Kopskuif – Eet gesonder & lekker

Laas week het ek tog te lekker gekuier saam met ‘n groep vroue wat ‘n baie belangrike rol in ons skole vervul – die administratiewe personeel wat sorg dat die wiele nie afkom by enige skool nie en veel meer is as net die “bustannie” wat die vervoer moet reël. Voormalige skoolhoof, Riaan Truter en sy vrou, Elsa, bied nou al jare lank die Kopskuif-administratiewe werkswinkels aan en vanjaar was daar meer dan 70 afgevaardigdes uit 24 Wes-Kaapste skole. Hier gaan dit nie net soseer oor beter werkspraktyke nie maar veral hoe om hulself te bematigtig in ‘n wye spektrum areas: van gesonder eet en leef tot klerekas- en voorkomsbeplanning met Riaan wat ten einde almal geïnspireer het om jou kop te “ontsmokkel”. Ekself is met ‘n paar waardevolle lesse daar weg.

Gewapen met my Snappy en NutriBullet, ‘n tweetal LeCreuset-panne en ‘n kookspaan of twee; ‘n gekoopte rotisserie-hoender, baaie groente en ‘n hele paar Carmién boksies rooibostee het ek almal vinnig gewys hoe maklik dit is om ‘n gesonde ete of twee aanmekaar te slaan – met een helfte van die hoender het ek ‘n roerbraai gemaak met ‘n tuisgemaakte roerbraaisous en met die ander helfte ‘n heerlike vrugtige slaai opgetop met ‘n kerriemayo-hoender sodat dit as ‘n volledige ete kan dien.

Carmién se rooibostees is nie net daar om gedrink te word nie, maar bevat net so baie gesondheidsvoordele. Boonop kom dit in so ‘n verskeidenheid geurprofiele dat mens dit heerlike kan inspan wanneer jy kook – van die roerbraaisous en pesto tot die slaaisous en ook sommer ‘n goeie skoot by die pot as die lotjie lyk of dit effe droog begin kook.

Soos altyd het die vroue om my demtafel kom staan en heerlik saam geroer, geruik en geproe tussen die kokery deur. Agterna kon hulle proe aan wat ons met ‘n gaar winkelhoender kon optower. As bonus het Carmién ‘n teestasie opgestel waar elkeen ‘n proeglasie tee kon proe en saam met hul kos geniet, want die tees was spesiaal so uitgesoek om die kosse heerlik te komplimenteer.

Die resepte wat ek daar gedemonstreer het, is ‘n sameflansing van ‘n verskeidenheid resepte uit my nuutste boek, Lekker&Goed. Gaan loer op die Carmién-webtuiste vir ‘n kopie of kyk andersins by boekwinkels. Ek weet Bargain Books het nog ‘n klompie.

As jy wil hê ek moet ook julle ook ‘n bietjie touwys kom maak oor hoe om op ‘n maklike (en bekostigbare manier) gesonder etes op tafel te sit, kan julle gerus met my kontak maak by: carmenniehaus@carmientea.co.za. Ek kuier graag die hele land vol.

VINNIGE ROERBRAAI

Hierdie roerbraai kan warm of koud voorgesit word as ‘n heerlike slaai. Pleks van grondbone oorsprinkel kan jy die grondbonesous laastens oorgieGenoeg vir 4 mense
Bereiding: 30 min
Gaarmaaktyd: 20 mint. Vir ‘n ander geurprofiel kan jy koljanderpesto deurroer terwyl jy roerbraai (resep verskaf).

ROERBRAAISOUS
2 knoffelhuisies, fyngerasper
5 cm stuk gemmerwortel, fyngerasper
60 ml (1/4 k) sojasous
30 ml (2 e) vars lemmetjiesap
15—30 ml (1—2 e) heuning of suiker of versoeter
45 ml (3 e) sesamsade
Klein handvol gekapte koljanderblare
Sout
sowat 60—80 ml (¼-⅓ k) RESTORE (lemongrass & ginger & moringa ) of REVIVE (ginger & chilli) van Carmién
GROENTE
1 ui, in ringe gesny
45 ml (3 e) olie of klapperolie
375 ml (11/2k) blomkool- of broccoliblommetjies
¼ van ‘n kopkool, wit of rooi, in dun repies gesny
1 soetrissie, rooi of geel of selfs groen, in dun repies gesny
2 wortels, geskil en in julienne-repies gesny
HOENDER
Halwe rotisserie-hoender, ontvel en ontbeen en in stukkies gebreek
VOORSIT
250 g eiernoedels, gaargemaak volgens die instruksies op die pak
Grondbone of sesamsade en koljanderblare vir bo-oor sprinkel

1 SOUS Plaas al die bestanddele vir die sous in ‘n kastrolletjie, roer totdat dit begin kook en laat dan goed prut. Verwyder van hitte en gebruik soos nodig of koel af en bêre in yskas vir latere gebruik( dit hou sowat 2 weke).
2 Giet kookwater oor die blomkool of broccoli en dreineer.
4 Roerbraai die groente in min olie tot net gaar, maar nog baie bros.
5 Voeg van die roerbraaisous by en meng deur.
6 Voeg die hoender by en verhit tot net warm.
7 Roer die pasta deur, skep uit en sprinkel die sesamsade en koljanderblare oor

KOLJANDERPESTO
20 g koljanderblare
2 knoffelhuisies, geskil
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
60 ml (1/4 k) olyfolie
60 ml (1/4 k) Carmién-rooibostee (REVIVE), gemaak met 1 sakkie
100 g papmpoenpitte of geroosterde sonneblomsade
30 ml (2 e) Nutritional yeast

Plaas alles in die NutriBullet en kap fyn.

GRONDBOONTJIE-SOUS
250 ml (1 k) grondbone
125 ml (½ k) natuurlike laevet jogurt
hand vol vars koljander, fyngekap
15 ml (1 e) hoisinsous
20 ml (4 t) sojasous
2 knoffelhuisies, fyngekap
2 vars rooi brandrissies, ontpit en fyngekap (opsioneel)
30 ml (1 e) vars suurlemoensap, of meer na smaak
30 ml (2-4 e) warm Carmién brandrissie-en-gemmer-rooibostee (REVIVE), of meer soos nodig

Meng al die bestanddele saam.

Meer as net pap

Hawermout is veel meer as pap vir ontbyt. Met al sy goeie hoedanighede word dit al hoe meer ingespan vir wanneer jy gesonder wil eet. Ek bak van ‘n heerlike outydse piesangbrood tot ‘n byderwetse minder koolhidraat saadbrood daarmee.

Ek roep net wonderlike herinneringe op van Ma se varsgebakte plaasbrood met botter en groenvye waarmee ons op ‘n Vrydagmiddag terug by die huis begroet is. Ek het ‘n verknogtheid aan brood, so dis iets wat ek nie sommer vaarwel sal kan roep nie, daarom is ek gedurig op soek na gesonder alternatiewe. Hierdie hawermoutbrood was die naaste aan ‘n volgraan-roerbroodjie wat ek tot nog toe teëgekom het.

Op die plaas is ons ook Saterdagmiddae baie keer verras met ‘n vars piesangbrood of gemmerbrood of selfs dadelbrood – die ene suiker en botter. In my nuutste boek, Lekker&Goed is daar ‘n verskeidenheid gesonder teebrode, ook een vir ‘n hawermout-teebrood met heelwat minder botter en suiker, maar heeerlik. Net die resep om die ryp piesangs wat nou al vir ‘n tydjie vir my lê en loer in my yskas, in iets lekkers om te tower en reg vir vanmiddag se teetjie op die stoep wanneer ons ‘n slaggie ‘n breek vat tussen al die werkery deur.

Op sosiale media sien ek veral ook deesdae hoe ruimskoots hawermout ingespan word in gebak — dis wortelkoek en muffins, plaatkoekies, wafels, hawermoutkoekies; noem maar op.

Nou die dag by ‘n kookklas wat ek vir ‘n klompie vroue op Stellenbosch aanbied, vra ‘n dame my waarmee sy amandelmeel in laer koolhidraat gebak kan vervang. En dadelik dink ek aan hawermout, want dit word nou ook gesien as deel van die bestanddele wat jy matig van veral ‘n vegetariese diëet kan gebruik as jy ‘n laer koolhidraat-diëet wil volg. Mens moet net ingedagte hou dat gewone hawermout, alhoewel dit glutenvry is, partykeer gekontamineer is met gluten vanaf ander koringprodukte as dit verwerk word. So as jy glutensensitief is, moet jy soek spesifiek na glutenvrye hawermout. Al wat ek doen is om die hawermoutvlokkies in die voedselverwerker fyn te kap en dit dan as meel in te span.

Hawermout sorg nie net vir baie onoplosbare vesel in jou diëet wat goed is vir jou spysverteringstel (gut) nie, maar bevat boonop ook oplosbare vesel wat help om cholesterol te verlaag, dit het ook heelwat proteiene en mikronutriente soos onder andere yster, magnesium, sink en B-vitamiene.

Nog ‘n bonus, ek bak hulle sommer in die Airfryer. Die broodjie vries ook goed.

PIESANG-HAWERMOUTBROOD
Lewer 1 teebrood
Bereiding: 20 min
Baktyd: 1 uur

500 ml (2 k) hawermout
10 ml (2 t) koeksoda
5 ml (1 t) sout
5 ml (1 t) fyn kaneel
2 eiers
5 ml (1 t) vanieljegeursel
2 ryp piesangs, fyngedruk
125 ml (1/2 k) tertappels, fyngedruk tot ‘n moes
125 ml (1/2 k) natuurlike jogurt
60 ml (1/4 k) olie
180 ml (3/4 k) suiker of versoeter
250 ml (1 k) grof gekapte pekanneute

Voorverhit die oond tot 170°C. Spuit ‘n medium broodpan met kossproei.
1 Plaas die hawermout, koeksoda, sout en kaneel in ‘n voedselverwerker en kap fyn.
2 Klits die eiers en voeg die vanieljegeursel, piesangs, tertappels, jogurt, olie en suiker by.
3 Voeg by die hawermoutmengsel en meng goed.
4 Meng die neute in en skep in die voorbereide broodpan. Bak sowat ‘n uur tot gaar.
5 Sit voor met botter.

HAWERMOUT-SAADBROOD
Die lekkerste, maklikste meellose saadbrood wat ek nog geproe het.

Maak 1 medium brood
Bereiding: 15 min
Baktyd: 40—50 minute

625 ml (21/2 k) hawermout
250 ml (1 k) gemengde sade, insluitend sonneblom-, pampoen-, sesam- en lynsaad
60 ml (1/4 k) psylliumvesels
12,5 ml (21/2 t) bakpoeier
5 ml (1 t) sout
4 eiers
45 ml (3 e) klapperolie, gesmelt
250 ml (1 k) water
15 ml ( 1 e) appelasyn
gemengde sade of sesamsade vir bo-op sprinkel
VOORSIT
Avokado

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n klein broodpannetjie en voer die bodem uit met bakpapier. Spuit weer.
1 Meng die droë bestanddele goed saam.
2 Klits eiers, voeg klapperolie, water en appelasyn by en klits goed.
3 Voeg by die droë bestanddele en meng goed. Laat staan 10 min tot stewig.
4 Skep in pannetjie, druk effe plat.
Bak sowat 40-50 minute of tot ‘n toetspen skoon uitkom. Sit voor met fyngedrukte avokado.

In lugbraaier: Stel die lugbraaier op bak en verhit tot 180°C. Bak 30 minute lank, bedek die brood na 15 minute met tinfoelie om te keer dat dit te donker bak bo-op.

Smul aan groente (en ‘n nuwe eetprogram)

Ek was nog nooit neusoptrekkerig vir groente nie. Inteendeel die uitbarstige kleure inspireer my om buiten slaaie van oongebakte geregte tot die lekkerste filoterte mee te maak. Met filodeeg werk ek net so graag, dit frummel en vou nes sagte papier in mense se hande, al geheim is jy moet dit effe klam hou. En ons almal weet tog met groente kan mens nooit verkeerd gaan as jy bewustelik meer gesond wil eet nie. As dit boonop lekker is, is dit mos nou glad nie moeilik nie om ‘n gesonder leefstyl te wil uitleef nie. Ek het ook gaan kersopsteek by ‘n dieetkundige om myself opnuut weer te vergewis van porsiegroottes en dies meer.

Vir jare al het ek die gewoonte om aan die begin van die jaar getrou vir ‘n volledige mediese ondersoek te gaan. Ek is nou maar eenmaal nie een wat my wil verlaat op pille of iets om enige mediese toestand in beheer te hou nie en daarom is dit vir my so belangrik om te weet wat aangaan dat ek sodoende my leefstyl kan aanpas as enige van die lesings moontlik aandag sou verg.

Om hierdie dissipline meer getrou toe te pas, hou ek ook daarvan om dit gekontroleerd te doen. So daarom het ek dit goedgedink om ‘n slaggie weer met ‘n dieetkundige te gaan gesels, want alhoewel ek heelwat weet en baie oor gesond eet oplees, besef ek ook dat ek net mooi genoeg weet om wel te weet dat daar nog veel te lere is, veral as dit by die hoeveelheid porsies vir elke kossoort kom. En soos wat ek en Jess de Wet, ‘n klinierse dieetkundige hier van die Weskus, gesels besef ek ook net weer opeens dat dit ‘n gebalanseerde eetprogram (sonder te veel foefies en faffies en uitsluitings) is wat op die ou end die knoop gaan deurhaak. Hiermee kan ek my fleksitariese leefstyl gemaklik uitleef – vegetaries eet as ek lus het, maar ook aan ‘n vleisie of twee (en brood) smul soos ek lus het en die program dit toelaat.

Gewapen met ‘n uitgebreide lys van toegelate porsies per voedselgroep, gaan trek ek vir my ‘n blokdiagram op waarop ek maklik kan aandui hoeveel ek van wat eet. En ek is opgewonde oor my nuwe kosreis, waar ek voortaan met porsies in gedagte resepte gaan ontwikkel en kosmaak.

Meer hieroor gaan ek jul later meer vertel. Intussen kan ons lekker weglêaan heerlike groente geregte.

FILO-GROENTETERT MET 3 SOORTE VULSELS
Die lekker plat groenteterte maak jy sommer in ‘n bakplaat en sit dit voor soos pizza, in lekker groot blokke gesny. Hier’s 3 vulsels waarmee jy kan rondspeel.
Genoeg vir 8-12 mense
Voorbereiding: 20 min
Gaarmaak: 30—40 min

BASIESE RESEP
4-8 filodeegvelle
250 g geroomde maaskaas
125 ml (½ k) melk
4 eiers
Sout en peper
VULSEL 1
2 houers (16) murgpampoentjies, gerasper
Sout
200 g fetakaas, grof gekrummel
10 g vars dille vir bo-op
VULSEL 2
60 g songedroogde tamatiepesto of koljanderpesto
2 bakkies (125 g elk) baba-roma-tamaties
1 eiervrug, in skywe gesny en gaargebak
150 g swart olywe, gehalveer
1 rooi soetrissie, in blokke gesny
100 g baba-spinasieblare
200 g mozzarella-kaas, gerasper
Basilieblare vir garnering
VULSEL 3
4 groot rooi uie, in wiggies gesny
3 knoffelhuisies, in repies gesny
250 g botterskorsie, in lang dun repe gesny
30 ml (2 e) olie
15 ml (2 e) bruinsuiker
150 g bloukaas, gekrummel
Paar takkies vars tiemie

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n groot bakplaat (per vulsel).

BASIESE RESEP
1 Spuit elke vel filodeeg met kossproei en pak opmekaar (2 velle langs mekaar indien groot pan) – daar moet minstens 4 velle opmekaar wees. Hou eenkant.
2 Klits die maaskaas, melk en eiers saam, geur met sout en peper en hou eenkant.
Berei die vulsels:
MURGPAMPOENTJIE:
1 Sprinkel sout oor gerasperde murgpampoentjies en laat staan minstens 15 minute in ‘n vergiettes om meeste waterigheid uit te trek. Spoel af en druk droog.
2 Versprei op die kors, giet die maaskaasmengsel oor, sprinkel die fetakaas oor en sprinkel die dille oor.
TAMATIEVULSEL
1 Smeer die pesto oor die kors, pak die vulselbestanddele op.
2 Giet die maaskaasmengsel oor, besprinkel met kaas en basilie.
UIE-BOTTERSKORSIEVULSEL
1 Pak die uie, knoffel, botterskorsie in ‘n oondbak, sprinkel suiker en bietjie olie oor en oondbraai by 200°C tot puntjies net effe geskroei is en groent net gaar, maar nog baie bros is. Laat afkoel.
2 Pak op die kors, giet die maaskaasmengsel oor, sprinkel die kaas en tiemie oor.
3 HOE OM TE BAK Plaas in die oond en bak sowat 30—40 minute of tot die vulsel gestol en die kors goudbruin is.
Kitsvariasie: Smeer songedroogde tamatiepesto oor die filodeegkors. Pak skywe ryp Roma tamaties afgewissel met skywe mozzarella-kaas bo-op. Geur goed met sout en peper, sprinkel oregano oor en rangskik swart olywe tussen-in. Bak sowat 20 minute tot gaar. Sprinkel basilieblare oor.

OONDGEROOSTERDE GROENTE
Vir my is dit die heel maklikste om groente in die oond te druk as ek dit as bykos wil berei. Ek gebruik soms ‘n groenteskiller om groentes soos botterskorsie en patat in linte te sny, dan is dit gouer gaar. Eiervrug sny ek in lang skywe en kopkool in dik steaks. Daarna gee ek dit geur met slaaisouse, pestos, salsa verde of deur selfs ‘n neutkonfetti oor te sprinkel.

GROENTE
4 x 250 ml (4 k) groente, geskil waar nodig en in linte, lang skywe of wiggies gesny
Groep 1: wortel, botterskorsie, patat, rooi en bruin uie
Groep 2: eiervrug, rooikool, blomkool, broccoli, murgpampoentjies, rooi soetrissie en bruinsampioene
45 ml (3 e) olyfolie per oondpan
2 heel knoffelbolle, gehalveer
Paar roosmaryn- en tiemietakkies
Seesoutvlokkies en varsgemaalde swartpeper
SLAAISOUS
Neuterige slaaisous of salsa verde (sien onder)
AFRONDING
Paar roketblare
VOORSIT
250 ml (1 k) Quiona, bulgurkoring of koeskoes
250—500 ml (1—2 k) groenteaftreksel
Koljanderpesto (opsioneel)

Voorverhit die oondpan tot 200°C. Smeer 2 oondpanne.
1 GROENTE Pak die groente uit groep een eerste in die oondpan, voeg olyfolie by en meng deur met jou hande. Voeg die knoffelbolle by en pak die kruietakkies bo-op. Geur met sout en peper. Bak sowat 30 minute tot die groente sag en gaar, maar nie pap is nie.
2 Pak die groente uit groep 2 na sowat 15 minute in enkellaag in ‘n ander oondpan, giet olyfolie oor en meng deur met jou hande. Pak kruietakkies op, geur met sout en peper. Oondbraai sowat 15 minute tot net gaar.
3 Pak die groentes op ‘n groot dienbord en giet die neuterige slaaisous of die salsa verde oor.
4 Sprinkel die roket of stingeluie net voor opdiening oor.
5 VOORSIT Vir quinoa: Spoel die quinoa goed af en kook in 500 ml (2 k) groente-aftreksel vir 15 minute of tot sag.
Vir koeskoes en bulgur: Giet 250 ml (1 k) kokende groenteaftreksel oor die koeskoes of bulgur en laat staan tot sag en uitgepof. Maak los met ‘n vurk.

Variasie: SOET OONDGEROOSTERDE GROENTE: Sny botterskorsie, wortel, en patats in skywe, sprinkel fyngedrukte knoffel en sout oor. Giet lemoenslaaisous oor:

LEMONSLAAISOUS
125 ml (1/2 k) lemoensap
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
30 ml (2 e) olyfolie
2 knoffelhuisies, fyngedruk
15 ml (1 e) korrelmosterd of Dijonmosterd
15 ml (1 e) heuning
45 ml (1 e) vars gekapte pietersielie en koljanderblare
Sout en peper na smaak
Meng al die bestanddele saam.

NEUTERIGE SLAAISOUS
125 ml (1/2 k) amandels, pekan- of kasjoeneute
30 ml (2 e) sonneblomsaad, gerooster
1 knoffelhuisie, fyngedruk
2 stingeluie, gekap
45 ml (3 e) sterk groen rooibostee (Carmien)
60 m l (1/4 k) olyfolie
15 ml (1 e) suurlemoensap

Meng al die bestanddele in die voedselverwerker en verwerk tot growwerig fyn.

SALSA VERDE
2 knoffelhuisies
5 agurkies, kleiner gesny
10 kappertjiesade
180 ml (3/4 k) pietersielie
250 m l(1 k) vars basilieblare
5 ml (1 t) Dijonmosterd
Sap en skil van 1 groot suurlemoen
60 m l (1/4 k) olyfolie
Sout en swartgemaalde swartpeper

Plaas al die bestanddele in die voedselverwerker en kap fyn.

‘n Dag in my lewe as kosskrywer en stilis

So baie keer word ek die vraag gevra hoe gaan ons te werk wanneer ons resepte ontwikkel, maar veral ook hoe ons die mooi prentjies maak wat op die ou einde die ‘wow’-effek in ‘n tydskrif of op sosiale media moet hê.

Resep-ontwikkeling, maar veral stilering was nog altyd een van my groot liefdes. Al begin ons dag hoe vroeg en maak laataand eers klaar, raak ek nie sommer moeg of uitgeput of siek en sat nie. Die bevrediging as ‘n foto werk, is net te lekker. Verlede week vat ek weer ‘n slag die pad Kaap toe om te gaan skiet in die Media24-gebou. Die plek wat vir 32 jaar vir my soos ‘n tweede huis gevoel het. En dis hoe ek te werk gaan om te sorg dat daar 8 verruklike resepte, wat nie net mooi lyk nie, maar ook heerlik smaak, hul opwagting maak – my opdrag die keer is om VYE te skiet.

Die beginpunt is om idees en inspirasie te soek – en ek raadpleeg nie sommer die internet of sosiale media nie. Daarvoor is my skatkis van resepteboeke wat ek oor jare bymekaar gemaak het, darem net te waardevol. My oog gly oor my oorvol boekrakke waar die boeke eens op ‘n tyd netjies in gelid gestaan het, maar nou met taamlik navorsing wat ek die afgelope tyd moes doen al weer heelwat stapeltjies opgelewer het wat weer hul plek in die rye moet gaan vind. Ek ken nou reeds die skrywers en boeke waar ek resepte wat met die tema te doen het, kan opspoor en trek die Ottolenghi’s, verskeie Franse en ander resepteboeke nader, maar tog is dit my eie resepteboeke – verskeie Wenresepte en die Carmen 100 Beste asook Lekker&Goed-boek waarin ek verskeie beproefde resepte vind wat ek kan gebruik vir die vye-storie. Ek maak die hopie bymekaar. Op die ou einde ‘n goeie 21 boeke.

Dan gaan maak ek vir my ‘n heerlike pot tee, een van my gunsteling Carmién-rooibostees, en as die wind nie te veel waai nie, verkas ek stoep toe (andersins sommer op die bank in die studio) waar ek die hopie stelselmatig begin deurwerk. Sit plakkertjies (soos ek julle al voorheen vertel het) by resepte wat ek dink mag werk en maak aantekeninge – ‘n resep vir ‘n kors hier, in ‘n ander boek vir ‘n vulsel. Kyk na verskeie kombinasies van bestanddele wat mag werk vir ‘n lekker slaai en marinade vir vleis. En so werk ek die stapeltjie deur. Kyk sommer terselfdertyd vir idees vir stilering.

UIteindelik skryf ek soos 12/10 idees neer wat ek dink VYE goed tot hul reg sal laat kom en goeie balans tussen soet en sout het. Dié word dan voorgelê aan die leefstyl-redakteur.

Ek skuif agter my rekenaar in en begin uit die idees my eie resepte skryf en maak aanpassings so ver ek gaan. Nou moet die bestanddelelyste opgestel word en daarna verkas ek winkel toe. Hier word die resepte weereens verander soos bestanddele beskikbaar in die winkel my gedagtes vleuels gee.

Met die bestanddele netjies uitgepak op die eetkamertafel en die koel goed in die yskas, begin die groot kokery. Ek maak alles so ver as moontlik die vorige dag klaar sodat die kookwerk op die skietdag net die laaste afronding verg. Maar met alles werk dit nie so nie – vir ‘n slaai kan jy hoogstens die slaaisous berei en ‘n meringue mag straks net pap trek of in stukkies breek as jy dit te lank voor die tyd maak maak. Soos ek aangaan, maak ek noukeurig aantekeninge van die veranderinge wat ek tydens hierdie kooksessie aanbring – partykeer kan dit nogals drasties wees. Teen donkeraand is dit nog slegs die kaaskoek wat gebak moet word, maar o aarde, met die dat ons deesdae sonkrag het wat ons krag aanvul, het ek so bietjie vergeet van load shedding, so die oomblik toe ek die oond (en die ketel en ek dink êrens het ‘n wasmasjien ook nog geloop) aansit, is dit een te veel en sit ons net daar in stikdonkerte, met ‘n koek in die oond wat moet bak. Geduld is nou maar al ding en laataand, toe die krag uiteindelik weer aan is, kan

die koek ook uiteindelik klaar bak. Benewens al die trauma wat die koek beleef, kom hy nie te sleg uit nie.

Intussen pak ek die koelsakke en kratte met alles wat moet saam Kaap toe. Dit verg mooi kophou, want van die klister vir die meringue tot die sout, eiers en meel vir alles wat nog gemaak moet word, asook die kruie en ander mooimaakgoed moet in. Dan is dit die props se beurt. Dié pak ek in sakke met hope vadoeke en lappe tussen-in, die ou-ou vleisbord wat ek op Prins Albert nog gekoop het tot die eeuoue Delft-koekstaander word saam met meer moderne borde met opstaanrande van Mervyn Gers netjies toegevou.

Donkeroggend begin die laaiwerk. Die Jimny se kattebak het veel meer pakplek as wat ek aanvanklik gedink het en ons laai die oorgroot teëls, wat as agtergronde moet dien eerste in, dan die kratte en koelsakke. Voor by Brighton se voete kom die emmer met vars vyetakke wat ek die vorige aand by die vrou in die groot withuis in Long-Acres met die swart swane in die dam, gaan afbedel het.

By die Media24-gebou aangekom is dit afpak, maar eers inteken by ontvangs. Die trollie wag onder by sekuriteit. Swaar gelaai begin die tog twintigste vloer toe, maar o wee, die trollie het ‘n wil en weg van sy eie. UIteindelik maak die groot glasdeure op die twintigste vloer oop en kan ons weer begin uitpak. Koel goed in die yskas, bestanddele op eiland een, klaar goed op die ander, props in die cafeteria-gedeelte wat vandag sommer as studio gaan dien.

Met ‘n koffie in die hand, praat ek en die fotograaf die resepte deur, besluit finaal op watter props ons vir watter gereg sal gebruik en wat die “angle” sal wees waarteen ons gaan skiet.

Ek klits gou die meringue klaar dat die in die oond kan kom en Brighton begin met die ribbetjie. Dan staan ek “studio” se kant toe om met die eerste foto te begin. “Top shots” is eerste aan die beurt en die donker teël word reggeskuif. Ons skiet eenvoudig vandag, slegs die kos met die vyeblare en groen vytjies wat die nodige invulwerk hier en daar doen. Die fotograaf maak “magic” met die lig. Ons skuif hier, faf daar, sprinkel blaartjies oor; dis nie sommer net vir neersit en skiet nie. Gelukkig is dit deesdae makliker met digitale fotografie waar jy dadelik kan sien wat jy gedoen het en nie meer soos in die ou dae toe ons die poleroid vir ‘n tyd onder die arm moes druk om te ontwikkel om ons te vergewis van die stilering nie. Uiteindelik is ons tevrede met foto 1, vat die gereg weg en foto 2 volg. Selle storie. Aanvanklik pak ons alles mooi weg en hou die kombuis redelik netjies, maar soos die dag aanstap, tree effense chaos in. Tussen die skietery deur moet ek kophou van watter veranderinge aan resepte aangebring is en teken dit noukeurig aan. Skemeraand, met almal lankal huis toe, is ons uiteindelik klaar geskiet. Nou is dit weer vir opwas, skoonmaak, wegpak en regpak, oppak, trollie afstoot Jimny toe waar alles weer in die kattebak moet pas. Moeg maar tevrede pak ons die pad aan terug Weskus toe. By die huis is dit afpak en wegpak, maar vanaand slegs die nodigste. Môre sal alles weer mooi sy plekkie kry. Nou moet die resepte nog aangepas en netjies reggeskryf word, die storie moet ‘n intro kry en dan aangestuur word vir die leefstyl-redakteur. Paar dae later kom die eerste bladuitlegte aan. Ek kontroleer vir oulaas dat die resepte reg en daar nie bestanddele of ‘n metode uitgelaat is nie. Dan volg die Engels. Selfde storie. Ek kan nie wag dat die storie in die tydskrif moet verskyn nie. Hou Huisgenoot en YOU dop vir die volgende week of twee om my jongste storie oor vye daarin te kry.

Gevulde hoenderpakkies

Aandkos is meningmaal ‘n kopseer in baie huishoudings, veral as dit ‘n besige dag was. Hoenderborsies is altyd ‘n uitkoms. Hier omenby middag se kant haal ek die pak bevrore borsies uit die vrieskas, dan is dit net genoeg ontvries vir aandete. Die retro Corden Blue-gereg pas ek aan met ‘n groente-en-kaasvulsel, rol dit in sorghummeel en braai dit tot brosbruin, maar steeds sappig. ‘n Tamatie-sambal is al wat verder nodig is daarby.

My man verklaar nou die aand hy is ‘n slaggie weer lus vir Corden Blue, ja daardie tipiese retro gereg van die ham-en-kaas gevulde skyfies vleis, eintlik kalf- of vark, maar baie keer word dit ook met hoender gemaak. Nou ja, tipies ek, is ek geensins gegear vir daardie hele gedoente van die vleis eers in eier, dan in meel, weer in eier en dan oplaas in krummels te rol om boonop dit in diepvetolie te braai nie. Diepvetolie-braai was nog nooit my ding nie en sal ook nooit wees nie.

Maar dit sit my tog aan die dink. Ek het immers ‘n pak hoenderborsfilette uitgehaal om te ontdooi, gedink ek sal ‘n vinnige roerbraai of iets dergliks vir aandete prakseer.

Ek gooi ‘n vinnige oog deur my yskas om te sien wat ek as moontlike vulsel kan gebruik – want hierdie moet nou sommer ‘n alles-in-een ete wees met die nodige groentes in die vulsel ingewerk pleks van net ham en kaas. Daar’s ‘n paar soetrissies, bruin sampioene en natuurlik ‘n pak spinasie. Saam met ‘n gekapte rooi ui, bietjie knoffel en gerasperde kaas is dit meer as genoeg vir ‘n heerlike, dog voedsame vulsel.

Die hoender vlek ek vinnig sommer so oorlangs oop, skep bietjie van die gebraaide vulsel op en steek dit toe met ‘n peuselstokkie of twee. Ek het uit meel uit gehardloop, maar gelukkig ontdek ek die boks met sorghummeel onder in die kas waarin ek die hoender kan rol – geen gesukkel eers met in eier en dan meel en dan krummels nie. Die sorghummeel gee ‘n heerlike neuterige dun korsie wat mooi bruin braai (ek verkoel dit nie eens vooraf nie).

