Beste brosdeeg ooit

Ek het nou net klaar geskryf aan ‘n boek oor gesonder resepte wat einde van die jaar uitkom, so nou het die lus vir sommer net ‘n slag lekker stout wees in die kombuis my so oornag beetgepak. Daarom bak ek die week sommer lekker soet en ryk.

Hierdie brosdeeg, wat jy sommer in die voedselverwerker aanmaak is een van my grootste staatmakerresepte. Ek gebruik die deeg vir van tertkorse tot brosbrood en ander koekies, maak selfs soet “pizza” daarmee. ‘n Wonderlike resep wat net moet deel wees van jou resepte-repetoire.

BROSBROOD

  • 250 g yskoue botter, in stukke gesny
  • 250 ml (1 k) versiersuiker, gesif
  • 500 ml (2 k) koekmeel
  • 80 ml (1/3 k) mielieblom
  • 80 ml (1/3 k) papawersaadjies, of gekapte kruie (opsioneel)

1 BROSBROOD Plaas al die bestanddele in die voedselverwerker. Verwerk tot die botter goed in die meel ingemeng is en ‘n bol om die lem vorm.
2 Skep uit die voedselverwerker. Vorm in ‘n bol, draai toe in kleefplastiek en verkoel ‘n halfuur lank.

Vir brosbrood

Berei die deeg sonder sonder saadjies of kruie.Druk die deeg vas in ‘n 20 cm-vierkantige koekpan. Merk in lang stafies, druk vurkmerke op elke stafie en strooi strooisuiker bo-oor. Bak 10 minute by 200°C, verlaag hitte tot 160°C en bak nog sowat ‘n halfuur of tot ‘n ligte strooikleur. Strooi ekstra strooisuiker oor. Koel af en sny in stafies.

Vir kruie-koekies

Berei die deeg. Pak vars kruietakkies op ‘n plat oppervlak, druk die deeg daarop vas, plaas ‘n vel kleefplastiek of bakpapier op en rol die deeg uit tot so 3 mm dik (die kruie sit aan die onderkant vas). Druk koekies, enige vorm uit, pak op bakplaat en bak sowat 8—12 minute by 180°C tot gaar. Sit voor met kaas.

Vir hartjie-koekies

Berei die deeg en rol uit. Druk hartjies uit met ‘n koekiedrukker. Pak helfte van die deegharte op die bakplaat, plaas ‘n skeppie roomkaas bo-op met ‘n lepeltjie konfyt op. Smeer die kante met water. Plaas nog ’n deeghartjie bo-op en druk die kante vas met ‘n vurk. Sny ‘n kruisie in die middel. Smeer die bokant met melk en sprinkel suiker oor. Bak sowat 12–15 minute by 180°C of tot goudbruin en gaar. Laat effe afkoel op die bakplate en plaas dan op ‘n draarakkie om heeltemal af te koel. Stuif met versiersuiker.

Vir konfytkoekies

Berei die deeg, rol uit en druk sirkels uit. Druk klein hartjies of sirkeltjies in die middel van helfte van die sirkels. Pak al die koekies op die bakplaat en bak 8–10 minute of tot gaar by 180°C. Koel af. Plak ‘n hartsirkel en heel sirkel aanmekaar met aarbeikonfyt. Stuif met versiersuiker.

Vir hertzoggies

Berei die deeg en rol dun uit. Druk groot sirkels met ‘n koekiedrukker uit en voer die holtes van ‘n kolwyntjiepan daarmee uit. Skep ‘n klontjie appelkooskonfyt in. Klits 3 eierwitte styf, voeg 250 ml (1 k) strooisuiker geleidelik by terwyl jy klits. Roer die klapper by. Skep lepelsvol van die mengsel oor die konfyt tot goed bedek. Bak 20—25 minute lank by 180°C tot die deeg en die kors gaar en goudbruin is.

Vir vrugte-pizza

Berei die deeg en rol in ‘n groot plat sirkel uit. Plaas op ‘n omgekeerde bakplaat en bak sowat 20 minute of tot net gaar. BOLAAG Breek ‘n wiggie brie-kaas in growwe stukke en pak op die deeg. Plaas net voor opdiening weer in die oond, skakel die roosterelement aan en verhit tot die kaas net gesmelt is, sowat 5 minute. Plaas op ‘n groot dienbord of plank. Halveer perskes en nektariens indien te groot, stuif met versiersuiker en rooster onder die roosterelement tot effe verbruin. Stapel saam met vars vrugte bo-op die brosbroodpizza. Meng ‘n handvol gesoute neute met 60 ml (1/4 k) heuning en skep oor die pizza.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: