Tuisgemaakte Teebrood

Die dadels en rooibostee maak hierdie teebrood lekker swaar en klam, nes ek van ‘n koekbrood hou. Carmien Tea se Citrus Chai-rooibostee verleen ‘n ekstra speserygeur met ‘n tikkie sitrus, maar ek gebruik ook net so graag die Carmien Natural rooibos om hierdie teebrood mee te maak. Die maaskaasversiersel is heerlik hierby en ek was ook gelukkig om koekheuning in die hande te kry om daarby voor te sit.

Woensdag Wenke : Aspersies

Kathleen, die onderste gedeelte van die aspersies se stingel is baie keer hard, want laer na onder toe begin die stingel al hoe meer veselrig raak. Jy sal sien dat die stingel litte het. Ek breek gewoonlik die onderste gedeelte by die eerste lit af, dit breek maklik by die lit. Dan sit jy nie met daardie laaste harde gedeelte nie. Nog ‘n wenk is om die aspersies in ‘n bossie gebind te hou en dan die harde stingel net onder die rekkie af te sny.

Aarbei-Vinaigrette

Almal wat my ken, weet dat ek ‘n slaailiefhebber van uiterste proporsies is, soveel so dat my assistente in die toetskombuis altyd gespot het dat my kookboeke maklik meer slaairesepte as vleisresepte kon bevat. Hulle was nie ver van die waarheid nie, want ek is permanent op die uitkyk oor hoe ek ‘n slaai kan opkikker sodat dit nie na afskeepkos lyk nie, maar een van daardie geregte is waarvan mense graag ‘n tweede skeppie sal vra. En ja, die slaaibak op my tuistafel is altyd dolleeg, al was dit partykeer net ‘n paar slaaiblare en komkommer. (Buiten my pa, hy kon ek nie eintlik oorreed kry om te veel slaaigoed te eet nie, en tamatie het hy verpes om die minste daarvan te sê).