Ek maak eers my Le Creuset-pan lekker warm op die gasplaat voordat ek ‘n bietjie olie ingiet. Toe die goed warm is, plaas ek die hoenderborsies daarin en los hulle om mooi bruin te braai. Dan flip ek hulle om vir die anderkant se bruinbraai en sit terselfdertyd die deksel van die pan op sodat dit kan gaar stoombraai – dit sorg dat die hoenderborsies nie droog braai nie, maar lekker sappig bly.

Terwyl die hoender salig lê en braai in die pan, maak ek gou ‘n salsa van gekapte tamatie en rooi ui met ‘n spatsel asyn oor… en dan is ons reg om aan te sit.

GEVULDE HOENDERPAKKIES
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 15 min
Gaarmaak: 20 min

VULSEL
1 ui, fyn gekap
2—3 knoffelhuisies, fyngedruk in ‘n stamper met vysel
2 geel of rooi soetrissies, in stukke gesny
Sowat 4 bruin sampioene, in skyfies gesny
Sowat 6 spinasieblare, fyn opgesny (sonder die stingels)
50 g wit Cheddarkaas, gerasper
HOENDER
4 hoenderborsfilette
Sout en peper of hoenderspeserye
Witbroodmeel of sorghumeel om in te rol, liggies gesout
Olie om in te braai
SALSA
2 tamaties, gekap
Halwe rooi ui, gekap
4 basilieblare
Paar spatsels balsamieke asyn
Sout en peper na smaak

1 Braai die ui, soetrissie en sampioene in ‘n bietjie verhitte olie tot sag. Voeg die spinasie by en verhit tot verwelk.
2 Skep uit in ‘n bakkie, laat effe afkoel en voeg die kaas by.
3 HOENDER Sny die hoender oorlangs oop, maar nie heeltemal deur en kap effe platter met jou handpalm. Geur met sout en peper en hoenderspeserye.
4 Skep ‘n hopie vulsel op een kant van die hoenderfilet, vou die ander kant oor en steek die oop kant met peuselstokkies toe.
5 Rol die hoenderpakkie in meel. Herhaal met res van die hoender en vulsel.
6 Verhit die olie in ‘n groot pan met ‘n deksel tot goed warm, plaas die hoenderpakkies daarin en braai tot goudbruin onder. Draai om, braai effens.
7 Bedek met die deksel en stoombraai verder tot die hoender dwarsdeur gaar maar nie droog is nie.
8 Skep uit op ‘n dienbord.
9 SALSA Meng al die bestanddele en sit voor saam met die hoenderpakkies

Smul aan ‘n melktert

Al is dit ‘n snikheet warm dag op Langebaan oorval ‘n groot lus vir melktert my laas Sondag en net daar besluit ek dis sommer ons Sondagmiddagpoeding. Nie dat dit iets nuuts is vir ons nie, ons geniet graag ‘n snytjiie melktert op ‘n Sondagmiddag, hetsy as poeding of so teen laatmiddag se kant nes die son begin water trek oor die meer en mens vir oulaas die rustigheid van die Sondag wil geniet voor almal weer koers kies en skarrel om alles in plek te kry vir die komende week.

Aan melktertresepte het ek geen tekort nie en het oor die jare verskeie variasies uitgetoets. Soos die outydse trefferresep van Peter Veldsman waar hy breedvoerig beskryf hoe die tertbord met skilferkors uitgevoer moet word. Dié diep ek op uit die trefferboek, Huisgenoot wenresepte 2000, gunstelinge van toeka tot nou wat ek met die draai van die eeu saamgestel het. En dan is daar my tannie Marina se ‘go-to’ resep vir melktert met ‘n smeerkors en die vulsel gemaak met boksie-melk wat my kleinsus Aletta menigmaal moes maak vir Sondagmiddagtee op die plaas. Tog telkens, as ek moet melktert maak, val my keuse op die resep wat ek nog by die befaamde kosskrywer, Mariette Crafford gekry het wat met ‘n amandelkors gemaak word. Geensins tradisioneel nie, maar vir my smullekker.

Ek is net so gaande oor die klein Portugese melktertjies, pastis de nata en dis meestal my keuse as ek ietsie soets by ‘n bakkery koop. Maar deesdae is die stropie wat daarin kom net te soet vir my en het ek ‘n spesery-melktertjie bedink wat baie hieraan herinner maar sonder die vreeslike soet is. Wat ek veral graag doen, is om die melk geur te gee met ‘n spesery-rooibosteesakkie – om meer spesifiek te wees Focus van Carmién. Dan kry jy op die koop toe ook daardie heerlike soet rooibosteesmaak.

SPOGGERIGE MELKTERT

AMANDELKORS
180 g botter
125 ml (1/2 k) strooisuiker
5 ml (1 t) vanieljegeursel
70 g fyngemaalde amandels
2 eiergele
380 ml (ruim 11/2 k) koekmeel
Knippie sout
VULSEL
150 ml (2/3k) koekmeel
50 ml (1/3 k) mielieblom
50 ml (1/3 k) vlapoeier
200 ml suiker
1,25 liter (5 k) volroommelk
2 stukke pypkaneel
3 ekstragroot eiers, geskei
50 g botter
7 ml (11/2 t) vanielje- of amandelgeursel
Fyn kaneel

Voorverhit die oond tot 200°C. Smeer ‘n 30 cm veerklampkoekpan of spuit met kossproei (andersins gebruik 2 kleiner tertborde)
1 KORS Verroom die botter en suiker tot lig en romerig. Voeg die vanieljegeursel en fyn amandels by en meng goed. Voeg die eiergele, meel en sout by en meng tot ‘n sagte deeg. Bedek en verkoel 10 minute.
2 Rol uit en voer die koekpan uit. Laat 10 minute rus in die yskas, prik die kors en bak tot liggoud, sowat 10 minute. Verwyder uit die oond
3 VULSEL Meng die meel, mielieblom en vla en die helfte van die suiker. Roer 125 ml (1/2 k) melk by.
4 Verhit die orige melk met die kaneelstokke tot net onder kookpunt.
5 Voeg sowat 125 ml (1/2 k) van die kookmelk by die meelpasta, meng goed en roer die gladde pasta stadig by die kookmelkmengsel in. Verhit tot die mengsel kook en verdik, roer gedurig. Verwyder die kaneelstokke
6 Klits die eiergele en orige suiker goed saam, voeg bietjie van die warm melkpap by die eiergele en meng. Voeg dan die eiergeelmengsel by die orige melkpap in die kastrol en meng goed. Verhit oor lae hitte en laat net kook, roer gedurig. Roer die botter en geursel by. Laat effens afkoel.
7 Klits die eierwitte styf en vou by die mengsel in. Giet in die kors en bak sowat 30 minute of tot dit hier en daar bruin sproete het bo-op.
8 Bestuif met kaneel en laat staan tot louwarm en stewig.

SMEERKORS: Klits 125 g botter en 80 ml (1/3k) suiker tot lig en romerig. Voeg 1 eier by en klits goed. Sif 280 ml (1 hoogvol koppie) bruismeel by en meng goed. Smeer dit met ‘n mes op die boom en teen die kante van tertborde.

FILO-SPESERYMELKTERTJIES

‘n Eenvoudiger weergawe van die bekende Portugese tertjies, pastis de nata. Die melkvulsel is heerlik gespesery. Ek gebruik baie keer 3 sakkies van Carmién se chai-rooibosteesakkies (Focus) pleks van die speserye. Saam met die heerlike speserysmaak kry jy die bonus van eg Suid-Afrikaanse rooibostee. Heeeerlik!

Maak sowat 9—10 tertjies
Bereiding: 30 min
Baktyd: 30 min

ROOMMENGSEL
250 ml (1 k) volroommelk
125 ml (½ k) dun room
1 kaneelstok
3 kardemompeule
1 steranys
2 lourierblare
2,5 ml (½ t) vinkelsaad
KORS
5 velle filodeeg
Gesmelte botter
Kaneelsuiker vir oorsprinkel
VULSEL
4 eiers
60 g witsuiker
45 ml (3 e) mielieblom
sout
BOLAAG
Strooisuiker vir bo-oor sprinkel

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit 9—10 holtes van ‘n muffinpan goed met kossproei.
1 ROOMMENGSEL Trek eerste die speserye in die melk: Giet die melk en room in ‘n glasbak en voeg die heel speserye by. Verhit sowat 1—2 minute in die mikrogolfoond tot net onder kookpunt. Verwyder uit die oond en laat staan om af te koel. Dreineer dan deur ‘n sif.
2 KORS Vou elke vel filodeeg oorlangs in die helfte, herhaal nog ‘n slag. Sny nou oop langs die voukante – ek gebruik sommer ‘n skêr sodat ek lang repe het. Sny die repe in twee blokke (ek stapel sommer ‘n klompie opmekaar op ‘n slag).
3 Smeer elke blok filodeeg met gesmelte botter en pak 2 blokke in elk van die muffinhotes. Bestuif met kaneelsuiker en plaas nog twee filoblokke bo-op. Bak sowat 10 minute tot net gaar maar nie bruin nie.
4 Klits die afgekoelde melk, eiers, suiker, mielieblom en sout goed saam. Giet elke filobakkie goed vol, sowat 50 ml in elk.
5 Bak 25—30 minute of tot die vulsel net gestol is.
6 Laat afkoel en sprinkel bietjie strooisuiker oor. Brand met ‘n kombuisvlam tot effe gebrand.

Verleidelike sjokoladekoek

Die ontslape kosskrywer, Neil Stemmet, wat die befaamde Sout en Peperboeke geskryf het, was van my vroegste jare as kosredakteur een van my groot kosvriende. Saam met hom het ek vele kostoere, veral deur sy geliefde Kalahari deurgemaak en ook vele Kalahari-kuierfeeste beleef en ware kos-kos geniet by sy gewilde restaurant, LeMust op Upington.

Met ons gesin se Kalahari-kuiers aan die Kalagadi-oorgrenspark (wat ons baie gereeld besoek), het Neil se statige gastehuis teen die Oranjerivier op Upington ons oornagplek geword voordat ons die rooi sand en safarilewe van die park aangedurf het. Ons is bederf met allerlei klein luukshede en het altyd ‘n punt daarvan gemaak om by LeMust te gaan eet. Die voorbroodjies (klein roosterkoekies met ‘n vulseltjie binne-in) was ‘n heerlike welkomhappie voordat ons kon wegval aan sy egte Kalahari-spyse, keurig voorgesit met die kosse uit die omgewing. Dis ook hier waar ek die Oranjerivier-modderpoeding vir die eerste keer geproe het  — dié kluitjierig klam egte sjokoladekoek wat Neil voorgesit het met wildebessies. Doodreg vir ‘n Valentynsbederf!  

Maar as kleiner happies meer jou ding is, maak indruk met die bruintjies – jy kan dit netjies in blokkies sny of andersins in bonkige stukke breek vir ‘n bietjie andersheid. Ek sprinkel roosblare oor die bruintjies vir ekstra mooi en gepas vir Valentynsdag.    

KARAMEL-MODDERKOEK
Karamelkondensmelk bo-oor die koek geskep, sorg vir ekstra lekkerte en die bladgoud vertoon alte spoggerig.
Maak 1 bundt-koek
Voorbereiding: 20 min
Baktyd: 25—35 min

KOEK
6 eiers, geskei
90 ml (¼ k) strooisuiker
250 g donker baksjokolade, in blokkies gebreek
100 g ongesoute botter
100 g haselneute of amandels, grofgekap in die voedselverwerker
AFRONDING
Helfte van 1 blik (387 g) karamelkondensmelk
Kakao en/of bladgoud

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n bundtpan goed met kossproei en stuif met kakao.
1 Klits die eiergele en strooisuiker saam tot lig en romerig.
2 Smelt die sjokolade en botter saam in ‘n glasbak oor ‘n kastrol met kookwater of in die mikrogolfoond. Roer elke nou en dan.
3 Voeg die gekapte neute by die sjokolademengsel en meng liggies deur.
4 Klits die eierwitte styf en vou by die sjokolademengsel in.
5 Skep die beslag in die koekpan.
6 Plaas die pan in ‘n oondpan wat halfpad met kookwater gevul is. Bak sowat 25–35 minute of tot gaar. Dit sal nog baie klam wees.
7 Laat afkoel in die pan en keer dan versigtig uit op ‘n koekstaander.
8 Klop die karamelkondensmelk tot glad en skep oor die koek, stuif met kakao en/of rond af met bladgoud.

BRUINTJIES
Jy kan die bruintjies in ‘n koekpan bak en in blokke sny of dit in ‘n bakplaat bak en dan sommer in stukke breek. Heerlik klam, gemaak met egte sjokolade en baie neute. Ek’s veral versot op die lae koolhidraat-variasie.
Maak—16 stukke
Voorbereiding: 10 min
Baktyd: 12 min

BRUINTJIES
150 g donker sjokolade
100 g botter
3 eiers
250 ml (1 k) strooisuiker
80 ml (⅓ k) koekmeel
5 ml (1 t) bakpoeier
80 ml (⅓ k) kakao
Knippie sout
100 g pekanneute, gekap

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n groot plat bakplaat en stuif met kakao.
1 Smelt die sjokolade en botter. Verkoel effe.
2 Klits die eiers en strooisuiker tot lig en vou die sjokolademengsel hierby in.
3 Sif die meel, bakpoeier, sout en kakao saam en vou in by die sjokolademengsel saam met neute.
4 Skep in die voorbereide pannetjie, smeer gelyk en bak 10—12 min tot net gaar.
5 Breek in stukke en sit voor saam met roomys en sjokoladesous indien verkies.
Wenk: Roer ‘n bietjie gekapte gemmerstukke by die mengsel in voor jy dit bak.

LAE KOOLHIDRAAT-BRUINTJIES

Voorverhit die oond tot 180°C. Voer ‘n 20 cm-vierkantige koekpan uit met bakpapier.

Klits 100 ml olyfolie en 100 g xyilitol saam tot effe romerig. Voeg 100 ml Griekse jogurt, 100 g donker sjokolade, 70%,  wat in stukkies gebreek is, 160 ml (⅔ k) appelpuree, 4 geklitste eiers, 150 g fyn amandels, 10 ml (2 t) bakpoeier, 50 g kakao en 150 g gekapte, gemengde neute by. Meng goed.  Skep in die pan, maak gelyk en bak sowat 20 minute tot gaar maar steeds effe wobbelrig in die middel. Laat afkoel in die pan en sny in blokkies. Sif kakao oor.

Pad na jou hart

Met die vrystelling van die Huigenoot-fliek, Vergeet my nie, besluit ons om ook die kosliefdes van Mardaleen en Hugo Derks van Gobabis, Namibië se liefdesreis neer te pen – van hul sorgelose studentedae in Potchefstroom, hul tyd in Londen en uiteindelik Namibië waar hulle nesskop op ‘n plaas tussen die koppies en uitgestrekte vlaktes.  Ek epos vir Mardaleen en kry ‘n heerlike geselsbrief terug waarin Mardaleen uitwei oor hul wedervaringe en hoe dit kos was wat die liefdesvlam hoër laat brand en wat vir ewig ingeprent gebly het in hul onthou-arsenaal. Sy vertel van die Wille Dingo-braaibroodjie wat hulle as studente in Potchefstroom geniet het en hul gunsteling Doner Kebab waarvoor hulle moes raap en skraap na ‘n aandjie uit in Londen voor hulle in die vroeë oggendure die nagbus terug huis toe geneem het. Hulle hou van avontuurlustig eet, vertel Mardaleen, maar in Namibië is dit soms moeilik om “vreemde” bestanddele in die hande te kry. Gobabis is wild- en braaiwêreld so buiten rohack, ‘n Duitse bröchen met rou maalvleis, ui en agurkies op, is murgbene op roosterbrood vir ontbyt en steak met sampioensous hoog op die spyskaart. Met die maak en skiet van die geregte het ons in die toetskombuis saam met hulle gesmul aan die lekker onthoue.

Ek was nog altyd gek na enige groentekoek en kaaskoek en toe daar die uitnodiging kom om ‘n koek te kom bak met die wegspring van die gewilde televisiereeks, Koekedoor, is ek bang-opgewonde, want sien, ek hou nie daarvan om op die spot gesit te word nie. Ek besluit om die twee te kombineer en voel gerus dat dit die ding sal doen, maar gedagtig aan die groot kokkedoor-beoordelaars, voeg ek nog ‘n paar bestanddele by en bedink ‘n plan om die koek imposant te laat lyk – die kaaskoek moet dien as die hart van die koek met kersie op die koek ‘n sjokolade-ganache vir afronding bo-op.

Ek weet daar is ‘n tydsbeperking waarbinne alles moet klaar, so ek oefen die koek ‘n paar keer by die huis. Maar jou eie kombuis en ‘n vreemde kombuis is mos nou twee verskillende goed en dit vat ‘n tydjie (lees heelwat tyd) om jou te vergewis waar is die bakke, meetlepels, klitsers en al so aan. En wat ek so bietjie van vergeet het, is dat die bymekaarmaak van die bestanddele ook deel uitmaak van die tyd. Die tv-kombuis is pragtig, maar die neersitplek min. En ek begin te skarrel, vat dubbel solank net om die basiese groentekoek, wat eintlik net bymekaargooi van bestanddele behels, aanmekaargesit te kry. Nou begin ek myself verwens dat ek die ekstra bestanddele bygevoeg het – die tiemieblaartjies en gemmer se opkap vat nou onnodig lank  — en dan moet die koek boonop nog afkoel ook voor ek die kaaskoekhart, wat moet stol binne-in, kan inskep. O aarde, wat het my besiel wonder ek later kliphard.

Later druk ek daai koeke (nog nie heeltemal deurgebak) in die vrieskas sodat hulle net kan afkoel. Met die inskep van die vulsel, sien ek hier kom groot probleme en dis toe wat ek die sosatiepenne nadersleep en die koek daarmee vaspen. Maar ‘n koue vulsel en ‘n effe warm koek is nou maar eenmaal nie maats nie, so die kaaskoekhart begin “vermurwe” en swymel stadig maar seker uit die koek. Voete van klei kry die koek letterlik toe net daar voor die tv-kameras se oë. Vrieskas toe is maar weer al genade. My nou vrieskaskoek staan krom en skeef tussen al die ander skeppings van die bobaasbakkers voor die beoordelaars en ek weet nie waar om my kop in te druk nie. Die arme koekedoor-deelnemer wat na my dieselfde koek moes bak, sukkel net so. Hopelik het sy my nou al vergewe.

As jy egter tyd het, is hierdie werklik ‘n heerlike koek wat ‘n pad na jou geliefde se hart sal vind en waarmee jy goed indruk kan maak. Daarom het hierdie koek, toe ek my 100 beste resepteboek bymekaar moes sit, ook sy plekkie gekry as een van my top 10 geliefde koeke.       

WORTELKOEK MET KAASKOEKHART
Maak 1 groot stapelkoek
Voorbereiding: 50 min
Baktyd: 50 min

KOEK
375 ml (1½ k) heuning of geelsuiker
180 ml (¾ k) olie
4 groot eiers
400 g koekmeel
10 ml (2 t) koeksoda
5 ml (1 t) fyn gemmer
10 ml (2 t) fyn kaneel
2 ml (½ t) sout
300 g wortels, fyngerasper
200 g rou beet, fyngerasper
1 blik (400 g) fyn pynappel, goed gedreineer
80 ml (⅓ k) ingemaakte gemmer in stroop, baie fyn gekap
100 g fyn amandels
100 g pekanneute, grof gekap
100 g pistasieneute, grof gekap (opsioneel)
375 ml (1½ k) klapper
15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil
10 ml (2 t) suurlemoentiemieblaartjies, fyn gekap (opsioneel)
KAASKOEKVULSEL
20 ml (4 t) gelatien
3 houers (230 g elk) roomkaas
60 ml (4 e) ingelegte gemmerstroop
250 ml (1 k) versiersuiker
WIT GANACHE
200 g wit sjokolade, in stukkies gebreek
45 ml (3 e) botter
60—80 ml (1/4—1/3 k) Griekse jogurt
AFRONDING
Verskeidenheid gekapte neute
Vars appelliefies of bossie vars tiemie

Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer 3 veerklamppanne, 23 cm in deursnee en stuif met koekmeel.
1 KOEK Room heuning en olie, voeg die eiers een vir een by en klits goed tot lig.
2 Sif die droë bestanddele saam en vou by die eiermengsel in.
3 Voeg die res van die bestanddele by, meng saam, verdeel gelykop in drie dele en skep in die voorbereide koekpanne. Bak sowat 45—60 minute of tot ‘n toetspen skoon uitkom.
4 Koel effe af, plaas dan in vrieskas om vinnig af te koel en lekker stewig te wees.
5 Sny ‘n groot gat uit een van die koeke.
4 KAASKOEKVULSEL Spons die gelatien in bietjie water. Smelt. Roer bietjie van die roomkaas by en meng die res van die bestanddele stadig by. Verdeel in twee dele, elk ewe veel.
5 AANMEKAARSIT Plaas ‘n koeklaag op ‘n koekbord, smeer een deel kaaskoekroom gelyk oor, plaas koeklaag met gat in bo-op, vul met vulsel, smeer res van die vulsel bo-oor en plaas die laaste koeklaag op. Steek vas met sosatiepenne. Plaas in yskas tot stewig.
6 WIT GANACHE Plaas die sjokoladestukkies en botter in ‘n glasbak oor ‘n kastrol met kookwater en roer tot gesmelt. Voeg die jogurt bietjie vir bietjie by en meng baie goed tot glad.
7 AFRONDING Plaas die koek op ‘n dienbord. Skep die ganache rofweg bo-op en rond af met gekapte neute, appelliefies en/of tiemie.

ROOIBOS-FLUWEELKOLWYNTJIES

As jy eerder individuele koekies wil maak, is hierdie rooifluweel-kolwyntjies net die ding. Ek gebruik graag die Floral Berry-blomtee van Carmién-tee om ‘n ekstra spesiale geur aan die koekie te gee. Geniet die koekies ook saam met een van Carmién-tee se spesiale rooibostees. Gaan loer op die Carmién-tee-webtuiste om jou gunsteling tee te bestel. Die tees is te kry in supermarkte soos Checkers, Pick N Pay, Spar en Dischem hou veral ‘n groot verskeidenheid aan.

KOLWYNTJIES
50 g (½ pak) fyn amandels
180 ml (¾ k) koekmeel
180 ml (¾ k) witsuiker
30 ml (2 e) kakao
10 ml (2 t) bakpoeier
2 ml (¼ t) sout
5 ml (1 t) vanieljegeursel
3 eiers
125 ml (½ k) canola-olie
210 ml rooisbostee (Floral Berry van CarmienTea, gemaak met 3 sakkies) en 1 bottetjie (40 ml) rooi voedselkleurse gemeng
VERSIERSEL
45 ml (3 e) vars suurlemoensap
180 ml (¾ k) versiersuiker
2 houers (230 g elk) roomkaas
45 ml (3 e) botter, gesmelt

Voorverhit die oond tot 180°C. Pak papiervormpies in ‘n muffinpan met diep holtes.
1 Meng die droë bestanddele saam.
2 Klits die nat bestanddele buiten die rooibosteemengsel saam. Meng by die droë bestanddele. Voeg die rooibosteemengsel bietjie-vir-bietjie by en meng goed tot ‘n gladde beslag.
3 Giet in die papiervormpies en bak 15—20 minute of tot ‘n toetspen skoon uit die kolwyntjies kom. Koel af.
4 VERSIERSEL Meng al die bestanddele saam.
5 AFRONDING Sny ‘n gat in die kolwyntjies (of druk ‘n gaatjiemet die agterkant van ‘n houtepel) en vul met versiersel. Smeer die versiersel rofweg oor die kolwyntjies.

Trek ‘n vissie uit

Laas week met die volmaan besluit die manne dis weer tyd om ‘n bietjie te gaan uitlê vir die nag. En oo, die stille opgewondenheid. Dis ‘n hele gedoente om die boot, visgerei, aas en eetgoed vir die deurnag-vangery gereed te kry. Vroegaand vertrek Lood en vriend Abraham. Met laagwater maak hulle aas by die sandbanke en toe is dit vort na die elflyn om te gaan lyn natmaak. Ek hoor niks van hulle nie en toe dit goed donker is ry ek ‘n draai langs die lagoon om. Oral op die meer skyn daar ‘n paar liggies van bote wat uit is vir die nag en dit lyk vir my altevol lekker, amper knus, jy en jou bootjie op die stille oop waters met net die watergeklots wat die stilte verbreek, want in die aandskemering word daar nie hard gepraat nie, eerder gefluister.

In die vroeë oggenure is hulle tuis met ‘n goeie vangs, meestal elf. In die volmaan word die boot net langs die huis ingestoot om te wag vir môreoggend se ordentlike skoonmaak, maar die visse word dadelik verwerk, skubbe afgeskraap en binnegoed verwyder. Met die eerste skynsel van ‘n nuwe dag wat breek word daar uiteindelik gelukkig en tevrede bed toe gegaan vir ‘n salige kortstondige slapie.

En ek begin solank dink op watter lekker manier mens hierdie heerlike vars vis kan gaarmaak. Met die aanvang van die nuwe jaar het ek eintlik so by my sigselwers besluit dis tyd dat ek weer so ‘n slaggie die groot verskeidenheid kookboeke op my boekrak stelselmatig moet deurwerk en fisies vir ‘n slaggie uit hulle moet kook.

Nog altyd was ek ‘n groot aanhanger van Yotam Ottolenghi se werk en het heelwat van sy boeke. Ek blaai verskeie deur, maar my gunsteling bly steeds die trefferboek: Jerusalem, wat hy saam met Sami Tamimi saamgestel het. Daarin vind ek ‘n resep vir gemarineerde soetsuur vis. En terstond besluit ek, dis wat ek met hierdie elwe gaan maak. Ek maak ‘n paar aanpassings aan die sous en omdat die visse so mooi is, braai ek hulle net so heel. Vir aandete verorber ons bykans die hele lotjie. Dit wat oorbly, maak ek visherderspastei van.

Soetsuur vis
Genoeg vir 4—6 mense
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 12-20 min

15 ml (1 e) olie
2—3 uie, gekap
15 ml (1 e) elk koljandersade en vinkelsade
2 soetrissies, 1 rooi en 1 geel, ontpit en in stukke gesny
2 knoffelhuisies, fyngedruk
3 lourierblare
30 ml (2 e) vismasala of matige kerriepoeier
4 tamaties, gekap
1 sakkie (50 g) tamatiepasta
Sowat 125 ml (1/2 k) water
80 ml (1/3 k) appelasyn
Sowat 30—45 ml (2—3 e) suiker
Sout en peper
3 eiers
2 of 3 heel vars visse soos elf of stompneus (nie te groot), skoongeskraap en binnegoed verwyder (andersins stokvismote)
Koekmeel, gespesery met sout en peper
olie
20 g vars koljander, gekap

1 Verhit die olie in ‘n pot en braai die uie daarin tot sag.
2 Druk die koljander- en vinkelsade fyn in ‘n vysel met ‘n stamper en voeg by die uie terwyl dit braai.
3 Voeg soetrissies en knoffelhuisies saam met die lourierblare by en braai tot sag.
4 Voeg die masala of kerriepoeier by en roer deur.
5 Voeg die tamaties by en prut tot sag.
6 Meng die tamatiiepasta met die water en voeg by.
7 Voeg die asyn en suiker by, verlaag die hitte en prut tot ‘n geurige sous, voeg meer water by indien nodig. Geur met sout en peper. Hou eenkant.
8 Klits die eiers in ‘n groterige bak.
9 Streep die vis deur die eiers tot heeltemal bedek.
10 Rol in die meelmengsel.
11 Verhit genoeg olie in ‘n groot platterige pan en braai die visse, een op ‘n slag, in die olie tot net effe bruin alkant.
12 Verwyder die visse versigtig met twee spane uit die pan en pak in ‘n groot oondvaste bak.
13 Skep die tamatiesous oor vis.
14 Bak sowat 20 minute tot die vis net gaar is en maklik vlok met ‘n vurk. Sprinkel die koljanderblare oor.
15 Laat afkoel tot kamertemperatuur en geniet saam met korserige brood of aartappels, maar eintlik smaak dit op sy lekkerste as die vis eers vir so ‘n dag of 2 in die yskas gemarineer het en die geure goed in die vis ingetrek het.

Wenk: Met die oorskiet maak ek vis-herderspasei: Verwyder al die graatjies en skep in ‘n bak. Kook ‘n lekker lotjie aartappels en maak goed fyn saam met bietjie melk en botter.

Skep bo-op die vis en bak net vinnig tot die aartappels effe verbruin het.

Eet vegetaries

Ek is ‘n tipiese fleksitariër wat vir weke sonder enige vleis kan klaarkom. Ek hou daarvan om met peulgewasse te eksperimenteer, veral omdat hulle so gedienstig en genadig is met die absorpsie van enige geure. Die groot geheim as jy aan peulgewasse wil weglê, is om dit goed geur te gee en lekker te spesery.

PLANTPROTEïENE

Die grootste bron van kommer wanneer mense slegs plantkosse eet is of hulle genoegsaam proteiene sal inneem. Die enigste plantgebaseerde produkte wat volledige proteiene bevat is sojabone, quinoa en chia-sade. Mense wat dus ‘n plantgebaseerde leefstyl navolg moet daarom ‘n verskeidenheid plantgebaseerde kosse inneem om seker te maak dat hulle al die nodige aminosure inkry. ‘n Groot bonus van ‘n plantgebaseerde eetplan is dat dit baie vesel bevat en ook laer is in kilojoules as dierlike kosse.

PEULGEWASSE

Peulgewasse soos lensies, droë-ertjies en kekerertjies word beskou as styselagtige proteiene, maar is ook uitstekende bronne van vesel, proteien en verskeie vitamienes en minerale. Hulle bevat min versadigde vet en geen cholesterol en help jou ook om langer versadig te voel. Aquafaba is die water waarin peulgroente geblik word en ook goeie bron van proteien. Dit klits lig en dik soos eierwit en jy kan tot meringue daarvan maak. Bone moet verkieslik saam met bruin of wilde rys geëet word om sodoende ‘n volledige proteien te verkry.

NEUTE

Amandels, okkerneute, kasjoeneute, pistasieneute, en Braziliaanse neute bevat heelwat minerale, antioksidante en gesonde vette (geen versadigde vette nie) en is vesel- en proteienryk (250 ml (1 k) = 28—36 g). Grondbone is eintlik ‘n peul, maar het dieselfde karakter as neute en bevat 41 g proteien per 250 ml (1 k). Neute verlaag die risiko vir hartvatsiektes en help om cholesterol te verlaag. In sekere studies word beweer ‘n handvol neute daagliks help ook om hardnekkige maag vetjies af te skud. Sprinkel oor slaaie en groente of maal fyn en gebruik as meel in glutenvrye gebak of as neutbotter. Wees net bewus dat neute wel hoog in vet is en ‘n handvol ‘n dag is verseker genoeg om die nodige gesondheid voordele te trek sonder te veel vet in te neem.

SADE

Sade soos sonneblom, sesame, hemp en vlassade is almal vesel-, proteien-, en mineraalryk en bevat ook goeie vette. Chia-sade is ‘n antieke saad wat veral water goed absorbeer a.g.v. die wateroplosbare veselinhoud daarvan. Dit help dus om geregte natuurlik te verdik en is ‘n volledige proteien (250 ml (1 k) = 33 g) Quinoa is ‘n glutenvrye koolhidraat en is ook ‘n volledige proteien. Rys kan dus daarmee vervang word.

FALAFEL-BAKKIES

Die gewilde Midde-Oosterse kekerertjiefrikkadel, falafel, is deesdae ‘n gewilde item op restaurant-spyskaarte, veral noudat al hoe meer mense minder vleis begin eet en plantkosse deel van hul spyse maak. Ek gebruik rou kekerertjies om dit mee te maak. Dit word nie gaargekook nie, maar moet goed week.

