SPYSKAART
Genoeg vir 10 mense. Resepte deur Arina du Plessis en foto’s deur Lee Schwagele
Margaritas
Geroosterde mielies met rissie-en-kruiebotter
Nachos carnitas met salsa, guacamole, bone, suurroom en vars koljander
Meellose donkersjokoladekoek met room en vars kruisement of Mexikaanse sjokolademousse
WERKSKEDULE
1-2 dae vooraf
•Bak en versier die sjokoladekoek (of maak die sjokolademousse).
•Maak die rissiebotter, bedek en verkoel.
•Maak die carnitas, pluis en verkoel.
2-3 uur voor ete
•Maak die salsa en guacamole, bedek en verkoel.
•Kook die mielies tot halfgaar.
Net voor ete
•Skep al die bo-lae en souse vir die nachos in bakkies.
•Maak die margarita.
MARGARITAS
Dis maklik om hierdie klassieke mengeldrankie vir ‘n groot groep mense voor te berei. Jy werk op ‘n verhouding van 2:1:1. Twee dele Tequila, een deel Triple Sec en een deel lemmetjiesap. Meng
eenvoudig alles saam, voeg ys by, en jy’s reg vir partytjie hou. Margaritas het skop, so as jy wil kan jy dit verdun na smaak met sodawater.
625 ml tequila
310 ml Triple Sec
310 ml vars lemmetjesap
Lemmetjiewiggies, seesout en ys
Sodawater om te verdun, indien verkies
1 Meng die tequila, Triple Sec en lemmetjiesap saam.
2 Vryf met ‘n lemmetjiewiggie oor 10 glase se rande en druk die rande in seesoutvlokkies.
3 Pak die glase op ‘n skinkbord.
4 Vul ‘n groot beker halfpad met ysblokkies, voeg ‘n paar lemmetjiewiggies by en giet die tequilamengsel daaroor. Roer liggies en sit voor. (Verdun met sodwater indien verkies.)
GEROOSTERDE MIELIES MET RISSIE-EN-KRUIEBOTTER
Mielies is groot in Mexiko! Om die partytjie mee af te skop, sit ‘n stapel geroosterde mielies voor vir voorgereg met ‘n geurige botter propvol Mexikaanse geure.
10 middelslag vars groenmielies met skudblare
RISSIE-EN-KRUIEBOTTER
200 g sagte botter
80 ml (⅓ k) suurroom
80 ml (⅓ k) baie fyn gekapte koljanderblare
1 knoffelhuisie, fyn gekap
5 ml (1 t) fyn gerookte droe brandrissie (chipotle)
1 rooi brandrissie, pitjies verwyder en baie fyn gekap
5 ml (1 t) fyngerasperde lemmetjieskil
125 ml (½ k) fyngerasperde parmesaankaas
Sout en peper na smaak
1 Kook die mielies vir ‘n paar minute in ‘n kastrol met vinnigkokende soutwater tot die blare sag en die mielies halfgaar is. Dreineer en laat effens afkoel.
2 Trek die mielies se blare versigtig na onder, maar moet dit nie afbreek nie. Bind elke mielie se blare vas met kombuistou.
3 Rangskik die mielies op ‘n draadrak wat op ‘n bakplaat staan (as jy dit in die oond gaan rooster) of op ‘n rooster (as dit oor die kole gerooster gaan word).
4 Klits of verwerk al die bestanddele vir die brandrissie-en-parmesaanbotter goed saam. Smeer ‘n bietjie daarvan oor die mielies.
5 Oondrooster teen 220° C of braai oor die kole tot die mielies gaar en goudbruin is. (Gebruik die saamgebinde mielieblare as “handvatsels” om die mielies aan te draai. Bestryk gereeld met nog van die botter.
6 Sit die gaar mielies voor met die orige botter langsaan, sodat almal vir hulself nog kan opsmeer. Lewer 10 porsies.
NACHOS CARNITAS
Carnitas is Mexikaanse gepluiste varkvleis (of ‘pulled pork’) en een van die gewildste vleisgeregte om in takos, burritos of nachos te gebruik. Omdat almal aan tafel nie van dieselfde bo-lae vir nachos sal hou nie, hou ek die resep basies en sit verskillende bo-lae apart in bakkies op die tafel, sodat almal hulself kan help met hulle gunstelinge.
CARNITAS
2 kg varkboud of -skouer
15 ml (1 e) sout
5 ml (1 t) varsgemaalde swartpeper
15 ml (1 e) droë oreganum
15 ml (1 e) fyn komyn
45 ml (3 e) olyfolie
1 ui, fyn gekap
1 jalapeno-rissie, fyn gekap
4 knoffelhuisies, fyngedruk
180 ml (¾ k) lemoensap
NACHOS
2 pakke (250 g elk) mielieskyfies (corn chips)
2 bakkies (250 g elk) gekrummelde maaskaas
250 ml (1 k) gerasperde mozzarella
250 ml (1 k) gerasperde wit cheddar
1 Vryf die varkvleis goed in met sout en peper. Meng die oreganum, koemyn en olyfolie saam tot ‘n pasta en vryf die vleis ook oraloor daarmee in.
2 Sit die ui, rissie, knoffel en lemoensap in ‘n oondbak.
3 Plaas die vleis bo-op en bedek met ‘n laag bakpapier en ‘n dubbele laag foelie. Sit die vleis in die oond en stel die temperatuur op 130° C. Bak die vleis stadig vir sowat 5-6 uur, tot die vleis so sag is dat dit van die been af val en maklik pluis.
4 Giet die vloeistof in die oondbak af in ‘n pan en kook dit af met die helfte.
5 Terwyl die vleissous afkook, pluis die vleis met 2 vurke. Voeg gepluiste vleis by die afgekookte sous en braai verder tot klewerig en sappig.
6 Net voor ete: Voorverhit die oond tot 190° C en smeer 2 groot oondvaste dienborde met olie.
7 Rangskik ‘n pak mielieskyfies op elke dienbord. Skep die gepluiste varkvleis bo-op, gevolg deur ‘n bakkie maaskaas op elk.
8 Meng die twee soorte gerasperde kaas en sprinkel dit bo-oor.
9 Bak vir 20-30 minute tot deurwarm en die kaas bo-op gesmelt is.
10 Sit dadelik voor met salsa, guacamole, suurroom, gekookte (of geblikte en gedreineerde) nierbone, gepiekelde jalapenos, suurroom, rissiesous en vars koljanderblare, of enige ander bo-lae waarvan jy hou.
MEXIKAANSE TAMATIESALSA
Skil en kap 6 groot ryp tamaties en meng dit goed met ‘n halwe fyngekapte rooi ui, 1 fyngekapte knoffelhuisie, 30 ml witwynasyn, die sap van ‘n lemmetjie en sout, peper en strooisuiker na smaak. Bedeke n verkoel tot nodig.
GUACAMOLE
Snipper 3 groot ryp avokados en gebruik ‘n vurk om dit te meng met 3 ml sout, 30 ml suurlemoensap, 2 fyngekapte stingeluie, 30 ml fyngekapte koljanderblare en swartpeper na smaak.
MEELLOSE DONKERSJOKOLADEKOEK
200 g donker sjokolade, gekap
100 ml brandewyn
200 g sagte botter
250 ml (1 k) strooisuiker
6 eiers, geskei
200 g (2 pakkies) gemaalde amandels
3 ml (½ t) bakpoeier
30 ml (2 e) kakao
1 ml ( ¼ t) sout
GANACHE
120 g donker sjokolade
100 ml room
15 ml (1 e) botter
15 ml (1 e) gouestroop
Voorverhit die oond tot 180° C en smeer ‘n losboomkoekpan van 24 cm met olie. Bestuif die boom en kante van die pan met kakao.
1 Smelt die sjokolade, brandewyn en botter oor lae hitte tot glad. Verwyder van die hitte.
2 Voeg die strooisuiker en eiergele by en roer tot die suiker opgelos is.
3 Meng die amandels, bakpoeier, kakao en sout in ‘n groot bak en giet die sjokolademengsel by. Roer goed.
4 Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en vou liggies by die sjokolademengsel in. Giet in die pan en smeer gelyk.
5 Bak vir sowat 35 minute tot die koek net-net gaar is.
6 Verwyder uit die oond en laat vir 15 minute in die pan afkoel.
7 Maak die klamp van die pan los en lig die koek versigtig tot op ‘n draadrak om verder af te koel tot kamertemperatuur.
8 GANACHE Smelt die sjokolade en room saam oor lae hitte tot glad. Verwyder van die hitte en roer die botter en gouestroop by. Laat effens afkoel en giet oor die koek.
Laat staan tot gestol en bêre in ‘n lugdigte houer in die yskas, maar sit die koek voor teen kamertemperatuur met geklopte room en kruisement. Lewer 14-16 porsies.
(Alternatiewe nagereg)
MEXIKAANSE SJOKOLADEMOUSSE
Nie lus vir bak nie? Maak dan dekadente sjokolademousse, met ‘n titseltjie brandrissie en ‘n lepel saggeklopte room bo-op.
500 g donker- of melksjokolade
2 rooi brandrissies
250 ml volroommelk
600 ml room (verkoel 300 ml daarvan tot yskoud)
Ekstra geklopte room en sjokoladekrulle, om af te rond
Knippie cayennepeper
1 Kap die sjokolade fyn.
2 Maak ‘n snit in die lengte van elke brandrissie tot teen die stam, maar moenie dwarsdeur sny nie. Verhit die melk, 300 ml van die room en die twee rissies tot net onder kookpunt.
Verwyder van die hitte en laat staan vir 10 minute. Skep die rissies uit en gooi dit weg.
3 Verhit die melkmengsel weer tot net onder kookpunt. Giet dit oor die gekapte sjokolade en roer tot glad. Laat afkoel tot die sjokolademengsel begin verdik.
4 Klits nou die 300 ml koue room styf en vou dit versigtig by die sjokolademengsel in.
5 Giet die mousse in mooi bakkies of glase en verkoel tot benodig. Rond af met ’n skeppie geklopte room, sjokoladekrummel en ‘n knippie cayennepeper. Lewer 10-12 porsies.
