sorg ook altyd dat daar ‘n boks of twee filodeeg in my vrieskas is, want dis darem net te maklik (en gesonder) as jy gou ‘n smullekker tert wil maak. Al wat jy hoef te doen om te keer dat die dun velletjies deeg breek, is om dit onder ‘n klam doen te hou terwyl jy daarmee werk. Dan droog dit nie uit nie en word ook nie bros nie. Ek gebruik dit ook graag wanneer ek groenteterte maak. Veral noudat ek na beter gutgesondheid kyk, verskyn dié deesdae gereeld in alle gedaantes op my etenstafel.

Beet is so ‘n gewillige groente en jy hoef glad nie net soetsuuur-beetslaai daarvan te maak nie. Ek sien ook deesdae klaargaar beet wat lugdig verpak is op die winkelrakke. Dié span ek graag in om ‘n vinnige beetslaai saam met feta en ‘n rooibos-lemoenslaaisous te maak – heerlik by braaivleis. Maar beet is net so lekker as jy ‘n souttert daarvan maak. ‘n Streepsel pesto daardeur gemeng, verhef dit tot nuwe hoogtes.

BEET-SOUTTERT

GENOEG VIR 4 MENSE
Bereiding: 30 min.
Bak: 25-30 min.

4 velle filodeeg, elk gesmeer met gesmelte botter of klapperolie en op mekaar gepak
VULSEL
420 g ingemaakte beet of beetslaai
olie
sout en vars gemaalde peper
1 rooi-ui, gekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
400 g baba-spinasie
2 wiele fetakaas
250 ml (1 k) romerige jogurt
3 eiers
30—45 ml (2—3 e) koljanderpesto (sien resep)

Voorverhit die oond tot 180 °C.
1 Voer ’n losboom-tertpan uit met die filodeeg. (As jy in die Airfryer wil bak, sal ‘n ronde een wat 20 cm in deursnee is, inpas)
2 Vulsel Dreineer die beet goed en sny in dun skyfies.
3 Braai die ui en knoffel in ’n bietjie olie tot sag. Voeg die spinasie by en verhit tot verwelk. Laat effens afkoel.
4 Skep die spinasiemengsel in die bereide tertpan, rangskik die beetskyfies bo-op en sprinkel die fetakaas oor.
5 Klits die jogurt en eiers saam, geur met die sout en vars gemaalde peper, meng ‘n lepel of wat pesto deur indien verkies) en giet in die tertkors.
6 Bak 25-30 min. of tot die vulsel gestol en die filodeeg ’n ligte goudbruin is.

KOLJANDERPESTO

3 x 20 g koljanderblare
2—3 knoffelhuisies, fyngerasper
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
100 ml olyfolie
100 g papmpoenpitte

Plaas alles in die NutriBullet en kap fyn.

Velddrif vroueaand

Ek kyk met nuwe oë en groot waardering na Velddrif en sy mense. Op 8 Augustus het ons die mees ongelooflike vroue-kuieraand gehad by Soverby-lapa, net duskant Velddrif op pad Dwarskersbos toe. Knus teen die water sit die klipstruktuur met die houtpaadjie wat jou lei tot waar die branders breek. Die Velddrifvrouens het pragtig mooi gemaak met bosse en bosse proteas saam met ander fynbos – treffend in sy natuurlike eenvoud. Oral op die tafels potjies Carmién tee en Six Hats-wyne van Piekenierskloof Wine Company wat die gaste saam met hul kos kon geniet.

Ek en my tweelingsus, Mientjie Mouton, stigter en CEO van Carmién Tea, het ook bietjie gesels oor ons wedervaringe en ek het ook ‘n gereg of twee demonstreer. Die spyskaart saamgestel met geregte uit my boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, wat sjef, Charldo en sy span werklik geurig voorberei het.

