Ons kook met Carmien se splinternuwe Lekker & Goed Cooking Teabags
Dis nou al ‘n geruime tyd wat ek ene ore is oor hoe dinge gebeur by die grootste landbou-uitstalling in die Suidelike halfrond, die jaarlikse GraanSA Nampoe-Oesdag.
Vanjaar, met die 58e uitstalling wat middel Mei gehou is, het ek die kans gekry om self te ervaar en met my eie oë te sien.
CarmienTea was een van die borge by die Rooi Rose-vrouetent en ek het die geleentheid gekry om twee demonstrasies daar te doen. Ek deel die verhoog met groot name soos onder andere Amanda Strydom, Hannes van Wyk, Reandi Grey en Willem Botha wat die vroue mooimaak.
Die bakkie was tot boordens gelaai met van Snappy Chefs, Airfryers, potte, panne, messegoed en breekware asook al die bestanddele, party klaar voorberei en netjies verpak in plastiekbakkies, maar vars goed moes wag tot op die laaste om netjies opgesny te word.
Laatmiddag arriveer ons by die terrein, lekker moeg na die lang reis al die pad van Langebaan. Genadiglik doen ons al die nodige voorbereiding so ver as moontlik vir die volgende oggend se dem, want die volgende dag is die rekordpoging om die meeste Toyota Hilux-bakkies op een slag bymekaar (‘n ongelooflike 1545) te oortref. Maar dit sorg vir ‘n reuse verkeersopeenhoping en ons kom eers kort voor my demonstrasie by die vrouetent aan. Toe is dit omtrent rondskarrel om alles betyds klaar te kry. Ongelukkig het verskeie feesgangers toe die demonstrasie ook misgeloop, maar gelukkiglik het die volgende dag daarvoor opgemaak en die saal was volgepak.
Dis altyd vir my lekker om vir mense te wys hoe eenvoudig en maklik dit is om met rooibostee, veral Carmien-rooibostee met sy uitgebreide reeks geurige tees, te kook.
Vanjaar het ons ook ‘n baie spesiale teereeks, die Carmien Lekker & Goed Cooking Teabags, bekendgestel. Hierdie groter teesakkie bevat 8 g tee teenoor ‘n gewone teesakkie se 5 g en maak ‘n lekker sterk aftreksel, net reg om ekstra geur en goedheid aan kos te verleen. Die driehoekige sakkie help ook dat dit lekker vinnig trek. In die reeks is daar ‘n geurige Masala Chai wat ideaal is vir veral kerrie en Maleise geregte asook ‘n kombinasiepak met 10 v elk Pure rooibostee (rooi) asook groen rooibostee. Pure rooibostee verkies ek om by soet geregte te gebruik terwyl groen rooibostee ideaal is om soutige geregte mee te maak, soos rys of aartappels in te kook.
Ons skop af met ‘n lekker trendy Oosterse poké-slaaibakkie, met die slaaisous wat met rooibostee gemaak word; daarna ‘n geurige botterhoender met ‘n
hoë proteinsaadbroodjie daarby, Die is ook glutenvry. Vir poeding maak ek teeramisu, daardie romerige Italiaanse lekkerny, wat ek met Carmien se Turkish Delight-rooibostee met sy groen basis maak. Dit verskaf ‘n heerlike Persiese roosgeur daaraan. Te gou is die uur verby, maar almal smul heerlik en koop fluks Lekker & Goed-boeke.
Om die chaos van die vorige dag te voorkom, spring ons die volgende oggend reeds 5h30 in die pad, net om toe binne 20 minute voor toe hekke te stop. Dis vriesend koud, maar ons het tyd vir ‘n vinnige koffietjie voordat ek begin regmaak vir my volgende demonstrasie.
Ek wys hulle hoe maklik dit is om bekende plaaskosse lekker op te zooz. Ons maak ‘n biltongslaai met bloukaas en ‘n aarbei-rooibosvinaigrette-slaaisous, dan’s dit tyd vir Marmite-steak op gebakte aartappels met feta en ‘n bonkige tamatiesous en laastens rond ons af met ‘n geurige rooibos-sagopoeding, heerlik gebrûlée. Agterna kuier die mense by die Carmien-teestalletjie en teug aan die nuutste tees, koop Lekker & Goed-boeke en knoop al te lekker geselsies aan. ‘n Paar bekendes uit skooldae kom sé selfs hallo. Gans te gou is dit tyd vir oppak en huiswaarts keer. Dankie GraanSA en Hetta Saunderson van M4 Events vir die uitnodiging en al die reëlings.
‘n Lekker ondervinding was dit beslis.
OOSTERSE POKéSLAAIBAKKIES
SLAAISOUS
Maak sowat 180 ml
30—45 ml (¼ k) rou appelasyn
60 ml (1/4 k) vars lemmetjiesap en skil van 4 lemmetjies
125 ml (1/2 k) sterk Carmien Revive groen rooibostee met gemmer en brandrissie (3 sakkies)
80–125 ml (⅓–½ k) sojasous
15 ml (1 e) sesamolie (opsioneel)
30–45 ml (2-3 e) heuning
2 knoffelhuisies, fyngerasper
45 ml (3 e) koljanderblare, gekap
45 ml (3 e) Poke-geurmengsel of sesamsaad
SLAAI
Gaar bulgur, geweek in groen rooibostee en gegeur met Poke-geurmengel of bietjie sout (opsioneel)
Baba-spinasieblare
Reënboog-wortel-en-koolmengsel
Mini-komkommerstukkies
Endanamebone
avokadoskyfies
stokkies mango of pynappel
AFRONDING
sesamsade
Piekelgemmer en poke-speserye
1 SOUS Plaas al die bestanddele in ‘n kastrolletjie en bring tot kookpunt. Koel af en giet in ‘n bekertjie.
2 POKE-BAKKIES Skep die bulgur in die bakkies.
3 Pak dan hopies spinasie, kool, komkommer, endanamebone en avokado bo-op.
4 Rangskik die mango of pynappel bo-op en rond af met piekelgemmer.
5 Giet die slaaisous oor of sit apart voor.
6 Sprinkel die sesamsade oor.
VINNIGE BOTTERHOENDER
Genoeg vir 4—6 mense
Voorbereiding 20 min
Gaarmaaktyd: sowat 20 min
1 Carmien Masala Chai Cooking bag
250 ml (1 k) kookwater
325 ml (1½ k) dubbelroom-jogurt
2 knoffelhuisies, gerasper
15 ml (1 e) botterhoenderspeserye of brejani-masala
4 hoenderborsies, in repies of klein blokkies gesny
Sout
Olie
2 uie, in dun ringe gesny
Sowat 400 g passata
halwe kopkool, in baie dun repies geny
Groot handvol gekapte koljanderblare
Paar baba-tamaties, gehalveer (opsioneel)
VOORSIT
Basmati-rys of naanbrood
1 Trek die rooibostee in die kookwater tot lekker sterk. Verwyder die sakkies.
2 Plaas die jogurt, knoffel en botterhoender-speserye of brejani-masala in ‘n groot bak en meng goed.
3 Geur die hoender met sout en voeg by die jogurtmengsel. Marineer te minste vir ‘n halfuur lank, andersins selfs oornag.
4 Verhit die olie in ‘n groot pan en braai die uie daarin tot sag.
5 Voeg die gemarineerde hoenderstukkies bietjie vir bietjie by en roerbraai tot effe bruin.
6 Voeg ook die orige marinade asook die rooibostee en die passata by. Laat prut tot die hoender gaar en die sous lekker geurig is.
7. Voeg die koolrepies by en sprinkel die koljanderblare oor. Voeg ook ‘n paar vars tamaties by indien verkies.
8 Skep die hoendermengsel in bakkies uit saam met rys of sit andersins voor saam met naanbrood.
TEERAMISU
1 pakkie sponsvingerbeskuitjies
180 ml (¾ k) afgekoelde sterkgetrekte Carmien Turkish Delight-rooibostee (Turkish Delight moet nie lank getrek word nie) (4 sakkies) plus 15 ml (1 e) rooswater
3 eiergele
80–125 ml (⅓–½ k) rou heuning
60 ml (¼ k) brandewyn of jenewer
2 houers (230 g elk) geroomde maaskaas, dreineer wei af
kakao
1 plak donker sjokolade, minstens 70%
1 Doop die beskuitjies vinnig in tee en pak die vingerbeskuitjies op die bodem van ‘n vierkantige bak.
2 Plaas die eiergele en heuning in ‘n glasbak wat oor ‘n kastrol met kookwater kan pas. Roer met ‘n houtlepel tot die bak en mengsel goed warm is. Verwyder van die kastrol en klits met ‘n elektriese klister tot lig en dik.
4 Voeg die brandewyn of jenewer by en meng.
5 Meng die maaskaas by.
6 Skep die mengsel oor die beskuitjies, stuif met kakao en rasper die sjokolade oor.
7 Verkoel verkieslik oornag.
BILTONG-EN-DRUIWE-BLOUKAASSLAAI MET AARBEI-ROOIBOS-VINAIGRETTE
BESSIE-ROOIBOS-VINAIGRETTE
Maak sowat 350 ml
180 ml (¾ k) Carmien Menopause of Feminine (gemaak met 4 sakkies) en afgekoel
125 g bevrore aarbeie
25 ml (5 t) strooisuiker
60 ml (¼ c) rou appelasyn
60–80 ml (¼–⅓ k) olyfolie
Paar druppels vissous
Sout en peper na smaak
1 SLAAISOUS Plaas al die bestanddele vir die slaaisous in die NutriBullet en verwerk tot glad. Verkoel.
SLAAI
Genoeg vir 6–8 mense
Bereiding: 20 min
125 g wilde roket of spinasieblare
500 g rooi druiwe,
125 g vars bloubessies
1 pakkie romerige bloukaas of peperroomkaas, in stukke gebreek of in skyfies gesny
100 g nat biltong, in dun-dun skyfies gesny
Rooibos-vinaigrette (sien resep)
PRALIEN
125 ml (½ k) suiker
50 g okkerneute
1 Plaas die roket of spinasieblare op ‘n slaaibord of slaaibordjies en sprinkel die druiwe, bloubessies oor.
2 Rangskik die kaas en biltong bo-op.
3 Smelt die suiker in ‘n pan, verhit tot gekarameliseer (skud die pan van tyd tot tyd) en voeg die okkerneute by, giet op ‘n gesmeerde bakplaat uit en laat afkoel. Kap in stukke.