Lewer sowat 12 frikkadelletjies
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 30 min
Week: oornag

FALAFEL
450 g ongekookte kekerertjies, oornag geweek in water
7 ml (1½ t) fyn komyn
7 ml (1½ t) fyn koljander
½ rooi ui, fyngekap
3 knoffelhuisies, fyngerasper
375 ml (1½ k) pietersielie, grofgekap
250 ml (1 k) koljanderblare, grofgekap
125 ml (½ k) kruisementblare, grofgekap
10 ml (2 t) sout
2,5 ml (½ t) vars gemaalde peper
5 ml (1 t) bakpoeier
1 eier
groenteolie vir braai
VIR VOORSIT
Verskeidenheid slaaiblare
Kersie-tamaties
Komkommer, in julienne-repies gesny
Gepiekelde rooi uie
Gepiekelde rooikool
Romerige jogurt met komyn gegeur en/of hoemoes
Paar koljanderblare

1 FALAFEL Dreineer die kekerertjies en spoel tot die water skoon is.
2 Meng al die bestanddele, behalwe die olie, in ’n groot bak.
3 Kap grof in sarsies in ’n voedselverwerker of met ’n staafmenger tot die mengsel byna heeltemal groen is, met klein stukkies wit kekerertjies nog sigbaar.
Die mengsel sal begin verdik.
4 Vorm balletjies van 4 cm in deursnee en druk liggies plat in frikkadelletjies.
5 Braai in sarsies in vlak olie sowat 3 min. aan elke kant. Dreineer op kombuispapier.
VIR VOORSIT
Pak die slaaiblare in ‘n groterige bakkie en rangskik tamaties, komkommer, rooi uie en rooikool bo-op. Plaas ‘n paar falafelfrikkadelletjies bo-op en skep van die romerige jogurt en/of hoemoes oor. Rond af met koljanderblare.

Wenk: Week die kekerertjies ’n dag voor jy die falafel wil maak. Dit is heeltemal in die haak as dit begin uitloop wanneer jy die falafel begin maak.

Jy kan die falafel ook in ‘n shwarama voorsit: vul ‘n tortilla met blaarslaai en tamatie en voeg van die falafelfrikkadelletjies by. Skep jogurt oor en geniet.

KEKERERTJIE-GROENTEKERRIE

‘n Heerlike geurige kerrie gemaak met botterskorsie en patat saam met kekerertjies. Die botterskorsie en patat bak ek vooraf eers in die Airfryer.

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 20 min.
Gaarmaak: 45 min.

500 g botterskorsie, geskil en in stukke gesny
500 g patat, in stukke gekap
sout
5 ml (1 t) olie
2 uie, fyn gekap
20 ml (4 t) botter
4 cm gemmerwortel, fyn gerasper
3 knoffelhuisies, fyn gekap
15 ml (1 e) geroosterde kerriepoeier of 1 ml (¼ t) brandrissiepoeier
¾ van ’n 400 g-blik klappermelk
1 x 400 g-blik kekerertjies
Koljanderblare vir oorsprinkel
5 ml (1 t) heuning (opsioneel)
Basmati-rys vir voorsit

1 Geur die botterskorsie en patat met sout, pak in ’n enkellaag in die Airfryer, sprinkel die olie oor en lugbraai tot effens geskroei.
2 Braai die uie in die helfte van die botter in ‘n pan tot sag. Verlaag die temperatuur en voeg die gemmerwortel, knoffel en kerriepoeier by. Roerbraai sowat 3 minute; voeg 30 ml (2 e) water by as dit wil aanbrand.
3 Voeg die klappermelk by en prut sowat 10 min. tot die souserigheid effens afgekook het.
4 Druk ’n kwart van die patat en botterskorsie fyner en voeg by die klappermelkmengsel saam met die orige patat en botterskorsie.
5 Voeg die kekerertjies en orige botter by en verhit tot warm. Sprinkel die koljander oor en drup heuning oor indien verkies.
6 Sit voor met basmati-rys.

Kos as dit knyp

Hoender was nog altyd ‘n bekostigbare proteïen en ek het altyd ‘n pak of twee daarvan in die vrieskas. Hoenderstukke, veral boudjies en dye braai heerlik, want nee, al gaan dit hoe broekskeur, braai sal ons braai. Hoenderborsfilette weer, is nie net lekker gesond nie, maar werk vir my ook bekostigbaar uit aangesien jy dit op soveel maniere kan rek en aanvul. Die groot geheim is om dit steeds sappig te hou en nie te lank gaar te maak dat dit droog is nie.

Ek span dit veral baie keer in om heerlike wegneemetes mee te maak wat boonop baie lekkerder is as dit wat jy by die kitskoswinkel kan gaan koop.

Net laas Vrydagaand het ons lekker weggelê aan nacho’s wat ek met hoender gemaak het en hoendershnitzchels is sommer gereeld op ons tafel. Die oorskiet gebruik ek om hoenderburgers mee te maak wat dan ingepak word as kospakkie. Met die oorskiet-braaihoender maak ek ’n heerlike eenpanhoendergereg met Mexikaanse geure. Op die manier sit jy Januarie se koskopsere sommer lekker ore aan.

MINMOEITE HOENDERNACHO’S

Nacho’s kan gou ryk en vetterig wees, maar ek span hoender (nie maalvleis nie) in, verminder die kaas heelwat envervang ook suurroom met jogurt wat dit lekker lig maak, maar ook heelwat goedkoper.

GENOEG VIR 4 MENSE
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: 20 min

MARINADE
5 ml (1 t) fyn gekapte vars knoffel
5 ml (1 t) vars tiemie en origanum
5 ml (1 t) gerookte paprika
5 ml (1 t) rooipeper
sout en pepper na smaak
sap van een vars lemmetjie, sowat 15 ml (1 e)
75-100 ml olyfolie
4-6 hoenderfilette, in dun repies gesny
BYMEKAARSIT
1 ui, in repe gesny
1 geel soetrissie, in repe gesny
’n bietjie olyfolie
1 x 250 g-pak nacho-mielieskyfies
1 x 400 g-blik Mexikaanse styl-tamaties
250 ml (1 k) grof gekapte koljanderblare en -stingels
paar stukkies ingelegde jalapeño’s na smaak, gesny (opsioneel)
160 ml (⅔ k) gerasperde mozzarella-kaas
125 ml (½ k) gerasperde wit cheddarkaas
½ rooi-ui, dun gesny
’n hand vol gekapte pietersielie
VIR VOORSIT
koljanderblare vir garnering
fyngedrukte avokado
romerige natuurlike jogurt

1 MARINADE Meng al die bestanddele vir die marinade. Plaas die hoenderrepies vir 10 min. daarin.
2 BYMEKAARSIT Braai die ui en geel soetrissie in olyfolie tot die ui deurskynend is. Voeg die hoenderborsierepies by; roerbraai tot die hoender net-net goudbruin is.
3 Plaas ’n laag nachoskyfies op ’n oondvaste eetbord. Gooi van die tamaties oor die skyfies en strooi gekapte koljander bo-oor. Voeg jalapeño’s by na smaak indien verkies.
5 Plaas die hoenderborsierepies egalig oor die nacho’s.
6 Meng die kase en strooi bo-oor. Sprinkel die rooi-ui en pietersielie bo-oor. Plaas onder die roosterelement en rooster tot die kaas gesmelt het en begin borrel.
Sprinkel koljanderblare oor.
8 VOORSIT Rond af met avokado en romerige jogurt bo-oor geskep.

HOENDERSHNITZELS

Hoendershnitzels uit die boonste rakke – heerlik bros buite-om en sappig van binne. En ‘n heerlike gereg om in die Airfryer te doen.

Die geheim om te keer dat die krummels loskom is om die filette eers goed te verkoel voordat jy dit gaarmaak sodat die krummels goed kan vaskleef. Dan besprinkel jy dit liggies oraloor met ‘n dun-dun lagie olie. Belangrik ook is dat die filette in ‘n enkellaag in die laaitjie moet lê sodat dit eweredig goudbruin kan braai. Ons geniet graag braai-aartappels, wat jy ook in die Airfryer gaarmaak saam met ‘n slaaitjie daarby.

Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 min
Verkoeling: 30 min
Gaarmaak 10 min

HOENDER
4 hoenderborsfilette
Sout en peper
Mengsel van bruismeel en mielieblom
1 eier, geklits
Broodkrummels-en-sesamsaadmengsel
Olie
BYKOS
12 baba-aartappels
Gerasperde suurlemoenskil

1 HOENDER Sny ‘n paar kepe in die hoenderfilette en kap platter met die agterkant van jou handpalm. Geur met sout en peper. Rol in die meelmengsel, doop in eiergeel en rol dan in die broodmengsel. Plaas die hoender vir te minste ‘n halfuur in die yskas sodat die krummelmengsel goed kan kleef aan die hoender.
2 BYKOS Meng intussen die aartappels met ‘n klein bietjie olie en plaas in die laaitjie van die Airfryer. Lugbraai vir 20 minute of totdat die aartappels bros en gaar is, draai om in die middel van die gaarmaaktyd. Rasper ‘n suurlemoen se skil oor.
3 Besprinkel die hoendersnitchzels alkant met olie en plaas die filette langs mekaar in die laaitjie van die Airfryer. Lugbraai vir 10 minute of tot die hoender net gaar en brosbruin buite-om is (draai halfpad om).
4 Sit die hoendersnitchzels voor met die brosgebraaide aartappeltjies.

MEKSIKAANSE EENPANHOENDER

60 ml (4 e) olyfolie
1 groot ui, gesny
4 groot knoffelhuisies, grofgekap
3 jalapeño-brandrissies, pitjies verwyder en in dun repies gesny
5 ml (1 t) fyn komyn
15 ml (1 e) gedroogde origanum
2 vars tamaties, ontvel en in blokkies gesny
6 gaar stukke oorskietbraaihoender of 1 heel gaar braaihoender, bene en vel verwyder, in stukke geknip
1 L (4 k) hoenderaftreksel
1 suurlemoen, gehalveer
500 ml (2 k) gaar witrys
gaar oorskietmielies, pitte van stronk afgesny (opsioneel)
sout na smaak
koljanderblare vir oorsprinkel
romerige jogurt en geroosterde tortillas vir voorsit

1 Verhit die olie in ’n pan en braai die ui en knoffel daarin tot sag. Voeg die brandrissies by. Voeg die komyn en origanum by en verhit 1-2 min. Voeg die tamaties, hoenderstukkies en aftreksel by. Laat prut ongeveer 20 min.
2 Druk die sap van die suurlemoen oor die hoender uit en voeg die uitgedrukte skille ook by die hoender in die pan.
3 Voeg die witrys en pitmielies by en laat nog 5 min. prut. Verwyder die suurlemoenskille.
4 Geur met die sout.
5 Skep in bakkies, sprinkel die koljanderblare oor en sit voor saam met die jogurt en tortillas.

Uitgesorteer vir aandete

En voor jy kon sê mes, sit ons alweer in die helfte van Januarie. Meeste mense weer terug by die werk , die skole het amper begin en ons almal moet weer ingeskud kom in ‘n roetine.

Hier op Langebaan haal die dorpenaars weer (verlig) asem, want alhoewel ons jaarliks die besoekers met ope arms ontvang, is dit goed om nou weer vinnig Mall of Spar toe te kan ry en inkopies doen sonder om in lang toue te staan en te stoei vir parkeerplek. Dit was lekker om die turkoois waters van die lagoon saam met die besoekers by Shark Bay en Kraalbaai te geniet, maar die viswaters sal ons nou weer begin aandurf nadat die bootverkeer op die meer afgeneem het en ons steeds die voorreg het om dit te kan benut. Vir beter weer kan ons die afgelope week of wat juis nie gevra het nie.

Elke jaar skop mos maar af met goeie voornemens, en meestal is beter eetgewoontes een van hulle. Gesond eet was nog nooit vir my moeite nie, inteendeel ek geniet dit om iets vars en heilsaam te nuttig. Maar vanjaar poog ek om meer spesifiek te wees, soos bv om genoegsaam omgega 3 en 6 vetsure in te neem, want die goedheid daarvan ken geen perke nie.

Saam met die roetine van ‘n nuwe jaar, kom ook die kopseer van wat om te maak vir aandete wat jy vinnig aanmekaar kan slaan, maar steeds voedsaam is – dis hier waar veral blikkies tuna ter sprake kom, want nie net bevat dit die regte vetsure nie, maar ook hope proteien, 24 g per blikkie. Canola-olie het ook die perfekte balans tussen omega 3 en omega 6 vetsure. Avokado is die wondervrug wat propvol gesonde vette is. So vir aandete meng ek deesdae graag ‘n paar blikkies tuna met bietjie groente en bak viskoekies daarmee en daarby ‘n heerlike vullende avokadoslaai of selfs ‘n Brusselse spruite slaai. Lekker lig, maar tog vullend en uiters voedsaam.

Wat is omega 3 en omega 6 vetsure
Beide omega 3 en omega 6 vetsure is poli-onversadigde vetsure wat nie deur die liggaam vervaardig word nie, daarom word hulle essensiële vette genoem en kan dit slegs deur die dieet ingeneem word.
Omega-6 vetsure verskaf meerendeels energie en is te kry in meeste plantolies, neute en sade. Inname daarvan is meestal voldoende aangesien dit volop in die dieet voorkom.
Mense moet egter meer omega 3 vetsure as omega 6 vetsure inkry sodat die balans tussen die twee korrek is. Meestal is die inname hiervan nie genoegsaam nie en kan dit dan ‘n wanbalans en veral inflammasie tot gevolg hê.
Omega 3 speel ‘n baie belangrike rol in optimale gesondheid en het verskeie gesondheidsvoordele onder andere:

  • Omega 3 kan simptome van depressie en angstigheid verbeter asook die risiko vir Alzheimer’s-siekte en agteruitgang van breingesondheid beveg.
  • Dit speel ‘n uiters belangrike rol in breinontwikkeling van veral die fetus en in kinders en kan simptome van AHDH verminder.
  • Dit verbeter die risiko-faktore vir hartsiektes. Dit verlaag bloeddruk, verhoog goeie cholesterol en verlaag trigliseriede(slegte vette), verminder die risiko vir bloedklonte en inflammasie.
  • Verlaag die risiko vir metaboliese sindroom wat die hoofoorsaak van hartsiektes en diabetes is.
  • Kan inflammasie beveg. Inflammasie is ‘n natuurlike respons teen infeksies en skade in die liggaam, maar as dit vir ‘n lang tydperk voortgaan veroorsaak dit kroniese inflammasie wat bydra tot elke Westerse siekte soos kanker en diabetes.
  • Dit wil voorkom of dit kan help met gewigsbestuur, maar meer studies is nodig om dit te ondersteun.

Omega 3-vetsure kom veral voor in vetterige vis soos makriel, salm, tuna, forel, haring, oesters, sardyne, ansjovis, vlassaad, chiasade, sojabone en okkerneute. Ons benodig 2-3 porsies van 90g olierige vis per week om genoegsame omega 3 in te neem.
Indien voldoende omega 3 nie deur die dieet ingeneem word nie kan ‘n supplement geneem word.

Avokado bevat hoë vlakke goeie vette (13 g gesonde mono-onversadigde vetsure) wat onder andere meehelp dat mens langer versadig voel. Dit bevat ook baie antioksidante en is anti-inflamatories en goed vir “gut” gesondheid deurdat dit ‘n unieke mengsel van onoplosbare (70%) en oplosbare vesel (30%) het wat kos is vir gesonde gut flora.

