Eetgenot by Shark Bay

Ons het onlangs ‘n eerste gevier by die mooi stylvolle Shark Bay boetiekhotel in Langebaan – ‘n paar vroue het ontdek hoe kos saam met goeie wyn en ‘n passende tee ,‘n geurontploffing in jou mond kan veroorsaak. Iets wat jy net weer en weer wil proe en ervaar. Vir elke happie van Sjef Dee se kos was daar ‘n passende Piekenierskloofwyn en komplimenterende Carmién-rooibostee om daarby te geniet.

Vandat die Shark Bay-boetiekhotel 4 jare terug sy deure oopgemaak het hier in Langebaan, geval die plek my. Dis waar ek gaan vir ‘n lekker spabehandeling, ontbyt nuttig as ek ‘n kuier-vergadering hou, koek-en-tee saam met my ma en graag aansit vir aandete saam met my familie. Die ligging is voortrefflik – in die geil bossieveld teen die rand voor op die water met ‘n onbelemmerde uitsig tot by Kraalbaai se boothuise en Churchhaven. Die dekor mooi en onopgesmuk Weskus. Stylvol.

Vir lank dink ons al daaraan om ‘n kos-tee-en-wyn geleentheid met Carmién Tea en Piekenierskloofwyne saam met sjef Dee van Shark Bay se kos aan te bied. Einde Mei het ‘n klompie vroue aangesit vir so ‘n unieke geleentheid wat vir meeste ‘n eerste was.

Tans is rooibostee die gonswoord van die oomblik, want nie net geniet al hoe meer ‘n koppie rooigoud op ‘n gereelde basis nie, maar is dit ook die nuutste kleur op die loopplank waar almal graag deesdae ‘n tikkie rooibos op hul klere vertoon. Vir Carmién is dit goeie nuus, want carmine beteken immers ook rooi.

Sjef Dee se ete het bestaan uit ‘n salmproehappie op croutons as lusmaker; daarna ‘n heerlike geurige nie te sterk Thaise hoenderkerrie met klewerige bruintjies ter afsluiting.

Ten einde te bepaal wat pas by wat het ons eerste die kos en wyn “gepair” en daarna die tee met die wyn “gematch”. Wanneer mens rooibostee saam met wyn wil proe, is dit baie belangrik om toe te sien dat die geur van die tee nie die wyn oordonder nie. Die tee moet ook nie te sterk wees nie – 2 sakkies pleks van 3 soos gewoonlik werk perfek. Maak ook seker dat die tee goed afgekoel is tot by 60°C en drink die tee sonder enige melk en suiker. As dit by die eetslag self kom, maak so: ruik en proe eers die tee, dan die wyn, dan neem jy ‘n happie van die kos. Drink weer die tee om die palet skoon te maak voor jy die volgende happie proe.

So hoe het ons te werk gegaan om te kies:

  • Seekos en enigeiets pienk, soos bv salm (en ook soesji) werk goed saam met die 2023 Piekenierskloof Grenache Rosé met sy bessie- en subtiele roosgeure. Daarby het ons ‘n LMC Vanilla & Rose rooibostee gekies wat die subtiele roosgeure in die wyn baie mooi opgetel het en ook die kompleksiteit van die wyn na vore gebring het. Aanvanklik het ek gedink dat Carmién se Turkish Delight perfek sal werk by die rosé, maar die roosgeure was net te sterk.
  • Saam met die romerige Thaise kerrie pas Piekenierskloof se Grenache Blanc wat die ene subtiele vrugtige geure soos peer en sitrus het saam met sagte blom-en- speserynote, baie goed. Die romerigheid in die kos bring die vrugtigheid na vore. As tee het ons besluit op Carmién se Orange Chamomile. Hierdie is ‘n groen rooibostee wat die grasserigeheid in die grenache blanc uitlig.
  • Volgens die vroue was die laaste gang, die soet, effe klewerige bruintjie saam met Piekenierskloof se Pinotage, die groot verrassing van die dag. Die Pinotage met sy donkerrooi kleur, wat tipies van die variteit is, met kassis, rooi vrugte en sjokolade op die neus, ferm tanniene en volronde tekstuur, pas perfek by die ryk sjokolade bruintjie. Hierby het ons die Very Berry van Carmién gekies wat veral die bessiegeure in die wyn na vore gebring het en die sjokolade in die bruintjie goed gekomplimenteer het. Aanvanklik het ek gedink dat Carmién se Floral Berry die ideale tee by hierdie kombinasie sal wees. Ja, afsonderlik werk dit goed by die bruintjie, maar saam met die wyn het die floral berry te veel suur navore gebring. Wys jou net hoe belangrik dit is om te proe en te eksperimenteer.

Shark Bay beplan om soortgelyke kos-wyn-en-tee-ervanrings voortaan gereeld aan te bied waarvoor gaste dan kan bespreek. Vir koek-en-tee wag daar ook interressante soetighede saam met ‘n passende Carmién-rooibostee wat binnekort hul verskyning sal maak.  Al wat ek kan sê: Lekker, lekker, lekker. Ekself kan nie wag om dit te probeer nie!  

Londen

Op ‘n blitsbesoek aan Londen verken ons die bekende strate en besienswaardighede per bus, te voet en met die moltrein, geniet Oosterse kosse en dim sum  in Chinatown en bubble tea by ‘n stalletjie buite Harrods, eet gesonder kitskos by Leon en die Tesco-expresswinkel met sy redelike verskeidenheid, raak ons laataand stopplek vir proviand waarmee ons sonder moeite ‘n voedsame eetdingetjie aanmekaar kon slaan.

Met vorige besoeke aan Londen het ons nooit veel tyd gehad om die bekende besienswaardighede te verken nie. Met die dat die boot ons in SouthHampton aflaai en ons van Heathbrow moet terugvlieg huis toe, is dit dus die ideale geleentheid om daardie plekke op ons bucket list afgemerk te kry.

By die besige Waterloo-stasie aangekom, besluit ons om weer eerder  te uber na ons hotel. Dié is lekker sentraal geleë na aan alle besienswaardighede met verskeie busse wat net onder die hotel stop en ook verskeie undergrounds in die omgewing om jou blitsvinnig te neem tot waar jy wil wees. Na ons heerlike bederfverblyf op die boot en ook in Winchester, kan ek dié eerder as ‘n opgezoozde koshuiskamer beskryf, maar toeganklikheid is hier wat eerder tel. Ons gaan immers nie veel tyd in die hotel spandeer nie.

Ons koop vir ons ‘n tweedag-kaartjie op die Tootbus waarmee ons via die groen, geel en blou roetes nie net die bekende besienswaardighede omry nie, maar ook ‘n rit op die Teems-rivier kry. Dit word een van ons groot hoogtepunte. By die ingang koop ons vir ons takeaways by een van die vele fish ‘n chips-stalletjies. Heel lekker, of is ons honger en koud. Vanaf die boot op die rivier kry mens baie van die besienswaardighede soos die Tower Bridge, Tower of Londen, Big Ben, Londens Eye en The Shard pragtig te sien. Met die dat ons ‘n baie “witty” gids het, leer ons heelwat.

In sentraal-Londen is daar nie ‘n tekort aan straatkos nie, veral Oosterse kosse is volop. Ek’s baie opgewonde toe ek ‘n LEON raakloop in ‘n klein winkelsentrum nie ver van die hotel nie. Dié kitskosgroep fokus daarop om kitskos te berei wat nie net lekker is nie, maar ook gesonder en beskostigbaar en hul dekor is ook heel “funky”. Vaag in my agterkop onthou ek dat ek selfs ‘n boek van hulle tuis het – Leon, fast vegan.

Dit val my op hoe baie plekke heeltemal “selfbestel, -help, en -betaal” is. Van Tesco’s tot ook hier by Leon en ons het nog nooit êrens ‘n sent kontant nodig gehad nie, nie eers toe ons die publieke badkamers wou gebruik nie. My dahl is werklik heerlik geurig en Lodewyk se hamburger glad nie sleg nie, die porsies net ietwat klein, maar saam met ‘n lekker sterk koffie is ons uitgesorteer vir die dag.

Dag 2 is ons besoeke aan die paleise: Ons ry met die bus tot by Trafalgar Square vanwaar ons na Bukingham Paleis wil gaan. Ons vertoef ‘n wyle voor Suid-Afrikahuis waar die vlag bo die springbok wapper. Agter ons bommel die motors en busse skielik op, ‘n hele verkeersopeenhoping, en ons wriemel tussen die verkeer deur op pad na ons busstop. Maar die pad is toegesit, erens is ‘n gaslek, so dus ook geen busse nie. Ons stap aan om ‘n volgende busstop te kry, maar dis toe nie so maklik nie, so vat maar later kortpad deur die tuine Bukingham-paleis toe. Daar is ‘n hele geroesemoes van mense wat “changing of the guards” kom kyk, ook in die hoop om ‘n koninklike of twee te sien vertrek, want die koninklike vlag wapper wat aandui die koninlikes is tuis. Wel, oral in die binnehof dwaal deftig gekledes rond en elke nou en dan kom daar ‘n lang swart motor statig deur die hekke gery en moet die klein skare terugstaan. maar of ek ‘n koninklike gewaar het aldan nie, kan ek rerig nie sê nie. Hiervandaan hoop ons om weer ‘n bus te vang na Kensington Paleis, maar geniks daag op nie. Na ‘n kilometer of wat se loop, uber ons uiteindelik tot by die paleis wat voorheen ook die tuiste van prinses Diana was. In die tuin is daar ‘n spesiale standbeeld by die “Sunken Gardens” deur haar seuns opgerig ter nagedagtenis aan haar. Ons drentelstap deur die paleistuine, later deur die lowerryke Hyde Park. Oral is bome in bot, lowergroen, tussen die grasse rinkink eekorinkies en op die meer swem swane swierig. Oral drentel mense op die looppaadjies.

Wat ‘n verligting toe ons uIteindelik weer ‘n Lootbus te siene kry wat ons kan terugneem Leicester Square en Chinatown toe. Na 15 km volgens my horlosie is ons voete seer en ons is doodhonger. In ‘n smal doolhoof in Chinatown lees ons op ‘n straatkafee-venster: Chinese food; eat as much as you like. Bietjie dodgy, maar ons stap in. En watse verrassing is dit toe nie. ‘n Selfhelp-eetplek met eenvoudige dog geurige Chinese kos waar jy kan skep waarvan jy hou en soveel soos jy wil. ‘n Bargain. (Vanaand sou ‘n enkele dum sum nie die ding gedoen het nie).

 Op dag 3 vat ons die Underground Harrods toe. Voorheen het ek nog maar altyd ‘n tube vermy, want ek hou nie baie van noutes nie, maar hierdie is by verre die vinnigste en goedkoopste manier van reis. Die hele tyd het ek nou al bubble tea-stalletjies gesien en die een voor Harrods geval my – ek bestel ‘n melkerige bloubessie en Lodewyk kies ‘n chai-speseryerige een. Lekker, maar soet en vullend.

Harrods se grondvloer is die ene ouwêreldse kosuitstalruimtes met klaargaarkosse – wat my opval is dat buiten vir die indrukwekkende sjokolade- en teekamer en ‘n reuse groot vis- en vleisuitstalrak, o ja, asook rakke en rakke sourdough, dit meestal Midde-Oosterse/ Mediterreense kosse is waar die mense toustaan om te koop. (Yotam Ottolenghi het beslis ‘n groot invloed hier).

Terug met die Underground drentel ons laatmiddag vir oulaas deur die besige Picadilly Circus, word weer kind in die reuse speelgoedwinkel, Hamleys met sy lewensgrootte Lego-poppe (ook die koninklikes), koop ‘n paar aandenkings en peusel aan ‘n geurige dim sum, nou wel amper’n plaas se prys maar uit en uit die moeite werd. Terug in die hotel, is daar nog genoeg van ons Tesco-proviand om vir ons ‘n lekker aandkossie aanmekaar te slaan terwyl ons ons tasse pak. Môre vlieg ons terug via Istanbul.

Ouwêreldse mooi

Op ‘n koue Sondagoggend loop ons boottrip ten einde in South Hampton, Engeland. Op pad na Londen bly ons oor in die eeueoue plattelandse dorp, Winchester, bekend vir sy wêreldberoemde katedraal, die Winchester Cathedral wat in 1079 reeds gebou is.

By South Hampton-hawe is dit ‘n geroesemoes van mens, want 4 passasierskepe het tegelykertyd gedok en letterlik duisende mense kom en gaan. Dit veroorsaak ‘n reuse verkeersopeenhoping na die hawe en ons besef ons gaan ure lank wag vir ‘n taxi. Uber is dus al uitkoms; na twee ure se wag in die koue is ons uiteindelik op pad stasie toe. Na ‘n kort rit deur groen boomlanings en velde, klim ons by Winchester-stasie af. Ons hotel, die Winchester hotel en spa is stapafstand. Dis ‘n ou gebou, maar mooi gemaak met pragtige spa-geriewe. Ons kry een van die dakkamers. Nadat ons ingeboek het, besluit ons om bietjie die stadskern en High Street te gaan verken.

Die City Cross met sy 12 St Mary-beelde, wat uit die vyftiende eeu dateer, is langs die bekende roete wat ook verskeie moderne winkels, huisves. Ons kry ook sommer proviand by die supermark Waitrose waar ek ook ‘n kopie of meer van Gordon Ramsay se kookboeke op die winkelrakke gewaar.

Winchester is die ene ouwêreldse mooi en alhoewel ons nie veel tyd het voor ons die trein Londen toe moet neem nie, is die besoek aan die beroemde Winchester-katedraal asook die Winchester-kasteel, waarvan slegs The Great Hall en ondergrondse gange nog staande is en nou ‘n museum huisves, uit en uit die moeite werd.  

Eilandbekoring

Na 10 dae op see is daar groot opwinding om twee dae agtereenvolgens aan wal te kan gaan en twee eilande in die middel van die Atlantiese Oseaan te verken – Tenerife, die grootste van die Spaanse Kanariese eilande waar ons sy bekende dormante vulkaan, Mount Teide, wat ook Spanje se hoogste piek is, besoek. En dan is daar Madeira, die veelkleurige Portugese eiland met sy pragtige tuine, historiese geboue en kobbelsteenstraatjies waar ons op ‘n onvergeetlike straat-en-eetstaptoer die hoofstad, Funchal, platloop.

Vroegoggend vaar ons Tenerife se hawe, Santa Cruz, binne. Die geboue opmekaar gepak in die valleie en teen die bergpieke uit. Ons bustoer neem ons met ‘n dun soms angswekkende kronkelpaadjie (waar ons bus om ‘n haarnaalddraai moes terugstoot sodat ‘n ander een kon verby) eers deur die boomryke plantasies tot hoog bo die wolke na die wêreld se derde hoogte vulkaan, Mount Teide, op ‘n hoogte van 3,715 m, ook ‘n wêreld-erfenisgebied. Die velde swart vulkaniese klip en bykans geen plantegroei laat dit na ‘n maanlandskap lyk. Dit lok n verstommende 3 miljoen besoekers jaarliks.

Ons is ‘n klein groepie wat Funchai, die Portugese eiland, Madeira, se hoofstad, te voet verken. ‘n Staptoer wat ons die mees historiese geboue in die stad wys en ons deur die kobbelsteenstrate neem terwyl ons kort-kort stop om ‘n happie te geniet van Madeira se mees tradisionele kosse. Ons eerste proesel is Pastis de Nata, die bekende soet Portugese melktertjie. Daarna stop ons vir ‘n heerlike broodjie, Prego no bolo Caco, by ‘n straatkafee saam met hul bekende bier, Coral. Die pasgebakte panpitabroodjie is steeds stomend warm en gevul met ‘n geurige rafelvarkvleis wat in wyn saam met baie knoffel en tiemie gestowe is. Werklik geurig en heerlik.

Die nou kobbelteenpaadjies neem ons verder na die “downtown Funchai”, oftewel Rua de Santa Maria, die onderdorp van die stad met sy 500 jaar oue geboue. Voorheen was dit baie verwaarloos, maar nou is dit pragtig opgeknap met ‘n briljante projek van “the painted doors”  waar meer dan 200 ou verweerde straatdeure deur kunstenaars verfraai is. Met sy vele restaurantjies en straatkafees, tafeltjies en stoele wat die hele straat vol staan, het dit  ‘n groot toeriste-attraksie geword.