3 Giet die slaaisous net voor opdiening oor en sprinkel die pralien bo-oor.
Wenk: Jy kan ook gekoopte gekarameliseerde neute gebruik.
MARMITE-STEAK MET GEROOSTERDE TAMATIE
Genoeg vir 3 mense
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: sowat 10 min (per steak)
AFRONDING
250 g kersietamaties of baba-tamaties aan die stronk
2 knoffelhuisies, fyngedruk
Olyfolie
Bruinsuiker
Sout en swartgemaalde swartpeper na smaak
STEAK
2–3 porsies steak soos T-been, riboog of kruisskuif, sowat 3 cm dik
sout
SMEERSEL
30 ml (2 e) Marmite
30 ml (2 e) rooiwyn of groen rooibostee
30 ml (2 e) Dijonmosterd
30 ml (2 e) bruinsuiker
30 ml (2 e) olyfolie
5 ml (1 t) gekapte tiemieblaartjies
Stel die Airfryer op Roast 200°C
1 AFRONDING Maak altyd eerste die bykos (gebakte aartappels) en afronding gaar. Smeer ‘n oondpan liggies met olie en pak die tamaties in.
2 Sprinkel die knoffel oor die tamaties en spat bietjie olie oor. Sprinkel ook bietjie bruinsuiker oor en geur na smaak met sout en peper. Oondbraai 15—20 minute tot die tamaties net oopbars. Hou eenkant.
3 STEAK: Geur die vleis alkant baie liggies met sout.
4 SMEERSEL. Meng al die bestanddele saam en verf daarvan oor een kant van die vleis.
5 Maak ‘n riffelpan rookwarm en plaas die steak regop met die vetrandjie na onder in die pan. Hou vas met ‘n vleistangetjie, nie ‘n vurk. Braai tot bros.
6 Plaas nou die gesmeerde kant op die pan en braai tot die vleis loskom van die pan, draai om met die vleistangetjie, smeer met smeersel en braai die anderkant tot dit loskom van die pan en gaar is volgens jou keuse.
7 VOORSIT Skep van die aartappels op ‘n bord, plaas die steak bo-op en skep die tamaties bo-op.
GEBAKTE BABA-AARTAPPELS MET FETA
Genoeg vir 4 mense
Bereiding: 10 min
Gaarmaak: 40 min
1 kg baba-aartappels, skoongeskrop en gekook tot net sag in Carmien groen rooibostee (sien Carmien Cooking Bags, green)
Olyfolie
Vars roosmaryntakkies
1—2 skywe fetakaas
1 Plaas die gaar aartappeltjies in ‘n oondvaste bak en druk rofweg fyn met ‘n vurk.
2 Giet bietjie olyfolie oor en stroop die blaartjies van die roosmaryntakkies en sprinkel oor.
3 Sprinkel laastens fetakaas oor en bak sowat 20 minute tot die aartappels lekker bros en die feta-kaas gesmelt is.
4 Sit voor saam met die steak.
BRÛLÉE-SAGOPOEDING
Lewer 6—8 porsies
Weektyd: oornag
Bereiding: 20 min
Gaarmaak: sowat 20 min
1 Carmien Masala Chai Cooking bag
2 Carmien Turkish Delight rooibosteesakkies
1 liter (4 k) melk
250 ml (1 k) sago, oornag geweek in water
Knippie sout
80 ml (⅓ k) suiker
60 ml (¼ k) botter
4 eiers
15 ml (1 e) melk
5 ml (1 t) vanieljegeursel
AFRONDING
Bruinsuiker
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n oondbak of 6—8 bakkies.
1 Plaas die teesakkies in ‘n kastrol en voeg die melk by. Verhit tot matig warm, druk die teesakkies uit en verwyder. Voeg die gedreineerde sago en suiker by en verhit oor stadige hitte totdat die sago gaar en deurskynend is. Laat effe afkoel en roer die botter by.
2 Klits die eiers, melk en vanieljegeursel tot lig, voeg bietjie van die gaar sagomengsel by en meng goed. Roer die res van die sagomengsel by en verhit net weer effe.
3 Giet in ‘n voorbereide bak(kies) en sprinkel ruimskoots bruinsuiker oor. Skroei met ‘n blaasvlam tot die suiker gesmelt en verbruin het.