VISKOEKIES
Maak sowat 8 viskoekies, afhangende van die grootte
Voorbereiding: 15 min
Gaarmaak: 20 min

VISKOEKIES
2—3 blikke tuna, gedreineer
2—3 stingeluie, fyn gekap of 1 klein ui, fyngerasper
Handvol spinasie, fyn gesny
1 wortel of 2—3 murgpampoentjies, fyngerasper
60 ml (1/4 k) gekapte koljanderblare of pietersielie of andersins ‘n skep koljanderpesto
1 klein rooi soetrissie, gekap (opsioneel)
Gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
5 ml (1 t) fyn komyn of garam masala (opsioneel)
Sout en peper, na smaak
Sowat 125 ml (1/2 k) bruismeel
1—2 eiers, geklits
Sout en peper
AFRONDING
Koekmeel, fyn klapper, broodkrummels of polenta om in te rol
Olie vir braai

1 VISKOEKIES Meng al die bestanddele, saam tot ‘n stewige mengsel. Rol in bolletjies en druk dan effens plat.
2 AFRONDING Rol elk van die viskoekies in meel, klapper, broodkrummels of polenta en verkoel minstens 15 minute. (Die verkoeltyd help voorkom dat die koekies nie breek tydens die braaityd nie).
2 Verhit bietjie olie, nie te veel nie en braai die koekies tot goudbruin aan beide kante.
5 Sit die koekies voor met kerrieklappersous en avokadoslaai
Wenk: As jy koolhidrate vermy, kan jy die meel met 80—125 ml fyngemaakte patat vervang.

KLAPPERKERRIESOUS: Roerbraai 1 ui, 2 knoffelhuisies, en 50 g vars gemmer tot sag. Voeg 25 ml (5 t) groenkerriepasta by en 1 blik (400 g) klappermelk by. Geur met 15—30 ml (1—2 e) bruinsuiker, 30 ml (2 e) sojasous en bietjie visssous. Laat goed kook en roer groot handvol gekapte koljanderblare by.

GROEN SLAAI MET AVOKADO OF BRUSSELSE SPRUITE
Groen vinagrette
Maak 180 ml (3/4 k)

60 ml (¼ k) kruie soos pietersielie en basilie, grof gekap
4 knoffelhuisies, fyngedruk
60 ml (¼ k) olyfolie
45 ml (3 e) druiweasyn
5 ml (1 t) Dijon-mosterd (opsioneel)
Suiker na smaak
Sout en peper na smaak
Plaas al die bestanddele in ’n voedselverwerker en pols tot goed fyn.

Groenslaai met avokado
Genoeg vir 4 mense

1 pak baba-spinasie-en-roketslaai met beetrepies en bosbessies
1 x groen vinaigrette
2 avokado’s, een fyngemaak, ander een in bolle geskep met ‘n lepel
125 ml (1/2 k) broccoli, fyn gekap
125 ml (1/2 k) murgpampoentjies, fyn gekap
Sout na smaak
Sesamsaad of sonneblomsaad
Parmesaankaasskaafsels (opsioneel)

1 Pak die slaai in ‘n slaaibord
2 Giet van die slaaisous oor.
3 Meng die fyn avokado met die broccoli en murgpampoentjies en skep hopies op die slaaiblare. Pak die bolle avokado bo-op
4 Sprinkel die sade en parmesaankaasskaafsels oor.
Wenk: Pleks van die vinaigrette kan jy sojasous en rys-asyn oorsprinkel.

Brusselse spruiteslaai
Genoeg vir 4 mense

150 g Brusselse spruie
1 ciabatta-brood, in stukke gesny
Olyfolie
4 knoffelhuisies, gekap
12 repe spekvleis (opsioneel)
1 x groen vinaigrette
4 stingeluie, grof gekap
Handvol pietersielie, grof gekap
Heel stingeluie vir garnering

Skakel die roosterelement van die oond aan.
1 Breek buitenste blare van die Brusselse spruite af. Hou eenkant.
2 Sny die binnekante fyn op.
3 Pak die broodstukke op ‘n bakplaat, sprinkel olyfolie en knoffelhuisies oor. Bak tot bruin en bros.
4 Rooster terselfdertyd spekvleisrepe tot bros, kap helfte heeltemal fyn en roer by slaaisous in.
5 Meng Brusselse spruitblare en fyngesnyde dele met stingeluie en pietersielie.
6 Giet slaaisous oor.
7 Rangskik broodstukke, Brusselse spruitmengsel op slaaibord, stapel spekvleisrepe bo-op. Garneer met stingeluie.

Moeitelose inpakkos

Ons is lief vir musiek, en veral Afrikaanse musiek word daar baie in ons huis geluister. My man is die musieklike een met ‘n fyn oor en baie ritme en kan enige instrument bespeel sonder dat hy eintlik les daarin moes kry. Maar ekke, ai, my ma het geglo haar meisiekinders moes musiek neem, maar ek dink Mnr Horn was maar net te verlig toe ek na my graad 3 musiekeksamen die handdoek ingooi. Tog kan ek my verluister aan enige mooi musiek, van klassiek tot rock.

So het ons (lees eintlik my man) met ons jaarlikse safari na een of ander wildreservaat altyd geglo dat ons ‘n nuwe arsenaal CD’s moet aanskaf om die langpad korter te maak. En dit was ‘n hele gedoente om paslike CD’s vir waarheen ons ookal op pad was, te kies. Sodra almal netjies hul sit gekry het, is die eerste CD gelaai en het ons lustig saamgeluister, die kinders doodstil agter in die motor. En voor ons ons kom kry, was die langpad verby en almal in ‘n ontspanne gees en lus vir die vakansielekkerte wat voorlê

Maar nou is CD’s se dae vir altyd getel en voertuie kom nie meer met CD-spelers uit nie. Ons kosbare versameling CD’s, verpak in bokse, het op die rak bly staan. Totdat my man dit goedgedink het om alles te begin oorlaai op ‘n stokkie – dit het hom letterlik verskeie nagure (hy is die naguil, ek nie) geneem, maar nou is hy uiteindelik klaar en kan ons ons opnuut weer verlustig aan musiek wat ons al vergeet het ons besit. Die musiek speel heeldag deur in ons huis en bring die mooiste herinneringe van vele reise terug, soos die Acapella-koor se liedjie oor die Hantam, wat altyd in die CD was nes ons Vanrhynsdorp se pas begin uitklim het Kalahari toe. So kan ek vele onthoue opnoem.

Sekerlik net so spesiaal is die herinnering aan wat in die kosmandjie was op sulke reise. My kosherinneringe het ek anderdag met julle gedeel (gaan kyk hier) met ons trippie Botswana toe einde verlede jaar. Maar ons het nie net inpakkos nodig as ons op vakansie gaan nie. Werk toe en skool toe se kospakkies is net so belangrik. Ek onthou tot vandag toe nog die broodjies wat my ma sorgvuldig vir ons gemaak het elke Maandagoggend as ons vir die week koshuis toe moes gaan (en dit moes opmaak vir ‘n hele week verder sonder pousekos): heerlike vars snye plaasbrood, dikgesmeer met plaasbotter met gerasperde kaas op en ‘n stukkie vars blaarslaai of andersins tuisgekookte appelkooskonfyt, netjies toegedraai in waspapier. Ons kon nie wag vir pousetyd nie. My ma moes later dubbele pakkies maak, want ons dorpsmaats het net so lustig saamgesmul. Vir een was daar nie op ons klein dorpie ‘n plek waar jy vinnig ‘n wegneembroodjie kon gaan koop nie en nog minder het my ma daardie tyd gebodder met muffins bak (skons wel, maar dit was vir teetyd). Tog het ek nog altyd ‘n swak vir muffins gehad – nie soetes wat eintlik net ‘n stuk vermomde koek is nie, maar ordentlike swaar klam muffins, gelaai met vesel en droëvrugte en goedheid. Ek verorber hulle sommer net so, nie eers botter of enigiets anders bo-op is nodig nie.

Met die skryf van my Lekker&Goed-boek het ek so ‘n muffin-resep ontdek – propvol vesel en met dadels vir soetigheid; ‘n ander een is ‘n tipe wortelkoekmuffin gemaak met tuisgemaakte granola. Vir my heerlik en ideaal vir inpakkos. Omdat hulle so lekker vries, kan jy sommer die baksel verdubbel en dan net uithaal soos jy nodig kry om in die kospakkie te sit. By pousetyd is die muffin ontdooi en net reg vir eet.

Meer oor die suikerinhoud in vrugte
Baie vrae het ook die afgelope tyd ontstaan oor of die suikerinhoud van veral vrugte sleg is vir ‘n mens. Fruktose is die suiker in vrugte en party groentesoorte. Die fruktose in heel vrugte en groente word stadig afgebreek omdat dit heelwat water en vesel bevat en ook lank neem om te kou, daarom gaan dit nie veel skommeling op bloedglukosevlakke hê nie. Die fruktose-inhoud verskil egter tussen vrugte, so mens moet steeds verstandige keuses maak en porsies beheer. Die groot bohaai oor fruktose wat die lewer kan beskadig gaan egter oor hoëfruktrose-mieliestroop oftewel HFCS, wat baie in verwerkte kosse gebruik word. As fruktose tot HFCS verfyn word, verloor dit die vesel en voedingstowwe wat jou liggaam help om die fruktose goed te verwerk. As mens te veel daarvan inneem deur veral verfynde kosse te eet, kan dit lei tot insulienweerstandigheid wat gepaard gaan met die opbou van vet in die lewer.

Met bogenoemde in aggenome het ek begin om bygevoegde suiker in veral soetigheid en gebak so min as moontlik te maak en dit grotendeels te vervang met natuurlike soetmakers soos vrugte, veral appels en dadels asook groente soos patat wat ook baie vesel bevat.

Al is dadels van die vrugte wat die swaarste gelaai is met suiker – 12 dadels bevat altesaam 15 ½ teelepels suiker- het dit ‘n lae glukemiese indeks en is gepak met voedingstowwe, anti-oksidante en vesel. Saam met die gebruik van ander bestanddele soos sade, neute en klapper verminder die hoë veselinhoud die uitwerking van die suiker op die bloedglukose.

Volgrane en vesel
Volgrane bied mens hope heilsaamheid soos vesel wat spysvertering aanhelp en benewens vele minerale en B-vitamiene bevat dit stysel, proteïene en goeie vette. Hulle is min verwerk en bevat steeds al drie lae – die semel, wat al die vesel en antioksidante bevat; die endosperm, waarin die stysel en proteïene voorkom en die kiem, wat onder meer die B-vitamiene, minerale en goeie vette bevat. Die beste keuse is volkernheelgraan (whole-kernel intact grains) wat glad nie verwerk is nie. Meel moet verkieslik klipgemaal wees, want dit verhit nie tydens dié stadige maalproses nie en word ook nie gebleik nie. So bly die goedheid behoue. Verfynde grane daarenteen is grane waarvan die semel en die kiem verwyder is, dus bly die endosperm oor, waar al die stysel sit. Probeer verwerkte produkte of fyngebak of enigiets “kits” sover moontlik vermy.

Naweek laatontbyt

Ek hou van enige soort gekookte pap – hawermout, Maltabella, maar veral mieliepap, die lekker growwe soort wat jy so in slopies by padstalle aankoop.

Ons kook dan sommer ‘n goeie potvol en hou die oorskiet om paptert mee te maak.

In my huis word daar letterlik meer dan ‘n dosyn vol eiers elke week verorber. Van roereier en omelette vir ontbyt tot soutterte en self sook ‘n gekookte eiertjie om eierslaai mee te maak. Die duurder eierpryse het ons geensins afgeskrik nie, want die goedheid so alles-in-een verpak kom darem net altevol handig te pas as daar vinnig kos gemaak moet word. ‘n Eierpan, eintlik maar ‘n tipe frittata is menigmaal op die laatontbyttafel en is net so geskik as ligte middagete.

PAPTERT
Paptert was nog altyd ‘n gunsteling by al wat ‘n braai is, maar dit kan net so goed instaan vir ‘n volledige ete en is die ideale manier om van oorskiet ontslae te raak. Die tert kry nie ‘n eiervla oor nie, so dis vinnig gaar. Ons kleur die pap geel met borrie wat ekstra goedheid verskaf.

Maak 1 groot paptert
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: 20 min

1 liter (4 k) kookwater of helfte daarvan volroommelk
10 ml (2 t) sout
500 ml (2 k) growwe mieliemeel
5 ml (1 t) paprika
5 ml (1 t) borrie
45 ml (2 e) botter
VULSEL
olie
2 uie, gekap
olie
2 rooi uie, in wiggies gesny
200 g sampioene, kleiner gesny
125 g repies spekvleis of enige oorskiet gaar vleis
100 g baba-spinasieblare
4 fetakaassirkels of mozzarella- of Cheddarkaas
Mikrokruie vir afronding (opsioneel)

Voorverhit die oond tot 180˚C. Spuit ‘n langwerpige losboom-tertpan goed met kossproei.
1 Plaas water en sout in ‘n kastrol en roer die mieliemeel geleidelik by. Roer die paprika en borrie by. Kook tot gaar, sowat 20 minute, roer elke nou en dan. Roer botter by.
2 Druk driekwart van die mieliepap op die bodem en teen die kante van die voorbereide pan.
2 VULSEL Verhit intussen die olie en braai die ui tot sag. Skep uit en braai die rooiui-skywe tot sag. Skep uit. Braai die sampioene en spekvleis tot gaar.
3 Skep die uiemengsel op die paptert. Sprinkel die spinasie bo-op en rangskik die rooiui-wiggies, sampioene en spekvleis bo-op.. Sprinkel die kaas bo-oor.
4 Rol die res van die mieliepap in bolletjies en rangskik bo-op die tert. Smeer met olie. Bak vir 20 minute tot die kaas gesmelt is. Sprinkel die kruie oor en sit voor.

GEBAKTE EIERPAN
In die eierpan kan jy na hartelus rondspeel met groente in alle kleure.

Genoeg vir 4—6 mense
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: 20 min

Olie vir braai
6 stingeluie, gekap
6 murgpampoentjies, in skywe gesny met ‘n aartappelskiller of grof gerasper
1 rooi soetrissie, in blokkies gesny
Sout en swartpeper na smaak
6 baba-aartappels, gekook en in skywe gesny
paprika
45—60 ml (3 e) songedroogde tamatie in vinaigrette, gekap of vars kersie-tamaties
125 ml (1/2 k) swart olywe
125 ml (1/2 k) sterk Cheddarkaas, gerasper
6 eiers, geklits
60 ml (1/4 k) melk
Handvol baba-spinasie of roketblare
Pecorino-kaasskaafsels

Voorverhit die oond tot 180˚C.
1 Giet olyfolie in ‘n pan en roerbraai die ui, murgpampoentjies en soetrissie tot sag. Skep uit en roer die songedroogde tamaties en olywe by.
2 Giet nog bietjie olie in die pan en braai die aartappelskywe saam met bietjie paprika tot effe bros. Pak op die boom van ‘n goedgesmeerde pan met oondvaste handvatsels en skep die groentemengsel oor.
3 Sprinkel die kaas oor, klits die eiers en melk en giet oor.
4 Bak sowat 20 minute of tot die eier gestol is.
5 Sprinkel die spinasie of roketblare en pecorino-skaafsels oor.
6 Sit dadelik voor.

Reg vir die dag

Ek is nie ‘n groot eter soggens nie, veral nie as ek nog moet gaan oefen nie. Dan is ‘n smoothie wat jy in ‘n blits in die NutriBullet kan maak meer as genoeg vir my.

Daarvoor hou ek graag ‘n pak bevrore bloubessies, wat as ‘n superkos beskou word, in my vrieskas aan. Saam met ‘n handvol spinasie en volroom-jogurt maak dit ‘n heerlike romerige smoothie. Omdat ek ook nie ‘n groot vleiseter is nie, is die dan ook sommer net die regte plek om ‘n proteienryke skommel (USN se Low GI Nutrition shake – DIETFUEL ULTRALEAN bevat 21 g proteien per porsie asook baie vesel en min suiker) in te werk. So smaak dit heelwat beter as wanneer jy die skommel net met water meng.

Suiwel is ‘n goeie bron van protein, die basiese bousteen van breinselle en is ook ‘n goeie bron van B-vitamiene. Dit help met energie-metabolisme en verseker genoegsame toevoer van energie na die brein. Suiwelprodukte wat gefermenteer is soos jogurt en sommige kase bevat minder laktose (melksuiker) – dis baie keer waarvoor mense sensitief is in suiwel. Hulle bevat ook goeie derm-bakterieë wat kan help met goeie spysvertering. Ek verkies ook volvet-jogurt, want vet is veral goed vir breinontwikkeling (in babas). Bessies is ryk aan anti-oksidante wat help om skadelike stowwe, vry radikale, te verwyder en daar word ook geglo dat dit help met geheue.