Met die aankoms is botterskorsiesop geskink uit die vroue se eetservies-teepotte; vir peusel tussendeur die nou reeds gewilde hawermoud-saadbrood met ‘n spesiale Sandveld-heerbone-hoemoes. Die hoofgereg voorgesit in buffet-to-the-table-styl waar elkeen hulself gehelp het uit borde kos op elke tafel – my treffer Franse hoenderresep met groen olywe en pruimedante wat gereeld op my eie kuiertafel verskyn saam met groente-koeskoes, aangeklam met ‘n boegoe-slaaisous. Vir poeding het Charldo vir elkeen ‘n malvapoedinkie berei, heelwat gesonder met sy vanielje-rooibosstropie oorgegiet. Ons het werklik so spesiaal en gewaardeerd gevoel met die vroue wat lustig meegedoen het in die unieke proe-ervaring van kos en wyn saam met ‘n glasie tee, nie net om die palet skoon te maak nie, maar ook om telkens ander geure van beide die kos en die wyn na vore te bring.

Die boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, is te kry by boekwinkels asook aanlyn by Lapa en Carmién Tea.

FRANSE OONDHOENDER

Vir hierdie resep gebruik ek deesdae swart knoffel, wat verouder is en pleks van slegs pruimedante gebruik ek ‘n verskeidenheid droëvrugte soos sultanas en Turkse appelkose saam met die pruimedante. Die kombinasie saam met die groen olywe is onverbeterlik.

Genoeg vir 6—8 mense
Bereiding: 20 min
Marineertyd:
Gaarmaak: 11/2 uur

MARINADE
2 bolle knoffel of andersins swart knoffel
60 ml (1/4 k) olyfolie
60 ml (1/4 k) houtverouderde balsamieke asyn
80 ml (1/4 k) basilieblare of oreganum
HOENDER
12 hoenderporsies (dytjies en boudjies maar nie borsies), helfte se velle verwyder
Sout en peper
250 ml (1 k) wit wyn
125 ml (1/2 k) kappertjiesaad (verkieslik met lang stele)
30 groen olywe
125 ml (1/2 k) veelkleur-sultanas (opsioneel)
100 g Turkse appelkose, gekap (opsioneel)
12 pruimedante
40 g vars koljanderblare

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n oondbak.
1 MARINADE Mikrogolf die knoffelbolle, skil en al, vir 3-5 minute of tot hulle sag is, (die swart knoffel kan jy net so gebruik), druk die puree uit en meng met res van die bestanddele vir die marinade.
2 HOENDER Pak die hoender in ‘n nie-metaal oondbak, giet die marinade oor die hoender en marineer vir ‘n uur of twee. Geur met sout en peper, voeg die wit wyn oor en voeg die kappertjiesaad, olywe en droëvrugte by asook helfte van die koljanderblare.
3 Bedek en bak 11/4 uur tot die hoender sag en gaar en goudbruin is. Sprinkel die orige koljanderblare oor en sit voor met gestampte koring of koeskoes en slaai.

Lekker kuier by Beyerskloof

Ek sien so uit na my kuier op die bekende wynlandgoed, Beyerskloof, komende Saterdagoggend en kan veral ook nie wag om te kan aansit by die heerlike ontbyt wat die Red Leaf-restaurant vir ons gaan berei nie. Behalwe dat ek gaan wys hoe maklik dit is om ‘n gesonde gereggie of twee aanmekaar te slaan is my bydrae tot die spyskaart daardie ongelooflike muffinresep wat al wat leef en beef desjare terug so graag gebak het – al verskil is dat ek in die tussentyd heelwat getimmer het aan die resep en kon na vele probeerslae die suiker- en vetinhoud dramaties verminder kry sonder dat jy die lekkerte inboet. Byvoegings soos bosbessies, sultanas of dadels saam met neute en sade maak dit onbeskryflik lekker. Net soos van ouds, kan jy die mengsel aanmaak en in jou yskas hou en dan muffins bak soos jy benodig. Wat ek deesdae doen is om die muffins in miniatuur klein pannetjies te bak. Dan kry elkeen so ‘n lekker proehappie.