Dis ook hier waar ons aandoen by die 200 jaar oue fabriek- en winkel, Fabrica Santo Antonio, om die beroemde “Madeira sugar cane honey cake” te proe. Die heuning verwysend na die molasse wat van suikerriet, wat ‘n groot landbouverbouing op Madeira is, verkry word,  Die winkel is binne steeds ouwêrelds soos van ouds, maar die fabriek is darem al ietwat gemoderniseer. Die “heuningkoek” is klewerig en lekker gespesery met baie neute en rosyne. Laat my dink aan ‘n kombinasie van ‘n gemmer- en tipseytert, miskien selfs vrugtekoek. Die koek, wat tradisioneel met gis gemaak word, word meestal tydens Kersfees gebak, maar daar word dwarsdeur die jaar daaraan gesmul, want hoe langer dit staan, hoe lekkerder raak dit.

Die Funchai-kosmark is die ene bedrywigheid met oral groot uitstallings blomme en vars tropiese vrugte waarvan ons ook ‘n happie geniet: van verskeie soorte grenadilla tot dragonfruit en piesang en selfs ‘n tipe Delicious Monsterplant wat ‘n amperse piesangagtige vrug dra.

By die visafdeling in die mark, is daar buiten vir tuna en sardyne ook espada, ‘n lang grillerige diepseevis met lelike tande, wat pikswart word die oomblik as dit uit die water gehaal word. ‘n Groot delikasie in Madeira en Portugal en werklik glo heerlik. (Ons het ongelukkig nie ‘n proesel gekry nie).

Ons sluit ons toer af met ‘n demonstrasie van Madeira se gewilde drankie, Poncha. Dit word vinnig saamgeklits (gevryf tussen die handpalms) met ‘n soort houtkliter (herinner my aan die draad-en-houtklitser wat hier by ons gebruik word om tradisionele pap mee te roer) en gemaak met ‘n tipe rum, heuning, suurlemoen en suiker. Ons kry dit te drinke saam met ‘n bakkie grondbone en groen lusernsade. Heerlik om jou dors te les, maar het ook ‘n lekker skop.

Na ons toer het ons nog genoeg tyd om bietjie die strate verder te verken en gou ‘n paar geskenkies te koop – kurk-items en Madeira-teëls asook ragfyn borduurwerk is veral baie gewild. Met ons kopies onder die arm stap ons tevrede al kuslangs terug boot toe. Madeira sal ek beslis nog verder wil verken.

Eet Mediterreens

Op ons onvergeetlike seevaart op die Queen Victoria was die etes uit die boonste rakke en is ons baie keer vergas op spesiale tema-aande met die heerlikste kosse wat voorgesit is. Gedagtig aan die wêreldwye gewildheid van Mediterreense styl kosse was dit vir my geen verrassing toe dit gereeld deel van die spyskaart was nie. Ons het by verskeie geleenthede gesmul aan platbrood, foccacia en ‘n antipasto-bord; falafels, pappardelle pasta met ragu, risotto, eiervrug parmigiana, lamskenkels en hoender-parmigiana (sien post oor tamatiestowe vir soortgelyke resep). Hier is my weergawe van resepte vir wat ons op die boot geproe het vir platbrood; eiervrug parmigiana en lamskenkels.

PLATBROOD
Heerlik om vooraf aan te peusel. Jy kan die bolaag na goeddunke verander.

Maak 2—3 platbrode
Voorbereiding: 30 min
Baktyd: 7—9 min

BROOD
300 g (500 ml ) klipgemaalde witbroodmeel
10 ml (2 t) kitsgis
5 ml (1 t) suiker
2,5 ml (1/2 t) sout
200 ml (3/4 k) louwarm water
15 ml (1 e) olyfolie
BOLAAG
Gerasperde mozzarella-kaas
Dun repies rooi en groen soetrissie
Skyfies wit knopie- en bruinsampioene
Skyfies ui

1 Meng die meel, gis, suiker en sout saam in ‘n groot bak. Meng die water en olie, voeg by en meng goed met ‘n lepel tot dit bymekaar kom. Meng verder met skoon hande tot ‘n deeg vorm, knie dan goed tot baie glad en elasties – 5—7 minute. Vorm in ‘n bol en plaas in ‘n geoliede bak, bedek en laat rys op ‘n warm plek tot dubbel die volume, sowat 30 minute.
2 Voorverhit die oond tot 230°C.
3 Plaas die deeg op ‘n meelbestrooide oppervlak en verdeel in twee tot drie bolle. Rol elkeen in ‘n sirkel- of ovaal vorm en so dun as moontlik.
4 Plaas die deegsirkels op ‘n groot bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is en sprinkel bietjie olyfolie en soutvlokkies oor elk.
5 Sprinkel ruimskoots kaas oor, pak die res van die bolaag-bestanddele bo-op en bak 7—9 minute tot goudbruin en pofferig op plekke.

SMULSAGTE LAMSKENKELS
Die knoffel word ongeskil bygevoeg. Druk die knoffel uit die huisies en smeer oor die vleis as jy dit eet.

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 1h20 min

4 heel lamskenkels
10 ml (2 t) olyfolie
20 ml (4 t) balsamieke asyn
‘n paar takkies vars roosmaryn
10 heel knoffelhuisies, ongeskil
4 heel klein uitjies
1 blik (400 g) heel tamaties
Sout en vars gemaalde swartpeper
Fynaartappel of polenta om mee voor te sit

1 Besprinkel die lamskenkels met olyfolie, asyn en voeg die roosmaryn en knoffel by. Marineer oornag in die yskas.
2 Verbruin die skenkels in ‘n bietjie olyfolie in ‘n pot tot mooi goudbruin.
3 Voeg die marinade asook die res van die bestanddele by en geur met sout en peper.
4 Verhit en laat kook, verlaag dan die hitte, plaas die deksel op en laat prut sowat 1 uur 20 minute of tot die vleis sag, maar nie van die bene afval nie.
5 Sit voor op fynaartappel of polenta en skep die souserigheid rondom.

EIERVRUG PARMIGIANA
Skywe gebraaide eiervrug word afgewissel met kaas en ‘n tamatiesous met bo-oor ‘n geurige kaassous. Die eiervrugskywe word gesout sodat dit minder olie kan absorbeer. Dié gereg kan as ‘n porsie vir een persoon in ‘n stapeltjie voorgesit word (soos op die foto) of andersins in ‘n bak berei word as ‘n familie-gereg.

Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 30 min
Baktyd 30 min

750 g eiervrug, in 1 cm skywe gesny (ongeskil)
sout
olyfolie
1 ui, gekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
1 kg tamaties, ontvel en in stukke gesny
1 blik (400 g) tamaties
1 sakkie tamatiepasta
5 ml (1 t) gekapte vars oregano
Slout en peper
200 g mozzarella-kaas, in skywe gesny
250 ml (1 k) klaarbereide dik witsous
Vars gerasperde parmesaankaas

Voorverhit die oond tot 180°C.
1 Sout die eiervrugskywe, plaas in ‘n vergiettes en laat staan sowat 20 minute. Spoel af en druk droog.
2 Braai in verhitte olie in ‘n pan tot lekker bruin buite-om en sag. Skep uit.
3 Verhit nog ‘n bietjie olie in ‘n kastrol en braai die ui en knoffel daarin tot sag, voeg die vars tamaties, blik tamaties en tamatiepasta by, voeg die oregano by en geur met sout en peper. Bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat prut tot die tamaties lekker sag en geurig is.
4 Vir enkelgereg: pak 4 stapels eiervrug, tamatiesous en skywe mozzarella-kaas op ‘n groot gesmeerde bakplaat of oondvaste borde en giet die witsous oor. Sprinkel parmessankaas oor en bak in die oond vir sowat 10—15 min tot die gereg lekker warm en die kaas net-net gesmelt is.

Ode aan Peter

Dis die laat 1980’s en ek stap as groentjie by Huisgenoot se toetskombuis in, jonk, onervare en bang. Die kombuis is langs dié van Sarie op die 22ste vloer van die Naspers Sentrum in die Kaapse Strandgebied geleë. Nie lank nie, of Peter loer in. “Ek kom net gou hello sê”, sê die kosmeester, en hy begin dadelik uitvra. Ek voel geëerd en verlig. By hom gaan ek nog baie leer. Van toe af, as ek vashaak met enigiets, hetsy ‘n tegniek of kookmetode, draf ek gou-gou om , en Peter deel sy kennis ruimskoots. So tussen die lesgee deur (want niks word sommer vinnig-vinnig afgerammel nie) lê Peter ook familiestamboom uit en kom ons agter dat albei uit ou boerefamilies kom. Hy is van Ladysmith en ek van Citrusdal se wêreld; hy ken selfs van my ooms.
In sy dae by Sarie het Peter vir vele opwindende oomblikke in die Naspers-gebou gesorg. So het die westerson een somersdag so ongenadiglik op die vensters van ons kombuise, wat tegelykertyd kantoor was, neergebak dat geen mens dit kon uithou nie. Toe ons weer sien, het Peter sy kantoor – met lessenaar, boeke en al – gang toe verskuif sodat gebouebestuur kennis kon neem van die ondraaglike omstandighede waarin ons moes werk. Peter hou van dramatiese effekte.
Die storie word ook vertel van hoe hy oorsee tydens die opening van ‘n fynkospromosie, twee jong sjefs die plek op volstruise laat binnery het, en net daar Duitse voorbladnuus gehaal het.
Peter het oraloor bekend en bemind geword toe hy en wyle Sannie Smit van die destydse Vleisraad die land deurkruis het met kosdemonstrasies. Die vroue het aan hul lippe gehang; hulle het sterstatus geniet. Vandag nog sien jy daardie verering as ‘n ou bewonderaar kom handgee.

Onder hom het potjiekos sy naam gekry en het die bekende Kellerprinz-braaikompetisies gedy. In sy boek, Kos van die eeu skryf hy breedvoerig oor die twintigste-eeuse Suid-Afrikaanse kos- en eetkultuur, iets wat hom baie na aan die hart lê. Dit word my kultuurkosbybel.
Shoprite Checkers het my gevra om die beoordelingsriglyne vir hul nasionale boereworskompetisie op te stel. Oudergewoonte het ek Peter geraadpleeg, en saam het ons dit tot in die fynste besonderhede uitgewerk, selfs of knoffel in boerewors hoort of nie. Jaar vir jaar beoordeel ons saam, en elke keer is ek verstom oor Peter se professionaliteit. Ek onthou veral een jaar toe hy met behulp van ‘n toutjie probeer vasstel het hoeveel die wors na gaarmaak ingekrimp het. Behoede jou siel as hy ‘n sweempie sening in daai boerewors bespreur het! Die jaarlikse opruk Sun City toe om die land se beste boereworsmaker aan te wys, raak ‘n heerlike kuiergeleentheid waar ons kans kry om al die geselse van ‘n jaar in te haal en gesellig met ander koskenners te verkeer. En ek sien hoe die opkomende jong kokke hulle verluister aan sy kennis en insig.

In sy restaurant, Emily’s, wat gereeld onder die toptien-restaurante in die land getel het, kon besoekers hul palet streel met die fyn nuanses wat Suid-Afrikaanse produkte lewer. Hy bly ook aan die voorpunt van wat in die internasionale koswêreld aangaan deur die kombuise van beroemde sjefs soos die van die befaamde Pierre Gagnaire in Parys gereeld te besoek.
Vir sy Trots Suid-Afrikaanse fynkos en die baanbrekerswerk wat hy op Suid-Afrikaanse eetkultuurgebied gedoen het, is hy al by verskeie geleenthede met plaaslike en buitelandse pryse vereer, en wanneer hy ons land oorsee verteenwoordig, doen hy dit met die grootste grasie en beskeidenheid. Op twee bekronings was hy met reg baie trots: die ontvanger van die heel eerste Galliova-prys vir beste kosskrywer in die land in 1990 en die ATKV Afrikoon-toekenning vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse koskultuur. Peter kan met reg beskou word as een van ons land se grootste kosghoeroes en tel saam met C. Louis Leipoldt onder die groot name in die plaaslike kulinêre kuns. Vir my is hy die ewige mentor by wie ek boeke kon leen en lewenswyshede leer.
Peter, ek eer jou.
Carmen

‘n Resep uit sy boek, ‘n Mondvol Lekker, uitgegee deur Human & Rousseau.

EMILY’S SE PIZZADEEG

“Een maal ‘n week word daar makietie in die kombuis gehou wanneer ons studente met die deeg pizza vir hul aandete maak. ‘n Paar eienaardighede sal ervare pizzabakkers opval: Ys word as deel van die water gebruik en heelwat meer gis as wat normaalweg vir die hoeveelheid meel nodig is. Daar is ook ‘n totale afwesigheid van suiker, die sout is min en die rysmetode anders.”

450 ml water (sien stap 1)
660 g koekmeel, gesif
7 g meelversterker (opsioneel)
125 ml (½ k) olyfolie
8 ml sout
55 g vars gis

1 Vooraf: Meet 125 ml van die water af en vries dit in ‘n ysbakkie. Moenie dink dat jy die klaar ys in jou vrieskas kan gebruik nie!
2 Sif 600 g van die meel en meelversterker drie maal saam. Sif dit dan in die bak van ‘n elektriese menger en voeg die olie en sout by. Bedek die masjien met ‘n skoon doek en meng 10 sekondes met die K-haak teen medium spoed. Die doek voorkom dat alles onder meel raak.
3 Krummel die gis by die meel en meng 10 sekondes.
4 Vervang die K-haak met die deeghaak en voeg die ysblokkies een vir een by terwyl die masjien teen lae spoed loop. Hou die masjien aangeskakel en voeg die helfte van die water by, gevolg deur die res van die water, behalwe die laaste 10—15 ml.
5 Stel die spoed op medium en laat die masjien loop tot al die ys geabsorbeer is. Skakel die masjien af, keer die deeg op ‘n plat oppervlak uit en knie 10 minute met jou hande sonder om nog meel in te werk.
Plaas in die bak van die menger terug en laat die masjien teen medium hoë spoed loop. Indien nodig, kan laaste bietjie water bygevoeg word. Knie 5 minute to ‘n sagte nie-klewerige deeg.
6 Sif die res van die meel oor ‘n plat oppervlak, plaas die deeg daarop en knie sowat 5 minute met jou hande tot al die deeg ingewerk is en ‘n sagte, elastiese deeg gevorm is.
7 Vorm die basisse.

PIZZA MARGHERITA
12 porsies

60 ml olyfolie
500 g vars ryp tamaties, ontvel, ontpit en fyngekap
Sout en suiker
200 g mozzarellakaas, in een stuk
Varsgemaalde swartpeper
5 ml (1 t) droë orego
15 ml (1 e) varsgerasperde parmesaankaas
Vars basilieblare vir afronding

1 pizzabasis

1 Verhit 30 ml (2 e) van die olie in ‘n kastrol, voeg die tamaties by en geur met 5 ml (1 t) sout en ‘n knippie suiker. Bedek en smoor 2—3 minute. Verwyder die deksel en roerbraai 6—7 minute of tot die mengsel drooggekook het.
2 Rasper die mozzarella grof en skep in ‘n mengbak. Voeg die res van die olie by en meng goed. Laat staan ‘n uur.
3 Skep die mozzarella met ‘n gaatjieslepel uit sodat die oortollige olie in die mengbak agterbly en versprei oor die deegbasis. Skep die tamatiemengsel oor, geur liggies met sout, peper en orego en strooi die parmesaankaas oor.
Bak 15—20 min in ‘n voorverhitte oond van 230°C, verwyder uit oond, garneer met basiliekruidblare en sny in 12 snye.

Gecollar en getie

Dis Vrydag 12 April 2024 en die hele Kaapstad is in rep en roer, selfs premier, Allan Winde, vertel opgewonde oor die radio van die rariteit dat twee van die wêreld se mees befaamde passasierskepe, die Queen Mary 2 en die Queen Victoria, tegelykertyd vasgemeer is in die Kaapse hawe. Nie net sorg dit vir groot kykgenot nie, maar die hele hawegebied is ‘n geroesemoes van verkeer, want Kaapstad is een van die opklimplekke vir almal wêreldoor wat meegangers op ‘n wêreldtoer op een van die grotes wil wees.

Ons is geboek op die Queen Victoria en vir 17 dae gaan dit ons nuwe blyplek wees. Maar eers is daar ietwat van ‘n drama, want die skip kan nie in die hawe inkom nie, ‘n ander kleiner skip beset haar parkeerplek (en kan nie uitvaar nie a.g.v sterk wind) en sy moet buite die hawe anker gooi. Vir die passasiers aan boord is dit ‘n reuse teleurstelling, want baie van hulle het twee dae eksursies na plekke so ver soos Aquilla buite Worcester geboek vir ‘n wildsafari.

Met ons te boorde gaan, kry elkeen ‘n tipe instapkaart wat jou nuwe kredietkaart vir die res van die vaart word – dit sluit van jou kajuit oop en jy kan hom swipe vir enige aankope en ekstra drankies of etes aan boord. Maklik (maar ook gevaarlik, gelukkig met ‘n finansiële rekenmeester aan my sy, word daar daagliks recon gehou van ons spandering) . Ons kajuit is op dek 4 – nommer 4187, op die agterstewe van die boot met ‘n lieflike balkon en twee lêstoele. Die kajuit is ruim met net so ‘n ruim bed en ‘n knus rusbank met ook meer as genoeg pakplek en ‘n doenlike badkamer. Op die televisie swiep ‘n wêreldkaart elke nou en dan oor die skerm wat jou presies wys waar jy vaar. En jy is geensins verlore as jy wil weet van al die aktiwiteite wat daagliks aan boord aangebied word nie. Saans saam met ‘n heerlike sjokoladetjie vir elk, kry ons ‘n pragtige gedrukte “koerant” met al die nuus vir die volgende dag. Dit word ons bybel.

Ons is veronderstel om Vrydagaand uit te vaar en ons sien die sleepbote nader kom, net om weer te verdwyn in die donkerte. Uiteindelik, Saterdagoggend, met opstaantyd, vaar ons statig die hawe uit. Almal staan op hul balkonne, koffiebekers in die hand en wuif Kaapstad tot siens. Ons vaar verby Robben Eiland, dan diepsee toe met land wat gou gou net ‘n skim op die horison word.

Ek hou van verrassings en het met rede nie te veel navorsing oor die Queen Victoria gedoen nie, maar ek was tog skrikkerig dat die skip die ene “glitz en glamour” sou wees; iets wat my nou nie eintlik aanstaan nie. Maar toe glad nie, die skip doen die kapstein se woord as “the elegant Queen Victoria”, goed gestand. Die portale en wenteltrappe gedemp swierig met pragtige kunswerke oral; van die biblioteek tot kroeë asook die verskeie restaurante statig geklee met wit gestyfde tafeldoeke en servette; die Queens-room, wat instaan vir “afternoon tea” tot “ballroom dancing” saans, die ene styl met sy imposante kandelaar. Die goedtoegeruste Royal Court-teater indrukwekkend met kantbokse en dik fluweelgordyne. Daar sou ons vele pragproduksies geniet.

Die stylvolheid op die boot strek nie net tot by die dekor nie, die gaste moet ook meedoen; saans na ses raak die boot ‘n elegante venue met ‘n spesifieke aantrekkode: op gala-aande word daar opgedress in swart pak, strikdas en aandrokke terwyl ander aande weer “smart attire” is waar jy steeds stylvol moet aantrek, maar pak en das is nie werklik nodig nie. En is daar nou vir jou opgedress hoor – die Britte hou van hul glinsterrokke en stolas met passende juwele (met die afklim van die boot het ek ewe skielik die koffers en koffers bagasie verstaan).

So het dit gewerk: opgedress in jou aandpak en aandrok is daar stylvol aangesit in een of ander restaurant vir ‘n vyfgang-ete (jou tafel word spesiaal vir jou gereserveer) en daarna gaan woon jy die teaterproduksie van die dag by, of aangebied deur die skip se vermaakspan of andersins spesiale groepe. Daarna, as jy daarna voel, kan jy ‘n drankie geniet in een van die kroee of sommer net ontspan in die Queens room met nog vermaak.

Saterdag 13 April is my verjaarsdag wat toe saamval met ‘n gala-aand. Ons is geboek in die Verandah, as gaste van die senior skeepsdokter, dr Philna Dippenaar. Van meet af is alles net so spesiaal met strelende vioolmusiek by die ingang van die restaurant; ons kry ‘n spesiale tafel in die hoek naby die groot vensters waar ons die sonsondergang kan beskou. En op die koop toe word ons bedien deur ‘n Suid-Afrikaanse kelner. As lusmaker geniet ons bolletjies soet panbrood (amper soos mosbolletjies), daarna ‘n garnaalkelkie en vars slaai as voorgereg. Die hoofgereg ‘n heerlike “steakbord” vir die tafel met filet, riboog en potgebraaide stukkies beesrib, perfek gaargemaak, saam met al die nodige bykosse. Ter afsluiting kan ons kies tussen romerige kaaskoek en dieppan-appeltert met nog ‘n verrassing, ‘n koek spesiaal gebak vir my verjaarsdag. Vir meer bederf kan mens nie vra nie. Ek gaan slaap gelukkig en tevrede met die skip wat mens letterlik aan die slaap wieg.

POTGEBRAAIDE BEESRIB
Beesvleis is heerlik as dit eenvoudig berei word met minimum bestanddele.
 
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: sowat 1 – 1 1/2 uur
 
1 kg beesrib, in stukke gesaag
Sout en peper
60 ml (1/4 k) olyfolie
1 lourierblaar
12 knoffelhuisies, geskil
Warm beesvleisaftreksel of selfs ‘n bietjie rooiwyn soos nodig
 
Plaas die vleis in ‘n swaarboom-kastrol. Geur goed met sout en peper en vryf oraloor in met olyfolie. Voeg die lourierblaar en knoffel by en laat staan ‘n halfuur by kamertemperatuur.
Verbruin die vleis saam met die knoffel in die kastrol oor matige hitte. Draai die vleis gereeld om. Verwyder die knoffel sodra dit goudbruin is.
Gaan voort om die vleis verder te verbruin tot dit heerlik sag is, voeg ‘n klein bietjie beesvleisaftreksel en wyn by soos nodig (nie te veel nie) en bedek van tyd tot tyd sodat die vleis sag kan stoombraai, maar steeds heerlik bruingebraai bly.
Voeg die knoffel weer by, sit die deksel op, verwyder van die hitte en laat staan 20 minute sodat ‘n heerlike pansous kan vorm. Sit die vleis voor saam met die pansappe, en bykosse soos geroomde spinasie en pampoen asook gebraaide uieringe  
 
DIEPPAN-APPELTERT
Hierdie is ‘n kombinasie van resepte wat ek in my Bakboek-wenresepte opgespoor het.

Maak 1 appeltert
Bereiding: 30min
Baktyd: sowat 30 min
 
KORS
625 ml (1½ k) bruismeel
Knippie fyn kaneel
60 ml (¼ k) bruinsuiker
200 g yskoue botter, in stukkies gesny
2 eiergele
Yswater soos nodig
VULSEL
30 ml (2 e) botter
4 appels. ontstronk, geskil en in skywe gesny
80 ml (⅓ k) korente (opsioneel)
80 ml (⅓ k) gouestroop of heuning of bruinsuiker
10 ml (2 t) fyn kaneel
45 ml (3 e) mielieblom
60 ml (¼ k) water
Paar druppels amandelgeursel indien verkies
5 ml (1 t) vanieljegeursel
5 ml (1 t) gerasperde suurlemoenskil
Eiergeel en melk vir bo-oor verf
 

Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer die bodem en kante van ‘n 20 cm-losboom koekpan en stuif met meel.
1 KORS 1 Sif die meel en kaneel saam, voeg die suiker by en vryf die botter in. Meng die eiergele by met ‘n slaplemmes en net genoeg yswater by tot ‘n sagte deeg gevorm het. Druk aanmekaar en verkoel so 10 min
2 Rol in ‘n rolletjie en sny in skyfies. Gebruik driekwart van die skyfies en pak die skyfies op die bodem en teen die kante van die pan en druk met jou vingerpunte om ‘n egalige kors te vorm. Verkoel weer so 15 minute en bak dan blind (met waspapier en bone gevul) tot die kors net gaar maar nie bruingebak is nie, sowat 15—20 miniute
3 VULSEL  Plaas die botter, appelskyfies, krente (indien gebruik), gouestroop, heuning of suiker saam met die kaneel in ‘n kastrol en laat prut tot die appels net sag is.
4 Meng die mieliebom en water en roer by, verhit tot dit effe verdik. Geur met amandelgeursel, indien verkies en vanieljegeursel en voeg ook die suurlemoenskil by. Laat afkoel.
5 Skep in die voorbereide kors.
6 Rol die res van die deeg in ‘n ronde sirkel, effe groter as die pan. (sny vorms uit van die orige deeg) en plaas bo-oor die appels, druk die kante effe in. Verf met eiergeelmengsel, plak die vorms bo-op die deegsirkel vas, verf ook.
7 Bak die appeltert tot die bolaag goudbruin en gaar is, sowat 20—30 min .
8 Sit die appeltert warm of koud voor saam met vla of roomys.
 
GEBAKTE KAASKOEK
 Hierdie lekker ryk kaaskoek kom ook uit my bak-wenresepte.
 
Maak 1 groot koek
Bereiding: 30 min
Baktyd: 45 min
 
KORS
125 g botter
60 ml (¼ k) witsuiker
1 eier
500 ml (2 k) koekmeel
7 ml (1½ t) bakpoeier
VULSEL
4 houers (230 g elk) roomkaas of geroomde maaskaas of helte-helfte
375 ml (1½ k) suiker
250 ml (1 k) room
10 ml (2 t) vanieljegeursel
Gerasperde skil van 1 suurlemoen
Sap van 1½ suurlemoene
2 ekstra-groot eiers
VOORSIT
Bessie-compote
 
Voorverhit die oond tot 200°C.
Smeer ‘n 25 cm-veerklamppan liggies met botter of spuit met kossproei. Stuif met meel
1KORS KIits die botter en suiker saam, klits die eier by. Sif die meel en bakpoeier saam en roer by die meelmengsel in tot ‘n redelik stywe deeg vorm. Druk op die bodem en teen die kante van die pan vas.
2 VULSEL Klits al die vulselbestanddele saam tot net gemeng en giet in die kors.
3 Bak 45 minute, die koek sal nog nie heeltemal gestol wees nie. Maak die oonddeur oop en laat afkoel in die oond. Plaas in die yskas tot stewig.
4 Sit voor saam met ‘n bessie-compote.

    Luilekker op die queen Victoria

    Net na ontbyt Sondagoggend kom die boodskap van die kaptein, Evans Hoyt, dat ons nie Walvisbaai gaan aandoen nie – ons het te veel tyd verloor met die laat vertrek uit Kaapstad en vaar nou direk na een van die Kanariese eilande, Tenerife, toe. Vir ons nogals ‘n teleurstelling, want ons is gek na Namibië en het nogals uitgesien na ‘n blitsbesoek selfs miskien aan Swakopmund. Die boot stop wel buitekant die hawe om kunstenaars op te laai wat op die boot kom optree.

    Dis 10 dae op see en gee ons nou behoorlik tyd om die skip van voor tot agter te verken. Ons werk ook vir ons ‘n tipe dagrooster uit om die meeste te maak van die wonderlike warm weer en kalm waters. Gewoonlik het ons die vorige aand die skipkoerant deurgewerk om te sien wat alles die volgende dag op die program is – vir ons was die belangrikste om te sien watter stuk die aand in die teater op die planke is.

    Soggens meld ek so net na 7 aan by die goedtoegeruste gimnasium waar mens of saam met ‘n instrukteur kan oefen of andersins doen ek my eie ding op die vele masjiene terwyl jy oor die voorste dek van die skip uitkyk. Na ‘n vinnige stort, verkas ek na die Lido-eetsaal waar daar ‘n heerlike spread uitgepak is. Tussen die klassieke ontbyte van spek, eiers, omelette en wors is daar heelwat heilsamer opsies om uit te kies, selfs ook ‘n afdeling met glutenvrye keuses – daar is heelwat vars vrugte, Griekse en ander jogurts, die heerlikste gekookte hawermoutpap, granola, compotes en baie neute; gerookte salm en makriel met piekels saam met ‘n verskeidenheid kase en waferbeskuitjies.  Ek het ook vir my ‘n pakkie van Carmién se splinternuwe Gut tea ingepak en maak gereeld ‘n koppie. Ons maak ook ons waterbottels vol yskoue water waarmee ons dan dek toe verkas of sommer net daar by ons kajuit op die balkon in die son baai.

    Kort voor lank is dit al weer tyd vir middagete en meeste van die tyd kies ons iets ligs – daar is altyd soesji en ek bou baie keer vir my ‘n heerlike slaai met al die vars bestanddele wat daar beskikbaar is. Daar is ook ‘n stasie waar jy vir jou die lekkerste pizza kan bestel.

    Namiddae het ons gewoonlik op een van die oop dekke rondom die skip gestroll, tafeltennis of tennis op die boonste dek gespeel (nette keer dat die bal nie see in bons nie) of sommer verder op die balkon ontspan en uitgekyk oor die wye oseaan, partykeer het ‘n seevoël of twee ons vergesel, ander kere het ons selfs die waterspuit van ‘n walvis gewaar en skole klein dolfyntjies het gereeld rondom die boot baljaar. 

    Net na 3 smiddae kon mens gaan High Tea in die Queens Room met skons, aarbeikonfyt en room en propperse fyn komkommertoebroodjies – in styl voorgesit in silwer. Maar dié het ons gewoonlik ‘n skip gegee sodat ons aandete behoorlik kon geniet. ‘n Lekker namiddagbederf vir my was om in die biblioteek te gaan sit en lees. Mens sal jou eintlik verbaas hoe vinnig die tyd vlieg, al dink jy jy doen nie eintlik veel nie. Ek het ook nog nooit so baie keer op ‘n dag deur die stort gegaan en van klere verwissel nie, dis drukkend warm en swemklere word nie in die eetsale toegelaat nie.

    Vis en seekos is daar in alle gedaantes op die skip: van gebraaide garnale, gebraaide vis en tjips, paella en tunasteaks tot ‘n spesiale verrassing van kreefstert-thermidor wat ons een aand in ons kajuit geniet.  

    Op Donderdag, 18 April vaar ons oor die ewenaar en dit gaan gepaard met ‘n spesiale seremonie by een van die swembaddens waar koning Neptune en koningin Neptuna die nuwe bootvaarders inlyf as waardige matrose oa met die soen van ‘n rou vis en doop met  “slime” waarna jy geen ander opsie het as om in die swembad te spring om van die onwelriekende “slime” (wat eintlik oorskiet uit die kombuis is) te probeer ontslae raak nie.

    Toe ons die aand by ons kajuit kom, wag ons sertifikaat dat ons “has crossed THE LINE that divides North from South”. Nou is ons volwaardige seevaarders op die seeroete van die beroemde seevaarder, Columbus en ons sien daarna uit om aan wal te gaan by die Karibiese eiland, Tenerife.

    TUNA-STEAKS
     
    Genoeg vir 4 mense
    Bereiding: 10 min
    Gaarmaak: sowat 2—3 minute (vir steak); aartappels: 15–20 min
     
    4 tuna-steaks
    Sap van ‘n groot suurlemoen
    125 ml (½ k) witwyn
    4 huisies knoffel, fyngedruk
    Sout en peper na smaak
    Olie vir braai
    Bietjie room
    1 ui, in blokkies gesny
    3—4 aartappels, geskil en in skyfies gesny en net saggekook
     
    1 Plaas die tuna in ‘n glasbak en giet die suurlemoensap en witwyn oor, voeg die die knoffel by. Marineer ‘n halfuur. Dreineer en verhit ‘n bietjie olie in ‘n warm pan. Geur die visporsies met sout en peper en braai in die verhitte olie tot alkant net bruin en nog goed pienk van binne. Verwyder uit die pan, giet bietjie room in die pan, geur met sout en peper en verhit tot dit effe verdik.
    2 AARTAPPEL – Berei terwyl die vis marineer. Braai die ui in ‘n pan bietjie olie tot sag en voeg die aartappel by, braai liggies en druk effe fyn indien verkies saam met ‘n klontjie botter.
    3 Skep ‘n hopie aartappel op die bord, plaas die tuna-steak bo-op en giet bietjie van die sous oor. 
     
    OONDGEBRAAIDE KNOFFEL-STEURGARNALE

    Genoeg vir 6 mense
    Bereiding: 20 min
    Gaarmaak 15—20 min
     
    30—36 steurgarnale met of sonder kop, dermpie verwyder
    100  ml botter
    100 ml olyfolie
    15 ml (1 e) suurlemoensap
    60 ml (1/4 k) stingeluie, gekap
    30 ml (2 e) fyngedrukte knoffel
    45 ml (3 e) fyngekapte pietersielie
    1 suurlemoen, gehalveer
    Skakel die element van die oond aand.
    Verhit die botter en olyfolie in ‘n groot oondpan, groot genoeg sodat die garnale in ‘n enkellaag daarin kan pas.
    Voeg die suurlemoensap, stingeluie en knoffel by.
    Voeg die garnale by en meng totdat dit goed met die oliemengsel bedek is. Sprei uit in ‘n enkellaag in die pan.
    Plaas 12 cm van die element in die oond en roostersowat 5 minute aan elke kant of tot net gaar en die vleis wit verkleur en die dope mooi pienk is – nie te lank nie!.
    Braai die suurlemoen vinnig in ‘n bietjie olie in ‘n pan tot efe verbruin
    Skep op ‘n dienbord, giet die pansappe oor en sprinkel die pietersielie oor.
    Sit voor met gebraaide suurlemoenhalwes.
     
    KREEFSTERT-THERMIDOR
     
    ‘n Resep wat ek opgediep het uit befaamde kos- en seekoskenner, Lannice Snyman se boek, Vars uit die see.
     
    Genoeg vir 2 mense
    Bereiding: 20 min
    Gaarmaak: sowat 30 min
     
    2 kreefsterte, skoongemaak en oopgesny, behou stert
    15 ml (1 e) olie
    15 ml (1 e) botter
    30 ml (2 e) gekapte stingeluie
    15 ml (1 e) brandewyn
    Dik witsous gemaak van 30 ml (2 e) botter, 30 ml (2 e) koekmeel en 180 ml (3/4 k) melk
    60 ml (¼ k) room
    15 ml (1 e) gekapte pietersielie
    3 ml (½ t) aangemaakte mosterd
    Knippie paprika
    45 ml (3 e) parmesaankaas
    Geroosterde broodkrummels
     
    1 Verhit die olie en helte van die botter in ‘n groot vlak oondpan en braai die kreefsterte met die gesnyde kant na onder vir 5 minute. Draai om, bedek die pan en bak in oond by 180°C vir sowat 15 minute tot deurgebak en die vleis mooi wit is. Verwyder die vleis uit die dop en sny is stukke. Giet die pansappe deur ‘n sif.
     2  Roerbraai die stingeluie in res van die botter tot sag. Voeg brandewyn by en prut 5 min.
    3 Meng die salotte met die witsous, room pietersielie, mosterd, paprika, helfte van die kaas en pansappe. Kook tot dit effe verdik en voeg die kreefvleis by.
    Skep in die kreefstertdoppe, meng die res van die parmesaankaas met broodkrummels en sprinkel oor. Bak by 200°C. vir sowat 5 minute tot die krummels mooi bruin is. Sit warm voor saam met suurlemoenskyfies.
     
    Wenk: Indien bevrore kreef gebruik word, moet die kreef eers ontdooi word en dan vir 1 minuut in kookwater gedoop word.

    Groot bederf vir Moedersdag

    ‘n Heerlike koek, pragtig versier met blomme, bly dié beste manier om Ma te bederf op Moedersdag. Ek bak graag die veerkoek volgens die aangee-resep van my Ouma Carmen en waarmee my ma ons al die fynere kunsies van koekbak geleer het. Telkens as ek die koek bak, bring dit net die mooiste kindwees-herinneringe terug van opgroei op ‘n rooibosteeplaas hoog in die berge by Citrusdal. Deesdae plak ek die lae opmekaar met ‘n heerlike nougat-vulsel en maak dit mooi met blomme. Uiteraard geniet ons ‘n koppie Carmién-rooibostee daarby. My gunsteling bly steeds die Green Rooibos Earl Grey en ek drink dit saam met melk en ‘n titsel suiker. Indien jy een van daardie mense is wat graag die oorgang van swart tee na rooibos wil maak, maar nie van die vol soeterige rooibos-smaak hou nie, dan is die groen rooibos Earl Grey van Carmién jou wegspringplek.

    Die veerkoek, oftewel warmmelkkoek soos my ma daarvan gepraat het, is delikaat en heerlik lig omdat dit heelwat minder botter as ‘n botterkoek inkry. Ek gee dit deesdae ekstra geur deur ‘n piramied-rooibosteesakkie in die warm melk te trek – dit gee dan die heerlikste subtiele rooibosteesmake saam met die geure van die keuse tee daaraan. Hier gebruik ek Carmién se Tropical Burst wat so ‘n lekker tropiese smakie aan die koek gee en wat ook goed werk saam met die nougatvulsel wat ek weer geur met ‘n Cold Brew van Carmién – die CocoPine cold brew – ideaal want die nougatvulsel word met gelatien gemaak wat nie hitte kan vat nie.

    MY MA SE BAKWENKE:
    Sif die bestanddele drie maal saam.
    Voeg die vloeistof altyd teen die einde by en meng goed.
    Plaas die koeke dadelik in die oond nadat jy die beslag in die koekpanne gegooi het, dit moenie staan nie
    Die beslag is dunner as die van ‘n botterkoek en sprei egalig in die panne.
    Die oondtemperatuur is hoër as die van ander koeke.
    Laat die koeke heeltemal in die panne afkoek voordat jy dit uitkeer.
    Indien jy die koeke uitkeer terwyl nog warm, gaan die lugborreltjies wat gevorm het tydens bak, breek en die delikate tekstuur gaan swaar en dig wees.

    OUMA CARMEN SE VEERKOEK
    Maak 1 vierlaag-veerkoek
    Bereiding: 40 min
    Baktyd: 20 min

    250 ml (1 c) melk
    4 CARMIÉN TROPICAL BURST PYRAMID teesakkies
    90 g botter
    6 ekstragroot eiers
    500 ml (2 k) strooisuiker
    750 ml (3 k) koekmeel
    3 ml (ruim ½ t) sout
    15 ml (1 e) bakpoeier
    VULSEL
    125 ml (½ k) water
    2 CARMIÉN COCO PINE COLD BREW teesakkies
    15 ml (1 t) gelatien
    150 g botter, by kamertemperatuur
    30 ml (2 T) strooisuiker
    1 blik kondensmelk
    Paar druppels amandelgeursel (opsioneel)
    1 ml (¼ t) sout
    5 ml (1 t) suurlemoensap
    5 ml (1 t) kremetart
    125 ml (½ k) rooi glanskersies of droë bessiemengsel, gekap
    125 ml (½ k) amandels, gekap
    VERSIERSEL
    2 x 230 g geroomde maaskaas
    45 ml (3 e) versiersuiker
    Roosblare of eetblare blomme vir versiersel

    Voorverhit die oond tot 200 °C. Voer slegs die bodems van 4 losboomkoekpanne, 20 cm in deursnee uit, spuit met kossproei en stuif met meel.
    1 KOEK Verhit die melk en teesakkies saam tot melk net onder kookpunt is. Laat afkoel en laat trek die teesakkies ‘n paar minute in die melk. Druk die vloeistof goed uit die teesakkies en verwyder die sakkies. Voeg die botter by en roer tot die botter gesmelt is.
    2 Klits die eiers tot lig, voegdie suiker lepel vir lepel by en klits goed tot al die suiker opgelos is.
    3 Sif die meel, sout en bakpoeier drie maal saam en vou liggie by die eiermengsel in. Voeg die melkmengsel by en klits goed.
    4 Verdeel tussen die panne en bak sowat 20 minutes of totdat ‘n toetspen skoon uit die koek uitkom.
    5 Laat die koeke in die panne afkoel en keer dan uit op ‘n draadrak.
    6 VULSELS Plaas die teesakkies in ‘n glasbeker en giet die koue water oor. Laat trek 10 minute lank. Druk al die vloeistof uit die sakkies en giet die koue tee in ‘n bak.
    7 Sprinkel die gelatien oor die koue teen en laat staan om te spons. Verhit die bakkie met gelatienmengsel oor ‘n kastrol met warm water, maak seker die bakkie raak nie aan die water nie. Roer tot gesmelt.
    8 Room die botter en suiker saam, voeg die gelatienmengsel bietjie vir bietjie by en klits goed.
    9 Voeg die kondensmelk, amandelgeursel, sout , suurlemoensap en kremetart by en klits tot gemeng. Verkoel tot halfpad gestol.
    10 Vou die kersies of droë bessies en neute in.
    11 Smeer ‘n egalige lagie van die vulsel oor drie van die koeklae en pak die lae opmekaar, druk effe vas. Plaas die laaste koeklagie bo-op en laat staan tot heeltemal gestol.
    12 VERSIERSEL Klits die roomkaas en versiersuker saam tot goed gemeng. Smeer bo-op en teen die kante van die koek.
    13 Versier met roosblare en vars blomme wat liggies in die versiersel ingedruk is.

    Mediterreense Tamatiestowe

    Ek hou daarvan om geregte te maak wat op ‘n verskeidenheid maniere ingespan kan word in my kookarsenaal. Hierdie tamatiestowe is een van hulle en daar gaan haas nie ‘n dag verby dat daar nie ‘n pot tamatiestowe op my stoof staan en prut nie. Dis die maklikste manier denkbaar om groente aan jou huismense voor te sit sonder dat hulle weet hulle eet eintlik groente (dis nou vir die alomteenwoordiges wat nou nie juis groente as kos beskou nie) Ekself is so versot daarop dat ek sommer ‘n bakkie vol sal uitskep en net so vir ete verorber, want sien mens kan maar goed weglê hieraan aangesien die stowe wemel van die sogenaamde vry groentes, wat nie juis gaan tel as jy porsies of kilojoules in berekening moet bring nie, sobyso, is dit sommer heerlike dieetkos.

    Hierdie geurige tamatiesous met sy tipiese Mediterreense bestanddele is baie veelsydig. Buiten dat ek beesvleis daarin gaarstowe gebruik ek dieselfde sous om oor hoenderstukke of -schnitzels te giet wat ek dan in die oond bak of ek stowe lamskenkels daarin sag tot salige lipaflek-lekkerte. Enige stowevleis is ‘n wenner, nie alleen is dit meer bekostigbaar nie, maar is propvol geur en voedsaamheid. Ek hou veral van die bindweefselstukkies wat so lekker taaierig gaar word. Gepraat van daardie bindweefsel – dis propvol kollageen wat help om jou gebeente en gewrigte sterk te hou en natuurlik te help dat jou vel glad en soepel bly. Ek maak net altyd seker om meeste vet vooraf af te sny, anders kan jy gou ‘n olierige dis hê.

    Met hoender verwyder ek bv helfte van die hoenderstukke se vel en behou die ander, want dis daar waar die kollageen sit. Met vark, behou ek ook die swoerd, maar sny die vet af. Die gaar velletjies swoerd haal ek uit die vleis en kap dit fyn op, dan meng ek dit weer by die vleismengsel in.

    Ek geniet bucatini, oftewel hol spaghetti wat van 100-persent-durummeel gemaak word en ‘n laer glikemiese indeks as gewone broodmeel het, by die vleisskottels of net so saam met die tamatiestowe, maar jy kan ook polenta of geel mieliemeel voorsit.

    Hierdie resep, asook ‘n resep vir die allerlekkerste tamatiebredie, nog by Cass Abrahams geleer, is te kry in my nuutste boek, Lekker en Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid. Gaan kyk op Carmién se webtuiste of andersins te kry in boekwinkels soos Bargain Books.

    TAMATIESTOWE EN BEESVLEISRAFELVLEIS
    Genoeg vir 6—8 mense
    Bereiding: 20 min
    Gaarmaak: 11/2—2 ure

    RAFELVLEIS
    45 ml (3 e) olie
    Sowat 1k g stowebeesvleisblokkies met min vet (jy kan varkstowevleis ook gebruik)
    Sout en peper
    1 pak (200 g) maer bladspekvleis, in stukkies gesny
    TAMATIESOUS
    6 knoffelhuisies, fyngekap
    3 uie, fyn gekap
    1—2 eiervrugte, in klein blokkies opgesny
    4 wortels, geskil en gerasper of ‘n handvol fyngekerfde spinasieblare of halwe kop broccoli, in klein blommetjies gebreek
    4 stele seldery, gekap (opsioneel)
    250 ml (1 k) rooiwyn of groen rooibostee
    45 ml (3 e) appelasyn
    2–3 blikke (400 g elk) tamaties en ui (met geen preserveermiddels) of andersins 1 kg vars Roma-tamaties, in stukke gesny
    1 sakkie (50 g) tamatiepasta
    Paar songedroogde tamaties in vinaigrette
    Knippie suiker
    Handvol gekapte basilieblare
    Gerasperde skil van 1 suurlemoen
    Paar swart olywe
    VOORSIT
    500 g bucatini hol 100-persent-durum-spaghetti, gaargekook
    Mozzarella- of parmesaankaas
    Basilieblare vir afronding

    1 Verhit die olie in ‘n groot kastrol of selfs drukpot.
    2 RAFELVLEIS Geur die vleisstukkies met sout en peper en braai saam met die spekvleis indien gebruik tot bruin en gaar. Skep uit.
    3 TAMATIESOUS Braai die groente vir die tamatiesous in dieselfde kastrol tot sag. Voeg die vleis weer by.
    3 Voeg die rooiwyn en balsamieke asyn by, bring tot kookpunt, voeg dan die kruie en blikke tamaties, tamatiepasta en songedroogde tamaties by.
    4 Verlaag die hitte en prut tot die vleis van die bene afval, sowat 1—11/2 uur lank, voeg water by indien nodig.
    4 Skep die vleis uit, verwyder die bene en trek die vleis in rafels. Skep terug in die pot, Geur met suiker en sout en peper soos nodig. Voeg die suurlemoenskil en olywe by en prut tot ‘n dikkerige geurige sous.
    5 Kook intussen die spaghetti tot net sag, dreineer.
    6 VOORSIT Skep die spaghetti op ‘n dienbord en skep die sous bo-op, meng effe indien verkies. Rasper die kaas oor en rond af met basiliekruid.

    Wenk: Langbeen-lamskenkels is net so lekker as dit gaargemaak word in hierdie geurige tamatiesous. Braai die skenkels effe tot bruin, skep uit. Giet die sous in die pot en voeg die skenkels weer by. Prut sowat 2 ure of tot die vleis gaar is en bykans van die bene afval. Sit polenta, waarby gaar sampioene en bietjie kaas ingeroer is, daarmee saam voor.

    Wenk: Net so sonder enige vleiserigheid is die tamatiesous heerlik oor pasta. Rond net af met bietjie gerasperde pecorino-kaas.

    GEBAKTE HOENDERSCHNITZEL Kap 6 hoenderborsfilette platter, sout en peper dit en rol in meel. Braai in bietjie olie tot gaar. Sny 2 eiervrugte en 8 murgpamoentjies in skywe en braai tot net gaar; pak dit saam met die hoender in lae in ‘n oondvaste bak. Giet oor elke laag van die tamatiesous. Pak bo-op skywe Mozzarella-kaas of meng andersins ‘n bakkie (230 g) geroomde maaskaas met sowat 180 ml (3/4 k) gerasperde pecorinokaas en skep bollings bo-op. Bak in die oond tot gaar en die kaas gesmelt is.

    MEDITERREENSE HOENDER: Gaan so te werk: Prut die tamatiesous (sonder die bygevoegde vleis) tot geurig en totdat eiervrug heeltemal weggekook het.
    Pak die rou hoenderstukke, wat gesout is in ‘n oondvaste skottel (baie keer pak ek ook sommer groenbone onder in die skottel). Voeg ‘n paar swart olywe by die sous en giet oor die hoender. Maak toe met tinfoelie en bak tot sag en gaar, sowat 11/2 tot 2 uur lank, afhangende van die grootte van die stukke. Maak oop en rooster vinnig onder die roosterelement van die oond tot mooi goudbruin. Jy kan natuurlik die hoender ook ontbeen en die vleis in stukke trek soos die rafelvleis. Heerlik om selfs koud op te dien saam met platbrode.

    Eetbare skottels

    Ek het opgegroei met pampoen in die groentetuin langs die plaashuis, want Ma is lief vir pampoen (nie dat ek dieselfde van my pa kon sê nie), veral broodpampoen is haar gunsteling en ons kinders het pampoentert en pampoenkoekies met kaneelsuiker oorgesprinkel, verslind. Ekself span pampoen sommer gereeld in en oondbraai dit graag, deesdae sommer vinnig in die AirFryer. Die heel bommelpampoene het ek al by verskeie geleenthede voorgesit – vir vele spesiale familiegeleenthede tot by die bekendstellingsete van die familie se Piekenierskloofwyne waar dit hemels was saam met die saggebakte lamsboud.
    Mens kan tog te lekker rondspeel met die vulsels – ek verkies iets wat lekker gegeur is met speserye wat goed sal gaan by pampoen – dink kaneel en komyn saam met gemengde speserye en takkies vars koljander asook ietsie soets soos droëvrugte, veral rosyntjies of bosbessies en meng dit by van rys of koeskoes of enige ander tipe graan – ek het al selfs sorghum gebruik, in. Net so kan jy heerlik rondspeel met die vulsels vir kleiner bakkies soos soetrissie, botterskorsies, tamaties, self eiervrug. Dit kan natuurlik ook die ideale gereg wees om voor te sit vir ‘n vegan of vegetariër.

    GEBAKTE PAMPOEN MET RYS EN LENSIES
    Vul ‘n heel pampoen met geurige rys-en-lensies, strooi bietjie uietjippies en brosgebraaide croutons oor en smul aan ‘n heerlike vegetariese ete.

    Genoeg vir 4 mense
    Bereiding: 15 min.
    Gaarmaak: 45-55 min.

    UIETJIPS
    2 uie, in dun skyfies gesny
    mielieblom
    Olie
    PAMPOEN
    1 heel pampoen
    Sout
    Fyn kaneel, komyn
    Bietjie suiker
    Paprika
    1—2 snye ciabatta of suurdeegbrood, in klein stukkies gebreek
    olie
    RYS EN LENSIES
    250 g swart of bruin lensies
    Water of groenteaftreksel
    45 ml (3 e) olie
    10 ml (2 t) komynsaad
    200 g basmatirys
    5 ml (1 t) fyn koljander
    3 ml (ruim 1/2 t) borrie
    5 ml (1 t) gemengde speserye
    5 ml (1 t) suiker
    1 kaneelstok
    peper na smaak
    sowat 350 ml water
    1 x 400 g-blik botterbone of kekerertjies, gedreineer
    AFRONDING
    koljanderblare (opsioneel)
    dik, romerige jogurt
    ’n bietjie fyn komyn

    Voorverhit die oond tot 200 ˚C.
    1 UIETJIPS Giet kookwater oor die uieringe, laat staan tot koud, druk droog en rol in mielieblom. Rol in mielieblom en versprei die uie egalig in ’n enkellaag op ’n groot bakplaat en besprinkel met bietjie olie. Oondrooster tot gaar en lekker bros, sowat 10 min. Roer gereeld met ’n eierspaan sodat dit egalig kan gaar word. Hou eenkant. (ek doen sommer deesdae die tjippies in die Airfryer).
    2 Verlaag die oondtemperatuur tot 190˚C.
    3 Sny die kop van die pampoen af en verwyder die pitte en meeste vesels. Prik die pampoen aan die onderkant, plaas op ‘n bakplaat saam met die deksel en geur die binnekant goed met sout, kaneel, komyn en bietjie suiker. Bak tot net sag en gaar, maar nie stukkend gekook, sowat 1 uur lank afhangende van die grootte van die pampoen. Skep enige water uit die gaar pampoen.
    4 Versprei die broodstukkies op ‘n ander bakplaat, sprinkel bietjie paprika en olie oor en plaas ook in die oond. Bak tot bros.
    5 RYS EN LENSIES Kook die lensies in water of groenteaftreksel tot sag. Dreineer en geur met die sout.
    6 Verhit die 45 ml (3 e) olie in ’n groot kastrol en roerbraai die komynsaad tot geurig, sowat 2-3 min. Voeg die rys, fyn speserye, suiker en kaneelstok by en meng deur
    sodat die rysmengsel goed met die speserye bedek is. Geur met die sout en peper.
    7 Voeg die water by, bring tot kookpunt, verlaag die hitte en laat sowat 15 min. prut tot die rys net sag en die meeste van die vloeistof geabsorbeer is. Voeg die lensies en bone by en verhit tot net warm.
    8 Verwyder van die hitte, plaas ’n skoon vadoek oor die pan, plaas die deksel op en laat 10 min. stoom.
    9 Roer die helfte van die uietjips by die rysmengsel, Skep die rysmengsel in die gebakte pampoen. en skep orige uietjippies bo-op. Sprinkel ook die brosgebraaide brood bo-oor.
    10 Rond af met die koljanderblare (indien gebruik).
    11 Sny die pampoen in dik skywe en sit voor met jogurt.

    Wenk: Jy kan ook groentes soos gaar pampoenstukkies, soetrissie, blomkool of broccoli wat vooraf effe brosgebraai is, by die rysmengsel inwerk.


    SOETRISSIE-BAKKIES
    Soetrissies maak lekker bakkies waarin jy vir elkeen sy eie etetjie kan voorberei. Veral lekker om voor te sit as daar nie-vleiseters aansit by jou tafel. Ek verkies om hiervoor rooi of geel soetrissies te gebruik, maar jy kan tamaties, botterskorsie en selfs eiervrug ook gebruik.

    Genoeg vir 4—6 mense
    Voorbereiding: 20 min
    Gaarmaak: 30 min

    4—6 rooi soetrissies vir elk van die vulsels
    MET KOESKOES OF BULGUR
    250 ml (1 k) kokende groenteaftreksel
    250 ml (1 k) koeskoes of bulgur
    2 knoffelhuisies, fyngedruk
    4 stingeluie, gekap
    Olie
    5 ml (1 t) fyn komyn
    2 ml (1/2 t) fyn koljander
    125 ml (1/2 k) sultanas of gekapte Turkse appelkosies, geweek
    125 ml (1/2 k) gekapte amandels
    60 ml (1/4 k) gekapte koljanderblare
    MET RICOTTA EN SAMPIOENE
    250 g gemengde sampioene, opgekap
    1 knoffelhuisie, fyngedruk
    ¼ rooi ui, gekap
    Olie
    5 ml (1 t) suurlemoesap
    225 g ricotta-kaas of roomkaas
    Sout en peper
    Geroosterde sonneblomsade en mikro-kruie vir oorsprinkel
    MET SPINASIE EN KEKERERTJIES
    1 ui, gekap
    2 knoffelhuisies, fyngedruk
    Olie
    Groot handvol baba-spinasieblare
    100 g songedroogde tamaties in vinaigrette, gekap
    1 blik (40 g) kekerertjies, gedreineer
    10—12 swart olywe, ontpit en grof gekap

    Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n bakplaat.
    Sny die stingelent-kop van die soetrissies af en hou eenkant. Sny die wit gedeeltes uit.
    KOESKOES OF BULGUR
    1 Giet aftreksel oor die koeskoes of bulgur en laat staan tot goed uitgeswel. Vlok met ‘n vurk.
    2 Roerbraai die knoffel en ui in die verhitte olie tot sag, voeg die speserye by en meng goed.
    3 Voeg die uiemengsel saam met die droëvrugte, neute en kruie by die koeskoes of bulgur. Geur met sout en peper.
    MET RICOTTA
    1 Roerbraai die sampioene, knoffel en ui in verhitte olie tot sag. Roer by die ricotta-kaas in en geur met sout en peper.
    MET SPINASIE EN KEKERETJIES
    1 Roer braai die ui en knoffel in bietjie olie tot sag. Voeg die spinasieblare en songedroogde tamatie by en meng. Roerbraai tot die spinasie verwelk is. Roer die kekerertjies en olywe by.
    OM TE BAK: Skep enige van vulsels in die soetrissie-magies, plaas die deksel terug en pak op die bakplaat. Bak sowat 20—30 minute of tot die soetrissie net sag is. Sprinkel sade, neute en kruie oor soos verkies en sit warm voor.

    Lekker gekerrie

    Met ons onlangse kuier in die Karoo braai ons een aand skaaptjoppies wat heerlik ingelê is in ‘n geurige kerriesous. My swaer laat weet ons moet tog versigtig kom op die grondpad na hul plaas toe, want soos dit donker word, begin die koedoes loop. So is dit toe ook, ons het skaars afgedraai op die tweespoorpad en gewaar twee koedoes langs die pad staan. Statig stap hulle voor ons oor die pad en hop met een hengse sprong bo-oor die draad veld in. In die ligspoor van die bakkie kry die veld lewe met ‘n haas of twee, steenbokkie en ‘n uil, selfs later ‘n aardvark wat kopsku terugbeur tussen die bossies in. Die reuse plaasopstal is in kersligskemerte gehul, want dis beurtkrag, maar dit skeel ons min. Bo ons bied die uitspansel die helderste sterrespel met die suiderkruis steeds presies in plek om as rigtingwyser te dien. Mens voel klein as jy die almag so aanskou.

    KERRIELAMSTOPPIES

    As jy braai, is die tjoppies op sy lekkerste saam met braaibroodjies, maar as jy dit meer in styl wil voorsit, geniet koeskoes daarby saam met ‘n jogurtsous.

    GENOEG VIR 8–10 MENSE
    Bereiding: 20 min.
    Gaarmaak: 20-40 min.
    Staan: 12 uur

    MARINADE
    1 ui, gekap
    olie vir braai
    15 ml (1 e) geroosterde masala of matige kerriepoeier
    5 ml (1 t) fyn kaneel
    15 ml (1 e) borrie
    3 ml (ruim ½ t) fyn komyn
    5 ml (1 t) paprika
    5 ml (1 t) fyngekapte knoffel
    45-60 ml (3–4 e) bruinasyn
    30 ml (2 e) sagte bruinsuiker
    65 g tamatiepasta
    125 ml (½ k) blatjang
    125 ml (½ k) witwyn of rooibostee met speserye soos Carmién se Focus
    worcestersous
    sout en peper
    VLEIS
    8-10 lamstjoppies, boonste beentjie skoongemaak indien verkies
    ’n groot hand vol gekapte koljander
    MENTJOGURT
    250 ml (1 k) romerige jogurt
    ’n hand vol gekapte ment
    KOESKOES
    250 ml (1 k) koeskoes, geweek in 250 ml (1 k) kokende aftreksel
    1 avokado, in blokke gesny
    ’n hand vol kersietamaties, in blokkies gesny
    ’n hand vol vars koljanderblare, gekap
    suurlemoenslaaisous
    ’n paar gekapte neute

    1 Marinade Braai die ui in die verhitte olie tot sag. Roer al die speserye by. Voeg die res van die marinadebestanddele by, bring tot kookpunt en laat 5 min. prut. Laat afkoel.
    2 Vleis Pak die tjoppies in ’n niemetaalbak en giet die marinade oor. Sprinkel die koljanderblare oor. Bedek en marineer 12 uur in die koelkas.
    3 Oor die kole Skep die meeste van die marinade af en braai oor matige kole tot mediumgaar. Bring die marinade weer goed tot kookpunt. Sit voor saam met
    die tjoppies.
    4 In die oond Voorverhit die oond tot 180 °C. Plaas die tjoppies in ’n oondvaste bak en giet die marinade oor. Bak sowat 40 min. Ryg die tjoppies aan ’n sosatiestok
    en braai die vitrand in ’n gietysterpan uit tot bros.
    5 Mentjogurt Meng die jogurt en die gekapte ment. Rond die tjoppies af met ’n skeppie mentjogurt bo-op.
    6 Koeskoes Meng al die bestanddele en sit voor saam met die tjoppies.

    HOENDER-BOTTERBOONKERRIE

    ‘n Heerlike Maleise hoenderkerrie wat kan instaan vir huiskos maar ook vriende oornooikos. Deesdae sorg ek altyd dat ek ‘n pot rooibostee byderhand het waarmee ek enige kerrie of bredie aanklam. By kerrie is ‘n tee met speserye soos Carmién se Focus of andersins een met brandrissie en gemmer, Carmién se Revive, ideaal om te gebruik en help tog te lekker om die geure mooi met mekaar te laat praat en saam te bind. In hierdie kerrie geniet ek veral die botterbone daarin. Vir my is dit nommer een om roti’s daarby voor te sit.

    Genoeg vir 6 mense
    BEREIDING: 15 MIN.
    GAARMAAK: 45-50 MIN.

    60 ml (¼ k) olie
    3 uie, fyngekap
    3 kardemompeule
    2 kaneelstokke
    1,5 kg hoenderporsies, dye en boudjies, vel verwyder
    sout na smaak
    6 knoffelhuisies, fyngedruk
    2 lourierblare
    15 ml (1 e) borrie
    10 ml (2 t) fyn komyn
    30-45 ml (2-3 e) geroosterde masala
    5 ml (1 t) rissiepoeier
    45 ml (3 e) bruinasyn
    15 ml (1 e) suiker
    250 ml (1 k) Carmién-rooibostee, gemaak met 3 sakkies Focus (met speserye) of Revive (met brandrissie en gemmer)
    4 x 410 g-blikke botterbone, gedreineer
    vars koljanderblare
    VIR VOORSIT
    roti’s of basmati-rys
    verskeie sambals

    1 Verhit die olie en smoor die uie saam met die kardemom en kaneel vir sowat 15 min. of tot die uie sag is. Voeg water by soos nodig.
    2 Voeg die hoender, sout en knoffel by en braai 15 min. Roer af en toe.
    3 Voeg die fyn speserye, asyn en suiker by en roer deur.
    4 Voeg 250 ml (1 k) tee of andersins water by en laat 20 min. prut. Roer af en toe.
    5 Voeg die bone en ’n bietjie water by en laat prut 15-20 min. of tot die hoender sag en gaar is. Sprinkel die koljanderblare oor.
    6 Vir voorsit Sit voor saam met roti’s of rys en verskeie sambals.

    Souttert Bazaar

    Elke jaar net voor Paasfees hou ons kerk op Langebaan bazaar. Nie sommer so nie, dis omtrent ‘n gedoente, behalwe vir die gewoontelike koek- en poedingtafels maak die gemeentelede ook wors, en daar word ‘n potjiekosaand gehou. Die toeloop is goed. Die teetuin is gewoonlik in die middel van die saal waar moeë bazaargangers vir ‘n wyle kan sit om te rus en ‘n koppie tee of koffie saam met ietsie te eet, kan nuttig. Die keuses is ruim en word onder groot glaskoepels by die luik (wat na die kombuis toe gaan) op die opdienblad uitgestal, elkeen mooi met sy beskrywende naam daarby. Soos wat mense al hoe meer begin wegskram van soet, het die vraag na soutigheid al hoe groter geword. Soveelso dat Riana, die sameroeper, kort voor die bazaar ‘n benoude versoek vir souttert op die groepie geplaas het. Ek was eintlik verlig, want ek bak veel eerder souttert of quiche as koek. Dadelik het ek my resep vir ‘n heerlike groentetert (met ‘n broodkrummelkors) nadergetrek asook ‘n resep van Isabella Niehaus vir spinasie-en-filotertjies waarmee sy een episode van Jy het ‘n Wenresep gewen het. Dis alreeds na drie die middag toe ek uiteindelik die kombuis binnestorm om gou die soutterte te bak, want by die kerk wag hulle al daarvoor. Daar’s nie tyd vir kors aanmaak of so nie, ek gebruik sommer filo, het juis die oggend ‘n pak vars filodeeg gekoop. Nou kyk, ek skrik nie daarvoor om met filodeeg te werk nie – dit voel vir my nes papier wat jy so liggies tussen jou vingers kan frommel, maar o wee, vandag se filodeeg is droog en die velle sit aanmekaar vas. Ek gooi dadelik ‘n klam doek oor die deeg in die hoop om dit minder bros te maak,maar dit help nie veel nie. Met lappies deeg wat so stuk-stuk van mekaar loskom bou ek ‘n kors in die koekpan. Ek’s benoud, want ek weet mos daar mag ‘n paar beoordelende oë ook wees, maar dit lyk nogals nie te sleg nie. Die groentetert se vulsels kry van botterskorsie en rooi soetrissie in met die “geheime bestanddeel” wat die groot lekkerte gee, ‘n paar songedroogde tamaties. Die spinasietertjies maak in ‘n japtrap aan, want mens druk die fyngesnyde spinasie net so vars in die deegdop vas.
    Ek het nog nooit van room gehou nie, maar souttert se eiervla kan jy nie net met eier en melk aanmaak nie, so ek bedink toe die plan om geroomde maaskaas saam met jogurt te gebruik – dit gee ‘n heerlike vullende souttert en het so ‘n effense surigheid by. By die bazaar was die soutterte ‘n hit.
    GROENTETERT IN BAIE GEDAANTES

    Jare terug het ek ‘n groentetert met ‘n broodkrummelkors in Wenresepte 6 gepubliseer met basiese groentes soos wortel en kool as vulsel. ‘n Ware wenner vir heerlike aandetekos, wat dit inderdaad toe op my tuistafel geword het. Ek het die resep weer gaan afstof en dit tot al gemaak vir ‘n funksie op George waar die Van Kervel-skool ons gul ontvang het. En ek speel heerlik rond met vulsels – sit botterskorsie en patat in wat ek sommer in die Airfryer gaarmaak. Wanneer ek die ui braai gooi ek so teen die einde ‘n goeie skoot ongefiltreede appelasyn by – dit verleen ‘n heerlike smaak aan die uie en jy kry ook ‘n goeie skoot goedheid in. Die
    groot geheim egter vir my bly die songedroogde tamaties wat ek by die vulsel insny. Die eiervlavulsel maak ek met natuurlike jogurt, nie room nie.

    BROODKRUMMELKORS
    3 uie, gekap
    Sowat 15 ml (1 e) ongefiltreerde appelasyn met heuning en gemmer (ek gebruik Safari s’n)
    Olie
    6 snye volkoringbrood, in stukke gebreek, korsies en al
    Sowat 30 ml (3 e) botter
    VULSEL
    2 medium botterskorsies, geskil, ontpit en in blokke gesny
    2 patats, skoongeskrop en in blokke gesny
    Soutsprinkel vir groente (ek gebruik Ina Paarman s’n)
    Olyfolie
    200 g maer spekvleisstukkies
    1—2 rooi of geel soetrissies, in blokkies gesny
    Handvol baba-spinasie (opsioneel)
    6 songedroogde tamaties in vinaigrette, kleiner gesny plus van die vinaigrette
    EIERVLA
    6 eiers
    1 houer (230 g) geroomde maaskaas
    250 ml (1 k) Lactolite ongegeurde jogurt
    125 ml (1/2 k) melk
    30 ml (2 e) mielieblom
    Sout en peper
    150 g wit Cheddarkaas, gerasper

    Voorverhit die oond tot 190°C. Spuit 2 losboom-tertpanne, onderskeidelik 20 en 25 cm in deursnee goed met kossproei.

    1 KORS Braai die ui in bietjie olyfolie tot sag, voeg teen die einde die appelasyn by en verhit tot verdamp. (hou twee derdes van die ui eenkant vir die vulsel).
    2 Plaas die ander ui saam met die broodstukke in die bak van die voedselverwerker en kan goed fyn tot krummels, voeg die botter by en verwerk tot dit ietwat aanmekaar begin kleef.
    3 Druk die krummels slegs op die bodem van die tertpanne vas en verkoel.
    4 Meng die botterskorsie en patats, geur kwistig met die soutsprinkel en sprinkel bietjie olie oor. Werk die olie deur met jou hande.
    5 Pak die groentemengsel in ‘n enkellaag in die bakkie van die Airfryer en braai sowat 30—40 minute lank of tot sag en bruingebraai buite-om.
    6 Braai intussen die spekvleisstukkies in ‘n pan tot gaar, voeg die soetrissie by en braai effens. Voeg die spinasie by en verhit tot effe verwelk.
    7 Meng die botterskorsie- en spekmengsel en verdeel tussen die tertpanne. Maak gelyk.
    8 Klits die eiers, voeg die jogurt en mielieblom by, geur met sout en peper en klits goed. Roer die kaas by.
    9 Giet oor die vulsel in die tertkorse en laat dit tussen die vulsel inloop.
    10 Bak sowat 30—40 minute of tot die eiervla gestol is. Laat afkoel en sit voor saam met slaai.

    Variasie: KOOLVULSEL Braai 2 gekapte uie saam met 4 fyngedrukte knoffelhuisies tot sag. Voeg 2 soetrissies, wat in blokkies gesny is by en braai effe. Voeg 250 ml (1 k) fyngekerfde kool en 3 grofgerasperde wortels asook 10 ml (2 t) fyngerasperde suurlemoenskil by en meng goed. Skep in die voorbereide korse en sprinkel 100 g boontjiespruite oor. Berei die vlavulsel soos beskryf en giet bo-oor. Bak tot gaar.

    SPINASIE-EN-FETA SOUTTERTJIES
    LEWER 6 MUFFINGROOTTE- TERTJIES

    Bereiding: 15 min.
    Bak: 25 min.

    4 velle filodeeg, elkeen met gesmelte botter geborsel
    ’n klein hand vol gesnipperde spinasie per tertjie
    ’n groot hand vol gekrummelde fetakaas per tertjie
    EIERMENGSEL
    4 eiers
    250 ml (1 k) melk
    250 ml (1 k) natuurlike jogurt, karringmelk of room
    1 houer (230 g) geroomde maaskaas
    ’n knippie mosterdpoeier
    ’n knippie neutmuskaat
    swartpeper na smaak
    ’n hand vol gerasperde parmesaankaas

    Voorverhit die oond tot 170 °C. Bespuit die holtes van ’n groot muffinpan goed met kossproei.
    1 Plaas twee velle deeg op mekaar. Halveer. Sny elke helfte in kwarte. Herhaal met die ander velle.
    2 Voer die muffinholtes met twee stukke van die filodeegkwarte uit sodat hulle oorvleuel en ’n koppietjie vorm.
    3 Sprinkel nou ’n bietjie spinasie en fetakaas in elk.
    4 EIERMENGSEL Klits al die bestanddele buiten die kaas saam en giet in elke kors tot goed vol. Sprinkel parmesaankaas oor.
    5 Bak 20-25 min. of tot die eiermengsel gestol is. Sit louwarm voor met tamatiepesto indien verkies.

    Variasie: Jy kan enigiets insit – engelvis en salm werk veral goed.

    Avokado bederf

    Ek voel sommer baie bevoorreg om deel te kan wees van die groep kosskrywers wat jaarliks deur die South African Avocado Growers’ Association uitgenooi word om die afskop van die avokado-seisoen in Suid-Afrika te vier. Hoe lekker was dit nie om ‘n slaggie weer skouers te skuur met befaamde kookboekskrywers en kosbloggers soos Ilse van Der Merwe, Sam Linsell en Jenny Morris nie, om maar ‘n paar te noem, maar veral om weer die drade te kon optel met die internasionaal bekroonde glansstersjef en tv-ster, Siba Mtongana, wat ook deesdae restaurateur is. Ek en sy het jare lank saam gewoeker en gewerskaf in die toetskombuis om kosstories vir onder andere ook Drum bymekaar te sit.

    Hoogseisoen vir avokado’s is vanaf Maart tot Oktober/November maar met verskeie nuwe variëteite is daar nou bykans heeljaar deur avokado’s beskikbaar. Avokado’s is nie net gesog vir hoe lekker hulle is nie, hul voedsaamheid verdien ook baie punte: Hul bevat baie vesel en het ‘n lae glukemiese indeks, wat dit ideaal maak vir diabete om te geniet. Avokado’s is gluten- asook cholesterolvry met min sout. Alhoewel avokado’s se vetinhoud hoog is, is dit meestal onversadigde vette wat gesonder is en ook kan meehelp om hartgesondheid te ondersteun en cholesterolvlakke te verlaag.

    ROMERIGE GROEN AVO-SLAAI
    HIerdie is ook ‘n heerlike peuselslaai saam met ‘n paar bros beskuitjies. Om dit egte Weskuskos te maak, voeg ek ‘n paar repies bokkom-biltong by. Dié lekkerte spoor mens deesdae ook in supermarkte op.
    Genoeg vir 3—4 mense
    Bereiding: 15 min
    Gaarmaak: geen

    2 ready to eat avokado’s, gehalveer
    Sout en peper, paprika of rooipeper en bietjie vars lemmetjiesap
    Halwe bossie grasuie, gekap
    Halwe kop broccoli, in kleiner stukkies gesny, liggies gestoom en weer verfris in koue water
    1 klein komkommer, in blokkies gesny
    Paar baba-tamaties, gehalveer
    1 houer baba-spinasieblare of 1 Cos-blaarslaai, fyn gesnipper
    Japannese sojasous
    SOUS
    Lite mayonnaise
    Natuurlike jogurt
    AFRONDING
    Handvol boontjiespruite
    Strooisel sesamsade

    1 Hou een helfte heel en skil dit af. Hou eenkant.
    2 Druk die ander avokado’s goed fyn en geur met sout en peper na smaak asook bietjie paprika of rooipeper (pas op vir te sterk). Voeg ‘n goeie skoot lemmetjiesap by.
    3 Meng die grasuie, broccoli en komkommer by die fyngedrukte avokado in.
    4 Plaas die spinasieblare in ‘n bak en skep die avokadomengsel bo-op.
    5 Rangskik ook ‘n paar tamaties rondom en plaas die heel avokado-helfte bo-op.
    6 Giet ruimskoots sojasous oor.
    7 Meng gelyke hoeveelhede mayonnaise en natuurlike jogurt en streep daarvan oor die slaai.
    8 Sprinkel boontjiespruite en sesamsade oor
    9 Geniet so gou as kan saam met brosbeskuitjies.

    Paasfees-spyse

    Lamsvleis het baie Paasfees-simboliek – nie net was dit deel van Jesus se laaste Avondmaal voor hy gekruisig is nie, maar dit simboliseer ook Jesus wat as Lam van God geoffer is om vir ons sondes aan die kruis te sterf. Ek onthou so goed die Paaslam wat bekende sjef Jacques Erasmus, van Hemelhuijs in Kaapstad, een Pase vir ons voorgesit het. Hy het ‘n lamblad met ‘n rooiwyn-Marmite-smeersel ingesmeer en dit lank en stadig in die oond gebak. In die gees van Pase het hy ‘n rooi strik om die skeenbeen gebind en die vleis met granate en dadels voorgesit. Vanjaar maak ek ‘n groen sous daarby en sit dit voor met groenbone, vir my die toonbeeld van leef en dat Jesus waarlik opgestaan het. Die smeersel se resep is ook hier onder.

    SAGGEBAKTE LAMSBOUD

    Die groen kruiesous verskaf ‘n heerlike geur aan die boud. Ek sit atjar, wat nie gekook hoef te word nie daarmee saam voor. Geniet ook aartappelsosaties en groenbone hierby.

    GENOEG VIR 6 MENSE
    Bereiding: 20 min.
    Staan: 4 uur of oornag
    Gaarmaak: 2½-3 uur

    GROEN SOUS
    500 ml (2 k) romerige jogurt
    1 bossie vars koljander, goed afgespoel en fyn gekap
    halwe bossie ment, gekap
    15 ml (1 e) fyngedrukte knoffel
    1 suurlemoen se sap en skil
    sout en vars gemaalde peper na smaak
    10 ml (2 t) fyn komyn
    10 ml (2 t) klaarbereide mosterd
    olyfolie
    VLEIS
    1 lamsboud, ontbeen indien verkies
    ekstra sout en vars gemaalde peper
    rooi- of witwyn
    ekstra koljanderblare en ment vir bo-oor
    DROËVRUGTE-ATJAR
    500 g gemengde droëvrugte, soos nektariens en pere, gekap
    15-20 ml (3-4 t) garam masala
    2 knoffelhuisies, gekap
    80 ml ( k) olyfolie
    30-45 ml (2-3 e) wit balsemieke asyn

    1 GROEN SOUS Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en verwerk tot glad.
    2 VLEIS Vlek die boud en vryf die sous oor die vleiskant. Laat staan minstens 4 uur of oornag.
    3 Voorverhit die oond tot 160 °C.
    4 Plaas die boud in ’n oondpan, vleiskant na bo. Geur met die sout en peper. Giet kookwater (of helfte daarvan rooi- of witwyn) in die oondbak tot die boud sowat ’n kwart
    daarin lê. Bedek met tinfoelie en bak sowat 3 uur tot die vleis doeksag is en met ’n lepel in stukke gebreek kan word.
    5 Verwyder die tinfoelie net voor opdiening, verhoog die hitte tot 200 °C en oondbraai tot die vleis lekker bruin is.
    6 Kook die pansappe af tot geurig en dik. Plaas die boud op ’n opdienbord, sprinkel die koljanderblare en ment ruimskoots oor en sit voor saam met die sous en atjar.
    7 DROËVRUGTE-ATJAR Meng al die bestanddele en laat staan minstens oornag sodat die geure goed kan meng. Sit voor saam met die boud.
    AARTAPPELSOSATIES: Kook 1 kg baba- aartappels sag. Sny 2-3 rooi-uie in wiggies. Ryg die aartappels en uie aan roosmaryntakkies of sosatiestokkies. Plaas op ’n bakplaat met olyfolie gesmeer, geur met sout, giet olyfolie oor en oondbraai tot effens bruin.
    Sit voor saam met die boud.

    MARMITE-SMEERSEL

    Berei die volgende smeersel, smeer oor die vleis en gaan verder te werk soos by die Midde-Oosterse lam.
    Meng 30 ml (2 e) rooiwyn, 30 ml (2 e) Marmite, 30 ml (2 e) Dijonmosterd, 30 ml (2 e) sagte bruinsuiker, 30 ml (2 e) olyfolie en 5 ml (1 t) gekapte vars tiemie saam en vryf die vleis goed daarmee in. Geur met sout en peper.

    GROENBONE MET TAMATIES EN PECORINO-KONFETTI

    1 kg jong groenbone, stingelente afgesny
    sout en vars gemaalde peper
    2 knoffelhuisies, fyngedruk
    1 suurlemoen se sap en skil
    45-60 ml (3-4 e) olyfolie
    125 g spekvleis
    250 g babatamaties
    KONFETTI
    80 ml ( k) elk pampoen- en sonneblompitte, gerooster
    125 ml (½ k) pistachioneute
    125 ml (½ k) fyn gerasperde pecorinokaas
    soutvlokkies en vars gemaalde swartpeper na smaak
    ekstra pecorino vir skaafsels

    1 GROENBONE Plaas die groenbone in ’n stoombak van ‘n stomer of andersins in ‘n vergiettes oor ‘n kastrol met kookwater en stoom sowat 10—15 min tot net sag, maar nog bros. Geur met die sout en vars gemaalde peper.
    2 Meng die knoffel met die suurlemoensap en -skil en voeg die olyfolie by. Giet oor die groenbone terwyl nog warm en hou dan warm.
    3 Sit die spekvleis en tamaties vir ’n paar min. in die oond of lugbraaier en bak tot die spekvleis bros is en die tamaties netnet oopbars. Kap die spekvleis op en meng
    met die groenbone.
    4 KONFETTI Meng al die bestanddele en sprinkel oor net voor opdiening

    VRUGTEPIZZA MET GROENSLAAI

    Die “pizza” met sy ryk soet kors is heerlik om as voorafhappie saam met ‘n wit wyntjie en vars slaai te geniet.

    GENOEG VIR 6-8 MENSE
    Bereiding: 15 min.
    Bak: 8 min.

    SOET PIZZAKORS
    250 g yskoue botter, in stukke gesny
    250 ml (1 k) versiersuiker, gesif
    500 ml (2 k) koekmeel
    80 ml (⅓ k) mielieblom
    ’n groot hand vol gekapte kruie soos tiemie en roosmaryn
    5-10 ml (1-2 t) seesoutvlokkies
    BOLAAG
    1 brie of camembert, in skyfies gesny
    ’n verskeidenheid vars vrugte, soos vye, nektariens en/of pruime en granaatpitte
    SLAAISOUS
    60 ml (¼ k) druiwe- of appelasyn
    30 ml (2 e) olie
    15 ml (1 e) heuning
    7 ml (1½ t) Dijonmosterd
    SLAAI
    ’n verskeidenheid slaaiblare, soos roket en jong spinasie
    ekstra vars vrugte, in skyfies gesny

    Voorverhit die oond tot 180 °C.
    1 SOET PIZZAKORS Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker. Verwerk tot die botter goed in die meel ingemeng is en ’n bol om die lem vorm.
    2 Skep uit die voedselverwerker. Vorm in ’n bol, draai toe in kleefplastiek en laat ’n halfuur rus.
    3 Sny in 6-8 stukke en rol rofweg uit tot sowat 4 mm dik. Plaas op ’n meelbestrooide bakplaat.
    4 BOLAAG Pak skywe kaas en vrugte bo-op en bak sowat 8 min. tot die deeg gaar is. Koel af.
    5 SLAAISOUS Meng al die sousbestanddele.
    6 SLAAI Plaas ’n hopie slaaiblare bo-op elke pizza en rangskik die ekstra vars vrugte bo-op. Sit voor saam met die slaaisous.

    WENK: Maak soet bolletjies met die deeg: Voeg 125 g gekapte neute by die deeg, rol in bolletjies en bak sowat 11 min. tot gaar. Rol in versiersuiker terwyl dit nog warm is.

    TWEEKLEUR-KAASKOEK

    Heerlik vir poeding of saam met namiddag koffie. Die resep het ek een jaar in die Oos-Kaap raakgeproe.

    LEWER 1 GROOT KAASKOEK
    Bereiding: 20 min.
    Bak: 1½ uur
    KORS
    250 ml (1 k) koekmeel
    100 g koue botter, gerasper
    125 ml (½ k) gekapte pekanneute
    ’n bietjie yswater, indien nodig
    VULSEL
    3 bakkies (230 g elk) gladde of geroomde maaskaas
    5 ml (1 t) mielieblom
    1 suurlemoen se sap en fyngerasperde skil
    3 ekstragroot eiers
    2 eiergele
    180 ml (¾ k) suiker
    knippie sout
    5 ml (1 t) vanieljegeursel
    60 ml (¼ k) kakao
    BOLAAG
    bevrore en vars bessies
    ’n bietjie suiker

    Voorverhit die oond tot 180 °C. Spuit ’n losboompan van 23 cm goed met kossproei.
    1 KORS Meng die meel en botter in ’n voedselverwerker tot dit soos broodkrummels lyk (of vryf die botter met jou vingerpunte in). Voeg die neute by
    en voeg net genoeg water by om ’n stywe deeg te maak. Druk vas onder en halfpad teen die kante van die pan, prik die kors en verkoel. Bak 5 min.
    2 VULSEL Meng al die bestanddele vir die vulsel buiten die kakao in ’n bak tot glad. Verdeel die mengsel in twee. Sif die kakao en roer dit by die een deel.
    Giet die wit mengsel in die kors; giet die kakaomengsel versigtig bo-op. Marmer liggies deur.
    3 Verlaag die temperatuur tot 100 °C en bak 1½ uur tot net gaar maar steeds effens drillerig in die middel. Skakel die oond af en laat afkoel daarin. Verkoel tot jy
    dit nodig kry.
    3 BOLAAG Kook die bevrore bessies tot net sag saam met ’n bietjie suiker en druk fyn. Skep oor die koek en rond af met vars bessies.

    Naweekbraai

    Met ons vinnige kuiertjie op Graaff-Reinet, skaf ons toe sommer vir ons ‘n Karoolam aan. Die kampvrieskas kom goed te pas en ons kan alles gemaklik vervoer sonder om te kommer dat die vleis sal bederf. Eerste naweek tuis in ‘n lang tyd en ons nooi goeie pelle oor om saam met ons die Karoolam te kom geniet. Aan Karoolam torring mens nie te veel nie en hy vra ook nie vir te lank oor die kole nie.

    Terwyl die vuurtjie gesellig knetter in die knus kuierhoekie in die quad, met die koeligheid wat nou saans vanaf die meer begin oorstoot land se kant toe, het ons nou die agterste quad, wat lekker beskut is vir die voorstoep verruil, maak ek ‘n paar bykosse: ek hou dit eenvoudig met sorghumslaai, pampoentert, wat toe patattert word en ‘n saadbroodjie. Die bottel kosbare lemoenheuning wat ek present kry, werk perfek saam met die broodjie.

    Al hoe meer mense, ekself inkluis, kom deesdae agter dat gluten maar net nie te goed met jou wil akkodeer nie. En omdat ek so lief is vir ‘n lekker broodjie, eksperimenteer ek heelwat met glutenvrye gebak. Die hawermout-saadbrood, waarvan ek die resep onlangs gedeel het in Februarie, is die beste wat ek tot nog toe teëgekom het as dit kom by ‘n glutenvrye broodjie (onthou net om glutenvrye hawermout te koop, want gewone hawermout kan met gluten gekontamineer wees).

    Gelukkiglik is die glutenvrye meelkombinasies wat mens deesdae te koop kry, van goeie gehalte en kom jy skaars agter dat jy nie met gewone koringmeel bak nie. Dit span ek in om die tert mee te bak. Ek besef te laat dat die botterskorsie in die groenterak gedaan is en sien ook nie bra kans om nou op die laaste nippertjie winkel toe te ry nie. Maar in die groentehouer is daar nog heelwat patat. Ek besluit tersond om dit sommer in te span vir die pampoenttert. Die tert kry bykans geen botter en heelwat minder suiker in as die oorspronklike resep en ek maak dit ook met jogurt, wat die nodige romerigheid verskaf. Die patat, wat ek in ‘n chai-rooibostee sagkook, is ‘n wenner in die tert.

    Die resep, saam met heelwat ander glutenvrye resepte, is te kry in my nuutste boek, Lekker&Goed, heerlike kos propvol heilsaamheid. Gaan kyk op die Carmién-webtuiste om vir jou ‘n kopie aan te skaf.

    Ek maak ook al hoe meer gebruik van sorghum as ‘n alternatief vir koring. Die heel korrels maak ‘n heerlike vullende dog vars slaai wat selfs vir ‘n dag of wat in die yskas goed hou en ook die ideale middagkos kan wees. Die jogurt-slaaisous, alhoewel laevet, verskaf ‘n lekker romerigheid aan die slaai.

    SORGHUMSLAAI
    Supermarkte soos Woollies hou deesdae sorghum aan. Jy kan die slaai ook met quinoa maak.

    325 ml (11/2 k) sorghum
    sout
    1 kop Gem-slaaiblare, dun gekerf
    2 wortels, gerasper
    Halwe rooi ui, in klein blokkies gesny
    Halwe komkommer, in klein blokkies gesny
    1 rooi soetrissie, ontkern en in blokkies gesny
    2 appels, ontkern en in stukkies gesny
    1 mieliestronk, mieliepitte afgesny (hoef nie gaar te wees nie)
    1 blik (400 g) kekerertjies, gedreineer
    100 g bosbessies
    100 g gekapte pekanneute of amandels
    1 wiel feta-kaas, gekrummel
    SLAAISOUS
    250 ml (1 k) laevet natuurlike jogurt (laktosevry indien verkies)
    Groot handvol gekapte ment of dille of koljanderblare
    Knippie sout
    2 lemmetjies se sap
    AFRONDING
    Groot handvol koljanderblare

    1 Spoel die sorghum goed af en kook dan in genoeg water tot sag, geur teen die einde eers met sout, anders sukkel die sorghum om sag te kook. Dreineer en laat afkoel.
    2 Meng al die bestanddele vir die slaai goed saam en meng met die sorghum.
    3 Meng die bestanddele vir die sous saam en giet oor die slaai. Meng deur. Rond af met koljanderblare.

    Wenk: Kook die sorghum in groen rooibostee met bietjie boegoe by (Rescue van Carmién), sag. Die sorghum kry ‘n effense kruiesmakie en terselfdertyd kry jy ekstra oksidante in.

    SOETPATATTERT

    Ek het die bekende pampoentert gebruik om hierdie patatert te maak. Ek het by Spar op ‘n pakkie brood-premix afgekom en dit gebruik om die tert mee te bak. Die tert het perfek uitgekom. Ek het die tert sommer in die Airfryer gebak.

    1 kg patat, geskil en in stukke gesny
    1 liter Carmién Citrus Chai-rooibostee (gemaak met 4 sakkies)
    250 ml (1 k) glutenvrye meel of gewone koekmeel
    10 ml (2 t) bakpoeier
    5 ml (1 t) fyn kaneel
    5 ml (1 t) sout
    160 ml (2/3 k) suiker
    3 eiers
    250 ml (1 k) natuurlike jogurt
    60 g botter
    Groot handvol gekapte pekanneute
    Kaneelsuiker vir bo-oor sprinkel

    Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n ronde tertbord met kossproei.
    1 Kook die patat in die rooibostee tot sag en druk goed fyn tot ‘n puree.
    2 Sif die meel, bakpoeier, kaneel en sout saam. Voeg die suiker by.
    3 Klits die eiers, jogurt en botter saam.
    4 Meng die patatpuree, droëbestanddele en nat bestanddele goed saam.
    5 Skep in die voorbereide bak, sprinkel die neute oor en bak sowat 40 minute of tot stewig, bedek na 20 min met tinfoelie om te keer dat dit te donker bak.
    6 Sprinkel bietjie kaneelsuiker oor voor jy dit voorsit. Die tert kan louwarm of koud geniet word.

    HAWERMOUT-SAADBROOD
    Die resep is werklik ‘n wenner, so hier is dit weer.

    Maak 1 medium brood
    Bereiding: 15 min
    Baktyd: 40—50 minute

    625 ml (21/2 k) hawermout
    250 ml (1 k) gemengde sade, insluitend sonneblom-, pampoen-, sesam- en lynsaad
    60 ml (1/4 k) psylliumvesels
    12,5 ml (21/2 t) bakpoeier
    5 ml (1 t) sout
    4 eiers
    45 ml (3 e) olyfolie
    250 ml (1 k) water
    15 ml ( 1 e) appelasyn
    gemengde sade of sesamsade vir bo-op sprinkel
    VOORSIT
    Botter of heuning of avokado

    Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n klein broodpannetjie en voer die bodem uit met bakpapier. Spuit weer.
    1 Meng die droë bestanddele goed saam.
    2 Klits eiers, voeg klapperolie, water en appelasyn by en klits goed.
    3 Voeg by die droë bestanddele en meng goed. Laat staan 10 min tot stewig.
    4 Skep in pannetjie, druk effe plat.
    Bak sowat 40–50 minute of tot ‘n toetspen skoon uitkom. Sit voor met botter en heuning of fyngedrukte avokado.
    In lugbraaier: Stel die lugbraaier op bak en verhit tot 180°C. Bak 40 minute lank, bedek die brood na 15 minute met tinfoelie om te keer dat dit te donker bak bo-op.

    Die vis loop

    In Langebaan draai die lewe om veel meer as oor hoe die gety draai, maar tog, as gerugte dat die vis loop in omloop is, sien jy hoe die bote tou staan om water toe te gaan. Op die meer sit hulle gepak al langs die elflyn af en kom met goeie vangste terug. Wat dit so lekker maak om op ‘n kusdorp te bly, is dat jy sommer middel van die week kan uitgaan en oor die naweek weer as die weer reg is. By ons staan die boot en visgery deesdae altyd gereed, net reg vir as die weer saamspeel om te gaan lynnatmaak.

    Vis smaak darem maar net op sy lekkerste as dit nog blinkvars is. Ons besluit om die oggend se vangs, wat elf en stompneus insluit, in die oond te bak, net so heel, kop en stert en vinne nog aan. Ek maak ‘n Thaise sousie met vars koljanderblare en baie vars lemmetjiesap wat ek sommer in die Nutribullet opkap en ligweg oor die vissies streep; daarna is dit oond toe, net so 20 minute en die vis is reg, sappig met die velletjie lekker bros. Daarby ‘n paar ekstra lemmetjies om saam met die eet oor te drup. In die Airfryer bak ons dun skywe aartappels tot lekker bros om daarby te geniet. Eenvoudig, maar heerlik.

    Toe daai vissies uit die oond kom, water my mond sommer by voorbaat. Ek takel my vissie sommer aan die kopkant en wat ‘n verrassing met heerlike sagte vleisies wat daar weggesteek is.

    Soos wat ek vorder, skep ek van die gekarameliseerde pansousies oor die stukkies vis wat ek versigtig van die graat af loswikkel en druppel lekker baie lemmetjiesap oor. Regtig vingerafleklekker tot op die letter van die woord. Die oorskiet hou ek om tamatie-vissop, met ‘n blik klappermelk by ingeroer, mee te maak wat ons in klein koppietjies geniet. Heerlik vir vooraf geniet of sommer as hoofete en net so geurig.

    GEBAKTE VIS MET THAISE SOUS
    Genoeg vir 4—6 mense
    Bereiding: 20 min
    Marineertyd: 20min
    Gaarmaak 15—20 min

    SOUS
    125 ml (1/2 k) olyfolie
    80 ml (1/3 k) sesamsade
    1 pakkie (30 g) koljanderblare
    1 brandrissie, ontpit (opsioneel)
    10 g gerasperde gemmerwortel
    1 hele bol knoffel, fyngerasper
    60 ml (1/4 k) rysasyn
    60 ml (1/4 k) sojasous
    4 lemmetjies se sap
    VIS
    4—5 vars vissies, soos stompneus of elf, binnegoed verwyder en skubbe afgeskraap, maar behou die kop, stert en vinne
    Sout
    1 wiel feta-kaas
    Ekstra lemmetjies en basiliekruid vir bo-oor sprinkel

    Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n groot oondpan met kossproei.
    1 SOUS Plaas al die bestanddele vir die sous in die NutriBullet en verwerk tot glad.
    2 Pak die vis in ‘n bak en giet die sous oor. Marinee r20 minute lank.
    3 Pak die vis op die bakplaat, geur met sout en skep die sous oor. Sprinkel die feta-kaas oor.
    4 Bak sowat 20 minute lank of tot die vleis maklik vlok met ‘n vurk.
    5 Rond af met basiliekruidblare en sit voor met ekstra lemmetjies.

    TAMATIE-VISSOP

    Dié geurige vissop is binne ‘n ommesientjie klaar.

    GENOEG VIR 4 MENSE
    Bereiding: 15 min.
    Gaarmaak: 15-20 min.

    SOP
    60 ml (¼ k) suurlemoensap
    500 g wit oorskietvis, grate verwyder en gevlok
    3 knoffelhuisies, fyngekap
    sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
    ’n bietjie olyfolie
    250 ml (1 k) ui, gekap
    1 rooi soetrissie, gekap
    1 klein brandrissie, pitte verwyder en gekap
    5 ml (1 t) paprika
    500 ml (2 k) gekerfde vars tamaties
    30 g koljanderblare, gekap (hou ’n bietjie vir garnering)
    1 blik (400 g) ligte klappermelk
    KAMMANAAN
    1 kg winkelbrooddeeg
    knoffelbotter

    1 SOP Sprinkel die suurlemoensap oor die vis tot dit bedek is, en sprinkel die knoffel oor. Geur na smaak met sout en swartpeper. Verkoel.
    2 Giet ’n bietjie olyfolie in ’n groot kastrol; verhit oor lae hitte tot warm.
    3 Voeg die ui by; roerbraai tot sag. Voeg die soet- en brandrissie by en geur met die paprika. Roerbraai tot sag.
    4 Voeg die tamaties by, kook 5 min. en voeg die koljanderblare by.
    5 Skep die helfte van die groente uit, rangskik die vis in die kastrol op die oorblywende groente en geur met nog sout en swartpeper indien nodig.
    6 Voeg die klappermelk by en laat prut 5 min. of tot lekker warm. Voeg die orige groente weer by en bring weer tot kookpunt.
    7 Giet in ’n opdienbak en garneer met die orige koljanderblare.
    8 KAMMANAAN Verdeel die deeg in 8 bolletjies en rol sowat 2 mm dik in ’n traanvorm uit.
    9 Bespuit ’n gietysterpan met kossproei, verhit en braai 1-2 min. per kant tot bruin kolle verskyn.
    10 Smeer die knoffelbotter oor en sit voor saam met die sop.

    Vyfster ontbyt in die Karoo

    Tydens ‘n blitsbesoek aan die Karoo die pas afgelope naweek oornag ons in die vyfster eeueoue Drostdy Hotel op Graaff-Reinet. Stylvol gerestoureer in eertydste dog byderwetse elegansie spreek dit vyfsterweelde tot op die letter van die woord met die ontbyt ook uit die boeke. Van tuisgemaakte granola propvol neute saam met die vrugte en jogurt; hemelhoë tuigebakte skons en ciabatta,‘n heerlike verskeidenheid koue vleise en uitsoekkase asook die allerlekkerste appelkoosbroodjie wat ek saam met kweperjellie, eie aan daardie geweste, geniet het, het ons die ete afgesluit met ‘n heerlike eier-benedict, wat jy ook op ‘n aartappelrösti kon eet. Heerlik!

    Ons hou daarvan om die land te deurkruis en veral om die platteland beter te leer ken. Daarom was die 720 km Graaff-Reinet toe glad nie vir ons vergesog om oor ‘n naweek af te lê nie. Wat ons egter nie in gedagte gehou het nie, is die ewigdurende padwerke op die N1 en wat bietjie meer as ‘n 8 uur rit moet wees, het gou by 9 ure gaan draai. Daarom het ons besluit om Sondag via Outshoorn en die R62 terug te ry. Bietjie langer, maar ‘n heerlike kronkelpad met pragtige natuurtonele en vele verrassings, soos dat Barrydale op ‘n Sondagmiddag ‘n miernes van bedrywigheid is soos almal aandoen by die vele eetplekkies langs die pad wat deur die dorp loop.

    Maar terug by Graaff-Reinet en die Drostdy Hotel. Graaff-Reinet is in 1786 gestig en die vierde oudste dorp in die land naas Stellenbosch, Paarl en Swellendam. Dit was ook die beginpunt van die Groot Trek waar ontevrede Voortrekkers die binneland ingetrek het op soek na vryheid. Daarenteen was dit selfs tydens die tweede Boereoorlog as basis vir die Britse magte gebruik. Interressant is Graaff-Reinet die dorp (en stad) met die meeste monumente in die land.

    Die Drostdy is in 1806 gebou om te dien as blyplek vir hooggeplaaste staatsamptenare, insluitend die landdros. Vanaf 1876 was dit ‘n hotel en ‘n eeu later het dr. Anton Rupert (wat ‘n boorling van die distrik was) se Oude Meester-groep die eiendom saam met die Historical Homes of South Africa bekom. Na sy dood in 2005 het die familie die hotel pragtig gerestoureer en bemaak aan die plaaslike SA kollege vir Toerisme wat onder die vaandel van die Peace Parks Foundation opereer en studente oplei in gasvryheids-vaardighede terwyl hulle terselfdertyd werksaam is in die hotel.

    ‘n Lekker uniekheid is dat die verblyf in pragtig gerestoureerde ou werkershuisies is — ‘n klein kleurvolle dorpie met pastelgeverfde deure; vetplant-omsoomde looppaadjies al tussen die huisies deur, ‘n plonspoel, swembad en fonteingragte wat koeligheid in die somerhitte bring. Prominent geplaas is ook ‘n gerestoureerde slaweklok. Ons het werklik welkom gevoel en kon heerlik ontspan in ons eie huisie, veral die pragtige ruim badkamer het ons imponeer.

    Appelkoos-semelbrood
    Hierdie resep diep ek in my wenresepte 5 boek op en is baie soortgelyk aan die een wat ek by die Drostdy-hotel geniet het.

    250 ml (1 k) kookwater of warm rooibostee (ek gebruik 2 sakkies Focus (chai-geur) van Carmién)
    250 g droëappelkose, klein opgesny
    30 ml (2 e) botter
    425 ml witbroodmeel of helfte volkoringmeel
    5 ml (1 t) bakpoeier
    5 ml (1 t) sout
    5 ml(1 t) koeksoda
    160 ml (2/3 k) suiker (of minder)
    375 ml (11/2 k) hawermout of All Bran-ontbytpap
    100 g pampoenpitte
    2 eiers

    Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n medium koekpan goed of spuit met kossproei.
    1 Giet die kookwater of tee oor die appelkose en laat week tot sag. Voeg die botter by
    2 Meng die droëbestanddele goed saam, insluitende die suiker, hawermout of All Bran en pampoenpitte
    3 Klits die eiers effe en voeg by die appelkoosmengsel. Meng goed.
    4 Giet die appelkoosmengsel by die droë bestanddele en meng goed.
    5 Skep in die voorbereide pan en bak sowat 40—50 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die brood kom.
    6 Laat effe afkoel in die pan en keer dan uit om heeltemal af te koel.
    7 Sit voor met botter en kweperjelie.

    Vars en lig

    Net bietjie meer as ‘n week gelede kuier ons op die plaas om my broer en sy vrou se verjaarsdae te vier. Onder die tamaaie bome lê die tapyte en kelims oormekaar op die klippestoep met banke en stoele knus rondom lae tafeltjies gepak waar die gaste gesellig kan saamkuier. In die hoek ‘n mooi eikehout-tafel met ‘n wye verskeidenheid Piekenierskloofwyne en ‘n emaljebad vol ys met bottels water en koeldrank waarmee almal hul dors kan les.

    Binne is die tamaaie geelhouttafel gelaai met groot platters en bakke kos – alles keurig en kleurvol en lig in Mediterreense styl: klein frikkadelletjies in ‘n tamatiesous met basilie, mini-hoenderstokkies, dun lappies carpaccio met olyfolie, kappertjiesade en roketblare oorgesprinkel, skywe saggebraaide eiervrug, ‘n rysnoedelslaai met olyfolie en balsamieke asyn; dun skywe spanspek en verskeie vars slaaie, mini-roosterkoekies, bakkies olywe en en en… alles by kamertemperatuur. My tipe kos.

    Soos die gaste aankom, help hulle hulself aan klein skeppies van die keurige kosse saam met ‘n glasie wyn en kry sitplek onder die groot bome by die lae tafels, net om ‘n rukkie later weer ‘n draai by die groot eetkamertafel te gaan maak vir nog ‘n rondte lekkerte, want telkens is daar nog iets nuuts en heerlik om te beproef uit die smaaklike spyse. So kuier-kuier ons tot laat namiddag tussen die gaste rond terwyl die berg se bekende luggie deur die blaredak begin stoot en koeligheid bring. Die laaste bittereinders verkas skemeraand binnetoe en geniet vir oulaas ‘n glasie kosbare goedverouderde VanZylskloof-wyn en ‘n sterk huistoegaan espresso.

    By die huis gekom gaan blaai ek deur my resepteboeke en vind ‘n paar resepte vir frikkadelletjies, slaaie en slaaisouse wat baie na aan daardie heerlike lekkerte kom.

    OONDGEBAKTE FRIKKADELLE IN GEURIGE TAMATIESOUS

    Die oorspronklike resep kom van die bekroonde sjef, Michael Broughton van Terroir in Stellenbosch. Dis die suurlemoenskil in die frikkadelle wat dit heerlik maak. Die tamatiesous kan ook vir pizza gebruik word.

    Genoeg vir 8-10
    Voorbereiding: 20—30 min
    Gaarmaaktyd: 50 min

    FRIKKADELLE
    1 kg maer beesmaalvleis (of helfte daarvan volstruis of wild)
    2 groot uie, fyn gekap
    2 knoffelhuisies, fyngedruk
    45 ml (3 e) gekapte pietersielie
    5 ml (1 t) gekapte roosmaryn
    1 eier
    2 snye witbrood, gekrummel en geweek in 80 ml (1/3 k) water of aftreksel (opsioneel)
    Sap en gerasperde skil van 2 suurlemoene
    Sout en peper en suiker na smaak
    TAMATIESOUS
    1 x geurige tamatiesous (sien onder)
    Basilie-blare en Pecorino-kaas vir bo-oor sprinkel

    Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n oondvaste bak.

    1 FRIKKADELLE Meng al die bestanddele vir die frikadelle liggies saam en vorm klein bolletjies. Pak in ‘n gesmeerde oondvaste bak. Bak sowat 20 minute lank of tot net gaar.
    2 SOUS Berei tamatiesous soos beskryf.
    3 AFRONDING Giet oor die frikkadelle en bak nog sowat 15 minute.
    4 Sprinkel basilieblare en pecorino-kaasskaafsels oor.
    TAMATIESOUS

    750 g pruimtamaties (Roma), ontvel en in klein stukkies gesny
    60 ml (1/4 k) songedroogde tamaties in vinaigrette, gekap
    6 knoffelhuisies, fyngedruk
    60—80 ml (1/4—1/3 k) songedroogde tamatiepesto
    5 ml (1 t) droë oreganum

    Plaas al die bestanddele in ‘n glasbak en mikrogolf 10 minute by 100-persent-krag tot die sous nie meer waterig is nie. Roer elke 3 minute. (jy kan ook die sous in ‘n kastrol op die stoof maak).

    GROEN VINAIGRETTE
    Die vinaigrette is lekker oor van carpaccio tot ‘n ryspastaslaai.

    Maak 180 ml (3/4 k)
    60 ml (¼ k) kruie soos pietersielie en basilie, grof gekap
    4 knoffelhuisies, fyngedruk
    60 ml (¼ k) olyfolie
    45 ml (3 e) druiweasyn
    5 ml (1 t) Dijon-mosterd (opsioneel)
    suiker na smaak
    sout en peper na smaak
    Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en pols tot goed fyn.
    TIPE CAPRESE-SLAAI & PANSANELLA-SLAAI MET ROOI TAMATIE-VINAIGRETTE

    ‘n Slaaisous gemaak met songedroogde tamaties gee geur aan Caprese en pansanella-slaai.

    ROOI TAMATIE-VINAIGRETTE

    Maak 125 ml (1/2 k)
    2 knoffelhuisies, gekneus
    45-60 ml (3-4 e) songedroogde tamaties in vinaigrette, gekap
    30 ml (2 e) pesto van songedroogde tamaties
    30 ml (2 e) vars pietersielie, gekap
    15 ml (1 e) vars origanum, gekap (opsioneel)
    60 ml (¼ k) olyfolie
    15 ml (1 e) balsemieke of sauvignon-asyn
    5 ml (1 t) suurlemoenskil, gerasper
    vars gemaalde swartpeper
    water of van die songedroogde tamatie-vinaigrette om die sous loperig te maak

    Verwerk al die bestanddele in ’n voedselverwerker tot glad. Voeg water by om ’n loperige sous te kry.

    SLAAI 1 CAPRESE-SLAAI
    Genoeg vir 4 mense
    Voorbereiding: 20 min

    Verskeidenheid groot rooi tamaties, in skywe gesny
    Groot handvol baba-Roma-tamaties
    1 medium eiervrug, in skywe gesny, olyfolie oorgeprinkel en in ’n (riffel)pan gebraai tot gaar
    sowat 8 swart olywe
    4 bolle bocconcinikaas, in stukke geskeur (sien ook wenk)
    basilieblare
    1 rooi tamatie-vinaigrette

    1 Rangskik al die bestanddele op ’n bord en sit voor saam met die slaaisous.
    Variasie: skep roomkaas in bolletjies met ‘n teelepel en rol in broodkrummels. Braai in diepolie tot bruin en gebruik pleks van bocconcini-kaas.

    SLAAI 2 TIPE PANZANELLA-SLAAI
    Genoeg vir 4 mense
    Voorbereiding: 20 min
    Gaarmaak: 10 min

    ½ ciabatta, in stukke gebreek
    olyfolie
    groot handvol baba-tamaties
    6—8 verskeidenheid groot tamaties, in stukke gesny
    seesoutvlokkies en peper
    1 rooi ui, in skyfies gesny
    Paar kappertjiesade
    1 x rooi vinaigrette
    Basilieblare vir afronding

    Voorverhit die roosterelement van die oond
    1 Pak die broodstukke op ‘n bakplaat, besprinkel met olyfolie en rooster tot bros.
    2 Pak baba-tamaties ook in ‘n bakplaat, geur met sout en peper, sprinkel bietjie olyfolie oor en oondbraai terselfdertyd tot dit net effe oopbars.
    3 Meng die baba- sowel as groot tamaties in ‘n mengbak saam met ui en kappertjiesade. Giet bietjie slaaisous oor en laat staan so 10 minute.
    4 Pak in ‘n slaaibord, stapel brood bo-op en sprinkel basilieblare oor.

    NEKTARIENSLAAI & BEET-EN-FETAKAASSLAAI MET BESSIEVINAIGRETTE
    Die soeterige vinaigrette is heerlik saam met vrugte, biltong en fetakaas.

    BEET-EN-FETAKAASSLAAI
    Genoeg vir 4 mense
    Voorbereiding: 15 min
    Gaarmaak: 40 min

    1 bossie beet
    Seesoutvlokkies
    olyfolie
    100 g roket
    1 groen appel, ontkern en in dun skyfies gesny
    1 steel seldery, in stukke gesny
    1 rooi ui, in ringe gesny
    Groot handvol bloubessies
    1 wiel peperfetaas, in stukke gebreek
    Aarbei- of bessie-vinaigrette
    Pampoensade vir bo-oor sprinkel

    Voorverhit die oond tot 190°C
    1 Pak die bete in ‘n oondpan, sprinkel sout en olyfolie oor en oondbraai sowat 40 minute tot gaar en sag. Trek skilletjies af. Sny in stukke.
    2 Rangskik die roket op ‘n slaaibord, stapel die beet en appel in hopies bo-op.
    3 Sprinkel die ui, bloubessies en kaas oor en streep van die slaaisous oor. Rond af met pampoensade.

    AARBEI- OF BESSIE-VINAIGRETTE
    Maak sowat 180 ml (3/4 k)

    125 g aarbeie of gemengde bessies, verpulp met 25 ml (5 t) strooisuiker
    30 ml (2e) witwyn-asyn of lemmetjiesap
    60 ml (4 e) olyfolie
    Paar druppels vissous (opsioneel)
    sout en swartpeper na smaak

    Plaas al die bestanddele vir die slaaisous in ’n voedselverwerker en verwerk tot glad.

    Skep styl met brille

    Weer kan ek my geluk nie glo nie – vir ‘n derde keer in ‘n ry het Spectacle World my “uitgekit” met “trendy” en die mooiste, stylvolle brille – spesiaal uitgesoek deur hul direkteur en oogkundige, Adele Camerana om my gesigtipe te pas. Teen die tyd weet sy al goed wat by my sal goed lyk en waarvan ek hou.

    Met die instap lê ‘n klompie brille reeds gereed op die tafel in die stileerkamer: ek pas op en oe, die een brilraam so mooi soos die ander en almal pas my perfek. Dis moeilik om te kies. Adele is so vrygewig, want ek kan die keer VIER brille kies. Op die ou einde val my keuse op ‘n bonkige Versace, ‘n fyn “tortoise shell” Julia Baker en ‘n pragtige oorgroot groen en ‘n effense “cat eye tortoise shell” bril uit Adele se eie unieke brilreeks, UniqueME. Na ‘n vinnige oogtoets is ek fort, superopgewonde oor die pragtige reeks brille wat saam met die nuwe jaar sommer nuwe lewe in my voorkoms sal bring. Na net twee weke kom die SMS deur ek my brille kan gaan afhaal. My hart bokspring van opgewondenheid en ek laat nie op my wag nie en ry sommer dadelik die middag deur. Die brille pas perfek, maar tog, as ek enige verstellings wil laat maak, kan ek enige tyd weer inloer.

    By die huis staan die brildosies op ‘n ry op my spieëlkas, en telkens “chop ‘n change” ek as ek die kamer inloop. Ek kan nie eintlik besluit waarvan hou ek die meeste nie en die komplimente wat elkeen ontlok, hou net nie op nie. Met die stylvolle brille wat soveel aandag trek, is grimering amper nie eens nodig nie, maar ek vol opnuut weer lus om wel ‘n slaggie ordentlik te grimeer en mooi aan te trek, maak nie saak of ek nou net mall toe ry nie.

    So ja, sonder omhaal trek ek my kruisie by Spectacle World, nie net vir stylvolle brilrame nie, maar kwaliteit Zeiss-lense en uitstekende, vriendelike diens. Hul doen hul slogan: EYE CARE, WE CARE, uit en uit gestand.

    Dankie Adele en jou span vir wat julle aan my menswees doen. Julle is werklik super. Later gaan ek nog bietjie meer uitbrei oor elke brilraam en ook bietjie meer vertel oor ooggesondheid.