Spinasie is anti-inflammatories, hoog in vesel, antioksidante en yster (eet sitrus vrugte daarby vir beter absorpsie) en help met brein- en senuweestelsel funksies

Pynappel is anti-inflammatories en help veral om inflammasie in gewrigte en spiere te voorkom, verder bou dit die immuunstelsel op en verbeter bloedsirkulasie.

Soos die dag aanstap en mens besig raak, kan ek hier by middag se kant voel jy begin nou stoom verloor. Meestal maak ek tyd en geniet ‘n vinnige slaai, maar soms as die spertye net te op jou is en die tyd jou inhaal, het jy skaars tyd vir iets te drinke.

Eens op ‘n tyd het ek sommer ‘n bottel suikervrye grondbonebotter in my laai gehou en ‘n vinnige skeppie daarvan geniet en ek weet nou hoekom dit my weer woema gegee het. Buiten vir die vinnige energie, is grondbone ryk aan vitamien E wat die senuwee-membrane beskerm en so help dat die brein goed funksioneer.

Maar dis darem baie lekkerder om die energieryke breinkos eerder in ‘n heerlike koekie te geniet. Dit kan jy ook sommer in jou lessenaarlaai hou en dis ideaal om in te pak saam werk of skool toe. Die koekieresep wat ek graag gebruik, kry geen meel of gluten in nie en die suiker is minimaal, veral as mens dit met die suiker-en-versoetermengsels aanmaak wat mens deesdae te koop kry om mee te bak of gebruik helfte suiker en versoeter.

BLITSBLOUBESSIESKOMMEL
As ek die dag ‘n taai oefensessie het, werk ek sommer ook ‘n skep of twee weiproteïen hierby in. As ek pynappel byvoeg, is die mengsel meer dan soet genoeg.

Maak sowat 500 ml (2 k) skommel (Genoeg vir 2 mense)
Bereiding: 2 minute

250 ml (1 k) bevrore bloubessies
250 ml (1 k) fyngekapte pynappel
60 ml (1/4 k) fyngesnyde spinasie
60 ml (1/4 k) warm Carmién groen rooibostee (ek hou van die Revive met brandrissie en gemmer in)
160 ml (2/3 k) natuurlike volroomjogurt
15—30 ml bruinsuiker of heuning (opsioneel)

1 Plaas al die bestanddele in die beker van ‘n staafmenger.
2 Verpulp tot glad.
3 Giet in ‘n glas en geniet.

LEKKER BROS GRONDBONEBOTTERKOEKIES

Die lieflike bros koekies bevat net 5 bestanddele en is sonder gluten. Ek gebruik ook suikerlose grondbonebotter daarvoor. Dis binne minute klaar gemeng. Ook ideaal om in die kinders se kosblikke te pak. Hulle sal dit net so geniet om sommer self die koekies aanmekaar te slaan.

Maak 18—20 koekies
Bereiding 10 min
Baktyd: 15 min

250 g suikerlose gladde grondboontjiebotter (Ek gebruik Simple Truth van Checkers)
20 g kakao
1 eier
80 g versoeter-en-suikermengsel of andersins helfte bruinsuiker en versoeter wat geskik is om mee te bak
5 ml (1 t) koeksoda
Versiersuiker om in te rol
Grondbone vir versiering

Voorverhit die oond tot 180˚C. Smeer 2 bakplate.
1 Meng al die bestanddele tot ‘n sagte deeg met jou hande buiten die versiersuiker en die grondbone.
2 Skep 15 ml (1 e) deeg uit met ‘n maatlepel en rol in bolletjies. Rol in versiersuiker.
3 Pak op ‘n bakplaat en druk effe plat met ‘n vurk. Druk ‘n halwe grondboon in elk.
4 Bak 15 minute tot gaar (die koekies sal steeds sag wees). Laat afkoel op die bakplaat, pak dan op ‘n afkoelrak en laat heeltemal afkoel. Bêre in ‘n lugdigte houer.

Smul aan slaai (en boekweggee!)

Easy Al Fresco‘ bevat smullekker resepte wat ideaal is vir buite eet, hetsy op die stoep, in jou tuin, by die see, in die bos of berg of erens tussen nêrens. Grootste lekkerte is dat nie een van die resepte elektrisiteit vereis nie, maar oor die vuur of in die Weber of op gas gaargemaak kan word. Die ideale boek om in te pak as jy nou weer op ‘n voetslaan-uitstappie of visvang-naweek gaan. Die boek bevat resepte vir van heerlike brode met doopsouse, aptytwekkers en slaaie, toebroodjies en heerlike hoofgeregte en poedings.

‘Loaded BLT salad with avo, croutons and crispy onions’
Resep deur Ilse van der Merwe
“Sometimes I love turning a classic upside-down, yet retaining the original flavours that I know and love. It’s the case with this BLT sandwich-turned-salad – layers of crunchy lettuce, crispy bacon, the freshest ripe tomato, loaded with creamy avo, some pan-fried croutons (yesterday’s loaf) and a jar-shaken sweet and tangy dressing. A totally scrumptious combo.”

Serves 2 as a main, or 4 as a side
Tools: tablespoon | large wide frying pan | spatula | heat source | chopping board | chopping knife | medium jar with lid | teaspoon | salad bowl or platter

45 ml (3 Tbsp) extra virgin olive oil
2 slices bread (your choice), torn into bite-size chunks and some smaller bits
salt and pepper, to taste
250 g smoked streaky bacon
60 ml (¼ cup) extra virgin olive oil
20 ml (4 tsp) apple cider vinegar (or fresh lemon juice)
15 ml (1 Tbsp) mustard
15 ml (1 Tbsp) honey
1 small clove garlic, minced or finely grated (optional)
a medium bunch crunchy lettuce leaves (e.g. gem, romaine, iceberg)
2 large ripe tomatoes, sliced (or 250 g small tomatoes, halved/sliced)
1 large ripe avocado, sliced
2–3 Tbsp (30–45 ml) crispy onion salad topping (optional)

1 Heat the 45 ml olive oil in a pan and add the bread chunks, frying them on all sides until lightly brown. Season lightly with salt and pepper. Remove the croutons from the pan, then add the bacon (in the residual oil), and fry until crisp, stirring often. Remove from the pan, set aside to cool, then chop into smaller shards.
2 To make the dressing, add the 60 ml oil, vinegar, mustard, honey and garlic (if using) to a jar. Season lightly with salt and pepper, close the lid and give it a vigorous shake until well emulsified. Set aside.
3 Arrange the lettuce, tomatoes and avocado in a salad bowl or on a platter, top generously with the croutons, bacon and crispy onion (if using), drizzle over the dressing and garnish as desired. Serve immediately.

Lentil salad with sun-dried tomatoes, feta and herbs

“Many supermarkets sell antipasti-style sun-dried tomatoes in vinaigrette – they’re softer than regular sun-dried tomatoes that are preserved in oil and I find them more flavourful. Using the vinaigrette as a dressing is a short-cut to achieving wonderful results with minimum effort. The success of the lentils lies in choosing a large lentil that won’t disintegrate during cooking as it needs to keep its shape.”

Serves 4–6 as a side
Tools: medium-large pot | colander | mixing or salad bowl | chopping board | chopping knife

250 g (1¼ cups) large green/brown/black lentils (or puy or Castelluccio lentils)
240 g sun-dried tomatoes in vinaigrette, sliced into smaller chunks, liquid reserved
30–45 ml (2–3 Tbsp) extra virgin olive oil
15 ml (1 Tbsp) balsamic vinegar
salt and pepper, to taste
200 g feta, crumbled
½ small red onion, finely sliced
a bunch mixed fresh soft herbs, finely chopped (e.g. dill, parsley, chives and basil)

1 Place the lentils in a pot and fill with water, about 3 cm above the lentils (don’t add salt yet). Bring to a simmer, then cook, uncovered, for about 20 minutes until just tender. Drain, then transfer to a mixing bowl.
2 Add the tomatoes with their reserved liquid, the olive oil and balsamic vinegar, stirring to mix.
3 Season with salt and pepper, then leave to cool to room temperature.
4 Gently stir in the feta, onion and herbs. Serve at room temperature.

Notes
As a low-effort substitute if you don’t want to cook the lentils yourself, you can use 2 × 400 g cans of ‘organic lentils in water’ – just drain and rinse before assembling.
For a fully vegan salad, use a vegan alternative for the feta.
The salad may be made a day ahead, stored in the fridge and returned to room temperature before serving.

Die boek is beskikbaar by meeste boekwinkels teen sowat R430 en kan ook aanlyn bestel word. Een gelukkige persoon kan ook ‘n boek wen. Al wat jy hoef te doen is om my sosiale media blaaie (Instagram: CarmenNiehausSa en Facebook: Carmen Niehaus asook Ilse van er Merwe se profiele te “like’ en volg op Instagram asook Facebook) en lewer asseblief kommentaar op die relevante plasing op my blad. Die kompetisie loop tussen die 5de Januarie, tot Vrydag, die 12de Januarie. Diegene wat nie albei profiele se blaaie gevolg, ‘like’, en kommentaar gelewer het nie, sal dus nie kwalifiseer vir die wenprys nie.

Mexikaanse Nuwejaarsfees

SPYSKAART

Genoeg vir 10 mense. Resepte deur Arina du Plessis en foto’s deur Lee Schwagele

Margaritas

Geroosterde mielies met rissie-en-kruiebotter

Nachos carnitas met salsa, guacamole, bone, suurroom en vars koljander

Meellose donkersjokoladekoek met room en vars kruisement of Mexikaanse sjokolademousse

WERKSKEDULE
1-2 dae vooraf
•Bak en versier die sjokoladekoek (of maak die sjokolademousse).
•Maak die rissiebotter, bedek en verkoel.
•Maak die carnitas, pluis en verkoel.

2-3 uur voor ete
•Maak die salsa en guacamole, bedek en verkoel.
•Kook die mielies tot halfgaar.

Net voor ete
•Skep al die bo-lae en souse vir die nachos in bakkies.
•Maak die margarita.

MARGARITAS
Dis maklik om hierdie klassieke mengeldrankie vir ‘n groot groep mense voor te berei. Jy werk op ‘n verhouding van 2:1:1. Twee dele Tequila, een deel Triple Sec en een deel lemmetjiesap. Meng
eenvoudig alles saam, voeg ys by, en jy’s reg vir partytjie hou. Margaritas het skop, so as jy wil kan jy dit verdun na smaak met sodawater.

625 ml tequila
310 ml Triple Sec
310 ml vars lemmetjesap
Lemmetjiewiggies, seesout en ys
Sodawater om te verdun, indien verkies

1 Meng die tequila, Triple Sec en lemmetjiesap saam.
2 Vryf met ‘n lemmetjiewiggie oor 10 glase se rande en druk die rande in seesoutvlokkies.
3 Pak die glase op ‘n skinkbord.
4 Vul ‘n groot beker halfpad met ysblokkies, voeg ‘n paar lemmetjiewiggies by en giet die tequilamengsel daaroor. Roer liggies en sit voor. (Verdun met sodwater indien verkies.)

GEROOSTERDE MIELIES MET RISSIE-EN-KRUIEBOTTER
Mielies is groot in Mexiko! Om die partytjie mee af te skop, sit ‘n stapel geroosterde mielies voor vir voorgereg met ‘n geurige botter propvol Mexikaanse geure.

10 middelslag vars groenmielies met skudblare

RISSIE-EN-KRUIEBOTTER
200 g sagte botter
80 ml (⅓ k) suurroom
80 ml (⅓ k) baie fyn gekapte koljanderblare
1 knoffelhuisie, fyn gekap
5 ml (1 t) fyn gerookte droe brandrissie (chipotle)
1 rooi brandrissie, pitjies verwyder en baie fyn gekap
5 ml (1 t) fyngerasperde lemmetjieskil
125 ml (½ k) fyngerasperde parmesaankaas
Sout en peper na smaak

1 Kook die mielies vir ‘n paar minute in ‘n kastrol met vinnigkokende soutwater tot die blare sag en die mielies halfgaar is. Dreineer en laat effens afkoel.
2 Trek die mielies se blare versigtig na onder, maar moet dit nie afbreek nie. Bind elke mielie se blare vas met kombuistou.
3 Rangskik die mielies op ‘n draadrak wat op ‘n bakplaat staan (as jy dit in die oond gaan rooster) of op ‘n rooster (as dit oor die kole gerooster gaan word).
4 Klits of verwerk al die bestanddele vir die brandrissie-en-parmesaanbotter goed saam. Smeer ‘n bietjie daarvan oor die mielies.
5 Oondrooster teen 220° C of braai oor die kole tot die mielies gaar en goudbruin is. (Gebruik die saamgebinde mielieblare as “handvatsels” om die mielies aan te draai. Bestryk gereeld met nog van die botter.
6 Sit die gaar mielies voor met die orige botter langsaan, sodat almal vir hulself nog kan opsmeer. Lewer 10 porsies.

NACHOS CARNITAS

Carnitas is Mexikaanse gepluiste varkvleis (of ‘pulled pork’) en een van die gewildste vleisgeregte om in takos, burritos of nachos te gebruik. Omdat almal aan tafel nie van dieselfde bo-lae vir nachos sal hou nie, hou ek die resep basies en sit verskillende bo-lae apart in bakkies op die tafel, sodat almal hulself kan help met hulle gunstelinge.

CARNITAS
2 kg varkboud of -skouer
15 ml (1 e) sout
5 ml (1 t) varsgemaalde swartpeper
15 ml (1 e) droë oreganum
15 ml (1 e) fyn komyn
45 ml (3 e) olyfolie
1 ui, fyn gekap
1 jalapeno-rissie, fyn gekap
4 knoffelhuisies, fyngedruk
180 ml (¾ k) lemoensap

NACHOS
2 pakke (250 g elk) mielieskyfies (corn chips)
2 bakkies (250 g elk) gekrummelde maaskaas
250 ml (1 k) gerasperde mozzarella
250 ml (1 k) gerasperde wit cheddar

1 Vryf die varkvleis goed in met sout en peper. Meng die oreganum, koemyn en olyfolie saam tot ‘n pasta en vryf die vleis ook oraloor daarmee in.
2 Sit die ui, rissie, knoffel en lemoensap in ‘n oondbak.
3 Plaas die vleis bo-op en bedek met ‘n laag bakpapier en ‘n dubbele laag foelie. Sit die vleis in die oond en stel die temperatuur op 130° C. Bak die vleis stadig vir sowat 5-6 uur, tot die vleis so sag is dat dit van die been af val en maklik pluis.
4 Giet die vloeistof in die oondbak af in ‘n pan en kook dit af met die helfte.
5 Terwyl die vleissous afkook, pluis die vleis met 2 vurke. Voeg gepluiste vleis by die afgekookte sous en braai verder tot klewerig en sappig.
6 Net voor ete: Voorverhit die oond tot 190° C en smeer 2 groot oondvaste dienborde met olie.
7 Rangskik ‘n pak mielieskyfies op elke dienbord. Skep die gepluiste varkvleis bo-op, gevolg deur ‘n bakkie maaskaas op elk.
8 Meng die twee soorte gerasperde kaas en sprinkel dit bo-oor.
9 Bak vir 20-30 minute tot deurwarm en die kaas bo-op gesmelt is.
10 Sit dadelik voor met salsa, guacamole, suurroom, gekookte (of geblikte en gedreineerde) nierbone, gepiekelde jalapenos, suurroom, rissiesous en vars koljanderblare, of enige ander bo-lae waarvan jy hou.

MEXIKAANSE TAMATIESALSA
Skil en kap 6 groot ryp tamaties en meng dit goed met ‘n halwe fyngekapte rooi ui, 1 fyngekapte knoffelhuisie, 30 ml witwynasyn, die sap van ‘n lemmetjie en sout, peper en strooisuiker na smaak. Bedeke n verkoel tot nodig.