Hierdie is werklik ‘n trefferresep, my Crossfit-pelle, Christa en Peet, het altyd ‘n baksel daarvan in die vrieskas en vertel gereeld hoe hulle dit geniet as die lus vir ‘n lekker gesonder peuseldingetjie hul van tyd tot tyd oorval. Intussen sien ek baie uit na ‘n heerlike trippie Botswana toe einde September en ek begin ook al hoe meer wonder of ek nie maar ‘n klompie van die mini-muffins onder in die vrieskassie moet gooi vir tussen-in geniet en vir ‘n blitsige ontbyt nie. Maklik en sonder moeite.

ONGELOOFLIKE MINI-MUFFINS

Maak 32-40 klein muffins
Bereiding: 15 min
Baktyd: 15—20 min

BAKMENGSEL
6 x 250 ml (6 k) semels
500 ml (2 k) warm Carmién Citrus Chai-rooibostee (ek gebruik so 4 sakkies)
250 ml (1 k) saadmengsel-olie
160 ml (⅔ k) bruinsuiker
4 eiers, geklits
1 liter (4 k) natuurlike jogurt
25 ml (5 t) koeksoda
500 ml (2 k) klipgemaalde witbroodmeel
500 ml (2 k) klipgemaalde volkoringmeel
10 ml (2 t) sout
BYVOEGINGS
250 ml (1 k) bosbessies of sultanas of fyngekapte dadels
250 ml (1 k) geroosterde sonneblomsade of neute
125 ml (½ k) elk sesamsade en pampoensade
AFRONDING
Gekarameliseerde sonneblomsade vir oorsprinkel (sien wenk)

1 BAKMENGSEL Meng die semels met die tee. Voeg die olie by en laat effens afkoel. Voeg dan die suiker, eiers en 750 ml (3 k) van die jogurt by meng.
2 Meng die orige 250 ml (1 k) jogurt met die koeksoda en voeg by.
3 Voeg die droë bestanddele by en meng deur.
4 Skep die mengsel in ‘n groot bak of skoon flesse, maak toe en plaas in die yskas tot benodig.
5 BYVOEGINGS Voeg die byvoegings by net voor jy dit gaan bak – onthou as jy net helfte van die mengsel gaan gebruik om net helfte van die byvoegings by te voeg
5 VIR BAK Voorverhit die oond tot 180˚C. Smeer 12 holtes van klein patty pan pannetjies goed. Skep van die mengel in elk en sprinkel van die gekarameliseerde sade oor.
7 Bak sowat 15—20 minute tot gaar. Laat effens afkoel in die pan, keer uit en laat heeltemal afkoel. Sit voor met gerasperde kaas indien verkies.

HOE OM GEKARAMELISEERDE SONNEBLOMSADE TE MAAK:
Plaas sowat 250 ml (1 k) sade in ‘n warm pan en sprinkel sowat 30 ml (2 e) bruinsuiker oor. Roer totdat die suiker gesmelt het en om die sade vaskleef.
Giet dadelik uit op ‘n gesmeerde bakplaat of stuk marmer en laat afkoel. Breek in stukkies en gebruik soos nodig.

My eie teestel

Jare lank gebruik ek al die unieke keramiekware van die befaamde en bekroonde pottebakker, Mervyn Gers. Telkens het ek my vergaap aan hoe treffend en uniek dit enige foto laat lyk nie, maar ook hoe die kos ook sommer mooier en lekkerder daarin vertoon. Wat die lekkerste is, is dat ek vir enige fotografiedag net kon gaan kies uit die kleurryke verskeidenheid wat daar in sy studio en fabriek in Paarden Eiland is. Vir my nuutste kookboek het ek al die breekware daar gaan haal en hoe mooi het dit nie ingepas by my lapversameling en ‘n paar ougoed uit my eie huis nie. Modern en nostalgies mooi vermeng om unieke foto’s te maak.

Ek kon my geluk dus nie glo toe ek vroeër vanjaar die uitnodiging ontvang om my eie stel breekware te kom saamstel by Mervyn Gers nie. Na ‘n taamlike heen en weer, het my keuse uiteindelik op ‘n teestel geval, want daar is vir my niks lekkerder om ‘n mooi teetafel te dek en ‘n verskeidenheid tees saam met lekker eetgoed voor te sit nie.

Nou die dag kon ek die teestel gaan afhaal – ek, kinderlik opgewonde, het die pad Kaap toe gevat, die kar gelaai met sjokoladekoek, groentetert, saadbrood en hoemoes saam met ‘n verskeidenheid Carmién tees. Want ons gaan teepartytjie hou, alles mooi voorgesit in my nuwe teestel, net daar in Mervyn se dakstudio bokant sy fabriek in Paarden Eiland.

Met my aankoms is die stilis en befaamde redakteur, Sumien Brink, reeds daar. Die teestel staan ook netjies uitgepak – ek het die Provenςal-ontwerp met sy baldadige blou blompatroon gekies. Die koekstaander, hoog en statig, twee teepotte, bordjies en my gunsteling, die teekoppietjies sonder ore, met pierings wat ook as klein bordjies kan dien. Uniek en veelsydig. Ek gooi my nuwe tafeldoek, Mosbolletjies oor ‘n tafel in die studio en Sumien vind vir elke bordjie en koppietjie saam met die koekstaander en teepotte, ‘n spesiale staanplekkie. Mooi, mooi, mooi! Ek staar en kan nie ophou kyk nie, vir my is die eetgoed nou amper bysaak. Nadat ons ‘n paar mooi prentjies gemaak het, kan ons begin smul.

Mervyn, ek weet nie hoe om dankie te sê vir hierdie wonderlike geskenk nie.

Noudat ek heelwat kookklasse begin aanbied en die mooi blommeprag van die naderende lente mens weer lus maak om mense oor te nooi vir ‘n samekoms met lekker kos en wyn en tee, gaan julle hierdie unieke ware sommer nog baie sien. Die resep vir die sjokoladekoek en saadbrood het ek al verskaf, so hier is die een vir die groentetert. Die, en nog meer resepte is te kry in my nuutste boek, Lekker & Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid, beskikbaar by meeste boekwinkels en aanlyn by Lapa of Carmién Tea.

GROENTETERT IN BAIE GEDAANTES

Jare terug het ek ‘n groentetert met ‘n broodkrummelkors in Wenresepte 6 gepubliseer met basiese groentes soos wortel en kool as vulsel. ‘n Ware wenner vir heerlike aandetekos, wat dit inderdaad toe op my tuistafel geword het. Ek het die resep weer gaan afstof en dit tot al gemaak vir ‘n funksie op George waar die Van Kervel-skool ons gul ontvang het. En ek speel heerlik rond met vulsels – sit botterskorsie en patat in wat ek sommer in die Airfryer gaarmaak. Wanneer ek die ui braai gooi ek so teen die einde ‘n goeie skoot ongefiltreede appelasyn by – dit verleen ‘n heerlike smaak aan die uie en jy kry ook ‘n goeie skoot goedheid in. Die groot geheim egter vir my bly die songedroogde tamaties wat ek by die vulsel insny. Die eiervlavulsel maak ek met natuurlike jogurt, nie room nie. Sien ook die resep vir die koolvariasie – werklik heerlik saam met die boontjiespruite.

KORS
3 uie, gekap
Sowat 15 ml (1 e) ongefiltreerde appelasyn met heuning en gemmer (ek gebruik Safari s’n)
Olie
6 snye volkoringbrood, in stukke gebreek, korsies en al
Sowat 30 ml (3 e) botter
VULSEL
2 medium botterskorsies, geskil, ontpit en in blokke gesny
2 patats, skoongeskrop en in blokke gesny
Soutsprinkel vir groente (ek gebruik Ina Paarman s’n)
Olyfolie
200 g maer spekvleisstukkies
1—2 rooi of geel soetrissies, in blokkies gesny
100 g klaargewaste spinasie, in stukke gebreek
6 songedroogde tamaties in vinaigrette, kleiner gesny plus van die vinaigrette
EIERVLA
6 eiers
500 ml (2 k) volroom of andersins Lactolite ongegeurde jogurt
125 ml (1/2 k) melk
30 ml (2 e) mielieblom
Sout en peper
150 g wit Cheddarkaas, gerasper

Voorverhit die oond tot 190°C. Spuit 2 losboom-tertpanne, onderskeidelik 20 en 25 cm in deursnee goed met kossproei.

1 KORS Braai die ui in bietjie olyfolie tot sag, voeg teen die einde die appelasyn by en verhit tot verdamp. (hou twee derdes van die ui eenkant vir die vulsel).
2 Plaas die ander ui saam met die broodstukke in die bak van die voedselverwerker en kan goed fyn tot krummels, voeg die botter by en verwerk tot dit ietwat aanmekaar begin kleef.
3 Druk die krummels slegs op die bodem van die tertpanne vas en verkoel.
4 Meng die botterskorsie en patats, geur kwistig met die soutsprinkel en sprinkel bietjie olie oor. Werk die olie deur met jou hande.
5 Pak die groentemengsel in ‘n enkellaag in die bakkie van die Airfryer en braai sowat 30—40 minute lank of tot sag en bruingebraai buite-om.
6 Braai intussen die spekvleisstukkies in ‘n pan tot gaar, voeg die soetrissie by en braai effens. Voeg die spinasie by en verhit tot effe verwelk.
7 Meng die botterskorsie- en spekmengsel en verdeel tussen die tertpanne. Maak gelyk.
8 Klits die eiers, voeg die jogurt en mielieblom by, geur met sout en peper en klits goed. Roer die kaas by.
9 Giet oor die vulsel in die tertkorse en laat dit tussen die vulsel inloop.
10 Bak sowat 30—40 minute of tot die eiervla gestol is. Laat afkoel en sit voor saam met slaai.

Variasie: KOOLVULSEL Braai 2 gekapte uie saam met 4 fyngedrukte knoffelhuisies tot sag. Voeg 2 soetrissies, wat in blokkies gesny is by en braai effe. Voeg 250 ml (1 k) fyngekerfde kool en 3 grofgerasperde wortels asook 10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil by en meng goed. Skep in die voorbereide korse en sprinkel 100 g boontjiespruite oor. Berei die vlavulsel soos beskryf en giet bo-oor. Bak tot gaar.

Wenk: Maak die quiches mooi met bondels vars kruie, radyse en mini-groente aan takkies, selfs spekboomtakkies kan bo-op gesit word.

Faith Fund

Plaaswerkers lê my baie na aan die hart en is ek graag betrokke by eniggeiets om hulle meer te bemagtig. So het ek al verskeie kookklasse saam met die Mouton Foundation aangebied vir ‘n veeltal plaaswerkers om hul meer te leer oor gesonder eet en kook.

Nou het ‘n wonderlike geleentheid my weereens toegeval om te help om fondse in te samel vir die FAITH FUND, ‘n inisiatief wat die befaamde wynboer, Beyers Truter begin het. Ek haal Beyers aan: “As wynmaker put ek soveel vreugde uit wyn. Ek geniet die maak van wyn, die vriende wat dit oor my pad bring, die reise oorsee en die kos en wyn aande wat dit oplewer. Maar op my 50ste verjaardag het ek besef dat wyn n negatiewe effek het as dit oormatig en verkeerd gebruik word. Ek het toe besluit dat ek graag n verskil wil maak in die lewens van ander, veral die wat deur die misbruik van alkohol geraak wod. Die oormatige gebruik van alkohol het baie gevolge, maar ek het besluit om my op Fetale Alkoholsindroom toe te spits. Fetale Alkoholsindroom (FAS) ontstaan wanneer vroue alkohol tydens hul swangerskap gebruik. Alkohol beinvloed die ontwikkeling van die ongebore baba en kan tot breinskade en groeivertraging lei. Kinders met FAS het min of geen oordeelsvermoe. Wat is n kind sonder n droom? Ek het dus besluit om die Beyers Truter FAITH FUND te stig. Die FAITH FUND samel geld in om mense in landelike gebiede in te lig oor die gevare van die gebruik van alkohol tydens swangerskap. Die fondse word aangewend by skole om leerders te ondersteun en vir bewusmakingsveldtogte. Elke swanger vrou wat bewus is van die gevaar wat alkohol vir haar kind inhou en dit vermy kan n kind sonder FAS in die wereld bring. ‘n Kind wat n droom oor die toekoms kan koester. ‘n Droom om ‘n onderwyser, ‘n dokter, ‘n landbouer of selfs ‘n Pinotage wynmaker te word. Ek hoop om so n verskil te maak.”

Die Faith Fund doen uitreike na plase en landelike gemeenkappe met hul Klop-Klop projek en ook inligtingsessies. Met die omgeedag wat op 19 Augustus plaasvind, word daar fondse ingesamel om die werk van die Faith Fund asook om 2 klassies vir leerders wat spesiale onderrig benodig, te help befonds. Kom geniet ‘n feestelike kuier-en-ontbytoggend by die Red Leaf-restaurant op Beyerskloof waar ek ‘n paar heerlike geregte gaan demonstreer en julle gaan toelig hoe maklik dit eintlik is om gesond en steeds smullekker te eet. Sien die kontakbesonderhede op die kaartjie.

Kuieroggend saam met Andriette Norman

Laas Saterdag het ek die lekkerste kuieroggend saam met befaamde sanger Andriette Norman en so ‘n 13-tal vroue gehad by die Evolve20-studio in Durbanville.

Nadat die dames vinnig opgewarm het saam met een van Evolve20 se afrigters, het hulle aangesit vir ‘n heerlike ontbyt, alles gemaak volgens die riglyne vir beter “gut” gesondheid. Die sprankelende Andriette het hulle meer vertel van haar eie reis tot beter “gut” gesondheid en hoe sy uiteindelik by die wenresep uitgekom het om gesonder te eet en te leef met uitstekende resultate.

Syself, ‘n gekwalifiseerde voedingkundige, kan met gesag praat oor wat kan en wat nie en eetplanne opstel. Tussendeur kon die vroue teug aan ‘n vars groen sappie en peusel aan groente-frittata-tertjies gemaak met bekostigbare bestanddele soos kool, wortels, groen soetrissies en boontjiespruite wat ek gemaak het. Ook op die tafel was ook daardie heerlike hawermout-saadbrood waarvan ek julle nou al so baie maal vertel het, daarby my treffer patathoemoes, ‘n heerlike kombinasie. Toe was dit tyd dat ek die dames vinnig kon touwys maak hoe maklik dit is om ‘n skudomelet te maak, gevul met ‘n heerlike tamatiegroentevulsel. Iets wat jy tot kan gebruik om ‘n groente-lasagne mee te maak.

In die NutriBullet maak ek ook deesdae graag my eie pesto’s – van basilie tot koljanderpesto en self sook die hoemoes. Ek gebruik glad nie meer kaas in my pesto’s nie en maak van bekostigbare sade soos sonneblomsade en pampoensade gebruik pleks van duur pistasieneute.

Ter afsluiting het ek hulle ook vinnig gewys hoe om ‘n groen detox-smoothie te maak – verspot maklik om te maak in die NutriBullet en heerlik verfrissend, gemaak met ‘n handvol baba-spinasie, dik skyf pynappel en halwe groen appel en stukkie piesang. Daarby die sap van ‘n halwe suurlemoen en ‘n goeie skoot Revive en Rescue-rooibostee van Carmién Tea. Dit help baie dat die bestanddele makliker fynkap in die NutriBullet en die geure van die boegoe, brandrissie en gemmer glad nie te skerp nie. As jy wil, ‘n skeppie of wat volroom natuurlike jogurt (deesdae is dit my go-to ontbyt).

Lees ook meer oor die beste en slegste kosse vir “gut” health hier.

SKUDOMELET

‘n Gesondheidskommel-maker kan vir meer as net gesondheidskommels ingespan word. Doodmaklik om te gebruik om ‘n pofomelet in te maak. Vul dit met allerlei groentes en slaai en dit kan instaan vir van ontbyt tot ‘n heerlike aandete.

GENOEG VIR 2 MENSE
Bereiding: 10 min.
Gaarmaak: 10 min.

OMELET
5 eiers (3 eierwitte en 2 heel eiers)
knoffel-en-kruie-speserye; sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
VULSEL
Tamatiegroente (sien resep)
½ wiel swartpeperfeta
¼ avokado, in stukke geskep met ‘n lepel
Basiliepesto (sien resep)
roketblare

1 OMELET Plaas die eiers, melk, speserye en sout en peper in ’n plastiekhouer met ’n deksel (‘n gesondheidskommel-maker werk ideaal). Skud baie goed tot lekker skuimerig.
2 Bespuit ’n kleefvrye pan (ek het my groot LeCreuset-pan gebruik) met kossproei of smelt klapperolie daarin en giet die mengsel daarin. Plaas ’n deksel op en verhit tot die omelet lekker hoog gepof en gaar is. Dis onnodig om die omelet om te draai, maar lig net van tyd tot tyd die kante sodat die rou eier onder kan inloop.
3 VULSEL Skep van die tamatiegroente op nadat die omelet halfpad gaar is en maak verder gaar tot die eier nie meer loperig van bo vertoon nie.
4 Sprinkel feta-kaas oor en streep basiliepesto oor.
5 Gly die omelet nou uit op ‘n bord en pak die avokado bo-op. Rond af met roketblare.
6 Sny in skywe en sit dadelik voor.

TAMATIEGROENTE

Die tamatiegroente is baie veelsydig. Maak sommer ‘n hele klompie op ‘n slag en hou in die yskas. Gebruik dit as vulsel vir omelette of maak ‘n groente-lasagne daarmee deur eiervrugskywe te braai en as “pasta” te gebruik. Die witsous maak ek deesdae met chana-meel oftewel lensiemeel. Dan is dit ook glutenvry.

klapperolie
1 eiervrug, in baie klein blokkies gesny
1 pakkie (400 g) gemengde gekapte sampioene
4 knoffelhuisies, fyngedruk
1 rooi soetrissie, ontkern en in blokkies gesny
200 g spinasie, goed afgespoel en in stukkies gesny of so 6 gerasperde murgpampoentjies
8 sondroë tamaties in vinaigrette, gekap
50 g tamatiepasta
20 g basilieblare, in stukkies geskeur
Sout en peper na smaak

1 Smelt die klapperolie in ‘n pan en braai die eiervrug daarin tot lekker sag.
2 Voeg die sampioene, knoffel en soetrissie by en braai tot net sag en geurig.
3 Voeg die spinasie by en verhit tot verwelk.
4 Roer die res van die bestanddele by, geur met sout en peper na smaak en prut tot geurig en nie meer waterig.

BASILIEPESTO

Maak sowat 125 ml (½ k) pesto

2-3 knoffelhuisies, fyngerasper
40 g pietersielie en basilieblare
30-50 g sonneblomsade, effe gerooster
Gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
Sout na smaak
Olyfolie soos nodig

Plaas al die bestanddele vir die pesto buiten die olyfolie in die voedselverwerker (of NutriBullet) en verwerk tot grofweg glad. Voeg die olyfolie deur die tuit by om ‘n loperige mengsel te maak.

Lensiesop teen die koue

Op Langebaan het die blommetjies al mooi begin gesig wys, maar tans is dit steeds snerpend koud – net weer ‘n bewys dat Augustusmaand nog diep winter is en ons ons nog maar kus kan toevou in dik baadjies en serpe, ons knus onder komberse kan toewikkel en aan lekker warm eetgoed weglê.

Op my stoof is die soppot steeds langdurend aan die prut – my man is die expert as dit kom by ‘n lekker dik bonkige ertjie- of gortsop, terwyl ek weer daarvan hou om ‘n geurige fluweelagtige sop met baie groente in te maak. Toe ek hierdie lensie-en-patatsop raaklees in een van my vele kookboeke wat veral oor beter gutgesondheid gaan, het ek dit dadelik uitprobeer. Deesdae bodder ek ook glad nie meer met gekoopte aftreksel-konsentrate of dies meer nie.

Rooibostee maak regtigwaar die lekkerste aftreksel. Ek het mos nou al lankal vertel dat ek by tye so kan vashaak op een spesifieke produk en dit dan by alles inwerk, bloukaas was dit op ‘n stadium, nou is ek weer verknog aan die lekker vars kruiesmaak van boegoe. Nou die dag ontdek ek toe weer een van Carmién Tea se wellness tees in my kas: RESCUE, wat ‘n mengel van rooibos en boegoe is en terstond het ek geweet, dit sal alte lekker werk by hierdie sop wat ook ‘n goeie skoot spinasie inkry. Daarmee saam hul REVIVE, wat weer ‘n mengsel van groen rooibos, brandrissie en gemmer is. Dit pas nie net heerlik by die speseryagtige geurprofiel van kaneel, komyn en masala nie, maar is ook propvol goedheid – van boegoe wat help met waterretensie en arthritis tot die gemmer en brandrissie wat sirkulsie verbeter en boonop bevat dit hope anti-oksidante – net die ding wat jy nou nodig het wanneer die koue met mening sy kloue inslaan.

Kry 10% af op alle Carmién Tea aankope op www.carmientea.co.za met die kode carmenniehaus.

PATAT-EN-LENSIESOP MET SPINASIESOP

Maak sowat 2 liter sop
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 30—40 min

30 ml (2 T) klapperolie
1 groot ui, gekap
4 knoffelhuisies, fyngerasper
125 ml (½k) rooi lensies, oornag geweek indien verkies
3 groot oranje soetpatats, gerasper
10 ml (2 t) borrie
5 ml (1 t) fyn kokmyn
5 ml ( 1 t) garam masala of brejani masala
2,5 ml (½ t) fyn kaneel
1,5-2 liter (6-8 k) rooibos tea stock, gemaak met 8 sakkies Revive & 6 sakkies Rescue van Carmién
500—750 ml (2—3 k) spinasie, gekap, sommer stingels en al
Sout en peper na smaak
Bietjie volroomjogurt, opsioneel
Basielieolie gemaak deur ‘n handvol basilieblare met olyfolie fyn te kap tot ‘n loperige mengsel saam met ‘n knippie voedingsgis.

1 Smet die klapperolie in ‘n groot kastrol en soteer die ui en knoffel tot sag.
2 Voeg die (gedreineerde) lensies, patats en spesery by en soteer nog sowat ‘n minuut of wat of tot geurig.
3 Voeg die teeaftrekel by, verlaag die hitte en laat prut tot die lensies en patas sag is, voeg die spinasie by en prut nog sowat 15 minute of tot die groente lekker sag is.
4 Maak fyn met ‘n stokmenger tot glad en romerig en geur met sout en peper.
5 Roer ‘n lepel of wat jogurt by indien verkies en drupel van die basilieolie oor. Sit warm voor.