‘n Lekker reistog

Ons geniet nou maar eenmaal ‘n lekker reistog (road trip) en jaag nooit om so vinnig as kan by ons bestemming uit te kom nie. Nou onlangs, met ons eerste besoek aan Nampo, Bothaville in die Vrystaat, het ons gereeld langs die pad gestop en heerlik oornag. Twee plekke, Karoo-padstal, anderkant Richmond en Tredenham Boutique Hotel in Bloemfontein het vir my uitgestaan.

Karoo-padstal

Ons is net betyds uit die Wes-Kaap weg voor die erge storms, maar ‘n stormsterk wind vergesel ons op die N1. Dis omtrent net ons op die pad, met bykans geen vragmotors nie. Deur die Karoo is dit snerpend koud en net buite Richmond wink die die groot letters van die Karoo-padstal ons nader. En wat ‘n verrassing is dit nie. ‘n 0u skeerhok- gebou, met dik mure en ‘n spits dak is pragmooi omskep in egte Karoo-sjarme met heelwat stukke vanuit die eienaars se groot versameling. Wat my opval is die verskeidenheid lampe wat die dak vol hang en op die winkeltoonbank is daar ‘n verskeidenheid heerlike varsgebak mooi uitgestal onder glaskoepels en die koffie is tops (Deluxe Coffeeworks). Maar dis veral die verskeidenheid plaaslike produkte, van leerwerk tot ‘n hele kas vol konfyte, koekies en tuisgemaakte karoopseep, ook boerseep, pragtig gestensil en tafels vol goeie tweedehandse breekgoed wat dadelik my oog vang, want ek is mos maar altyd op soek na ietsie anders en mooi waarmee ek my ‘n volgende trefferfoto kan stileer. Koffie in die hand, besluit ek op ‘n koperskinkbord en keramiekkleurige koffiestel asook ‘n hele klompie Karoo-sepies in sagte pastelkleure. Volgende keer (ons is juis nou besig om ‘n reis wildtuin toe te reël), wil ek tyd maak om rustig aan te sit vir  ‘n heerlike ontbyt of ligte middagete.

Tredenham Boutique Hotel

Bloemfontein is meestal ons halfpadmerk noorde toe. Die keer oornag ons by die 5-ster boetiekhotel, Tredenham, in die sekuriteit-landgoed, Tredenham Valley, aan die buitewyke van Bloemfontein. Ons oorgroot luukse kamer met reuse dubbelbed kyk uit op die tuine. Alles is gesofistikeerd en elegant, sonder enige oordadigheid. Na ‘n heerlike ontbyt, is ons uitgerus en versadig om die pad verder Nampo toe te vat.

Leave a comment