GUACAMOLE
Snipper 3 groot ryp avokados en gebruik ‘n vurk om dit te meng met 3 ml sout, 30 ml suurlemoensap, 2 fyngekapte stingeluie, 30 ml fyngekapte koljanderblare en swartpeper na smaak.

MEELLOSE DONKERSJOKOLADEKOEK

200 g donker sjokolade, gekap
100 ml brandewyn
200 g sagte botter
250 ml (1 k) strooisuiker
6 eiers, geskei
200 g (2 pakkies) gemaalde amandels
3 ml (½ t) bakpoeier
30 ml (2 e) kakao
1 ml ( ¼ t) sout
GANACHE
120 g donker sjokolade
100 ml room
15 ml (1 e) botter
15 ml (1 e) gouestroop

Voorverhit die oond tot 180° C en smeer ‘n losboomkoekpan van 24 cm met olie. Bestuif die boom en kante van die pan met kakao.
1 Smelt die sjokolade, brandewyn en botter oor lae hitte tot glad. Verwyder van die hitte.
2 Voeg die strooisuiker en eiergele by en roer tot die suiker opgelos is.
3 Meng die amandels, bakpoeier, kakao en sout in ‘n groot bak en giet die sjokolademengsel by. Roer goed.
4 Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en vou liggies by die sjokolademengsel in. Giet in die pan en smeer gelyk.
5 Bak vir sowat 35 minute tot die koek net-net gaar is.
6 Verwyder uit die oond en laat vir 15 minute in die pan afkoel.
7 Maak die klamp van die pan los en lig die koek versigtig tot op ‘n draadrak om verder af te koel tot kamertemperatuur.
8 GANACHE Smelt die sjokolade en room saam oor lae hitte tot glad. Verwyder van die hitte en roer die botter en gouestroop by. Laat effens afkoel en giet oor die koek.
Laat staan tot gestol en bêre in ‘n lugdigte houer in die yskas, maar sit die koek voor teen kamertemperatuur met geklopte room en kruisement. Lewer 14-16 porsies.

(Alternatiewe nagereg)

MEXIKAANSE SJOKOLADEMOUSSE

Nie lus vir bak nie? Maak dan dekadente sjokolademousse, met ‘n titseltjie brandrissie en ‘n lepel saggeklopte room bo-op.

500 g donker- of melksjokolade
2 rooi brandrissies
250 ml volroommelk
600 ml room (verkoel 300 ml daarvan tot yskoud)
Ekstra geklopte room en sjokoladekrulle, om af te rond
Knippie cayennepeper

1 Kap die sjokolade fyn.
2 Maak ‘n snit in die lengte van elke brandrissie tot teen die stam, maar moenie dwarsdeur sny nie. Verhit die melk, 300 ml van die room en die twee rissies tot net onder kookpunt.
Verwyder van die hitte en laat staan vir 10 minute. Skep die rissies uit en gooi dit weg.
3 Verhit die melkmengsel weer tot net onder kookpunt. Giet dit oor die gekapte sjokolade en roer tot glad. Laat afkoel tot die sjokolademengsel begin verdik.
4 Klits nou die 300 ml koue room styf en vou dit versigtig by die sjokolademengsel in.
5 Giet die mousse in mooi bakkies of glase en verkoel tot benodig. Rond af met ’n skeppie geklopte room, sjokoladekrummel en ‘n knippie cayennepeper. Lewer 10-12 porsies.

Geseënde Kersfees

Daar is vir my nie ‘n beter en mooier manier om die vreugde van Kersfees oor te dra as in die woorde van Koos du Plessis nie. En terwyl julle daardie woorde oordenk, is hier vir oulaas ‘n samevatting van my Kersfeestafel vir 2023.

Welkom, o stille nag van vrede onder die Suiderkruis Wyl stemme uit die ou verlede oor sterrevelde ruis
Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer Skenk ‘n helder somerkersfees aan hierdie land, o Heer
Hoor jy hoe sag die klokke beier in eeue-oue taal Kyk, selfs die nagtelike swye, vertel die ou verhaal
Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer Skenk ‘n helder somerkersfees aan hierdie land, o Heer
Voel jy ook nou Sy warm liefde as ons die dag gedenk Toe Hy Sy Seun aan ons gestuur het, ons grootste kersgeskenk
Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer Skenk ‘n helder somerkersfees aan hierdie land, o Heer

DIE SPYSKAART
Fynbos-volgraan-plaasbroodjies met kaaskersboompies

Gemmer”gammon” met waatlemoen-en-spanspek
Slaphakskeentjies
Koperpennieslaai
Beet-en-aarbeislaai
Broccoli-en-tamatieslaai

Swartwoud trifle-koek

TE DRINKE
WYN

Piekenierskloof Heirloom White
Piekenierskloof Cinsault
Piekenierskloof Chenin Blanc
Piekenierskloof Pinotage
(by koek)

TEE
Carmién Floral Berry
Carmién Tropical Burst
Carmién Orange Camomile
Carmién Turkish Delight
(by koek)

KOS, WYN EN TEE – ‘N FEESMAAL

Ons het die wyne en tees noukeurig gekies om die kos te komplimenteer. En omdat ons ‘n somerse Kersfees vier, sorg dat die wyne verkoel is, selfs die rooi wyn.

Piekenierskloof se Chenin Blanc pas goed by die gemmer in die gerookte gammon terwyl die Cinsault heerlik is saam met die tamatiesousie van die koperpenniewortelslaai en ook by die tamatie in die broccoli-slaai. Die Heirloom White asook die Chenin Blanc werk ook goed saam met al die slaaie.

Die swaarder Piekenierskloof Pinotage met sjokoladenote is die ideale pasmaat by die swartwoud-triflekoek.

Wat die tee betref – ons sorg altyd vir so 3 verskillende soorte potjies tee op tafel waaraan jy tussendeur kan sip om as paletskoonmaker en ook hidreerder te dien. Dit werk ook uitstekend om die smake en geure van beide die kos en die wyn na vore te bring. Die tee smaak op sy beste as dit so by 60°C gedrink word, sonder suiker. So maak dit vroeg en laat afkoel. Plaas dit dan op ‘n brandertjie om dit warm te hou.

My keuse van Carmién-tees vir die tafel is as volg:

Die Carmién Floral Berry met soeterige bessiegeure om saam met die waatlemoen-en-spanspek by die gammon te gaan asook saam met die aarbei-en-beetslaai met sy woudbessie-slaaisous.

Die Tropical Burst met sy tropiese geure sal ook heerlik wees saam met die gemmer van die gammon, en ook by veral die bêreslaaie terwyl die Orange Camomile vir my altyd ‘n móét op tafel is omdat dit by enige kos en wyn so lekker pas. Ek het ook Orange Camomile in die slaaisous van die broccolislaai gebruik, so dit sal daardie ligte lemoengeurtjie daar ook optel.

Turkish Delight spel altyd vir my soetgoed en die rooswaterprofiel werk heerlik saam met die sjokoladekoek en die rooi vrugte asook die rooi vrugte in die Pinotage.

Maar soos ek altyd sê, daar is geen reels nie, probeer en eksperimenteer bly die wagwoord.

Somerkersfees 5

Op die familie-kersfeesete uit my kinderdae was daar altyd ‘n verskeidenheid soetigheid insluitend die Kerspoeding met die geldjies in. Nie dat dit ons gunsteling was nie, maar ons het geëet dat ons wange bol staan, alles in die hoop om die grooot geld raak te proe. My gunsteling was trifle – die koeklae met baie soetwyn oor, geel en groen jellie, verskeidenheid gepreserveerde vrugte en neute met baie vla en room. Later van jare het ek die swartboudtrifle ontdek met sjokoladekoek, karamelkondensmelk, kersies en room. Toe het dit my gunsteling geword.

Vanjaar was dit my inspirasie vir ons poeding wat ‘n swartwoudtrifle in die gedaante van ‘n koek is. En ek gebruik gestolde vla wat met karamelrooibostee gemaak word. Net so lekker soos karamelkondensmelk, maar nie so oormatig soet nie. Ek bak die koek in ‘n silikoon-bundt-pan wat in die Airfryer pas. Lekker maklik.

Vir die somerkersfees het ek ‘n aparte koektafel gedek om die statige koek op uit te stal. Die Provensale langbeen-koekstaander van Mervyn Gers is perfek om die koek op staan te maak en ek versier dit met bolletjies silwer en titsels groen saam met wit. Die staander sit ek in ‘n koniferkrans wat Elmarie van der Berg van Soutbos gemaak het. Daarby Mervyn Gers bordjies en oorlose koppietjies. Die Rooi Turksvy-teedoeke verleen titsels rooi en dien as ‘n oorgroot servet.

Carmién se Turkish Delight met rooswatergeure en Piekenierskloof se Pinotage met sy bessie- en sjokoladenote is heerlik saam met die kakao, bessies en aarbeie van hierdie swartwoudtrifle-koek. Skink die tee in die oorlose Provensale-koppies van Mervyn Gers en sip aan klein slukkies Pinotage uit kristalglase.

Swartwoud triflekoek
Maak een groot trifle-koek, genoeg vir 6—8 mense
Bereiding: 20 min
Baktyd: sowat 40 mina

KOEK
500 ml (2 k) koekmeel
125 ml (½ k) kakao
10 ml (2 t) koeksoda
Knippie sout
250 ml (1 k) hawermout
250 ml (1 k) suiker
160 ml (⅔ k) canola-olie
30 ml (2 e) appelasyn
500 ml (2 c) Cookies & Cream Carmién-rooibostee, gemaak met 4 sakkies
KARAMELVLA
500 ml (2 k) melk
4—6 Caramel Carmién-sakkies
Knippie sout
60—80 ml (¼–⅓ k) suiker
40 g vlapoeier
10 ml (2 t) gelatien
AFRONDING
250 ml (1 k) verkoelde room, styfgeklits met bietjie strooisuiker
125 g aarbeie, in skyfies gesny
250 g vars kersies met stele aan indien verkies

Voorverhit die oond tot 180°C (of stel bak by AirFryer, ook 180°C)
1 KOEK Meng die koekmeel, kakao, koeksoda, en sout saam, voeg die hawermout en suiker by en meng goed.
2 Giet die olie, asyn en rooibostee in ‘n groot beker en klits goed.
3 Voeg die teemengsel by die droë bestanddele en meng goed.
4 Spuit ‘n silikoon-bundtpan goed met kossproei. Giet die beslag daarin en bak sowat 40—45 min lank of tot ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek kom.
Bedek die koek halfpad deur die baktyd met ‘n vel tinfoelie om te keer dat die bokant nie te donker bak nie.
6 Laat afkoel in die pan en verkoel tot stewig.
7 Halveer die koek horisontaal. Plaas die koek op ‘n koekstaander.
8 VLA Verhit die melk saam met die teesakkies tot net onder kookpunt. Verwyder die teesakkies, voeg die suiker by en bring die melk tot kookpunt.
9 Meng die vlapoeier met ‘n bietjie water tot ‘n pasta, meng bietjie van die verhitte melk by, roer tot glad en voeg by die res van die melk. Meng goed en verhit tot die mengsel verdik en kook.
10 Spons intussen die gelatien in bietjie water, verhit so 10 sekondes in die mikrogolfoond of tot die mengsel gesmelt is, moenie dit laat kook nie.
11 Voeg van die vla by, roer goed en giet by die orige vlamengsel. Roer goed en laat afkoel tot gestol.
12 AFRONDING Klits helfte van die styfgeklopte room by die vlamengsel in. Gebruik ‘n elektriese klister en klits die mengsel tot glad.
13 Smeer driekwart van die vlamengsel op die onderste koeklaag. Pak die gesnyde aarbeie bo-op.
14 Plaas die ander koeklaag bo-op en spuit bollings vlamengsel bo-oor die koek. Versier kwistig met kersies.
15 Rond af met takkies kruisement en sit voor met Piekenierskloof Pinotage en Carmién Turkish Delight.

Somerkersfees oppie Stoep (Somerkersfees 4)

Vir ‘n somerkersfees kan mens nooit genoeg slaai op tafel hê nie. Buiten vir die bêreslaaie, verskaf kleurvolle slaaie vrolikheid aan die Kersfeestafel: Broccoli-slaai vir die broodnodige groenigheid en aarbei-en-beetslaai vir daardie tikkie rooi. Alles om te pas by ons natuurlike Kerstafel met sy groen Kerskrans wat Elmarie van den Berg van Soutbos spesiaal vir ons gemaak het saam met ander groenigheid uit my tuin waarmee ek die tafel getooi het. Die pragtige bloupatroon Provencale-eetstel van Mervyn Gers verleen daardie tikkie stylvolheid aan die tafel. Koekstaanders, hetsy ou silwer, koper of mooi keramiek, maak uitstekende slaaibakke en verleen hoogte aan die tafel. Die slaaie is absoluut heerlik en dis veral die slaaisouse wat hierby pas, wat mens telkens weer een weer laat skep. Die geheim, hulle word met rooibostee gemaak!

DIE SOUS MAAK DIE SLAAI
Ek maak graag deesdae slaaisous met rooibostee. Nie net is dit propvol antioksidante en ander goedhede nie, maar kan jy ook terselfderty die olie-inhoud heelwat afbring. Carmién se rooibostees met hul besonderse geure maak die lekkerste slaaisouse wat telkens gans en al anders smaak en heerlik is. Die slaaisouse hou goed in die yskas.

BROCCOLI-SLAAI MET SITRUS-SLAAISOUS
Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 15 min

SLAAISOUS
125 ml (½ k) Carmién Orange Camomile gemaak met drie teesakkies
Sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
30 ml (2 e) olyfolie
2 knoffelhuisies, fyngedruk
15 ml (1 e) korrelmosterd
5 ml (1 t) Dijonmosterd
15 ml (1 e) heuning
45 ml (3 e) vars gekapte pietersielie, koljanderblare en ment
Sout en peper na smaak
SLAAI
1 kop broccoli, in kleiner blommetjie gebreek
125 g baba-tamaties
1 rooi ui, in dun repies gesny
Roketblare of koljanderblare vir bo-oor sprinkel

1 SLAAISOUS Meng alles goed saam.
2 SLAAI Plaas die broccoli in ’n bak, giet kookwater oor en laat staan so 5 minute. Dreineer, en giet die slaaisous oor en laat afkoel.
3 Voeg die baba-tamaties en ui by en meng deur.
4 Skep in ’n slaaibak of koekbord en sprinkel die kruie net voor opdiening oor.

AARBEI-EN-BEETSLAAI

Ek koop deesdae graag vir my daardie vakuumverpakte pakkies klaargekookte beetslaai. Ideaal om binne minute ‘n heerlike slaai mee op te tower, die beet en aarbeie vul mekaar mooi aan. Carmién se Energize-roobostee bevat onder andere bietjie woudbessies en boegoe wawt nie net die aarbeigeure in die slaai mooi optel nie, maar ook ‘n tikkie fynbosgeure aan die slaai verskaf.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 15 min

Woudbessie-en-boegoe-slaaisous
SLAAISOUS
4 sakkies Carmién Energize (rooibos met woudbessies en boegoe)
250 ml (1 k) kookwater
15 ml (1 e) suiker
30 ml (2 e) olie
30 ml (2 e) appelasyn
7,5 ml (1½ t) Japanese sojasous
2,5 ml (½ t) fyn sout
SLAAI
2 sakkies vakuumverpakte klaargekookte beet
125 g aarbeie, gehalveer
1 rooi ui, in ringetjies gesny
Sprinkel gepekelde groenpeperkorrels
1 blok fetakaas met swartpeper
Bronkorsblare vir bo-oor sprinkel

1 SLAAISOUS Plaas teesakkies in ‘n maatbeker en giet die kookwater oor. Laat trek en koel af. Verwyder die teesakkies. Voeg die res van die sousbestanddele by en meng baie goed.
2 SLAAI Rangskik die slaaibestanddele in ‘n slaaibak of koekstaander en giet die slaaisous oor. Krummel die feta-kaas oor en stapel die bronkosblare bo-op. Verkoel tot met voorsit.Blog post 1: