Hoendersop uit ‘n teepot

Hier teen die Weskus begin die winter sy eerste tande wys. Die Langebaanmeer is baie keer tot laatoggend nog toegemis en ‘n reënbui of wat maak gereeld die aarde nat. Die aalwyne in my Weskustuin begin ook nou hul rooi pyle uitskiet en binnekort gaan ons geseën wees met die kleurespel van spatsels rooi in my meerendeels grys en groen blaretuin. Ook die suikerbekkies kuier dan heeldag deur in die tuin. Dis nog nie koud genoeg om nou al dik gort-en-groentesop te kook nie, maar ‘n geurige hoendersop met heelwat vars bestanddele in, kom nou handig te pas. Omdat hierdie ‘n lekker dun sop is, skink ek dit in teepotte en sit dit so voor saam met die ander vars bestanddele apart in bakkies. Almal maak dan hul eie sop.

OOSTERSE HOENDERSOP

Vir die sop kook jy ‘n kragsop (broth) met ‘n heel hoender en verskeidenheid speserye. Ek hou veral van die Oosterse smake en vars lemmetjie saam met sojasous wat jy byvoeg.

Genoeg vir 4 mense
Voorbereiding: 15 min
Kooktyd: 1 uur

BASIESE HOENDERAFTREKSEL
1 klein heel hoender
2 lourierblare
15 ml (1 e) swartpeperkorrels
3 knoffelhuisies
2 uie, gehalveer
4-6 stele sopseldery, in stukke gesny
2 wortels, in stukke gesny
50 g droësampioene
2,5 liter water
VIR OOSTERSE AFTREKSEL – VOEG EKSTRA BY
5 cm gemmerwortel, dun gesny
2 heel rooi brandrissies
1 heel kaneelstok
3 steranys
10 ml (2 t) komynsade
10 ml (2 t) Chinese vyfspeserypoeier
2 lemmetjies se sap
30 g koljanderblare
15 ml (1 e) bruinsuiker
60 ml (1/4 k) sojasous
EKSTRA BYVOEGINGS VIR OOSTERSE SOP
200 g rysnoedels, gekook
Halwe kop Chinese kool, in dun repies gesny
Bossie stingeluie, dun gesny
Groot handvol elk vars koljanderblare, ment en basilie, gekap indien verkies
1 lemmetjie, in skyfies gesny vir voorsit

1 AFTREKSEL Plaas die heel hoender in ‘n kastrol, voeg al die bestanddele vir die basiese sowel as Oosterse aftreksel by en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat stadig prut tot die hoender van die bene afval, sowat 40-60 minute. (Jy kan dit ook in die drukpot doen).
2 Haal hoender uit aftreksel, verwyder die bene en pluis die vleis. Hou eenkant.
3 Dreineer die aftreksel, gooi die groente en speserye weg. Giet die aftreksel in ‘n teepot of groot beker.
4 EKSTRA BYVOEGINGS Pak die bestanddele saam met die hoender in bakkies op tafel, laat elkeen sy eie sop in ‘n sopkommetjie saamstel en skink die warm aftreksel uit ‘n teepot oor.

HOENDER-GROENTE-NOEDELSOP: Berei die hoenderaftreksel met slegs die basiese bestanddele. Dreineer, behou aftreksel. Haal beentjies uit, pluis vleis en hou eenkant. Voeg 200 g jong groenbone of murgpamoentjies, bossie jong aspersies en 100 g pastaskulpies of enige ander klein pastavormpies by. Voeg die aftreksel by en prut tot die pasta net sag is. Voeg die hoenderstukkies by. Geur met sout en peper soos nodig en die sap van 1 suurlemoen en ‘n knippie gerookte sout . Sprinkel gekapte stingeluie en/of pietersielie oor.

Wenk: Vir ‘n nog lekkerder geur laat ek soms ‘n paar Citrus Chai-teesakkies van Carmién in die water trek voordat ek dit by die hoender voeg.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: